Kersfees 2024:
My Ma is 72, sy weet nie wie ek is nie. Ons bel, maar sy kan nie eintlik praat nie. Sy klink soos iemand wat onder sedasie is, ‘slurr’ net. Sy kan nie haar vleis sny nie of self eet nie, sy kan nie self stort of aantrek nie. Die regressie van dementia so intens en so skielik.
Ek weet my fokus moet wees “My arme Ma”! Ek moet in sak en as sit en huil vir die ma wat ek skielik verloor het … maar sy is nie dood nie, sy kan nie begrawe word nie … sy is net eenvoudig weg, al kyk ek vir ‘n replika van haar op ‘n skerm.
Oupa is natuurlik moeg en uitgeput. Om in September jou vrou vol hoop by ‘n kliniek te gaan haal met beloftes van verbetering na skokterapie en aangepaste medikasie, is die realiteit ‘n intense skok waarvoor niemand kan voorberei nie. Jou ‘nuwe hoop vrou’ het verander in ‘n kind wat niks vir haarself kan doen of dink nie. Teen Nuwe Jaar is hy so uitgeput, hy gaan bietjie alleen weg saam sy kinders, sy liggaam self onder aanval van siekte – wie se immuniteit kan byhou met sulke intense en skielike veranderinge, verlies en vrae. Duisende en duisende vrae.
Is dit ek?
Wat kan ek anders doen, of wat kon ek anders doen?
Hoeveel van haar is daar binne oor?
Is dit tyd … moet ek haar iewers aflaai?
Die regte besluite is onmoontlike besluite met onmoontlike emosionele gevolge.
Januarie 2025:
“Hallo Mammie! Ja? Lekker maalvleis en rys vir aandete soos niemand anders dit kan maak nie! … dit is inderdaad fantasties, die jaarlikse vakansie is ‘n maand wag en ek kan sien Mammie kan nie wag nie. Ja, Paul is hier en dit gaan goed met Callie en Emmie.”
Die trane kom nou eers, om haar so te sien. My brein wou haar begrawe want … sy was net weg, maar ek kon nie. Ek het nie geweet hoe om iemand te groet wat oornag verdwyn het nie.
En … hier is sy … terug. Ek wil sê dit is ‘n wonderwerk … maar ongelukkig is dit wanpraktyk en die sameloop van omstandighede oor ‘n lang tydperk.
Onmoet vir Aaklige Dokter Psycho.
Sien, my Ma het ongelukkig haar lewe lank maar gesukkel met angs, depressie en is inderdaad bipolêr. Ek kan nie vandag hier sit en sê die medikasie vir bipolêr het nie ‘n aansienlike verskil gemaak nie en ek glo dit is hoekom ons almal vandag ‘n goeie verhouding met my Ma kan hê.
Die probleem is nie die aanvanklike diagnose nie, dit is die konstante byvoeg van nog en nog en nog medikasie oor die jare, wat die klagte van die dag ookal mag wees. Toe sy die laaste keer opgeneem is vir intense angs en depressie (wat blykbaar geassosieer word met dementia), het sy aansienlik verbeter. Wat doen die Aaklige Dr Psycho toe? Hy ontslaan die nuwe, verbeterde weergawe van my Ma … met ‘n sak nuwe medikasie. Die dag wat Oupa toe besluit my Ma eet te min om al die pille te drink, het sy stadig maar seker uit die kloue van die Aaklige Dr Psycho gekom en weer mens geword.
Dit sal vir altyd een van die hartseerste stemnotas wees wat ek nog gekry het.
Oupa: “Ek en julle Ma het gesels, gehuil en gesels soos normale mense … (stilte, sluk diep). Sy het self vanaand gestort, kan loop sonder om te val, trek nie aanhoudend haar klere uit nie, het self aandete gekook en ja … sy vergeet. Sy het nog dementia. Maar sy vat en los, pak uit en gooi rond, val en babbel nie onverstaanbaar nie. Haar gedrag … (sluk) … is normaal (snik). My vrou, julle ma, is nog hier.”
… sy was eintlik heeltyd daar … die Aaklige Dr Psycho het haar verander in ‘n kind en zombie. Daarna het hy eenvoudig die volgende slagoffer in sy kamers geroep vir ‘n kort gesprek en ‘n lang voorskrif. Oupa moes ‘n ambulans ontbied vir ‘n ernstige val! Hy moes sy vrou meer as eenmal van die grond af optel. Oupa kon nie meer sy kleinkinders by die skool optel nie, want sy vrou kan nie ‘n sekonde alleen by die huis wees nie. Hy moes in ‘n drie weke spektrum al die huistake oorneem. Al die rekeninge moet eintlik deur Aaklige Dr Psycho betaal word!
Ek kan nie help om te wonder of een of ander Mediese Maatskappy hom ‘sponsor’ vir elke pasiënt wat hy so ‘overdose’ nie. Hoe slaap hy in die nag om te weet hy het nog iemand se lewe potensieël verwoes … dalk is sy familie in beheer van die Alzheimers en Dementia inrigting en maak hy graag verwysings as sy arme pasiënte vra. Want ons is so idioties, ons glo alles wat iemand sê as daar ‘Dokter, PhD’ op hulle deur staan.
So lewe ons vandag: vir alle emosies en gedrag soek ons ‘n ‘label’ en ‘n pilletjie.
Instagram is so effektief om vrouens te oortuig hulle lei aan ADHD, kortisol wanbalans en wat nog alles. As jy dit begin glo, beteken dit Instagram het jou algoritme al mooi uitgepluis en jy spandeer te veel tyd op Sosiale Media. Weet jy nie hoe werk dit nie? Hoe meer jy ‘click’, hoe meer geld kry daai onwikkelaar wat jou probeer oortuig van al jou siektes en skete.
Maar mense wil vandag so graag ‘n siekte hê. Ons is gekonditioneer om siek te wees, iets te makeer en voorskrifte te vra. Dit is te moeilik om besig te bly, ‘scroll’ is die nuwe oefening. Ons is te lui om te oefen, soveel so dat medikasie soos Omezaprol uit voorraad gehardloop het en op die swartmark verkoop word. Mense drink liewers pille om maer te word, voordat hulle wegneemetes en oefening in hulle leefstyl aanspreek. Wat sê dit van die mensdom?
Kinders word grootgemaak met ‘labels’ en verslawings: “met liefde, jou gehoorsame Mamma en/of Pappa.”
As kinders vandag sukkel om te slaap, gee ouers hulle melatonin. Ja, kom mamma leer jou van kleins af hoe om met al jou toekomstige probleme te deel – drink ‘n pilletjie.
As kinders nie lus het om te speel nie, druk daai skerm in hulle gesigte en hey, lê sommer langsaan! Jy het dan so hard gewerk vandag, en jy sal die tegnologieverslawing seker later aanspreek of … nee wat! Dit is te moeilik, kom ons ‘scroll’ nog.
As jy in Graad 4 is, dalk ‘awkward’ of net sommer ‘n ‘Tomboy’ soos dit altyd genoem was, is jy nou verseker of Transgender of gay. Kom ons gee jou normale grootword fases ‘labels’ en eendag kan jy ‘n klomp pille kry om te deel met trauma van onsekerheid, angs en depressie wat die labels veroorsaak het.
Kinders kan nie meer sukkel op skool of universiteit nie, die werk is nie net baie en die aanpassing oorweldigend nie. Hulle moet medikasie kry vir angs en ADHD.
Natuurlik bestaan ADHD, bipolêr, depressie en angs. Ek het al self ‘n enorme paniekaanval beleef en dit voel letterlik of jy doodgaan. Maar is dit moontlik dat elke persoon een of ander psigiatriese afwyking kan hê?
Dit blyk dat die uitsonderings eenvoudig veralgemeen is. Die druk op kinders in skole en werksure op ouers het so handuit geruk, almal probeer net ‘cope’!
Terwyl ‘n wêreld sukkel om te oorleef onder ekonomiese, kriminele, akademiese en werkstres, lag sosiale media platvorms vir die effektiewe inkomste wat ‘scroll’ verslaafdes genereer as hulle ‘struggles’ uitbuit en name gee. Big Pharma is net so bly, want al die oordrewe psigiatriese kondisies benodig ‘n pilletjie en hey … hulle gee graag! Elke ‘label’, diagnose en ‘campaign’ is bly, want hulle print hoedjies, T-hempde en ‘n klomp ander items en maak ‘n wins uit die nuwe ‘socially constructed trend.’
Die doel van Psigiaters is om mense te help wat regtig sukkel, maar elke besige en normale seuntjie word sommer deur die juffrou gediagnoseer met ADHD; normale eksamenstres word verander in kliniese angs; ure by die huis vir ‘n vrou wat in ‘n sirkel vasgevang is van verveeldwees en TV kyk het vandag ‘n kortisol wanbalans en die een wat heeldag besig is met kos, rondry, kalenders bestuur en sterk oppad is om die Ma en Vrou toekenning van die jaar te wen, sy het ongediagnoseerde ‘adult onset’ ADHD.
Het ons dan so vasgevang geraak in alles wat op sosiale media aan ons verkoop word dat ons logika en self-dissipliene eenvoudig verdwyn het?
Daar is ‘n plek vir medisyne.
Daar is ‘n plek vir ‘labels’ en diagnoses.
My grootste uitdaging elke dag is om op te staan. Ek hou nie van opstaan nie. Dit beteken nie ek ‘n kortisol wanbalans nie.
My tweede grootste uitdaging elke dag is om te beweeg, want ek hou van oefen as ek aan die gang is, maar ek sukkel so om te begin. Ek is ‘n uitstekende ‘procrastinator’, dit gee my nie ‘adult onset ADHD’ nie. Ek is net nie lus om kos te maak nie en te lui vir skottelgoed was – dit is wat dit is!
Ek swot van die huis af, is meestal alleen en hoe meer ek alleen is, hoe minder wil ek mense sien. Dit beteken nie ek lei aan sosiale angs nie!
Ek is nie elke dag gelukkig getroud nie, dit beteken nie ek is eintlik ‘n lesbeen nie.
My lewe is nie uniek nie, dit is ook nie nuut. Mense het baie swaarder lewens gelei as wat ons vandag lei, en in baie lande en areas is die onderdrukking en omstandighede so intens dit is amper ondenkbaar hoe mense daar lewe en oorleef. Hulle het nie pille en labels nie … hulle het amper niks … so sosiale media druk nie allerhande ‘labels’ en diagnoses in hulle keelgate af nie, want hulle kan dit nie bekostig nie. Hulle het nie die ‘luxury’ om heeldag te ‘scroll’ en aan tegnologie verslaaf te wees nie: hulle moet werk, hulle kinders moet speel en hulle het nie tyd, krag of opsies om die groot maatskappye se winsgrense te ‘entertain’ nie.
Ons is die ‘suckers’ wat almal soveel ‘power’ gee oor ons!
Daar moet ‘n beter manier wees om met die lewe te deel as diagnoses en pille? Daar moet ‘n beter manier wees om kinders groot te maak as geslag en gedrags ‘labels’ en tegnologie?
My Ma is 72, ‘n maand gelede het sy nie geweet wie ek is nie. Vandag kan ek bel en ‘n gesprek met haar voer … dit is ‘n wonderwerk! Die wonderwerk van Oupa om op te staan teen die magtige Aaklige Dr Psycho se voorskrifte.
Dit is tyd dat ons ook opstaan teen sosiale media se verleidende en indoktronerende boodskappe en opstaan vir onsself, wie ons is en wat ons wil wees. Dit is nie Facebook of Instagram se skuld nie, dit is ons wat toelaat!






























