Stoneridge kasteel, ‘n Storieboekplaas

Daar is ‘n plekkie in die Vrystaat wat ons ‘Die Plaas’ noem, ‘n klein stukkie grond genaamd Stoneridge.  Vir 14 jaar het ons elke Kersfees afgery, gaan ‘sanity’ bymekaar maak en so half geglo ons sal nie die volgende jaar kon aanpak sonder KERSFEES OPPIE PLAAS nie.  Soms was ons so gelukkig om die ysige Winter in vaal grasvlaktes te beleef en ons het gehoop dat Paasfees ‘n permanente instelling sou word. 

Dit is moeilik om te verduidelik, maar … Stoneridge is eintlik ‘n kasteel op ‘n towerplaas!

As mens nou besluit om bietjie op die koppie te gaan stap, vat dit behoorlik twee ure om vir almal ‘n hoed en ‘n bottel water te kry: jy kan jouself indink hoeveel tyd in ‘n piekniekmandjie ingaan!  As mens so deur die agterplaas se hekkie stap, hoor jy hoe die feëtjies begin skarrel en die bosboodskappers die nuus begin versprei:”Hulle is oppad!”  Ou Bubezi, die boerboel, en sy frommel-gesig, het altyd saamgestap.  Die gewone besoeker sal dink hy spring en blaf sommer net … maar Bubezi kon die dwergies sien en het gereeld saam met hulle gespeel – veral in sy jonger dae!  Hy blaf nie, hy raas!  Want sien, die klomp stoute dwergies is besig om ‘n hopie klippies vir ammunisie bymekaar te maak as ons verby kom.  Hulle is kwaad omdat hy nie gisteraand wou toktokkie speel in Feëtjiewoud nie: dit is darem vinniger om weg te kom op Bubezi se rug as op hulle kort beentjies!  Hoe moes die dwergies dan nou Bubezi se arthritis-pyn verstaan?   

Die eerste bietjie water is sigbaar in die droë kanaal.  In al die jare op die plaas, het ons as Gautengers die kanaal maar twee keer gesien in sy volle glorie!  Reën was nog altyd min, maar dit pas kanaaldwergies wat klippe kap en Jakkalse help huis bou!  Soms as mens so om die braaivleisvuur sit kan jy hulle hoor, maar nooit het ons die slinkse jakkals of sy maats gesien nie.  Die buurman het blykbaar gereeld strikke gestel om die jakkalse te vang wat sy skape steel, maar die bosnetwerk van trolle en dwergies was te groot – jakkals is nooit gevang nie.  Bubezi het ‘n ooreenkoms met die jakkalse bereik: in ruil vir die dwergies se hulp, het hulle saam donkerkamertjie in die grotte gespeel, gereeld amok gemaak in Feëtjieland en ‘n klomp ander stoutighede aangevang! 

Bo op die koppie” bestaan uit klippies gooi,  insekste bestudeer en ‘n gemaklike klip soek om net … net te sit en kyk.  Daar was terapie om so oor die Vrystaatse vlakste uit te kyk!  Ja!  Ja! Natuurlik is daar ander koppies, maar die koppie – die koppie was die uitkykpunt van Stoneridge.  Dit is hier waar die trolhek toegang vra en vele Volmaan feeste al gehou is met Seisoensveranderinge.   Kabouters oefen hier om Somer na Herfs te verander, verfspatsels is orals soos blare van groen na goud of bruin verander word. Feëtjies spandeer dae om die mooiste rokkies te skep uit blare en blomme voor hulle verlep is.  Hulle doen die klipspring-dans en die orkes van miere, paddas, springkane en natuurlik krieke, maak musiek soos ons dit nie eers kan dink nie. Almal vier fees voor hulle gaan hiberneer of hulle Winterhuisies regkry vir die koue op die plaas.

Piekniek langs die dam was altyd ‘n hoogtepunt, en in retrospek was daar net te min daarvan gewees.  As ons nou ‘n Wintervakansie kon afry, was die middagson darem perfek vir ‘n piekniek onder die Wilgerboom.  Die blare dans en warrel saam om die mooiste stories te vertel en as dit nie vir ons klein kindertjies was nie, sou ek en my Skoonsus sekerlik ure met ‘n storieboek en ‘n kombers sommer net daar gaan lê en lees het!  Maar piekniek was nie altyd veilig nie!  Rowers staan en loer agter elke boom vir die ideale tyd om ‘n gekookte eier te gaps, om van die lekker toebroodjies nie eers te praat nie.  Bubezi blaf sodat die Winterfeëtjies gereed kan maak om ons met hulle towerrokkies in die wind te vermaak!  Tussen woordspeletjies en raaisels wat ons uitdink om ons kinders se woordeskat te verbeter, is ons skaars bewus van die Wilgerboom se slaapliedjie, sodat ons altyd met een slapende kind in ons arms sou huistoe stap. 

Trolle het in die Wilgerboom se wortels gewoon en bewapen met takke – skerpgemaak soos spiese – was dit hulle wat die ganse opgepas het teen Stoneridge se eie lochnesmonster: Die Otter.  Die trane wat geloop het toe die boom ‘n paar jaar gelede eendag in die droë dam omgeval het, kon jy myle ver hoor.  Die trane was nie genoeg om die dam vol te maak of die wortels te red nie, maar die pyn kon ons almal voel. 

Soms is mens nou net lus vir ‘n stappie, ‘n regte egte wandeling!  Niks koppies klim of uitputting nie: net ‘n lekker wandel dat jy asem het om te gesels.  Of dit nou ‘n hand-aan-hand wandeling saam Lyf was, of lank gelede ‘n kind op ‘n Pappa se skouers: wie ookal saam stap, dit was half altyd so vredeswandeling saam met God … soms wil mens net wandel.  Dit is op die grondpad wat ons al vele kere in absolute stilte gewandel het … elkeen in sy eie idees en gedagtes vasgevang.

Oppad hoofhek toe het die satansbos al goed oorgeneem tussen die lande wat lank gelede skape gevoer het.  Ja – daar word nie aktief geboer op die plaas nie!  Die planne vir olyfbome en skape het alles deel geword van die aktiwiteite wat oor vakansies onderneem sou word.  Stoneridge, die naweek plaas waar jy gaan om af te blaas, jou gedagtes weer agtermekaar te kry.  Daar is nie ‘n paadjie om kopskoon te maak soos die ou grondpad terug hoofhek toe nie! 

Op die pad, so om die tweede draai … daar is Feëtjiewoud!  Hulle het so stil weggekruip as moontlik, maar ons het geweet dit kan tog niks anders wees as die Feëtjies se kasteel nie.  As jy weet waar, klim jy so onderdeur die bebosde, toegegroeide takke en skielik is dit oop: asof jy in ‘n huisie instap wat niemand gebou het nie.  Feëtjiewoud!  As jy jou oë styf toemaak en doodstil staan, kon jy die gegiggel en werkskaf van die feëtjies hoor!  Dit is hier waar hulle vir die Volmaanfeeste voorberei en dit is hier waar die dwergies kom wegkruip vir die trolle as hulle alweer ‘n Wilgertak afgetrek het terwyl hulle Tarzan-Tarzan speel. 

Stoneridge is ‘n storieplaas: die paaie, die Wilgerboom en die koppie bestaan alles!  Dit is hier waar ons kinders vir die eerste keer vir Kersvader gewag het.  Die Kersvader wat so in sy plakkies en ‘n knop in die keel na sy bakkie toe geloop het, nadat Carla agter hom aangehardloop het vir niks anders as net ‘n drukkie nie!  ‘n Drukkie om dankie te sê dat hy so ver ompad gevlieg het net om vir hulle persentjies op die plaas te kom aflewer.  Dit is op Stoneridge waar Emmie deur ‘n stoute paashaas uit die towerboom gestamp is.  Ja, dit was gedurende Kersfees, maar … ons het paasfees misgeloop en die hase het soveel tonnels gegrou en moeite gedoen om paaseiers weg te steek, vir die Paasfees wat ons nie kon maak nie!  Emma is die een wat toe met gips moes betaal vir ons Gauteng-blyery!

Dit is op Stoneridge waar middernag net ‘n ‘rumour’ geword het soos ons almal ouer word: die ure en diep gesprekke oor ‘n ou glasie sjerrie terwyl feëtjies opgekrul voor die warm koolstoof lê en slaap. Die stokou Koolstoof wat die Kabouters met trots stook en warm hou sodra die plaasmense by die Winterkasteel opdaag! Dit is hier op Stoneridge waar ‘n melktert lekkerder proe as enige ander plek, en mens die kombuis deur so bietjie ooplos vir die skaam dwergies om ‘n stukkie te kan huistoe neem.  Die rowers op Stoneridge is groot, sterk trolle wat jou hart kom steel, sodat jy op geen ander plek ooit dieselfde rus en vrede kan ervaar nie! 

Ons kinders is almal groot.  Hulle dink Kersvader bestaan nie meer nie en glo ons nie meer as die Tandemuis moeg by sy gat inhardloop nie.  Hulle dink nie om die koppie te klim is meer soos ‘n storieboek en elke nuwe toneel soos ‘n bladsy wat omgeblaai word nie. Ek dink tog hulle het hier geleer om met ‘n swaard te baklei teen die monsters in hulle drome, om die stories in die lewe te kan raaksien en … dalk wil hulle net nie erken dat hulle in feëtjies en towerkarakters glo nie! Want ek sien hoe toweragtig elkeen van ons kinders is … net nie meer klein nie.

Ek en my skoonsus … ons wonder egter nie, ons weet!  Ons weet Stoneridge se kasteelmure is vol geheime briefies en stories soos die huiselfies skinderstories na die res van Stoneridge se ‘woud’ probeer versprei het.  Ons het gesien hoe die vuurvliegies hulleself kom tuismaak op die komberse onder die akkerbome, as sterre verskiet met ‘n jaarverwisseling. 

Die plaas is al jare lank in die mark, en ek wonder of die towerkaraktertjies net eenvoudig nie hulle kasteel wil opgee nie?

Ek mis vir Stoneridge.  Ek mis die geselskap wat nêrens anders te vinde is as die heilige lang houttafel – wat ons nou moet langer maak soos ons klein kindertjies liefdes begin saambring vir ete.  Ek kan nie wag vir ‘n sjerrie by die koolstoof as die Winter aanbreek nie:  en ek en my skoonsus, ons sal hulle sien.  Die dwergies in die vensterbank wat ons gesprekke afluister as almal al lê en slaap.  Die feëtjies wat so uit die storieboeke ons kinders se lewens en verbeelding kom inkleur het, sal moeg word en met hulle blomrokkies opkrul op die bank se armleunings.  Ek kan nie wag om die trolle te waai terwyl hulle wagstaan by die leë dam en maak of ons hulle nie kan sien nie.  Die Winterfeëtjies wat nie kan wag dat die wind hulle rokkies in duisende donsies rondwaai, om ons te herhinner hoe toweragtig die wêreld nou eintlik is nie.

Stoneridge – my hart se storieboek, die plek waar ek my siel gaan vind:  waar ‘n glasie sjerrie so bietjie ander proe en braaivleis eenvoudig anders ruik – die hout is immers deur trolle bymekaargemaak!  Dit is hier waar ons kinders se verbeelding begin het met vlinders wat dans en feëtjies wat drome by die vensterbank fluister.  As jy so van die teerpad afdraai en die grondpad aandurf na Stoneridge se kasteel toe, dan weet ek: so lyk, ruik en proe vrede … toweragtig!

Ontmasker. Verslaaf.

“Goeie môre.  My naam is Nossie en ek is ‘n verslaafde!”

 … sak my kop in teleurstelling, hande ineen gevou in my skoot … stilte … effense bewerasies.

 Corona het my ‘n Facebook verslaafde gemaak.  Sedert Wuhan gewildheid verwerf het, sit ek en my geliefde koppie koffie die nuus en lees elke oggend.   Op dieselfde bank, vroeg oggend terwyl dit stil is en die dag nog wakker word.

Niks!  Nie tussen die ander koffie en tee nie, nie agter die suiker nie.

… hande in my hare … 

Facebook het verander soos lockdown in die wêreld versprei het.  Vriende wat jare lank al ‘n profiel besit, maar nooit kommentaar lewer nie, neem skielik deel aan ‘n Mom-challenge, ‘n Pilot-challenge, ‘n Ou Skoolfoto-challenge, ‘Toe ek ‘n kind was’ challenge.  Die vriende met wie jy jare laas gesels het, is grys, geskei, getroud, het graad gevang, kinders gekry, beroep verander en party woon in ‘n ander land.  Ek moet ure ‘scroll’ om by die ‘actual’ nuus uit te kom!!

Ek soek al ure vir ‘n sakkie.  Ek weet ek sou dit nie tussen die toiletpapier bêre nie, maar kyk in elke geval.

Kners op my tande. 

Terwyl mense doodgaan in oorvol hospitale, het die mense mal geword vir toiletpapier, maskers en handskoene.  Nie Suid Afrikaners nie!  Hulle gemeenskaplike probleem … ?

Die drank is nie genoeg nie!

As ek maar my bottels wyn kon ruil, maar wat help die vol bottels in Suriname.

 … klein pêrels sweet slaan op my voorkop uit …

Kyk, almal kon voorberei en genoeg voorraad kry voor Lockdown, fase 1.

Fase 2 het nie die voorreg gehad nie.  Drank en alkohol is net so onder ‘lockdown’ in die winkels soos jy moet wees by jou huis!  Mag nie die winkel se deur verlaat nie!  Dit laat my wonder?

Is Suid Afrika onder lockdown of … ‘Rehab’?

Ek het sleg geslaap.  Dalk is daar ‘n verlore pakkie in een van die reistasse, ek vat altyd voorraad met my saam.

8 Tasse en 5 ure later as Suid Afrika, sit ek toe maar met ‘n koppie tee en nuuslees.  My Whatsapp is oordonder met vriende wat eiers en suiker uit shooterglasies drink en dit met ‘n shot sterk drank afsluk.  Ontrekkingsimptome? Die klomp het heeltemal mal geword!

Vir die hoeveelste keer kyk ek in die teeblik … nogsteeds leeg. Ook niks in die skryfbehoeftelaai, tussen die paspoorte of die boekrak nie. 

Gatvol vir die tee, sluk ek toe maar ontbyt af met ‘n bier, te dankbaar dat Emma die laaste eier vir koekiesbak gebruik het, maar vinnig spyt dat ek dit met ‘n sluk Woestersous vervang het!

Ek verlang skielik plaas toe, Bloemfontein toe!  Ek kan sien hoe ons die glasies so om die tafel sou uitpak en almal saam eiers en suiker sou sluk.

Ek verlang ook na die blikkie wat my Sus in haar kas gehou het, spesiaal vir my.

My Handsak!!!!  Ek het altyd ‘n pakkie in my handsak!

NIKS!  Ek smyt die glas water in die wasbak uit. 

Te hard!  Flenters!  Verdomp!

Kontrak werkers is ons expat families se ‘couriers’.  Die ander vrouens se lysies bevat Mrs Balls Chutney en mieliepap, soms vra hulle NikNaks en Lyf soek altyd droëwors en biltong.  Niemand vra my nie, die versoek was nog altyd dieselfde.

Geen vlugte! Geen voorraad!  Ons het nie kans gehad om voor te berei nie!  Die een dag was Corona ver weg en die volgende dag was grense en winkels toe.

Kopseer. 

Slapeloosheid.

… ek masseer my slape, sluk my trane … 

Corona – Koninging van Ontmaskering!

Wie is jy as jy net by die huis moet bly?
Wat is dit waarsonder jy nie kan klaarkom nie?
Na wie verlang jy en watter nuwe gewoontes het jy aangeleer?

Diep asem, sluk water! 

Ruik die filterkoffie, diep asem, sluk water!

Smyt die Nescafè in die wasbak uit!

Die goed is blêrrie sleg!!

Facebook raak te veel!  Dis negatiewe nuus, mense wat nie die reëls volg nie en Challenges wat persoonlike foto’s vra wat ek nie wil post nie.  Ek verwyder die ”post” met my Woestersous en eier ontbyt.

Disable.  Delete.

As ek maar my voorkeure kon ‘disable’ en ‘delete’ …

  Ek is bereid om my bottels wyn te ruil vir een pakkie … NET EEN PAKKIE!!!

 ‘n Vriendin benodig kroniese medikasie, blykbaar gaan DHL aflewer!  Ek het gevra of sy ‘n plekkie kan maak: net so 2 pakkies, dalk 3.

Benoud.  Kan … nie … asem … kry … nie …

Dis al 5 minute later.  Sy’t nog nie geantwoord nie.

Ek hou my knieë vas, wieg heen en weer.  Die kombuisvloer is koud en my trane is warm. 

Ek voel leeg.

So leeg soos my koffiekoppie hier voor my. 

Terwyl die wêreld huil vir toiletpapier en wyn, smag ek na ‘n koppie, net EEN OU KOPPIETJIE …

 Jy het reg gehoor!!!!!!! 

“My naam is Nossie: ek is verslaaf aan Ricoffee.”

… Sak my kop in skaamte, huil my masker af … blootgestel, broos … pateties!

 

 

 

 

Aardverwarming in die Vrieskas

“Beplande Kuier”

My familie kan nie wag dat Ouma en Oupa kom kuier nie! Hulle praat van dinge soos ordentlike gekookte etes en dat gebede vir die kos van “Vergewe die hande wat die kos voorberei het!” sal verander na “Verheug is ons oor die hande wat die kos voorberei het!”

Gmf! Verbeel jou dit!

Kan jy ook die Groente-Kinderarbeid onthou?

Stapels boontjies, aartappels en wortels wat geskil en gesny moes word. Die word dan halfgaar gekook voordat dit in plastieksakkies gevries word om tyd te bespaar vir aandetes. Dit is daar, as kind met ‘n skinkbord vol groente, wat ek geleer het om voor die TV te werk. Snytjie vir snytjie, blokkie vir blokkie.

Die beloning van die slawehandel was natuurlik heerlike aandetes!!

“Kersmoeder”

Vir die wat dink Kersvader is alleenlik ‘n man en lewer geskenke vir kinders af! JY IS VERKEERD!

Laat ek jou voorstel aan my Kersmoeder aka My Skoonma. Sy was natuurlik vreeslik bekommerd oor haar seun se welstand en veral sy groente inname! Dit is nie dat ek nie groente gemaak het nie, dit is net … wel … soms was dit regtig net … sleg? As Skoonma nie gereeld met pakkies gevriesde groente hier opgedaag het nie, sou Boerekos nooit uit ons potte gekom het nie! Om van die Winters se boontjie -en ertjiesop nie eers te praat nie! Kersfees was elke keer as Skoonma by die voordeur ingestap het of ons met ‘n geskenksakkie daar weg is.

Liewe hemel: my mond water en ek voel die verlange teen my wange afloop na my Kersmoeder!

Na elke gesprek met my Ma om die kuier te beplan, sluip woorde in soos kook en resepte! Sy babbel en borrel van opgewondenheid …

Ek wonder … gaan ons dan die hele tyd net kook … ?

“Grootmaak kook”

Ag, die hele “Ek kan nie kook nie!” storie is sommer bog! Hoe erg kan 3 weke se kook en kombuis tog wees? Dit is tyd om ‘n plan te maak, die bul by die horings te pak! Voorbereidings te tref.

Jy het reg gehoor: dit is tyd om op grootmaat te kook!

Ek gaan na die Chinese winkel wat nie rys aanhou nie!

Nee regtig! Nie een korrel rys nie! Dit is normaal dat die tandepaste en ingelegde vrugte op dieselfde rak gepak word, toiletpapier, lekkergoed en sjokelade hoort blykbaar bymekaar en shampoo, conditioner, asyn en aanmaakkoeldrank pronk alles in dieselfde ry. Ek het rys gesoek in die yskas, by die servette, tussen die pasta en die gevriesde koeke! NIKS. Die Chinese winkel het nie rys nie.

Dit maak darem nie vandag saak nie, want ek is tog hier vir die groente! 😊

Ek mors nie tyd nie! Die uitstappie het reeds baie van my tyd in beslag geneem. Ek bedoel, daar is so baie dinge om te oorweeg!

Watter groente sal vries? Komkommer, boontjies, eiervrug, wortels …

Ag ek gooi sommer so ietsie van alles in die mandjie, vrugte is ook gesond!
Watter spesirye gooi mens in vir die halfgaar groente?
Waar is die ‘utensils’ wat ek gaan nodig kry soos ‘n groenteskiller en ‘n blender.

“Die Blender”

Natuurlik ‘n blender! Haha! Wat ‘n simpel vraag? ‘n ‘Blender’ is mos ‘n voedselverwerker, dan nie? Ons was 4 kinders wat saam die slawerny in die gesig moes staar! Alleen sal ek tog nooit al die goed opgesny kry nie!

ag HOEKOM het ek tog so BAIE groente gekoop? Dalk moet ek maar eers ‘n ou koppie koffie drink.

Ek gooi alles in ‘n wasbak vol sout. Anna het nou die dag iets gesê van blaarslaai en asyn…? Ek gooi ‘n koppie asyn ook by en laat dit week tot my koffie klaar is.

Sjoe, die koffie is warmer as wat ek gedink het, waar is die hond? Sy lyk soos ‘n mop, ek moet haar hare uitborsel.

Ek begin by die wortels – en ja, ek het eers my hande gewas nadat ek die hond uitgeborsel het en die kat gedip het vir vlooie, die beddegoed in die wasmasjien gedruk het en die nuutste episode van This Is Us gekyk het!

Ek is so bly om te sien dat die ‘blender’ die wortels in ‘n perfekte wortelslaai tekstuur sny!

Wonderlik! Van nou af sal ek aanbied om ‘n wortelslaai na ‘n braai te neem! Hopenlik werk die boontjies ook so … maar waar is die boontjies?

Ek soek boontjies tussen die komkommer en eiervrug in die sout-asyn water. Dit lê nie onder die Tofu nie en in die kar is slegs ‘n verlore pakkie ertjies! Ek het sowaar nie boontjies gekoop nie. Soveel vir boerekos!!!

Aan die positiewe kant, een ding minder om te sny en te verwerk.

Die aartappels werk net so goed! Ek smyt dit by die wortels en druk dit in die vrieskas. Vier perfekte pakkies wit wortels vir aandete.

Ek hoop net die goed proe nie sleg met ‘n skil aan nie, ek het skoon vergeet om die wortels te skil. Dit lyk meer na aartappels en wortels as wortels met aartappels – maar net omdat boontjies vergete is kan ek tog nie die aartappels weggooi nie? En die aartappels HET ek geskil. Te hard gewerk om weg te gooi.

Die komkommer verander in water! Elke groente wat moeilikheid gee in die ‘blender’, kry ‘n komkommer by! Die goed ‘blend’ soveel makliker as daar baie water by is!

“Note to self”: As ek die mengsel in die hoenderpot gooi, moet ek net onthou om minder water in te sit, anders gaan die sous te loperig wees!

Komkommer-spinasie pakkies. Gereed vir die vrieskas.

Ek, myself, het nog nooit van spinasie gehou nie, ek hoop maar dit werk in ‘n sous? Aaaaaggggg – Lyf sal dit probeer. Hy eet alles!

Pampoen en eiervrug lyk ook goed.

Vreemd dat ek skielik aan Purity en babdoeke dink? Eiervrug is nogals grillerig, maar die stukkies pers so tussen die oranje pampoen vertoon mooi. Ja wat, ek voel tevrede.

Mango, papaja en bessies word eers apart deur die blender gesit.

Ahh! Ek kan die vrugte meng vir smoothies – dit is nou ‘n gesonde opsie!

Ek verbaas myself met die ongelooflike kombuis idees! Nee regtig! Ek is nie so sleg as wat ek gedink het nie. My groente-vrugte kombinasies gaan nog opgeteken word … iewers!

Die ‘mushy’ advokadopeer kan ‘n lekker guacamole maak.

Dit kan tog nie so moeilik wees nie? Gooi net sout, peper en sweet & sour sous by!

Ek is natuurlik dadelik spyt oor die waatlemoen wat ek hier aangebring het. Dit vat omtrent ‘n halfuur om die ding opgesny te kry.

Stupid! Gelukkig het ek nie dieselfde fout met ‘n pampoen gemaak nie – ek het maar duurder betaal vir gesnyde stukke.

Daar is nog net broccoli en blomkool oor. Die wit en groen korreltjies laat my dink aan Tim Noakes se banting rys.

Hy sal hom wat verbeel!

Dalk moet ek van die broccoli-blomkool puree apart hou en by spinasie sit, dan kan ek sommer ‘n lekker hoop groente in die stew wegsteek?

Ek gooi sommer van die eiervrug en spinasie by twee van die banting nommers en ‘n stuk tofu, wat dit ookal is! ‘Powerfood’ by ‘n stew!

‘n Hele Vrydag oggend, ek kon ‘n hele beer gehekel het!

“Aardverwarming in die vrieskas”

Ek kyk trots na die pakkies in die vrieskas! Dit is ‘n week later en ek kan eenvoudig nie aan ‘n enkele ding dink om met enige van die pakkies te maak nie?

Maar ek is tog so bly oor die verskriklike duur blender.

Die wortelslaai was ‘n wenner by Vrydag se braai … ek kan egter met redelike sekerheid sê dat guacamole met ontvriesde advokadopeer nie ‘n wenresep is nie: geen hoeveelheid sout, peper of sweet & sour sous sal dit in ‘n doopsous verander nie.

Aaaahhhhh – maar ek kan mos smoothies maak!

Ek besluit om smoothie te maak! Die vrieskas maak nou al ‘n week lank nie meer ys nie, so ek gaan die smoothie in die duur blender maak met vrugte alleen, geen ys nie! Ek het die ‘landlord’ laat weet, maar hy wag gewoonlik minimum 2 weke voordat enige van my probleme een van sy probleme word! Almal weet tog ‘n smoothie kort YS!

Mmmm … baie vreemd. Waatlemoen kan nie vries nie en drup rooi op die pakke gevriesde groente, nie pienk nie? Genade, die lemoen is ook pap, asof ek dit nou net in die vrieskas gedruk nie.

Iets is nie reg nie …

Ek kyk vir die vrieskas.
Die vrieskas kyk vir my … of sal ek sê LEK vir my.

Nie een van my hardewerk-grootmaak-kook-gevriesde-groente&vrugte-sakkies is gevries nie?
Die vrieskas maak nie meer ys nie?
Die waatlemoen lek nie rooi nie, dit is die vleis wat ontvries!

NEEEEEEEEEEEEEEE!

HEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEELP!!!

DAAR IS AARDVERWARMING IN ONS VRIESKAS … !!!!!!!!!

Ek kan dit net nie glo nie! Ek het ‘n hele Vrydag oggend spandeer om alles op te sny en te verpak en hier lê dit soos pakkies slush-puppy en wobble in die vrieskas! Selfs die vrieskas het my kosvoorbereidings verwerp!? Hoe kon ek dit gemis het? Ek moes meer die vrieskas oopgemaak het, ‘n intiemer verhouding met my vrieskas gekoester het.

Die Landlord is – soos altyd – gladnie haastig om die probleem op te los nie en niemand het plek vir my slushies en wobblies in hul vrieskas nie. Dit wil voorkom of die klipharde lewelose pakkies almal ‘n hartklop ontwikkel en binnekort gaan daar varkies, beeste en ‘n afkophoender in die kombuis rondhardloop! Ek kan dit skaars waag om die vrieskas nou oop te maak uit vrees dat hulle om ‘n laaste ysgletser sal sit en SlushPuppies drink.

Vier dae later kom Suresh eers hier aangery asof hy op ‘n Sondagmiddag uitstappie gaan. Geen haas nie! Die gaslekkasie blykbaar nie vir hom gevaarlik om in te asem nie, WANT HY BLY NIE HIER NIE!!

“Die Vrieskas Begrafnis”

Nou ja, dit is dan met spyt dat ek julle moet meëdeel … dat daar geen oorlewendes in die vrieskas was nie. Aardverwarming het die hele vrieskas meegesleur en hul oorblyfsels is per swart sakke in ‘n stoet afgevoer ashoop toe.

‘n Nadoodse ondersoek wys dat die slagpale en aardverwarming bygedra het tot hul afsterwe, asook Slush-vergiftiging wat dit ookal beteken!

‘n Gaslekkasie is bitter gevaarlik en bring die vrot kwessies van die wêreld tot in jou huis. Aardverwarming en gaslekkasies loop hand aan hand en niemand moet jou anders probeer oortuig nie.

Vandag lui die tafelgebed niks anders as “Vergewe die hande wat die kos voorberei het nie”.

“Kombuis Egskeiding”

Die skrif is aan die muur. Ek sukkel om die verliese te verwerk, kry nagmerries van potte en houtlepels wat my aanval. Dit is tyd om ‘n besluit te maak!

VANDAG DAGVAAR EK DIE KOMBUIS VIR ‘N EGSKEIDING!

Lyf kry die potte, ek kry die duur blender. Ek wonder … is die blender nie eintlik uitsluitlik vir smoothies nie … ?

Ek hou die stoompot vir wanneer my Ma kom kuier, Lyf moet die braaier skoonhou vir daaglikse, toekomstige gebruik.

Die spesirykas is nou Lyf se probleem, ek handteer slegs die melk, ‘whey powder’ en ‘protein shakes’. Ek hoop dit bevat genoeg vitamines en minerale, want dit is my menu vir ontbyt en aandetes van vandag af.

Ag, die eierpan en die snackwichtoatster kan ook in my kas kom, daar is plek langs die blender.

Totsiens Kombuis. Totsiens potte. Totsiens lepels en ander ‘stuff’ waarmee mens kosmaak …

HALLLOOO duur en ‘fancy’ blender … en winkel wat gekookte etes verkoop!

Vir regte egte resepte – https://notsoskinnycook.com/author/notsoskinnycook21/

Liefde in Enige Taal

As mense my vra “Hoe gaan dit in Suriname?” is my antwoord elke keer “Dieselfde … maar Anders”.

Ons staan nogsteeds eers op as die wekker weier om weer te snooze. Tussen my en Emmie is ons nogsteeds betyds vir skool – soms meer betyds as ander kere, maar NOOIT LAAT nie!

Soms kyk ons te veel TV.
Ons hou van by die huisbly.
Soms speel ons kaart en soms lê ons in stilte bymekaar en boeklees.

Ons gesin is dieselfde in enige land.

Skottelgoed en wasgoed, huis skoonmaak en karwas is nie nou skielik altyd lekker nie.

Hier is taxi-bussies ook die slegste en gevaarlikste bestuurders – ‘n gejaag na geld en passasiers! Enige plek is ‘n busstop en enige sypaadjie is ‘n spesiale taxi-baan.

Die skool het goeie maats en nare kinders, die meisies kom soms ongelukkig huistoe maar meestal gelukkig.

Ons het goeie dae en ons het slegte dae.

Of ek nou in Suid Afrika, Suriname, Amsterdam of Miami is, ek drink net Ricoffie. Ek is lief vir my koffie in enige taal.

Baie dinge is Dieselfde.
Baie dinge is Anders.

Dit is anders as jy ‘n straatnaam erken – so asof Afrikaanse woorde en name in Nederlands gespel is.

Dit is vreemd dat die kassier slegs Chinees kan praat en jou gebroke Nederlands help nie om tandepasta op te spoor nie.

Dit is net nie dieselfde om tee te drink met ‘n Amerikaner, ‘n Nederlander en ‘n Mexikaan om een tafel nie.

Dit is asof die vleis anders proe op ‘n charcoal vuur as ‘n knarsende houtvuurtjie wat so saamgesels as jy braaivleis hou.

Dit is net nie heeltemal so lekker om ‘n Gin & Tonic te drink sonder my skoonsus op die plaas nie.

Die strate lyk anders, die winkelrakke voel deurmekaar, alles buite die vier mure van ons huis is anders.

Dit is vreemd as die elektrisiën vra of die box aan jou kat behoort “Het is de puss se doos?”

Tog het ek in die strate van Suriname ‘n nuwe taal geleer het. ‘n soort Liefdestaal.

Ek ry vanoggend huistoe en sien ‘n Pa en dogter in die motor agter my lag en gesels. Sy gesels sonder om asem te haal en Pappa luister geduldig. Daai sagte glimlag om sy mond wat net ‘n kind kan veroorsaak. Daar is iets spesiaal tussen ‘n Pappa en sy klein dogtertjie orals in die wêreld: Pappa die Hero en sy die Prinses.

‘n Bejaarde Tannie met haar loopring begin pad oorsteek en karre – groot, klein, duur of stokoud – slaan brieke aan dat die rook so trek. Daai grys bolla is nie net wysheid nie, daar is ‘n soort selfvertroue en autoriteit wat saam met die plooie en aluminium loopring kom.

Die twee jong vryers dink niemand sien hulle agter die winkelmuur wegkruip nie. Vir die oomblik is dit hulle: hulle glinsteroë en hulle ‘happy ever after’. Tyd staan stil. Daar is niemand anders in hulle wêreld nie. Verlief wees is sekerlik een van die wonderlikste ervarings wat enige iemand ooit kan ervaar.

Die begrafnisstoet word geken deur swart klere en routrane … die verlies groot en seer, maak nie saak waar jy is nie.

Ek het ‘n bekende taal ervaar by die Babelse Expat Braaivleis.

Lekker wyn en kos is die resep vir enige kuier, of jy nou BBQ met gas of charcoal en of jy nou vleis braai oor Hardekoolhout. Jy hoef nie die wynbottel se ‘label’ te kan lees om te besluit of dit lekker of sleg is nie. Ossenhaas of Steak – as die kok dit goed gaargemaak het, “medium – well” vir my asb, is lekker eenvoudig lekker sonder taal.

Dit is heel vreemd dat die mans almal in die sitkamer sit en kuier en Lyf so alleen los om die vleis te braai. Ek moes hom egter stoksiel alleen daar los toe ‘n taai klein handjie aan myne trek. Die klein autistiese seuntjie het my uitgekies vir ‘n dans. Dit bring trane in my oë van spesiaal voel. Skaamteloos haal ek my beste dans ‘moves’ uit om die gesiggie so lank as moontlik te laat glimlag. Taal is nie nodig nie: ek verstaan hom nie en hy nie vir my nie … maar ons het ‘n verstandhouding vir die oomblik, ons danspassies het nie woorde nodig nie.

Die vrouens kuier in Engels op die stoep, almal stil tevrede om hulle kinders te sien speel. Wegkruipertjie, Donkerkamertjie, Spookstories. Almal praat gelyk en slegs hulle ouers verstaan wat hulle sê … maar ons almal verstaan opgewonde en die towerkrag van kinders wat lag.

Lyf kry nie in Engels gebid vir die kos nie, maar almal weet ons sê vir ons God dankie vir die kos wat almal nou gaan eet. Groot en klein staan gesinne bymekaar, oë toe en respekteer ons God, ons gebed, ons liefde vir ons Here.

Die Troeteldiere se name was nou nogals ‘n taalkwessie, maar nie wat hulle saamgebring het nie.

Emmie se giggels en lag as Sammy die Morkie haar jaag en byt is prysloos. Sammy het Emmie se ogies en hartjie kom volmaak. Sy kon dubbeld die prys gekos het en sou nogsteeds ‘n ‘bargain’ wees. Ek vermoed Sammy blaf in Nederlands, maar sy droom beslis in Afrikaans.

Daar is nie ‘n prys vir Callie wat so met Parker haar kat ‘cuddle’ nie, vir die liefde en vrede wat sy uitstraal as hulle so bymekaar sit nie. Parker praat Kattaal … alle katte praat kattaal. Kattaal is enige taal waarvoor die kat ookal lus het om die oomblik.

Die name is gekies sodat enige taal dit kan uitspreek en Magrieta Frederika was nie ‘n opsie nie.

So, hoe gaan dit in Suriname?

Wel, dieselfde-anders …

Dit maak nie saak in watter taal of land ons woon nie, ons is lief vir ons mense, ons diere en ons Here. Deur die liefdestonele in die strate, die troeteldiere-bande en samesyn oor tale, gewoontes en kulture heen het ek besef is daar tog ‘n verstandhouding tussen die Babelse verwarring.

Liefde bly dieselfde in enige taal.

Sammy die Hond

39 Asbliksakke, 310 Melktertjies, 80 Dae & 42 Balonne

Wie sou nou ooit kon dink: 39 + 310 + 80 = 42.

10 April 2019

My verjaarsdag! Oe, ek is MAL oor verjaar!!! Ek is veral mal oor verassings partytjies, soveel so dat ek maklik my eie ‘surprise party’ reël sonder om te blik of te bloos!

Spottende laai ek die meisies by die skool af en sê “Geniet julle 77e dag in Suriname!” Nodeloos om te sê werk ons toe dadelik uit hoe lank is ons nou eintlik hier: presies 80 dae.

Ek is vandag 42 jaar oud.
Ons woon al 80 dae in ‘n nuwe land.
Gisteraand het ek die 39e swartsak uit die sakjedoos gehaal.
Bo almal se verwagtinge het ek 310 melktertjies by die skool bedien.
Ek is wakker gemaak met ‘n kamer vol 42 balonne, ‘n bruismeel koek en ‘n koppie koffie … in ‘n koppie met ‘n piering wat nie pas nie!

Wat beteken dit alles?

Dit beteken ons het al 39 sakke se kos verorber en gemors weggegooi. Ons lewe in die nuwe huis. Herwinning is ‘n absolute ‘rumour’, jy lees nie eers in die koerant daarvan nie! Wat jy nie gebruik nie, gooi jy weg. Die sakke het stories om te vertel van skooltake, kosblikke wat in ‘n tas vergeet is, leë biltongsakkies van Suid Afrika, ‘n bos blomme wat op die eetkamer tafel gepronk het, die melktert-kommissie, glasbotteltjies wat bolognaise of alfreddo heet en ook ‘n leë bottel waspoeier. ‘n Hele paar leë blikkies Citronella ‘Insect repellent” is al teen die muskiete ingespan en verskeie verlepte slaaiblare, ontbyt papbokse en die lekker sjokelade bewyse saam met ‘n Sondag aand fliek. Spaanse huiswerk en Geography opsommings is alles oppad na wie-weet-waar!

Ons het al 39 sakke vol stories en lewe laat wegry. Ons ‘recycle’ wel – ‘n klomp nuwe ‘memories’ in fotos om weer en weer te beleef.

melktertjies.jpg

As dit nie vir die foto’s was nie, sou niemand seker die 310 melktertjies-verhaal geglo het nie! Ons skool hou jaarliks ‘n ‘Food Fair’ vir liefdadigheid: ongeveer 1000 mense betaal toegang en kan dan proe van al die verskillende tafels wat lande regoor die wêreld verteenwoordig. Natuurlik gaan ons trots Suid Afrikaans saam met Mnr Egbert van Limpopo ‘n tafel beman. Ek het gedink ek sal dit mooi dek met doilies en koppies en pierings – so regte koek en tee tafel – waar slegs melktertjies bedien gaan word. By die ‘China Shop’ kry mens alles!

Nie eenkeer het ek gedink ek gaan self die melktertjies moet bak nie!!!

My normale hulpbronne en ‘back up’ planne was almal onsuksesvol! Fernandes, die plaaslike en enigste bakkerij bak slegs op bestelling vanaf hulle eie resepte!  Die mense wat ek al leerken het is almal besig met hulle eie tafels.  Die nagmerries is nie ‘n liegstorie nie: ek skrik wakker as die rook uit die oond trek en die swart gebrande stukkies in die melktertjies rondbeweeg, om nie eers van die nare klein kindertjies te praat wat my melktertjies blatant uitspoeg nie!

Ek kan nie! EK KAN NIE? Ek kan natuurlik nie sê “Ek kan nie!” –  ek vat liewers gebrande melktertjies as ‘ek kan nie’ skooltoe!!!!

‘n Week voor die tyd sit ek vir aandete my proeflopie voor.  Ek het nog nooit aan my eie kos geproe nie … Lyf en die meisies se gesigte verklap genoeg!  Ook maar ‘n skaamtelose span die drie: hulle eet toe die hele baksel op voor die son sak!

My glimlag is so soos ‘n melktert!  Fernandes sou nie eers met die sukses kon kompeteer nie!

Ek moes eenvoudig al my vrese en angs vir die kombuis saam met die eierdoppe en leë melkbottels in die asblik gooi!  Ek bak uiteindelik nie net ‘n 100 melktertjies soos versoek nie, maar sommer 310.  As daar nou iets is wat ons Suid Afrikaners nie doen nie, is dit om te min van ‘n ding voor te sit!  Ons tafel het gehou tot op die einde en die klein kindertjies uit my nagmerrie het teruggekom vir nog!!

Lyf se braaivermoëns by ‘n vorige funksie het vir hom ‘n braaitang gewen by die Hollandse tafel terwyl ons Suid Afrikaanse tafel lekker tussen tacos en nachos gekuier het by die Mexikaanse tafel langsaan … bure sonder mure!!

foodfair.jpg

Kos bring mense bymekaar: hier in die vreemde het ek dit nou meer gesien as ooit tevore.

balonne.jpg

Die baksukses in ons gesin was egter van korte duur toe Callie my Ma se flopvrye sjokelade koek met bruismeel ipv koekmeel in die oond druk.  My 42e verjaarsdag het begin met ‘n kamer vol balonne (met spesiale dank aan Emmie en haar fantastiese longkapasiteit) en ‘n hooggerysde sjokelade koek vriendelik bedien met ‘n bottel Nutella, ‘n koekvurkie en ‘n bottermes.

Dit was die perfekte-onperfekte dag!  Lyf en my Tweelingsussie was nie hier nie … en tog was ek omring deur mense.  My foon se battery het nie gehou tussen die boodskappe en oproepe nie, waarvan Lyf die helfte bygedra het.  Die meisies het koffie in koppies met pierings aangedra, amper net soos ek daarvan hou! (Wie drink dan nou uit ‘n koppie as die piering nie pas nie? Wel … ek doen!  Ek moes eenvoudig my OCD laat vaar as ek ooit ‘n koppie koffie uit Callie wil kry!)

Twee weke later het ons nog die inloopkas oopgemaak en balonne ‘negotiate’ om by ons skoene uit te kom!  Twee weke later het ons besef niemand gaan die koek verder eet nie! Asbliksak 40 is weggestuur met gebarse balonne en Callie se ‘left over’ bruismeelkoek.

Inderdaad: 120 – 60 = 30.

1 Mei 2019

Vandag is ons alreeds 4 maande hier en het baie stories bymekaar gemaak om te vertel soos ons die 60 slapies aftel voor ons weer in Suid Afrika gaan kuier. So ampertjies ‘n maand gaan waarskynlik te kort wees en iewers gaan ons begin verlang na ons eie bed en ons eie stort in ons eie huis hier in Paramaribo.

Ons het by mense gaan eet wat die tafel vir ons dek en buite op die stoep gaan sit.  Los ons sowaar by hulle etenstafel met hulle vreemde kos asof dit die normaalste ding op die aarde is.

Ons het gaan sokker kyk waar almal die vleis op die braaier los, blykbaar vir Holland skree in absolute stilte.  Lyf het die braaitang oorgeneem sodat die kinders kan kos kry en ons het gewonder wat hulle sou doen as ons Huis Herfsblaar sou invlieg om te kom rugby kyk.

Ons het uiteindelik ‘n wonderlike restaurant, BuitenGewoon, opgespoor wat nie Thai of Chinees of Jawanese of Indian op ‘n spyskaart het nie.  Die enigste normale restaurant in ons opinie!

Ons het geleer om te sê “Goede Morge, hoe gaat het?” en “Fijne dag” as ons groet.  Ons verstaan van “Dank u wel” in plaas van Dankie en “Pardon” in ‘n winkel, nie ekskuus nie.

Emmie is die meisje met die blonde hare en Callie is die stil, slim meisie waaroor almal wonder.

Ons was by ‘n Hindustanie troue vol vreemde rituele en roetines waar ons niks verstaan het nie.

Lyf is blykbaar ‘n teddiebeer sê een vrou en ek … ek moes vir Nossie groet en leer om weer op Lizel te reageer.

Ons het Amsterdam op wiele gaan verken en gaan skilpaaie kyk op ‘n klein verlore eiland van Suriname.

Amsterdam.jpg

Strate word riviere na swaar reën en net ons dink dit is vreemd; ons kinders swem in die strate en die ‘locals’ dink ons is vreemd!

Swem in straat.jpeg

Ons is meester verkeervlegters wat eenkeer hoot om dankie te sê en tweekeer om vir ‘n plek te vra.

Ons verlang party dae dat dit pyn, maar ons leer om gelukkig te wees waar ons is.

My somme is tog reg:

39 asbliksakke + 310 melktertjies + 80 dae = 42 jaar oud in Suriname.

120 dae – 60 slapies = 30 dae in Suid Afrika.

42 jaar + 30 dae in Suid Afrika = ons nuwe lewe in ‘n klein derdewêreld landjie in Suid Amerika genaamd Suriname!

Die stilte verlam my.

Een jaar gelede.

“Go Emmie!!!  Go – derde base!  Go!!  Nee wag!! STOP, bly op drie!!!”

“Nossie!  Kom uit die veld uit!  Jy moet agter DIE lyn bly!!”

Verbaas kyk ek agtertoe en sien ek het sowaar myself weereens tot binne in die speelveld ondersteun!

Vir veiligheidsredes is ek dus verban om in die voortou van ondersteuners te staan, daar moes altyd iemand voor my staan … ‘not out of choice’, Berdine het gesorg dat sy of haar suster naby is en my uit die veld te hou!

As dit nie sagtebal was nie, was dit netbal seisoen.  Natuurlik was die dae gevul met koor en skool, altyd oppad iewers heen, nog huiswerk, nog leerwerk.  Middae was besig en vol en dit is baie algemeen om ouers te hoor sê-kla hoe BESIG hulle lewe is.

Daar was ‘n Ma by die skoolhek om te groet en geselskap buite die saal as jy vir jou kinders wag.

Deel van die besige Suid Afrikaanse lewe was ‘n koffie-vriendin, ‘n braai en familie en vriende by wie jou nog moet uitkom.

TV kyk was nog altyd beperk in ons huis, behalwe party naweke of ‘n TV-binge dag in vakansies.

Die lewe in Suid Afrika was besig, bekend-besig, rondjaag-beplan-besig.

Een maand gelede.

Hier is Suriname bestaan daar nie besig nie, niemand jaag nie.  Hier is nie dieselfde dryfkrag en mededinging vir goeie rapporte, sport prestasies of eendag se universiteit nie.

Ek het gedink met my realistiese uitkyk, dat alles nie altyd sal goedgaan nie, was ek voorbereid.  Meeste dinge is tog dieselfde-anders as in Suid Afrika.

Die meisies gaan nogsteeds skooltoe elke dag, na ‘n ‘no-pressure’ zone.  Wat nie vandag klaar is, kan jy môre doen.  Die meeste huiswerk sluit dalk 10 somme in.  Uit die enigste Engelse skool met 140 kinders in ‘n Nederlandse kolonie, is daar nie genoeg kinders om ‘n sokkerspan aanmekaar te sit nie.  Daar is nie ‘n Ma om by die skoolhek te waai nie, wat nog te sê van groet.  Jy ry by die agterste hek in, laai af by die ingang en weer uit by die voorste hek.  Hulle leer nie meer aanhoudend nie en het geen druk van ‘n onderwyser om te presteer nie.

Met soveel meer tyd op hande het ek nie skielik ‘n bo-baas kok geword nie, inteendeel.  Kosmaak was nog altyd direk gekoppel aan my emosionele stand.  My emosionele stand is laag.  Bitter laag.  Onverwags en onbekend laag.

Ons huisie is so pragtig, klein en snoesig.  Ons huis is lig en oop.  Twee ure en dit is silwerskoon.  Ek het egter nie oornag ‘n liefhebber geword van huisskoonmaak nie … stemme in my kop vertel my dat ek tot niks gekom het nie: goed genoeg vir ‘n besem en ‘n pot.  As die meisies van die skool afkom is die wasgoed, huis en skottelgoed afgehandel … aanvanklik.

Ek het uiteindelik moed bymekaar geskraap om my hare by een van die hareKAPPERS te gaan sny.  Kan jy hoor hoe HARD is die Kapper gedeelte in die woord?  Dit skreeu op my … die hareKAPPER het haar bes gedoen terwyl sy my vertel hoe hulle eintlik net gay-vrouens se hare sny omdat vrouens in Suriname se kultuur lang hare dra … en dit is hoe ek daar uitstap.  ‘n Straight vrou met ‘n Gay kapsel.

Skielik was ek heeltyd bang.  In ‘n land waar 17 huisbrake in een jaar plaasgevind het is ek bang???  My brein sê vir my dit is gevaarlik omdat dit soos gevaarlike gebiede in Suid Afrika lyk.  Waar ons gewoon en skoolgegaan het was eerstewêreld, die gevaarliker zones lyk soos hierdie: derde wêreld.  Die derde wêreld gebiede is nie noodwendig veilig vir die eerste wêreld bewoners nie.  Suid Afrika – ‘n Reënboognasie met eerste, tweede en derdeklas verblyf!

Ek het my ‘to-do’ lysies, ek het woorde en stories in my kop, daar is drie vakansies wat beplan moet word en iemand gaan moet melktertjies bak vir die ‘Food Fair’ in April … maar ek kry niks gedoen nie.  Wanneer ek in ons huis instap oorweldig die stilte my.  Ek kry niks gedoen nie want ek is eenvoudig nie lus nie.  Ek kan niks op my lysie aftick nie, niks is in elke geval dringend nie en daar is nog soveel ure oor waarin ek dit kan doen … ek kan nie blog nie, ek kan nie vee nie, ek kan nie kosmaak nie.  Ek het niks om te vertel nie en die meisies is nou al moeg vir my geselskap.  My geselskap is ‘n nuwe series wat help om die tyd verby te laat gaan.  Die horlosie tik stadig.  Te stadig.


‘n Onverwagte, Vyandige Vriend.

Hier, op ons avontuur na ‘n nuwe land, maak ek kennis met ‘n Donker Gestalte wat jou hande vasbind, lood in jou skoene gooi en jou wêreld se lig steel.  Dit steel jou idees.  Dit steel jou lus.  Dit steel jou persoonlikheid.  Dit oordonder jou positiewe gedagtes.  Die Donker Gestalte praat heeldag met jou, redeneer en baklei oor wat jy wil doen en nie voor lus het nie, wat jy moet doen maar heeltyd uitstel.

Die stilte verlam my.

Die niksdoen delete my.

Die moet doen verveel my.

Die alleen oorweldig my.

Die Donker Gestalte was besig om my onder te kry.


Twee weke gelede.

Na ‘n week se ry van die een kitsbank na die volgende het ons uiteindelik genoeg kontant getrek om vir die meisies fietse te koop.  Die idee is om van nou af skooltoe en winkel toe te ry; ons gaan die wêreld leef en ontdek op ons fietse.

Oppad huistoe stop Lyf egter by iemand anders se huis in ons kompleks en sê “Klim uit, kom saam!”  Ons kyk na hom met groot oë soos hy selfvoldaan na die voordeur toe stap en die klokkie lui.  Harriet maak die deur oop.  Sy is gewapen met ‘n pragtige glimlag, drie maande langer se ervaring in Suriname se stilte as ek … maar bo alles!  Expat-vrouwees Ervaring.

Soos Emmie nie wou kom nie, het haar seun, Thomas, uiteindelik aangepas in die nuwe skool met nuwe tale en meestal donkerkleurige mense.

Callie kon asossieër met 16 jarige Paul se frustrasies van ‘n stadige-pas skool waar niemand dink aan universiteit en ‘n loopbaan nie.

Harriet het drie maande se donkerte van alleen wees en lus vir niks nie, oorkom.

Soos altyd het Lyf vir my uitgekyk.  Die Here het geweet my ridder sal op ‘n mountainbike rondry, my liefhê en oppas waar ons ookal gaan.  Lyf het raakgesien wat ek probeer wegsteek, hoe ek probeer sterk wees en baklei teen vreemde emosies wat nie sinmaak nie.


Vandag.

Ek herhinner myself ons is nou eers twee en ‘n half maande hier.

Die uitstappie na ‘n Plantasie saam met 8 ander Expat vrouens het my weer energie gegee, my trots teruggebring vir ‘n skoon huis en om minder smaaklike aandetes met oorgawe en selfvertroue te bedien.  Vrouens wat ook in ‘n nuwe land met ‘n nuwe taal en vreemde winkels moes leer aanpas, inpas en lewe.  Met kinders wat sukkel, maatjies mis en in duidelike terme vir jou vertel hoe aaklig dit is.

Ek kan die hele dag sit en myself vertel hoeveel daar is om voor dankbaar te wees, hoe voorreg dit is om na ‘n ander land toe te kon kom vir soveel redes, hoe absoluut ongelooflik dit was om ‘n betaalde vakansie in Amsterdam te kon kry en nou beplan vir Disney World!  Niks het my laat beter of ‘useful’ voel nie.

Dankie vir ‘n Harriet.  “Lizel, this is how you should do it.  There is no other way to survive an expat placement, be a good mom, a good wife, good housekeeper and to love yourself.  You need people!”


Skielik besig.

Intussen het ek ‘n tydelike werkie gekry.

Ek het uiteindelik genoeg energie gehad om die Nederlandse online kursus te begin, want daar is nou motivering om Nederlands te praat met die Expat-girls.

Die meisies het ingeskakel by groepklasse vir Thaibox en eenkeer ‘n week is dit deurry na OnStage vir drie ure se sing, dans en drama waar hulle hopenlik kan deel word van ‘n produksie later in die jaar.  Wagtend sit getroue ma’s en gesels.

Daar is vlugte om te boek, akkommodasie om te reël, vakansies op te beplan.

Daar is ‘n klankbord vir my af dae en ‘n groep vrouens wat presies dieselfde aanpassings dilemmas as ek beleef het.

Ek weet watter kitsbanke het altyd geld en watter om permanent te vermy.  Ek weet waar om amper alles te kry, al is dit nie onder Checkers se een dak nie.

My brein het aan die omgewing gewoond geraak en ons het nog nooit so veilig gevoel nie.

Dalk het fietsry skooltoe nie gerealiseer nie, maar Peperpot Natuurreservaat kan op voet of fiets verken word.


Sê dit tog net
!

Soms is die lewe oorweldigend!  Hoe ek ookal probeer het, aanpassings-depressie het my beetgekry en verlam.

My rolstoel het nie wiele gehad nie, maar ek was vasgekluister daarin.

My vyande: stilte en alleenwees.

Hoekom ek skielik gewig optel, kan ek nie verklaar nie, maar ek kan daarmee cope.

Nie almal hou kontak nie en nie almal verlang nie … party was seisoen-mense wat ek moes agterlaat.  Ander is vir-altyd mense waarvan jy min hoor maar weet hulle is daar.  Die 24-7 vriendinne en familie kuier amper weekliks oor ‘n Whatsapp-call.  Verskillende mense, verskillende verlange, verskillende verhoudings!  Alles is OK!

Dinge gaan nie loop soos ek hoop nie en dit was nie anders in Suid Afrika nie.  ‘Life happens.  People happen. Get up and Face it.”  Daar is nie ‘n ander manier nie, maar moenie jouself probeer oortuig dat jy dit alleen kan doen nie.

Niemand kan alleen wees nie.  Niemand moet alleen wees nie.

Somtyds is jou gesin nie genoeg nie!  Ons vier het mekaar, maar ons kort ook almal iemand anders.  Ons verlang na verskillende mense, verskillende kos en verskillende dinge en maniere in Suid Afrika.


Mari wag vir my
.

‘n Blou orgideë is in die fiets se mandjie gelaai, Mari is nou drie weke hier met ‘n beperkte Engelse woordeskat.  Sy kan nie bestuur nie en haar twee Kanadese seuntjies kan alleenlik Frans praat.  Sy kom slegs uit wanneer haar man naweke tuis is.

Mari het nou ‘n Harriet nodig, ‘n Lyf wat vir haar uitkyk voordat die stilte haar verlam en in ‘n donker rolstoel vaskluister.

Time to return a favor. 

 

Môre … Môre … ja beslis, Môre is die dag!

As hotelbewoner is my skedule eintlik baie dieselfde as voorheen.
05h30 staan ek op en maak die meisies wakker.
Teen 06h30 is almal gereed vir ontbyt, kosblikke pak en ons ry 06h45.
Ons arriveer ongeveer 07h15 by die skool. Ek maak oproepe huistoe tot so 08h00 en oefen tot 09h00. Teen 10h00 is ek klaar gestort en lees Bybel tot 11h00.
Dit los 2 ure vir admin of blog of iets tot die middagroetine 13h00 begin: girls by die skool 14h00, eet, oefen 15h00 tot 16h00. Terug by Hotel 17h00, huiswerk en eet 18h30. Teen 20h00 is almal gereed, tasse gepak vir môre, Bybellees en slaap. Callie kan 21h00 gaan slaap en my kersie word so teen 22h00 uitgeblaas. Dan slaap ek soos ‘n baba tot die wekker 05h30 lui.

Lyf sal nou met ‘n frons op sy gesig na die stukkie staar, sy oë uitvee en weer lees … net om seker te maak ek beskryf myself. Dit was my beplanning, ja … toe lui my wekker …

Ek staan byvoorbeeld NIE DADELIK op nie … dit neem dit ten minste drie keer se snooze en baie oortuiging om myself uit die bed uit te sleep. Ek dink soms redes uit hoekom die meisies dalk vandag maar by die hotel (of huis) moet bly … het almal nie soms ‘n af dag nodig nie? Ek weet dit is nou eers Maandag … OK, OK … Callie is reeds op en in die stort … ek het op ‘n stadium opgegee om haar wakker te maak, haar skedule begin te vroeg!!!! Emmie … wel Emmie is ‘n ander storie, amper … amper presies dieselfde ‘actually’ as haar Mamma toe sy ‘n kind was. Ek moet langs haar bed staan en haar SMEEEEEEEK op ASSEBLIEF nou op te staan. Haar tas is toe nooit gisteraand gepak nie en niemand het onthou om hulle Kickboxing sak gereed te kry nie. Waar het sy haar skoene gister uitgetrek en hoe op die aarde is dit ‘n halfuur later en haar hare en tande is nogsteeds nie geborsel nie? Môre!! Net môre maak ek haar vroeër wakker! Môre snooze ek … net eenkeer!

Teen 06h45 is ons die fokuspunt van die hotel. Dit is kosblikke pak (‘undercover’ … die ander gaste mag nie sien nie, ‘n spesiale vergunning) en ‘n eier bestel en ‘n bakkie oats eet en ‘n glasie lemoensap. Op en af, vat ‘n hap, op en af, vat ‘n sluk! Teen 06h50 is dit tasse gryp en hardloop, ek sal die rekening teken as ek terugkom! Die skoolklok wag vir niemand nie!

Dankie tog vir verkeer, die rit skooltoe is my gunsteling tyd! Ons musiek-kuier-of stiltetyd. Soms is dit hard en raserig tussen stories vertel en musiek deur; ander kere is dit stil maar gemaklik, elkeen in sy eie wêreld. Maar altyd saam.

My motiveringsvlak vir oefen is teen 08h00 aansienlik hoër as 05h30! Selfs as 05h40 … en ja! Ook teen 06h00! Party mense sal vir my goed sê soos “vir jou is oefen maklik, jy is mos maer!” Ek weet nie wáár die filosofie vandaankom nie! Daar is absoluut NIKS vleiend of maklik aan my burpies nie, ek slat neer van die eerste tot die laaste een soos ‘n walvis! Met elke push-up kom die grond vinniger nader en die opstoot stadiger. Teen rondte 5 is my bene so jellie, ek kán eenvoudig nie meer hardloop nie, nie eers op die plek nie.

Dalk is dit die lugdruk? Dalk sukkel mens net meer op die ewenaar?

Dit gaan klein bietjie beter met die skop en box gedeelte … ‘oh man!!’ Waar is my Martial Arts fiksheid heen?? Ek dink van môre af, as die meisies oefen, moet ek bietjie my tegnieke en fiksheid opskerp. Ek sit mos net en wag. Ja, môre!

As ek ‘n uur later bloedrooi en sopnat daaruit stap, wonder ek hoekom ek nie ‘n gym gekies het op die grondvloer nie? Die stel trappe is veilig vir niemand na 50 squats nie – en nee, ek het nie EENKEER met een enkele squat afgegaan tot by 90 grade nie, vir ‘n beginner is 40 sekerlik voldoende?

Uiteindelik by die hotel se swembad aangekom loop ek eenvoudig tot die grond onder my voete wegraak en val vooroor. Praat van 90 grade? Ek doen ‘n 90 grade invalshoek van die rand af. Daar is ‘n vreeslike gespartel wat moet lyk soos iemand wat verdrink, maar is eintlik die prentjie van diepe angs! Sien, ek het die bikinitop se bandjie nie ordentlik vasgemaak nie en na my grasieuse inval met twee bikini broekies onder die water geëindig … my longkapasiteit word onder ernstige druk geplaas sodat ek weer opkom met ‘n top op sy plek!

Die kelner het geen bestelling nodig gehad vir die rooi-gesig-sleepvoet-sukkelaar wat vooroor neerval op die swemstoel nie: ‘n Water en ‘n Coke staan vir my en wag!

Soos vroeër in die gym is niks aan my postuur, voorkoms of aksies langs die swembad vleiend nie: nie die in-of uitklim nie, nie die neersak nie … en beslis nie die ‘tan’ sessie nie. ‘In the absence of a hat’ gooi ek my rok oor my kop wat wapper in die skielike wind; ek bid dat die son net so bietjie genadig kan wees tot ek krag in my arms gekry het om om te draai. Ek oortuig myself die 10h00-ewenaarson geen skade kan aanrig nie.
As ek môre swembad toe kom sal ek die sonroom, sonhoed en vol swembroek onthou …

Ek gaan deur my lysie vir my dag: Ambassade bel vir ons visas, huis agent kontak, hare afspraak, mediese eise, eposse: my foon sal binnekort lui. Ek hoef nie ‘reminders’ op my foon te sit nie, die ‘Reminder’ vir bel my! Enige oomblik nou sal Lyf bel en vra wat doen ek terwyl hy eintlik bedoel het jy dit al gedoen. Dankie tog hy bel en kom nie hotel toe nie: oor die foon het ek nog altyd baie meer produktief en in beheer geklink as in lewende lywe. Ons albei wéét dit tog: as ek nie met Lyf getroud was nie, het hy my lankal ‘gefire’! Wil mos alles vandag gedoen hê!! Ek kon nog nooit verstaan dat Lyf-die-Reminder soveel stress op homself plaas om my en sy ‘to do’ lysies te memoriseer nie: geweldige, onnodige druk. Ek bewonder Lyf vir sy selfdissipline, maar dit maak my meer ontspanne uitkyk en benadering nie verkeerd of onproduktief nie? Gestel ek mis nou die Ambassade vandag, hulle is mos op dieselfde plek môre oggend? Die huis agent gaan nêrens heen nie.
Môre is inderdaad nog ‘n dag! En hier gebeur meeste dinge in elke geval of later of môre. My persoonlikheid is gemaak vir die plek!!!

In elke geval, toe ek so 11h00 se kant opgaan kamer toe om produktief te raak, was ‘room service’ nie net op ons vloer nie, maar besig IN ONS KAMER!

Nee-wat: my ‘cover’ storie is ‘rock solid’, Lyf kan maar bel.

Presies hóe dit gebeur het, kan ek nie verklaar nie: maar toe ek weer sien is dit 13h00! Ek moet nog die chloor van my lyf aswas, middagete vir die meisies voor hul kickboxing klas en gel in my hare kry wat ‘n sny nodig het by die haarkapper wat ek toe nie gebel het nie … dit was nou net 11h00?

Party dinge sal seker nie verander nie … ek was nog altyd ‘n ‘expert’ laatkommer, spoedige klaarmaker en op-die-nippertjie hardloper na die kar toe om gewoonlik net betyds by my bestemming aan te kom. Met my nuutste, gunsteling liedjie op ‘repeat’ vat ek die pad skooltoe. Die geheim is om koel en kalm te raak oppad na jou laat bestemming! ‘Look the part’ … mense het nog altyd gesê ek is ongelooflik effektief en voorbereid? Niemand hoef te weet ek het van my Bybelstudie, halfuur spaans op Babbel en middagete vergeet nie? O gats! Ek het ook heeltemal vergeet dat ek mos eintlik Nederlandse podcasts luister oppad skooltoe! Ek het so lekker konsert gehou, skoon vergeet om my Nederlands te verbeter!

Sien wat ek bedoel met ‘Look the Part’? Klim uit, groet almal kalm en beheersd, laat die meisies dink die pak ‘chips’ en ‘n piesang vir middagete was beplan. Jy gaan in elke geval niemand beïndruk met jou weergawe van ‘crisis and time management’ nie!
Tog, vir die soveelste keer vandag, besluit ek om môre beter te beplan … ek wonder hoekom het my Reminder nie maar ‘n tweede keer gebel nie? Dan sou 13h00 my nie so onverwags betrap het nie!!

Teen 17h00 begin ons uiteindelik eers met huiswerk. Soos verwag het die oefening perfek afgeloop: die meisies het ‘n lang lys redes gehad om vandag te mis, my met sulke jammer-gesiggies aangekyk dat ek hulle na so martelkamp toe stuur en gehoop ek sal hulle in my liefdevolle arms opsweep en huistoe vat! Dit het nooit gebeur nie so die aanvanklike stilte in die kar was dalk so bietjie onaangenaam. Dalk was hulle emosioneel afgestomp van moegheid? Ek weet nou ook nie álles nie!

Ek is stom verbaas as ons teen 20h30 eers klaar geëet, gestort en gehuiswerk is. Môre sal ek aandete vroeër gereed hê! Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees as ons uiteindelik kniel in die aande: niemand is dood van die honger, in ‘n ongeluk, beseer tydens konflik nie … plus daar wag ‘n bed v ons almal!!!!!

Teen 21h00 smeek ek die meisies om ASSEBLIEF nou die ligte af te sit en te slaap. In my besige dag was daar nog nie tyd om die nuutste Episode van ‘Blue Bloods’ te kyk nie en ek is so nuuskierig om te weet wat op ‘This is Us’ gaan gebeur. Lyf wil baie graag saamkyk, maar ‘fatigue management’ is aan die orde van die dag! Onder 5 minute en Lyf is uit soos ‘n kers.

Wat ‘n dag! Rede om te glimlag 🙂 … sulke dae is nie uniek nie. Party dae loop soos stroop en ander soos ‘n warrelwind. ‘But somehow we manage.’ Altyd! Ek kry alles gedoen op tyd, betyds, al is dit dan nou nie Lyf se tyd nie. Daar is duisende ander soos ek wat soms net besig raak … al kan jy nie noodwendig presies verduidelik wat jou tyd so in beslag geneem het nie.

Ek lê en wag vir my ‘uit soos ‘n kers‘ oomblik wat eers iewers na 02h00 opgedaag het! Ek gaan gereeld in my wakker ure deur môre se lysies en beplanning! Elke nou en dan moet ek Lyf kry om op sy sy te draai sodat die snork kan ophou.

… dit is egter ‘n veel erger geluid wat ek hoor … ‘n aaklige geluid laat my wakkerskrik … onbeskof (as jy in agneem dat ek 02h00 nog wakker was) … kan dit wees?

Nee!

Ja – DIT IS!

Die verskriklike geluid is my WEKKER!
Dit is sowaar môre …
Snooze … nog net 5 minute, vandag sal Emmie vinniger klaarmaak as ál die gisters en Callie se hare sal die éérste keer gereed wees. Hulle het nou al geleer om vinniger tasse te pak.
SNOOZE! Ek het gister so hard geoefen, dalk moet ek hulle gaan aflaai en kom terugklim in die bed, ek moet die visas eers vanmiddag gaan haal.
SNOOZE! O aarde! Wat ‘n skerp lig is dit? Is Callie al klaar in die badkamer? Het sy vroeër opgestaan as gewoonlik? Kan ek dalk nog eenkeer snooze?

WAT? HOE? WANNEER? Dit is dan 06h00! Ek was dan gister so seker dat môre vlot gaan verloop?

Stadig kom ek regop, praat ernstig met myself: “Superwoman … regtig, jy moet NOU opstaan!”

Deur die vensters van my eie auto.

Ek ry deur die teerpaaie van Paramaribo in Suriname … by die meeste zebrastrepe is die lyne teen die sypaadjie al wat oorgebly het.  As jy nie weet waar die strepe en bane is nie, gaan die lyne op die pad jou nie help nie.

Waarvan praat ek?  My nuwe tuiste natuurlik.  Dit klink nog so onwerklik soos drie maande gelede: September 2018 het die miskien begin, Oktober 2018 het ons die stukkie wêreld ontmoet en daarna was dit die chaos van organiseer en beplan om ons lewe in ‘n boks te pak vir die trek na Suriname waar ons 2019 ons oë oopgemaak het na die 25-uur se reisplan uit Suid Afrika.

‘n Stukkie Afrika in die Noorde van Suid Amerika.  Toeriste aantrekkings sluit in die Ghana Jungle Tour waarheen Ghana-slawe gevlug het en vandag nog woon soos in Ghana voor hulle weggevoer is.  ‘n Regte Stukkie Afrika hier op ons voorstoep.  Die tweede verassing is … Nederlands.  Jip! Dit is die voertaal.  Nie Spaans wat Suid Amerika domineer of selfs Engels nie.  Rou Nederlands waar woorde soos Jongeling nog gebruik word vir klein kinders, jy jou Brooddoos met kos skooltoe vat en jy in die Hotel woon, nie bly nie.  Ons nuwe lewe is nou op ‘n stukkie van die Amazone en die Ewenaar.  Dit is tans die Winter-Reënseisoen wat beteken dit reën ‘n rivier vol by die voordeur van die hotel en is 31 grade sonskyn agter by die swembad.  Jy kan oor die hoë brug ry – hoog genoeg sodat skepe onderdeur met die Surinamese rivier kan vaar hawe toe – na New Amsterdam waar jy meer sal leer van die Boeroes wat uit Nedeland gekom het, terwyl die Geskiedenis in die Surinaamse Museum aan die kant van die brug vertel word uit die oog van die ‘locals’ en die Politiek.

Ons beleef die wêreld deur die vensters van Lyf se werksbakkie of die hoteldrywer se auto … alles bly vreemd.  Al lyk dit bekend, bly dit vreemd … ek weet eenvoudig nooit waar ek is nie!

Ons is steeds hotelbewoners.  Wie sou nou dink jy kan ‘n ‘regular’ wees by ‘n hotel?  Die meeste staflede het ons gegroet soos ou bekendes en onthou van Oktober af.  Met ontbyt vra jy nie meer vir koffie nie, hulle weet jy drink koffie met melk of verkies lemoensap.  Die sjef is verbaas as hy by jou tafel aankom met twee gebakte eiers, ‘sunnyside up’, maar jy sluk ‘n lepel Oatspap af vir bietjie verandering.  By die swembad sit jy vir ‘n kort rukkie voor jou Virgin Strawberry Daiquiri opdaag en vir Lyf ‘n yskoue … Cola.  Nee!  Nie ‘n yskoue bier nie; Lyf is 24 uur aan diens en ‘n telefoonoproep ver van groet en ry … wat my weer afhanklik maar van ‘n drywer.

Ek kan nie presies sê hoekom ons nog nie in ons huurhuis ingetrek het nie.  Dalk ‘n dispuut oor wie die verskriklike duur meubels gaan betaal en jammerte dat hulle nie maar ons meubels met ‘n skip saamgestuur het nie?  Aanvanklik was die ‘window shopping’ nogals irriterend gewees.  Wie neem nou ‘n foto van elke liewe item wat jy in jou huis wil hê van ‘n teelepel tot ‘n kopstuk.  Wie sit dit in ‘n dokument vir die nuwe maatskappy se HR afdeling en trek ‘n ‘spreadsheet’ op met pryse?  Of dalk is die uiteindelike vraag wie was die meeste verbaas toe die spreadsheet ‘n ‘autosum’ aan die einde doen?  Die spreadsheet se naam is ‘Reality Checker’ … en ons verblyf is pas verleng met nog ‘n week.

Ewe geduldig het ‘n ander drywer my elke dag na ‘n ander meubelwinkel toe gevat.

Ja ek weet ek kan self bestuur!!  Hier buite staan ‘n splinternuwe Ford Kuga wat geleen is tot ek my eie kar kry.  Ek kan sê dit is eenvoudig te gevaarlik om in ‘n vreemde land se Ford Kuga in te klim met ‘n nuwe Samsung foon …

Bang?  Asseblief – enige Suid Afrikaner met ‘taxi-negotiation-skills’ kan omtrent enige plek in die wêreld bestuur.  Het ek genoem dat ABS brieke waarskynlik in die land ontwikkel en getoets is?  Meeste hou dalk by die 40 km/uur spoedgrens, maar bitter min ry stadiger – spitsverkeer of nie.  Dit is ry en briek!  Ry en briek!  Surinaams vir Stop-tekens is ‘Yield-and-Go”.  As dit oop is, ry jy!  Jy sal vinnig ‘n hoeter agter jou hoor as jy vir ‘n oomblik dink jy moet by ‘n stopstraat wag, kyk en dan ry.  Ain’t gonna happen!   Die paar robotte is hier slegs vir wegtrek-kompetisies: wie is eerste uit die blokke – jy of die ou agter jou??  Jy druk jou neus so bietjie vir bietjie in tot iemand so gaaf is om in spitsverkeer vir jou ‘n plek te gee of … wel … tot jou neus so voor iemand is dat hy moet besluit of hy vandag in jou wil vasry of jou ‘n plek wil gee.  En die selfvertroue waarmee die klomp so indruk is indrukwekkend:  jy dink nog jy ry, dan kom hy hier voor jou verby gery.  Callie sê vir ons is daar geen kort-of agterpaadjies nie: as ek bestuur gaan alle paaie lank vat!

Vir die meisies se gemoedsrus is dit dus beter as ‘n chauffeur hulle by die skool aflaai en dit pas tog heeltemal by die profiel van ‘n kind wie se adres MARRIOT HOTEL is?  Watter hotel-kind se Ma ry haar rond?  REGTIG???

My ‘Fear of the Unknown’ is bestuur.

Die meisies s’n was ‘n nuwe skool met ‘n nuwe taal en nuwe reëls, nuwe kinders, nuwe ALLES.  Dag een het hulle reeds 06h00 gereed gestaan om te ry en baie senuweeagtig gewag vir ontbyt wat toe eers vanaf 06h30 bedien word.  Hoe moes ons ook nou weet die skool is slegs 15 minute van die hotel af … dit is nou met Lyf of ‘n drywer agter die stuur!  Die onseker bang gesiggies wat die oggend oorhandig is in die hande van die Graad 5 en 9 onderwysers het teen 14h00 die middag verander na gelukkig, vreedsaam en … sterk!  Hulle het dag een verower.  Emmie het die hele 45 minute se spitsverkeer hotel toe gepraat en gesels terwyl Callie stil en vreedsaam in haar eie Online-Schooling wêreld by die venster uitgekyk het.  Dit klink of Emmie terug is na vakansie en ken al agt klasmaats se name afkomstig van China, Suriname en Nederland.  Callie … sy kan nie minder omgee wie die 10 ander is nie?  Sy is gelukkig om drie periodes ‘n dag saam met hulle te spandeer en die ander 5 skool te gaan op die Internet.

In twee weke het baie gebeur; nie alles nie, maar baie.

Oujaar het ons die massas ingevaar in Paramaribo se strate.  ‘n Gedeelte van die stad word toegemaak en almal van Suriname kom hoofstad toe waar maatskappye klappers skiet van 100m of langer (afhangende van die jaar se sukses).  Ek en Lyf was reg om ‘n bier saam die locals te drink en in die strate saam die vreemdes te dans toe ons die bleek en angstige gesiggies van die meisies raaksien.  Klank kom uit elke derde UNO se kattebak – oorverdowend, indrukwekkend.  Om nie eers van die Bierman te praat nie – daar is meer biere in sy klein karretjie se kattebak as ‘n Shebeen in Soweto.  Volgende keer los ons die meisies by die huis en gaan ontmoet die ‘locals’ op ons eie!

Die sirkus uit Mexico was fantasties: dit is groot soos toe ons kinders was.  Die hele dorp was al daar, almal praat daarvan – vir ‘n maand lank is dit op almal se lippe!  Hulle is geskroef as hulle Noord wil naam maak, Trump sal dit nie toelaat nie, so die Suide sal dit wees!  Ons was presies waar ons hoort:  my span het uit hul mae gelag, gelukkig om bymekaar te wees al is dit so ver van alles wat bekend is.  Ons het deur die skielike reën in absolute vrede sopnat gesit en sirkus kyk!

Lyf het sy pad tussen hotellewe en die myn gevind en ons met selfvertroue agtergelaat om ons eie ‘battles’ te ‘face’ en te ‘fight’.

Taal is moeiliker as wat ek gedink het.  Alhoewel daar soveel Afrikaanse woorde in elke gesprek voorkom weet ek eenvoudig nie wat iemand vir my probeer sê nie.  Opwindend, het ek spoedig besef, is nie ‘n woord om ligtelig te gebruik nie.  In Nederlands het dit ‘n seksuele konteks en is dit nie dieselfde ‘excitement’ wat ons in Afrikaans ken nie.  Ek is so lief vir opwindende stories en om opgewonde te wees!!!  Jy sou dink ‘n nuwe taal moet jy net leer praat … maar jy moet ook leer om sekere woorde nie te praat nie!

Derdewêrelds verstaan ek nou anders?  Uit die vensters van elke drywer se ‘auto’ sien jy ‘n land wat so half in tyd gaan stilstaan het.  Die Apoteek het ‘n rak agter ‘n toonbank waar slegs die apteker toegelaat word – ‘n rak met die absolute basiese medisyne waar sinus nie bestaan nie en niemand nog ooit van depressie gehoor het nie.  Hier is die petroljoggie so belangrik soos die kelner of die Hotelbestuurder.  Om te weet waar die strepe eens geverf was op die pad, moet jy die een voor jou volg.  Die eerste robot-weergawes staan hier oor die pad en pronk en jou selfoon kontrak is nog op papier.  Alle karre is oud, behalwe die expats wat company karre ry en seker die rykste politikuste of ‘n besigheidsman hier en daar.  Die geboue is jare laas onderhou: langs die een winkel val ‘n houthuis inmekaar en aan die ander kant het ‘n Chinees sy winkeltjie oopgemaak.  Hy kan nie ‘n woord Nederlands of Engels praat nie, maar kry dit reg om sy produkte in SRD te verkoop.  Hier is nie ‘n SPAR op elke hoek nie, die hele stad het twee soortgelyke winkels.  Hier is nog ‘n regte egte café met melk en brood en dalk ‘n suigstokkie en toiletpapier af in die straat.  Soos orals in die wêreld is die meeste arm en ‘n paar is ryk.  Maar hier stap ‘n Christen uit die Kerk uit en groet die Moslem oorkant die pad.  Niemand praat af na ‘n ander nie.  Dit is ‘n land waar daar een volk oorgebly het uit ‘n geskiedenis van Boeroes, slawe uit Indie en Ghana of die intrekkers van Indonesië en China.  Hier is nie rassisme nie, want almal is getroud met almal, alle gesinne en agtergronde en nasies vermeng tot een.

Daar kom ‘n tyd om alle vrese aan te pak … en die dag het toe aangebreek op dag drie by die nuwe skool.  Dit was ‘n fantastiese uitstappie reg rondom die stad wat die normale 15 minute rit na ‘n uur verleng het.  Toe ons by die brug kom wat oor die rivier links draai het ek geweet regs is nou die naaste pad skooltoe.  Ek kan met absolute oortuiging sê dat ons plekke in ons twee weke gesien het waar Lyf nog nie eers gery het nie.  Ja, die meisies was ‘n halfuur laat vir skool, maar my vrees vir self bestuur is nie alleen totaal en al uitgewis nie … ek het nou die middestad en buitewyke van Paramaribo gesien en gery.  Ek is net bitter dankbaar niemand het ‘n plassen nodig gehad nie, want daarvoor moet jy betaal en ek kan nie met alle sekerheid sê ons was altyd op veilige plekke nie … Middestad of ‘township’, hoe dit ookal gelyk het in ons Suid Afrikaanse definisies en beskrywings, ons het nie ‘n oomblik bang of onveilig gevoel nie!

Die Here werk op Sy vreemde manier.  As ons nie meer in die hotel gewoon het nie, sou ons nie so ver moes ry of so ver verdwaal het nie.  Dit is hier tussen die bekende vreemdelinge waar ek ‘n plekkie kry en iemand het om te groet elke oggend.  Dit is ‘daunting’ om te weet ek ken nie een persoon in een enkele straat nie.  Anri bel nie meer elke oggend vir koffie nie en daar is niemand by die skoolhek om te groet nie.  Wanneer ons hartsmense van die werk afkom, kom ons meisies van die skool af.  Die wêreld en mense soos ons dit ken gaan ongestoord aan sonder ons … Dalk verlang hulle?  Dalk is daar ‘n nuwe koffie-kletser?  Dalk is dit stiller sonder my langs die sportveld?  Die wêreld staan nie stil nie, verander nie, wag nie.

Ek leer ken die vreemde een verdwaal na die ander en doen inkopies in gebroke Nederlands een winkel na die ander.  Die verlang en ‘homesick’ sal nog kom en die meisies gaan afdae hê soos vandag.

Gister is ons oppad na ons hotel-huis toe na kerk; ‘n mens is lief vir die Here in enige taal.  Hy het iets gesê van die Bybel en Jesus wat ons GPS is sodat ons nie die verkeerde pad vat nie … baie gepas vir my vreemde paaie wat ek so saam die GPS gery het die week.

Ek kyk na my span in die truspieëltjie.  Emmie se onophoudelike gebabbel in beskrywende sinne wat al hoe meer Engelse woord bevat, Callie se onverwagte, snaaks, sarkastiese aanmerking nou en dan; sy vertel haar storie op haar eie stil manier.  Lyf, die passasier.  Sy oë sag en blou … gelukkig.  Ek weet alles is nie altyd perfek nie en dit gaan nie altyd wees nie … Maar vir nou, vir die oomblik, deur die vensters van my auto, is die nuut en die vreemd … perfek!

Aspoestertjie se Handsak

Drie dae voor die troue voel ek soos Aspoestertjie: ek het ‘n prins en ‘n uitnodiging …

Ek sou nooit kon raai hoe my goeie feë die dag gaan red nie … wag, hier is my Storie!

Ma van die Bruidegom kort ‘n rok, towerskoene en natuurlik ‘n klein, fyn handsakkie!

Die familie se stryd en stories om die gepaste uitrusting te kry is Vrydag aand gevul met ure en rande, dasse en baadjies, oorbelle en sykouse, skoene en handsakkies! Ek luister en lag na elkeen se storie, opgewonde om die storie by die persoon te sit … om te sien hoe elkeen se persoonlikheid en smaak uitgebeeld gaan word deur ‘n stuk lap om die lyf wat wonderbaarlik sal saamsmelt om ‘n ongelooflike familiefoto te vorm!

Enige iets vir Boeta se troue! Vandag is dit donker grimering, haarsprei, ‘n duur rok, fluweel baadjie en natuurlik my asemrowende skoene: goue blomme op swart. Hulle skreeu TROUE: uniek, spesiaal uitgesoek om van my blomme ‘n aandrok te maak.

Ek stap die vertrek binne, dit word doodstil soos toe Aspoestertjie almal se asem weggeslaan het met haar aankoms by die paleis. Toe ek my prins by die koets ontmoet het daai blou oë in ‘n pak klere my hart vinniger laat klop en vir ‘n oomblik konsentrasie laat verloor … Lyf is nog so ‘handsome’ soos die eerste dag wat ek hom ontmoet het en ook net betyds om my te vang voordat ek my paar blink sykouse flenters val!

My Aspoestertjie oomblik ‘n totale ramp!

Lyf wou my nog met bewondering aanstaar, maar die val het die oomblik geruïneer en die skoene het iets heeltemal anders vir hom geskreeu: “Help! Seer Voete! Gevaar!” Die laaste keer wat ek sulke hoë skoene gedra het was op ons eie troue. Die dominee het ons skaars man en vrou verklaar toe is die skoene uit! Die registers is met kaalvoete geteken en hy moes net keer of ek stap nog kaalvoet by die kerk uit ook!

Ons was reeds laat, so ek het vinnig gaan platskoene aantrek en die hakskoene in ‘n geleende handsak gedruk vir later!

… dis korrek, ‘n geleende handsak!

Geen winkel het die perfekte handsak besit nie … ‘n Fyn, pikante handsak kan ‘n lipstiffie hou, maar nie ‘n paar skoene nie. Ons almal weet tog die hakskoene is hoofsaaklik vir die fotos en die kapel en ek kan tog nie die hele dag met ‘n paar skoene in my hand rondloop nie? My eerste goeie feë was besig om te stryk toe ek haar handsak gewaar … was dit baie mooi? Seker nie! Fyn? Gladnie! Pas dit by my uitrusting? Hoegenaamd nie!

Die goeie-bediende feë toor toe haar handsak in ‘n skoensak. Ek gooi sommer alles wat jy moontlik nodig het om jou neus te poeier ook daarin! Die familie is skaam en geskok … maar Aspoestertjie het nog nooit so groot handsak, goue skoene of ‘n bediende gehad nie, sy’s ‘happy’.

My tweede goeie feë se naam is Uber …

Ons was amper by die venue toe my skoonsus laat weet sy staan met my een skoen in haar hand! Hoe ek dit reggekry het om net een skoen in te pak sal niemand weet nie, maar my goeie-bediende feë het het dit opgespoor en Uber kom die familie eers ‘n uur later oplaai. Ek kon sien hoe ek op al die fotos verskyn met ‘n platskoen en ‘n hakskoen, hoe seer my knieë gaan wees van die ongelyk loop … ‘n totale katastrofe! ‘The talk of the wedding!

Die goeie-drywer Uber feë toor toe die tyd, laai die familie vroeër op sodat Lyf net betyds die verlore skoen aan my voet kan sit, my optel en met die trappies ophardloop sodat ek met twee towerskoene voor die bruid by die kapel opdaag.

Die handsak het inderdaad towerkragte gehad. Almal was skaam om met die sak gesien te word, maar Lyf se bril het ‘n plekkie gekry, Oupa se beursie en almal se ‘photobooth’ fotos. Daar was snesies toe ons trane afgevee het met Boeta se ‘speech’ en ‘n keuse van lipstiffie vir laataand fotos. Daar was ‘n plekkie vir die strooimeisie se geleerde kouse en ons ringdraer-kleinseun se kruisbande. Ja, almal het uiteindelik baat gevind by my bediende se geleende handsak!

Die dag was gevul met ‘n sprokie van ‘n bruid, ‘n seun om op trots te wees, die perfekte dag waar mens sjerrie drink in klein, fyn teekoppies en roosterkoeke eet in mooi klere. Snaakse fotos by die photobooth in brille, vreemde hoedjies en skandelike verklarings soos “I came for the cake!” Van die ongelooflike oxtail tot die ‘spot-on’ DJ! Dit was inderdaad die perfekte troue!

Vandag was beslis ‘n sprokie … almal het fees gevier tot die bruid en bruidegom ons om middernag verlaat het.

Ek was Prinses Aspoestertjie vir ‘n dag met my bediende se handsak en storievertel-towersskoene. Middernag het die einde van ‘n Perfekte dag aangekondig, en die begin van ‘n ‘happily ever after’ vir ons aantreklike, stil seun en ons nuwe, donkerkop dogter!