Van BIGI PAN tot BIGI KRANTI

Februarie 2022.

Die son het pas opgekom, toe die bus hier voor ons huis stop en die hele span Suid Afrikaners klim in, elke gesin gewapen met ‘n ‘coolbox’, natuurlik!  Ons is nie baie hier in Suriname nie, maar een ding is verseker – as jy ‘n ander Suid Afrikaner raakloop, kuier jy eenvoudig anders.  Ons gebruik dieselfde verwysings, lag vir dieselfde grappies en daar is ‘n soort gemak en ‘sense of belonging’ wat nie altyd teenwoordig is tussen ander groepe nie.  Die bus het nog nie eers weggetrek nie, toe word die eerste Parbo’s oopgemaak!  “Cheers!  Op ‘n Lekker naweek!”  Iemand het ‘n ‘speaker’ ingepak en dit vat nie lank voor Kurt Darren se Span die Seile in die bus blêr nie.

Dit is moeilik om te beskryf, maar tussen die ‘locals’ is ons altyd ‘Expats’, al het ons baie goeie vriende hier gemaak.  In Suid Afrika sou ons klomp dalk nooit om dieselfde vuur gesit het nie, maar hier is ons van dieselfde afkoms: ons mis biltong en Mrs Balls Chutney en raak kinderlik opgewonde oor ‘n melktert of boboti.  Jou land is jou land.  Jou mense is jou mense.   

Bigi Pan het dus ‘n Suid Afrikaanse konneksie vir ons.  Die area is bekend vir sy voëlsoorte:  behalwe vir verskeie trekvoëls, is die oewers ryk aan Flaminke en Rooi Ibis.  Om in die aand op ‘n boot uit te ry en nader aan die oewers te gaan voëls kyk voel soos iets wat op ‘n tropiese eiland moet gebeur.  Natuurlik is die span vol kommentaar en in die middel van die pan wil iemand oorskuif na die ander boot, vir geen ander rede as die koelboks se inhoud op die ander boot nie.  Verwag ek minder van ‘n span Suid Afrikaners?  Gladnie!

Dit was ‘n naweek van lag en lag en lag tot jou kieste seer is.  Ons behuising was primitief met ‘n uitsig na Akira Lodge se liggies en luuksheid wat so oor die pan reflekteer.  Ons het gedink dit was goed genoeg, amper gevoel of ons kamp op die water!  Almal het nou nie ons gesin se entoesiasme gedeel nie, maar niemand kon kla oor die uitsig nie. 

Die water is spieëlglad.  Eers het ons die son sien sak en toe die maan sien opkom.  Dit is van daai tipe mooi wat ‘n kamera net nie kan vasvang nie.  Dit slaan jou asem weg sodat almal net doodstil kyk en kyk en kyk. Ek sou nooit kon dink dat ons in Suriname op ‘n houtboot sou sit met ‘n ‘sundowner’ en voëls kyk nie.  ‘Then again’, ek sou nooit dink dat ons in ‘n ander land sou woon nie.

Februarie 2024.

Die water is deel van Suriname.  Hier is vier seisoene – groot reën seisoen, groot droog seisoen, klein reën seisoen en klein droog seisoen. Bigi Pan is afhanklik van die reën.  Die oorde, of jy nou meer of minder betaal per nag, se voortbestaan is afhanklik van die reën.  Trekvoëls of permanente inwoners leef van die vis en plante, hulle is almal afhanklik van die reën. 

… Vir amper ‘n jaar lank nou, is daar egter net een seisoen in Suriname: droogte. 

Die krag is afhanklik van water. ‘Load Shedding’ hier is nie as gevolg van ‘n tekort aan steenkool of korrupsie nie. Aardverwarming is die realiteit wat elektrisiteit, toerisme en selfs die mynindustrie, bedreig.

Soos Bigi Pan opgedroog het, so het ons poel Suid Afrikaners ook opgedroog.  Van Bigi Pan na Bigi Kranti (Sranatonga, die plaaslike dialek, vir Groot Pan na Groot Rosyntjie).  Meeste mense wat ons geken het is weg.  My geliefde Buurvrou was die laaste om te groet. 

Ons is so half omsingel deur vreemdelinge, nuwe Expats, almal van ander lande met volksvreemde tale.  Humor is ‘n risiko, braai is weer BBQ en ons beste vriende is nou ‘locals’ wat so met met die afgelope vyf jaar bekendes en konstantes geword het.

Bigi Pan is droog: daar is nie ‘n druppel water oor nie. Dit lyk soos ‘n groot, plat, uitgedroogte rosyntjie!

Bigi Pan se toekoms is so onseker soos ons s’n.  Suriname is tydelik vir almal wat die ‘Expat Label’ dra.  Jy weet nie hoe lank jy hier gaan wees nie, jou kontrak kan môre beïndig word of skielik hernu word vir nog twee jaar. 

Maar, my liewe hemel, het ons stories bymekaar gemaak?  Verseker! 

In die bloedige hitte was ons toegedraai in kledingstukke soos ons probeer wegkruip vir die son op ‘n oop boot vir twee ure na DanPaati.  Die Suriname rivier so groot dat dit voel of jy dalk op die see vaar.

Ons naweek by Houtthyn was so ongelooflik lekker en so ongelooflik seer: die naweek toe ons vriend aan Covid oorlede is.  Ek is so dankbaar dat ons nie by die huis was nie, dat ons saam ander Suid Afrikaners was wat ons die hele dag besig gehou het, ons hartseer gedeel het en ons op ‘n manier nader gebring het aan die mense wat verder gevoel het as ooit. 

Wie sou ooit kon dink dat jy met langmouklere in die water sit en kuier in die Suriname son?  Nie ek nie.   As jy egter vriende is met Jim en Sandra wat nie bang is vir son, bos of eenvoudig vakansie hou nie, dan beleef jy plekke soos LiBiDaWai!  Jy slaap in ‘n hammock, eet soos ‘n koning en braai op die sand.

Ek was juis saam Sandra en plaaslike vriendinne by ‘n restaurant toe ek hoor ‘n Suid Afrikaanse gesin het onlangs gearriveer.  Ons het nog nie die restaurant verlaat nie, toe het ek reeds kontak gemaak.  Die son het nog nie die volgende dag gesak nie, toe het ons reeds ‘n Braai gereël.  Twee gesinne daag by ons op die volgende aand, die ander het mekaar in ‘n winkel raakgeloop.

Ek dink nie dit is moontlik vir iemand, wat nie ‘n Expat is nie, om te kan verstaan hoe dit voel as Suid Afrikaners mekaar opspoor nie.  Daar was amper geen tyd vir voorstel nie, ons het eenvoudig begin kuier en kuier en kuier.  Vir die eerste keer in amper ‘n jaar staan Lyf nie alleen by die braaier nie, goed gemanierd staan die manne bymekaar om die vuur en ons drankies word vir ons gegooi.  Skielik is daar ‘Geen Vrouens agter die Kroeg nie!” reëls, en nie een van ons gaan vanaand opstaan vir feminisme of vroueregte nie! ‘n Galante Heer is ‘n Galante Heer, en as hy vir die vrouens wil drankies gooi … wie is ons om onnodige ‘issues’ te maak?

Ons kuier regtigwaar asof ons mekaar al jare ken. Vir die eerste keer in vyf jaar kan ek met klein kindertjies gesels wat my verstaan!  Hulle lag en speel tussen die swembad en jagertjie om die huis, is soos ‘n towermusiek wat my hart vol maak.  

Dit voel soos huis.

Die voel bekend.

Skielik begin dit reën. 

Vir die eerste keer in amper ‘n jaar begin dit sous!  In Suid Afrika noem ons dit ‘n wolkbreuk, maar hier wolkbreuk dit vir ure aaneen.  Ek kan nie anders as om uit te hardloop en al my potte in die reën te trek nie.  Ek is sopnat gereën, maar ek gee nie om nie.  

Dit reën!

Dit Reën!

Dit REËN!

Ek dink aan Bigi Pan en hoop die reën daar ook. 

Ek dink aan ons nuwe vriende, en ek hoop dit reën in ons Afrikaanse harte ook.

Ek hoop die droogte is vir eers verby.

One Reply to “”

  1. Dankbaar vir die reën, sjoe, ek verstaan die expat ding, ook dat mens vriende maak met mense met wie jy dalk in SA nooit vriende sal wil wees nie. Ons het Suid-Afrikaners as rugstekers ervaar, maar dit was in ‘n werksomstandigheid. Dink dit is anders in ‘n vakansie-konteks.

    Like

Lewer kommentaar