Gee my ‘n ‘label’ en ‘n pilletjie, asseblief.

Kersfees 2024:

My Ma is 72, sy weet nie wie ek is nie.  Ons bel, maar sy kan nie eintlik praat nie.  Sy klink soos iemand wat onder sedasie is, ‘slurr’ net.  Sy kan nie haar vleis sny nie of self eet nie, sy kan nie self stort of aantrek nie.  Die regressie van dementia so intens en so skielik. 

Ek weet my fokus moet wees “My arme Ma”! Ek moet in sak en as sit en huil vir die ma wat ek skielik verloor het … maar sy is nie dood nie, sy kan nie begrawe word nie … sy is net eenvoudig weg, al kyk ek vir ‘n replika van haar op ‘n skerm. 

Oupa is natuurlik moeg en uitgeput.  Om in September jou vrou vol hoop by ‘n kliniek te gaan haal met beloftes van verbetering na skokterapie en aangepaste medikasie, is die realiteit ‘n intense skok waarvoor niemand kan voorberei nie.  Jou ‘nuwe hoop vrou’ het verander in ‘n kind wat niks vir haarself kan doen of dink nie. Teen Nuwe Jaar is hy so uitgeput, hy gaan bietjie alleen weg saam sy kinders, sy liggaam self onder aanval van siekte – wie se immuniteit kan byhou met sulke intense en skielike veranderinge, verlies en vrae.  Duisende en duisende vrae. 

Is dit ek?

Wat kan ek anders doen, of wat kon ek anders doen?

Hoeveel van haar is daar binne oor?

Is dit tyd … moet ek haar iewers aflaai?

Die regte besluite is onmoontlike besluite met onmoontlike emosionele gevolge.

Januarie 2025:

Hallo Mammie!  Ja?  Lekker maalvleis en rys vir aandete soos niemand anders dit kan maak nie! … dit is inderdaad fantasties, die jaarlikse vakansie is ‘n maand wag en ek kan sien Mammie kan nie wag nie.  Ja, Paul is hier en dit gaan goed met Callie en Emmie.

Die trane kom nou eers, om haar so te sien.  My brein wou haar begrawe want … sy was net weg, maar ek kon nie. Ek het nie geweet hoe om iemand te groet wat oornag verdwyn het nie.

En … hier is sy … terug.  Ek wil sê dit is ‘n wonderwerk … maar ongelukkig is dit wanpraktyk en die sameloop van omstandighede oor ‘n lang tydperk.

Onmoet vir Aaklige Dokter Psycho.

Sien, my Ma het ongelukkig haar lewe lank maar gesukkel met angs, depressie en is inderdaad bipolêr.  Ek kan nie vandag hier sit en sê die medikasie vir bipolêr het nie ‘n aansienlike verskil gemaak nie en ek glo dit is hoekom ons almal vandag ‘n goeie verhouding met my Ma kan hê.

Die probleem is nie die aanvanklike diagnose nie, dit is die konstante byvoeg van nog en nog en nog medikasie oor die jare, wat die klagte van die dag ookal mag wees.  Toe sy die laaste keer opgeneem is vir intense angs en depressie (wat blykbaar geassosieer word met dementia), het sy aansienlik verbeter.  Wat doen die Aaklige Dr Psycho toe?  Hy ontslaan die nuwe, verbeterde weergawe van my Ma … met ‘n sak nuwe medikasie.  Die dag wat Oupa toe besluit my Ma eet te min om al die pille te drink, het sy stadig maar seker uit die kloue van die Aaklige Dr Psycho gekom en weer mens geword.

Dit sal vir altyd een van die hartseerste stemnotas wees wat ek nog gekry het.

Oupa: “Ek en julle Ma het gesels, gehuil en gesels soos normale mense … (stilte, sluk diep).  Sy het self vanaand gestort, kan loop sonder om te val, trek nie aanhoudend haar klere uit nie, het self aandete gekook en ja … sy vergeet.  Sy het nog dementia.   Maar sy vat en los, pak uit en gooi rond, val en babbel nie onverstaanbaar nie.  Haar gedrag … (sluk) … is normaal (snik).  My vrou, julle ma, is nog hier.

… sy was eintlik heeltyd daar … die Aaklige Dr Psycho het haar verander in ‘n kind en zombie. Daarna het hy eenvoudig die volgende slagoffer in sy kamers geroep vir ‘n kort gesprek en ‘n lang voorskrif. Oupa moes ‘n ambulans ontbied vir ‘n ernstige val! Hy moes sy vrou meer as eenmal van die grond af optel. Oupa kon nie meer sy kleinkinders by die skool optel nie, want sy vrou kan nie ‘n sekonde alleen by die huis wees nie. Hy moes in ‘n drie weke spektrum al die huistake oorneem. Al die rekeninge moet eintlik deur Aaklige Dr Psycho betaal word!

Ek kan nie help om te wonder of een of ander Mediese Maatskappy hom ‘sponsor’ vir elke pasiënt wat hy so ‘overdose’ nie.  Hoe slaap hy in die nag om te weet hy het nog iemand se lewe potensieël verwoes … dalk is sy familie in beheer van die Alzheimers en Dementia inrigting en maak hy graag verwysings as sy arme pasiënte vra.  Want ons is so idioties, ons glo alles wat iemand sê as daar ‘Dokter, PhD’ op hulle deur staan.

So lewe ons vandag: vir alle emosies en gedrag soek ons ‘n ‘label’ en ‘n pilletjie.

Instagram is so effektief om vrouens te oortuig hulle lei aan ADHD, kortisol wanbalans en wat nog alles.  As jy dit begin glo, beteken dit Instagram het jou algoritme al mooi uitgepluis en jy spandeer te veel tyd op Sosiale Media.  Weet jy nie hoe werk dit nie?  Hoe meer jy ‘click’, hoe meer geld kry daai onwikkelaar wat jou probeer oortuig van al jou siektes en skete. 

Maar mense wil vandag so graag ‘n siekte hê.  Ons is gekonditioneer om siek te wees, iets te makeer en voorskrifte te vra.  Dit is te moeilik om besig te bly, ‘scroll’ is die nuwe oefening.  Ons is te lui om te oefen, soveel so dat medikasie soos Omezaprol uit voorraad gehardloop het en op die swartmark verkoop word. Mense drink liewers pille om maer te word, voordat hulle wegneemetes en oefening in hulle leefstyl aanspreek.  Wat sê dit van die mensdom?

Kinders word grootgemaak met ‘labels’ en verslawings: “met liefde, jou gehoorsame Mamma en/of Pappa.”

As kinders vandag sukkel om te slaap, gee ouers hulle melatonin. Ja, kom mamma leer jou van kleins af hoe om met al jou toekomstige probleme te deel – drink ‘n pilletjie. 

As kinders nie lus het om te speel nie, druk daai skerm in hulle gesigte en hey, lê sommer langsaan!  Jy het dan so hard gewerk vandag, en jy sal die tegnologieverslawing seker later aanspreek of … nee wat! Dit is te moeilik, kom ons ‘scroll’ nog.

As jy in Graad 4 is, dalk ‘awkward’ of net sommer ‘n ‘Tomboy’ soos dit altyd genoem was, is jy nou verseker of Transgender of gay.  Kom ons gee jou normale grootword fases ‘labels’ en eendag kan jy ‘n klomp pille kry om te deel met trauma van onsekerheid, angs en depressie wat die labels veroorsaak het. 

Kinders kan nie meer sukkel op skool of universiteit nie, die werk is nie net baie en die aanpassing oorweldigend nie.  Hulle moet medikasie kry vir angs en ADHD. 

Natuurlik bestaan ADHD, bipolêr, depressie en angs.  Ek het al self ‘n enorme paniekaanval beleef en dit voel letterlik of jy doodgaan.  Maar is dit moontlik dat elke persoon een of ander psigiatriese afwyking kan hê? 

Dit blyk dat die uitsonderings eenvoudig veralgemeen is.  Die druk op kinders in skole en werksure op ouers het so handuit geruk, almal probeer net ‘cope’!

Terwyl ‘n wêreld sukkel om te oorleef onder ekonomiese, kriminele, akademiese en werkstres, lag sosiale media platvorms vir die effektiewe inkomste wat ‘scroll’ verslaafdes genereer as hulle ‘struggles’ uitbuit en name gee.  Big Pharma is net so bly, want al die oordrewe psigiatriese kondisies benodig ‘n pilletjie en hey … hulle gee graag! Elke ‘label’, diagnose en ‘campaign’ is bly, want hulle print hoedjies, T-hempde en ‘n klomp ander items en maak ‘n wins uit die nuwe ‘socially constructed trend.’

Die doel van Psigiaters is om mense te help wat regtig sukkel, maar elke besige en normale seuntjie word sommer deur die juffrou gediagnoseer met ADHD; normale eksamenstres word verander in kliniese angs; ure by die huis vir ‘n vrou wat in ‘n sirkel vasgevang is van verveeldwees en TV kyk het vandag ‘n kortisol wanbalans en die een wat heeldag besig is met kos, rondry, kalenders bestuur en sterk oppad is om die Ma en Vrou toekenning van die jaar te wen, sy het ongediagnoseerde ‘adult onset’ ADHD.

Het ons dan so vasgevang geraak in alles wat op sosiale media aan ons verkoop word dat ons logika en self-dissipliene eenvoudig verdwyn het?

Daar is ‘n plek vir medisyne.

Daar is ‘n plek vir ‘labels’ en diagnoses.

My grootste uitdaging elke dag is om op te staan.  Ek hou nie van opstaan nie.  Dit beteken nie ek ‘n kortisol wanbalans nie.

My tweede grootste uitdaging elke dag is om te beweeg, want ek hou van oefen as ek aan die gang is, maar ek sukkel so om te begin. Ek is ‘n uitstekende ‘procrastinator’, dit gee my nie ‘adult onset ADHD’ nie. Ek is net nie lus om kos te maak nie en te lui vir skottelgoed was – dit is wat dit is!

Ek swot van die huis af, is meestal alleen en hoe meer ek alleen is, hoe minder wil ek mense sien.  Dit beteken nie ek lei aan sosiale angs nie!

Ek is nie elke dag gelukkig getroud nie, dit beteken nie ek is eintlik ‘n lesbeen nie.

My lewe is nie uniek nie, dit is ook nie nuut.  Mense het baie swaarder lewens gelei as wat ons vandag lei, en in baie lande en areas is die onderdrukking en omstandighede so intens dit is amper ondenkbaar hoe mense daar lewe en oorleef.  Hulle het nie pille en labels nie … hulle het amper niks … so sosiale media druk nie allerhande ‘labels’ en diagnoses in hulle keelgate af nie, want hulle kan dit nie bekostig nie. Hulle het nie die ‘luxury’ om heeldag te ‘scroll’ en aan tegnologie verslaaf te wees nie: hulle moet werk, hulle kinders moet speel en hulle het nie tyd, krag of opsies om die groot maatskappye se winsgrense te ‘entertain’ nie.

Ons is die ‘suckers’ wat almal soveel ‘power’ gee oor ons!

Daar moet ‘n beter manier wees om met die lewe te deel as diagnoses en pille? Daar moet ‘n beter manier wees om kinders groot te maak as geslag en gedrags ‘labels’ en tegnologie?

My Ma is 72, ‘n maand gelede het sy nie geweet wie ek is nie. Vandag kan ek bel en ‘n gesprek met haar voer … dit is ‘n wonderwerk!  Die wonderwerk van Oupa om op te staan teen die magtige Aaklige Dr Psycho se voorskrifte.

Dit is tyd dat ons ook opstaan teen sosiale media se verleidende en indoktronerende boodskappe en opstaan vir onsself, wie ons is en wat ons wil wees. Dit is nie Facebook of Instagram se skuld nie, dit is ons wat toelaat!

Die he-te-te Wêreldbeker

As daar nou iets te sê is oor die T20 Wêreldbeker in 2024 is dit die senuwees, die net-net wen.  Liewe genade, die naelbyter wedstryde het gemaak vir fantastiese vermaak, geen twyfel nie.

Natuurlik was dit vir ons persoonlik ‘n onverwagte, onbeskryflike en ongelooflike ervaring. 

Ons kon vir Callie in New York ontmoet en ons het almal saam gesien hoe ons uiteindelik teen Nederland wen! 

‘n Paar dae later het ons weer in die son op die nuutgeboude stadium ingeskuif tussen ‘n massa Bangaldeshi ondersteuners.  Die atmosfeer was elektries, en die wen bitter-soet, aangesien ons ‘n minderheid Suid Afrikaanse verteenwoordiging gehad het van seker twintig mense. 

Ons het vir die eerste keer so bietjie van Bokka se bekendheid en Indiese obsessie beleef as ons heel rustig na ete terugstap hotel toe, en skielik spring iemand met ‘n foon en vra vir ‘n foto saam hom.  Mens stap uit ‘n restaurant uit, niksvermoedend, en loop in ‘n man raak wat balle en kolwe vashou, pen en elke ding gereed vir handtekeninge.  Bokka moes leer nee sê en vinnig!  Want een handtekening is soos ‘n kettingreaksie wat mense uit die naaste bos uittoor en as jy jou oë uitvee is jy omring deur mense wat fotos wil neem.  Enige iets gaan!  Toe Lyf erken word as ‘Klaasen’s Dad’, is ‘n foto saam hom ook sommer goed genoeg – enige iets wat sê “Klaasen”.  Toe ‘n klein seuntjie egter met groot ogies na Bokka staar, smelt sy hart en hy teken sy klein kolf, vat die stootwaentjie en loop verder asof hy niemand anders as sy familie in die straat raaksien nie.

Ons noem hom Bokka vir ‘n rede.  ‘n Juffrou het sy ‘ballsense’ raakgesien en gesê die mannetjie gaan eendag ‘n Springbok word.  En vandaar kom Bokka … ons klein springbok met ‘n bal, altyd buite en altyd gereed om Supersport Park toe te gaan en saam Pappa ‘n paar balle in die nette te gaan slaan.  Mens droom, maar wie sou ooit kon dink hy sou eendag as ‘n professionele krieketspeler in daai nette oefen, met ‘n Protea hemp en ‘n geborgde kolf in die hand! 

Die wêreldbeker gaan so voort – elke wedstryd is ‘n net-net wen, in die laaste ‘over’ met Markram se uitstekende kapteinskap!  ‘n Moeilike wêreldbeker waar die lopies minder is as gewoonlik: ‘n bouler toernooi!  Net een wedstryd was maklik, die semi-finale teen Afghanistan!  Suid Afrika wen ver en hulle is oppad Barbados toe.  Indië en Engeland sal môre beslis wie teen ons in die Finaal speel.  

Barbados … ons kan môre vlieg, Saterdag die Finaal in persoon kyk, en Sondag terugkom! 

Ek weet, nê?  Een honderd persent onwerklik!  Maar sal ons ooit weer so kans kry: een honderd persent NEE!

Ons doen dit!  Die reën maak die rit na die lughawe moeilik, dit is oorstroomde paaie en ons kom laterig daar aan.  Te laat om terug te ry huistoe as iets sou fout gaan, soos byvoorbeeld, iemand het die verkeerde paspoort gegryp … daar is nie woorde om te beskryf hoe jy voel nie.  Die vrou agter die toonbank kan niks doen behalwe ‘n kyk van simpatie gee nie.  Die huis is te ver, dit is die middel van die nag, die kaartjies is verlore.  Toe ‘n taxi stop om mense af te laai wat eintlik regtig laat is, en nogsteeds in Barbados gaan uitkom, moet ons in stilte terugry huistoe.  Die wind heeltemal uit ons seile, verslae … ons is so naby aan Bokka, nie net die krieket nie, maar ‘n bonus kuier saam met hom en sy gesin.  Hoe kon ek so haastig pak?

Ons kom uiteindelik 07h30 by die huis toe die vliegtuig opstyg: sonder ons.

Lyf is so gaaf, maak vir ons ontbyt en ek soek soos ‘n mal mens na opsies!  Die reisagent laat weet sy is by die dokter en kan nie help nie, maar daar is net vier sitplekke oor … ons boek self! Ons tasse bly net so by die deur, ons reël parkering en sal die keer self deur die reën en water veg lughawe toe.  Ons kry die dag verby en teen 01h00 Donderdag oggend vat ons vir ‘n tweede oggend in ‘n ry, die lang pad lughawe toe.  Paspoorte is tien keer bekyk voordat die bakkie wegtrek!  Asof die ‘universe’ vir my lag, help dieselfde meisie ons inboek, sy is amper blyer as ons dat ons ingeboek is!

Eers nadat ons op die vliegtuig sit, haal ons asem. 

Die gevoel dat iets gaan fout gaan, dat die bespreking nie bestaan nie, dat die vlug vol is, dat die paspoort verkeerd is … is uiteindelik verby … Barbados, Bokka, Soné en Laya … hier kom ons!

… en wat ‘n opwindende dag was dit nie!  Gedurende ons ‘layover’ in Georgetown, Guyana wag ons amper ‘n uur vir ses gebrande hoendernuggets en eet beste spoed voordat ons oor 15-minute moet ‘board’.  Iemand tik my op die skouer:” Ma’am, are you flying to Barbados? … They are boarding already.”  Ons gryp nuggets, sous en koffie saam ons tassies en hardloop!  Toe ons die klein vliegtuigie sien probeer ons ‘n selfie neem, maar ons hande is vol en die gawe vrou wat eintlik mense op die vliegtuig moet kry, vat so ewe die foon en neem vir ons ‘n foto. 

Almal op die vliegtuig staar na ons toe ons opklim, en nie omdat ons laat is nie.  Ons is die enigste witmense tussen ‘n hele span hoopvolle Indiër ondersteuners: almal oppad na dieselfde wedstryd toe. Ons staan uit soos ‘n puisie op ‘n vark se boud en teen die tyd wat ons in Barbados land het van die mense klaar die gesigte bymekaar gesit: ‘Klaasen’s Dad’.  Lyf is so opgewonde om daar te wees, hy sien of hoor niks en is heel verbaas toe hy opkyk en tussen twee vreemdelinge staan wat ‘n foto wil neem. Bokka se lewe is vol skielik en onverwags, dis verseker!

Barbados is net T20 Worldcup!!!! 

Ons AirBnB is sommer by die veld, maar ek sal nie luuks of mooi in die beskrywing sit nie.  ‘In fact’, toe ons die klein trappies aan die kant opstap na ons plekkie toe, voel dit of ek in een of ander ‘drug war’ is en ons sopas by ons geheime ‘undercover CIA’ huisie aangekom het.  Ek wag dat Denzel Washington enige oomblik in die straat gaan afstap en almal uithaal wat betrokke was by Pita se ontvoering in Man on Fire. As Barbados nie ‘n relatiewe veilige plek was nie, was ons nie veilig nie! Maar ons stop vir ‘n bier by die ‘locals’ en beleef Barbados uit’n ander oogpunt as hotelle en strande.

Na ‘n baie romantiese aandete by The Cliff en ‘n nagrus met oop vensters en ‘n goeie ou waaier vir lugversorging, breek die tyd uiteindelik aan om vir Bokka-hulle te sien.  Hulle kon nie die vorige aand maak nie, want nie lank nadat ons geland het nie, was daar ‘n ‘crash landing’ op die lughawe en hulle het eers laat in Barbados aangekom.  Prys die Here almal is veilig in Barbados.

En daar sit hulle, om die swembad met Liefie Laya in haar pienk meermin pakkie – die mooiste uitsig in Barbados!  Maar nog mooier was dat sy ons dadelik erken het, uit die swembad uitgeklim het en ek die nat lyfie onmiddelik kon optel.  En so is dit vir die volgende twee dae: Laya naby of op my skoot en my Ouma-hart is propvol.  Oupa is natuurlik die swem-hero en die lekkerste plek is op sy nek as die sand te warm is om self te loop.  Dit was so he-te-te of ons het Barbados gemis, maar hier is ons vir ‘n tweede keer in een jaar by Bokka, Soné en Laya en krieket is orals om ons.

Die dag is lank en laat, maar uiteindelik moet almal groet … môre is die groot dag.  Die geskiedkundige dag!  Dit is die eerste keer wat Suid Afrika deurdring na die T20 Wêreldbeker Eindstryd!  En ‘n stryd gaan dit wees: twee onoorwonne spanne – Suid Afrika teen Indië wat vroeër dag vir Engeland uitgestof het.  Ek wil nie te veel aan statistieke dink nie.  Ek maak nie vooruitskattings nie en absoluut geen negatiewe aanmerkings nie: ek glo dit ‘jinx the game’. 

Ons is vroeg gereed. 

Daar is ‘n opwinding en senuwees in mekaar gemeng en mens voel dit.  Jy sien dit.  Op almal se gesigte om jou.  Die stadium is ‘n replika van Bangladesh se wedstryd in New York, en daar is seker twintig Suid Afrikaners op die pawiljoen.  Maar trots Suid Afrikaans.  As die vlag oopgemaak word loop die trane, die knop in my keel kan net nie weg nie.  Ons het darem die mooiste vlag in die wêreld.  Indië kolf eerste en ‘n moedige stryd volg wanneer Suid Afrika inkom om te kolf. 

As Bokka bat … ek kan nie beskryf nie.  Lyf het so ‘n gewoonte waar hy sy hande inmekaar moet vou en jy moet tog net nie met hom praat nie!  Ek kan net nie sit nie: ek kyk elke bal en bid en sweet en haal diep asem.  Hier is hy, op 50 in die Finaal.  Hy het die span sover deurgetrek: Suid Afrika is voor op die lopies.  Hy was Suid Afrika se beste speler vandag … maar ongelukkig kon niemand na Bokka die lopies volhou nie.  Dit is natuurlik ‘n spansport, en gesamentlik het hulle baklei en bloedgesweet … maar daai laaste 7 lopies het net nie gekom nie.  Dit was ‘n eindstryd vol vermaak, spanning en die toeskouers kon nie vir meer vra nie … maar die verloor was so bitter-bitter seer en swaar.  Ek speel die opsies, die ‘catches’, die houe oor en oor in my kop deur en as myself kry sê ek ‘as’ … maar ‘as’ wen nie ‘n wedstryd nie, en daar kan net een wenner wees. Vandag was nog ‘n he-te-te wedstryd, maar net-net nie genoeg nie.  Meeste van die tyd het dit gevoel of ek sy kolfwerk op ‘n ‘replay in slow motion’ dophou, asof die bal ekstra stadig beweeg … en dan die besef: ‘n grenshou!  Wat ‘n speler!  Bokka het sesse en viere geslaan en ‘n nuwe rekord in ‘n finaal opgestel, maar dit was net-net nie genoeg nie.

Bokka was bly sy Pa was daar.

Liefie Laya het op die veld met Pappa se medalje gespeel: perspektief!  Nog ‘n wedstryd, nog ‘n dag. Bokka se ondersteuningsisteem is daar, reg om vas te hou, op te tel en lief te hê, ongeag!

Ons het die voorreg om, terwyl Bokka en Soné tyd saam die ander spandeer en saam huil, ‘n laaste speeltyd saam Laya op die strand te kry.  Sy beland natuurlik in die swembad en teen die tyd dat haar Pappa en Mamma daar aankom moet sy eers drooggemaak en aangetrek word.  Sy kan tog nie met haar sandlyfie en nat boudjies saam met die span gaan kuier nie! 

Die manne is … ‘gutted’.  Maar soos hulle sit in ‘n kring stoele met pizzas in die middel, sommer so op die vloer, begin hulle ook beplan vir môre, die volgende toernooi, die volgende vlug en met tyd … met tyd sal die seer iewers in die verlede bly.  ‘You must take the wins’.  Markram was ‘n uitstekende kaptein, hulle was onoorwonne en hulle het net-net verloor.  Bokka kon ‘man of the match’ gewees het as iemand net nog 7 lopies kon aanteken, en almal blameer hulleself … maar hy staan op.  Hy troos, hy praat moed in: nie ‘n druppel ‘resentment’ teen enige iemand nie.  In een jaar is Bokka nou al die vierde keer in ‘n finaal, en vir ‘n vierde keer is dit ‘n verloor … maar hier staan hy: goeie gees, goeie vriend, nederig en gewild.

Ek is dalk die Stiefma, maar hy is my ‘laaitjie’.  Of ek nou op my foon se klein skermpie, op die TV of in lewende lywe na sy krieket kyk, wen of verloor, goeie dag of slegte dag, ek is elke dag trots op hom.  Trots op wie hy geword het as ‘n Sportman.  Trots op die betrokke Pa en Man wat hy is.  Sy loopbaan is vol he-te-te oomblikke van in ‘n span en uit ‘n span, van verloor en wen, van groot skote slaan en probeer balle wegslaan met geen resultate nie.  Maar as ek hom sien, het hy homself opgetel, kop omhoog en kyk vorentoe. 

Ons Barbados ‘trip’ sluit ook af op ‘n he-te-te Orkaan bedreiging.  Prys die Here ons kon almal Sondag uitvlieg voordat die lughawe gesluit is en Orkaan Beryl bote inmekaar geslaan het op dieselfde strand waar ons net gister verbygery het. 

Wat ‘n Wêreldbeker.  Wat ‘n stresvolle ‘journey’ van die een toernooi na die ander.  Wat ‘n verassing dat ‘n land soos Suriname ons ‘land of opportunities’ sou word om naby ons kinders te wees. ‘You win some, you loose some’, maar ek kan nie help om te voel of ons gewen het nie. 

Van BIGI PAN tot BIGI KRANTI

Februarie 2022.

Die son het pas opgekom, toe die bus hier voor ons huis stop en die hele span Suid Afrikaners klim in, elke gesin gewapen met ‘n ‘coolbox’, natuurlik!  Ons is nie baie hier in Suriname nie, maar een ding is verseker – as jy ‘n ander Suid Afrikaner raakloop, kuier jy eenvoudig anders.  Ons gebruik dieselfde verwysings, lag vir dieselfde grappies en daar is ‘n soort gemak en ‘sense of belonging’ wat nie altyd teenwoordig is tussen ander groepe nie.  Die bus het nog nie eers weggetrek nie, toe word die eerste Parbo’s oopgemaak!  “Cheers!  Op ‘n Lekker naweek!”  Iemand het ‘n ‘speaker’ ingepak en dit vat nie lank voor Kurt Darren se Span die Seile in die bus blêr nie.

Dit is moeilik om te beskryf, maar tussen die ‘locals’ is ons altyd ‘Expats’, al het ons baie goeie vriende hier gemaak.  In Suid Afrika sou ons klomp dalk nooit om dieselfde vuur gesit het nie, maar hier is ons van dieselfde afkoms: ons mis biltong en Mrs Balls Chutney en raak kinderlik opgewonde oor ‘n melktert of boboti.  Jou land is jou land.  Jou mense is jou mense.   

Bigi Pan het dus ‘n Suid Afrikaanse konneksie vir ons.  Die area is bekend vir sy voëlsoorte:  behalwe vir verskeie trekvoëls, is die oewers ryk aan Flaminke en Rooi Ibis.  Om in die aand op ‘n boot uit te ry en nader aan die oewers te gaan voëls kyk voel soos iets wat op ‘n tropiese eiland moet gebeur.  Natuurlik is die span vol kommentaar en in die middel van die pan wil iemand oorskuif na die ander boot, vir geen ander rede as die koelboks se inhoud op die ander boot nie.  Verwag ek minder van ‘n span Suid Afrikaners?  Gladnie!

Dit was ‘n naweek van lag en lag en lag tot jou kieste seer is.  Ons behuising was primitief met ‘n uitsig na Akira Lodge se liggies en luuksheid wat so oor die pan reflekteer.  Ons het gedink dit was goed genoeg, amper gevoel of ons kamp op die water!  Almal het nou nie ons gesin se entoesiasme gedeel nie, maar niemand kon kla oor die uitsig nie. 

Die water is spieëlglad.  Eers het ons die son sien sak en toe die maan sien opkom.  Dit is van daai tipe mooi wat ‘n kamera net nie kan vasvang nie.  Dit slaan jou asem weg sodat almal net doodstil kyk en kyk en kyk. Ek sou nooit kon dink dat ons in Suriname op ‘n houtboot sou sit met ‘n ‘sundowner’ en voëls kyk nie.  ‘Then again’, ek sou nooit dink dat ons in ‘n ander land sou woon nie.

Februarie 2024.

Die water is deel van Suriname.  Hier is vier seisoene – groot reën seisoen, groot droog seisoen, klein reën seisoen en klein droog seisoen. Bigi Pan is afhanklik van die reën.  Die oorde, of jy nou meer of minder betaal per nag, se voortbestaan is afhanklik van die reën.  Trekvoëls of permanente inwoners leef van die vis en plante, hulle is almal afhanklik van die reën. 

… Vir amper ‘n jaar lank nou, is daar egter net een seisoen in Suriname: droogte. 

Die krag is afhanklik van water. ‘Load Shedding’ hier is nie as gevolg van ‘n tekort aan steenkool of korrupsie nie. Aardverwarming is die realiteit wat elektrisiteit, toerisme en selfs die mynindustrie, bedreig.

Soos Bigi Pan opgedroog het, so het ons poel Suid Afrikaners ook opgedroog.  Van Bigi Pan na Bigi Kranti (Sranatonga, die plaaslike dialek, vir Groot Pan na Groot Rosyntjie).  Meeste mense wat ons geken het is weg.  My geliefde Buurvrou was die laaste om te groet. 

Ons is so half omsingel deur vreemdelinge, nuwe Expats, almal van ander lande met volksvreemde tale.  Humor is ‘n risiko, braai is weer BBQ en ons beste vriende is nou ‘locals’ wat so met met die afgelope vyf jaar bekendes en konstantes geword het.

Bigi Pan is droog: daar is nie ‘n druppel water oor nie. Dit lyk soos ‘n groot, plat, uitgedroogte rosyntjie!

Bigi Pan se toekoms is so onseker soos ons s’n.  Suriname is tydelik vir almal wat die ‘Expat Label’ dra.  Jy weet nie hoe lank jy hier gaan wees nie, jou kontrak kan môre beïndig word of skielik hernu word vir nog twee jaar. 

Maar, my liewe hemel, het ons stories bymekaar gemaak?  Verseker! 

In die bloedige hitte was ons toegedraai in kledingstukke soos ons probeer wegkruip vir die son op ‘n oop boot vir twee ure na DanPaati.  Die Suriname rivier so groot dat dit voel of jy dalk op die see vaar.

Ons naweek by Houtthyn was so ongelooflik lekker en so ongelooflik seer: die naweek toe ons vriend aan Covid oorlede is.  Ek is so dankbaar dat ons nie by die huis was nie, dat ons saam ander Suid Afrikaners was wat ons die hele dag besig gehou het, ons hartseer gedeel het en ons op ‘n manier nader gebring het aan die mense wat verder gevoel het as ooit. 

Wie sou ooit kon dink dat jy met langmouklere in die water sit en kuier in die Suriname son?  Nie ek nie.   As jy egter vriende is met Jim en Sandra wat nie bang is vir son, bos of eenvoudig vakansie hou nie, dan beleef jy plekke soos LiBiDaWai!  Jy slaap in ‘n hammock, eet soos ‘n koning en braai op die sand.

Ek was juis saam Sandra en plaaslike vriendinne by ‘n restaurant toe ek hoor ‘n Suid Afrikaanse gesin het onlangs gearriveer.  Ons het nog nie die restaurant verlaat nie, toe het ek reeds kontak gemaak.  Die son het nog nie die volgende dag gesak nie, toe het ons reeds ‘n Braai gereël.  Twee gesinne daag by ons op die volgende aand, die ander het mekaar in ‘n winkel raakgeloop.

Ek dink nie dit is moontlik vir iemand, wat nie ‘n Expat is nie, om te kan verstaan hoe dit voel as Suid Afrikaners mekaar opspoor nie.  Daar was amper geen tyd vir voorstel nie, ons het eenvoudig begin kuier en kuier en kuier.  Vir die eerste keer in amper ‘n jaar staan Lyf nie alleen by die braaier nie, goed gemanierd staan die manne bymekaar om die vuur en ons drankies word vir ons gegooi.  Skielik is daar ‘Geen Vrouens agter die Kroeg nie!” reëls, en nie een van ons gaan vanaand opstaan vir feminisme of vroueregte nie! ‘n Galante Heer is ‘n Galante Heer, en as hy vir die vrouens wil drankies gooi … wie is ons om onnodige ‘issues’ te maak?

Ons kuier regtigwaar asof ons mekaar al jare ken. Vir die eerste keer in vyf jaar kan ek met klein kindertjies gesels wat my verstaan!  Hulle lag en speel tussen die swembad en jagertjie om die huis, is soos ‘n towermusiek wat my hart vol maak.  

Dit voel soos huis.

Die voel bekend.

Skielik begin dit reën. 

Vir die eerste keer in amper ‘n jaar begin dit sous!  In Suid Afrika noem ons dit ‘n wolkbreuk, maar hier wolkbreuk dit vir ure aaneen.  Ek kan nie anders as om uit te hardloop en al my potte in die reën te trek nie.  Ek is sopnat gereën, maar ek gee nie om nie.  

Dit reën!

Dit Reën!

Dit REËN!

Ek dink aan Bigi Pan en hoop die reën daar ook. 

Ek dink aan ons nuwe vriende, en ek hoop dit reën in ons Afrikaanse harte ook.

Ek hoop die droogte is vir eers verby.

Ek en my Sambreel.

Die jaar 2024 merk een waar ek ‘n klomp doelwitte gestel het en weier om dit nuwejaarsvoornemens te noem, want nuwejaarsvoornemens hou nie!

Niemand bly altyd jonk nie, ons brein is nie ‘n onuitputlike bron van onthou nie en daai spiere gaan nie supel of sterk bly as ons op die bank sit nie.

So probeer ek om elke dag te gaan wandel.  Ek stap net so in ons kompleks, want my Suid Afrikaanse bloed is eenvoudig te bang om alleen in die straat te gaan stap.  Om met Meneer Sekuriteit getroud te wees help ook nie, want die ou haal gevare en bedreigings agter elke bos uit!

Vandag het ek egter net te veel op my Moet Doen Lysie.  Daar is nie tyd vir stap, mediteer en nog rondry om die telefoon te gaan betaal nie.  So ek ignoreer Meneer Sekuriteit vandag, gryp my pragtige blommetjiesambreel en ons twee klap twee vlieë met een slag: rekeninge en wandel gelyk.

Ek het al gehoor hoe sleg is Suriname se paaie, hoe vervelig is die plek en hoe hier niks is om te doen nie.  Ek meen ek weet dit:  ek het dan myself leer hekel om die tyd verby te kry.  Of dit is te warm, of dit reën, of dit is net nie huis nie en natuurlik was alles aanvanklik vreemd.  Maar ek besef vandag ek kan geen oordeel maak voor ek nie my voete in die strate gehad het nie! 

Die is die eerste van baie wandelinge met my sambreel, Morrigan!

Ek wil so half geirriteerd raak vir almal wat so aanhoudend vir my hoeter druk … maar dan kom ek agter hulle waarsku my, as die voetganger, dat hulle verby kom.  Daar is ‘n konstante kommunikasie tussen karre en voetgangers en ek het dit nooit geweet nie!  Ek skrik nie my alie af as die voertuig skielik hier reg langs by verby ry nie, want spasie is daar min en sypaadjies is ‘n ‘rumour’! 

Ek groet die winkeleienaars wat vroegoggend oopsluit.  By die groentewinkel is alles reeds uitgepak en vee die man die sypaadjie silwerskoon, al gaan daar binnekort karre en stof teruggebring word.  Die dag word letterlik wakker met elke tree wat ek gee.

‘n Boetie hou sy sussie se klein handjie vas, hulle stap die pad elke dag.  Die warm son op hulle vel is bekend, en die kuns van ‘n reënjas en waterstewels is niks nuut nie.

Ek kan skaars glo dit is my eerste keer: vir vyf jaar al sien ek die wêreld deur my kar se vensters met musiek wat blêr en ‘n ‘aircon’ wat my oë laat brand!

Ek en Morrigan kom natgesweet by Telesur aan.  Hoeveel keer het ek nie al verder gestaan vir ‘n ander se reuke en sweetvlekke nie … maar vandag is ek een van hulle.  Toe ek eers tot stilstand kom is my gesig natgesweet en het ek die lugversorging intens waardeer!  Dit is soos ‘n afkoelstasie en ek is so dankbaar vir Telesur, al moet ek so verdomp baie geld elke maand betaal!

Oppad terug stap ons verby ‘n kleuterskool waar ‘n babatjie vreeslik huil – Morrigan se wipklanke op my skouer klink amper soos my hart: alles krimp inmekaar as ek ‘n baba hoor huil en niks kan doen nie … tot die gesing begin.  ‘n Vrou begin sing, en kort daarna val die klein kinderstemmetjies in.  Die babakrete heeltemal uitgewis met die Engelkoor waar nootvas en asemhaling nie saakmaak nie!  Net die automatiese saamsing met die kleuterskoolvrou wat trane heeltemal wegsing.

Morrigan ruk en pluk in my hand!  Die wind wil haar sowaar opvou en in stukke breek, so ek moet twee hande gebruik om haar vas te hou en die wind se aanslae af te weer.  My glimlag is so breed soos kan kom, want ek kan nie onthou wanneer laas ek die wind so in my hare voel waai het nie.  Dit is kommerwekkend dat die wind aanhoudend die reën wegwaai en Suriname se droogte is oppad na ‘n krisis.  Mense sê ‘Global Warming’ is nonsens, maar dit reën waar dit gewoonlik droog is, terwyl dit warmer is waar dit gewoonlik reën.  Dit is droog waar dit nat moet wees, warmer waar dit ysigkoud was … die weer is inderdaad deurmekaar.  Dit is egter ‘n bekommernis vir ‘n ander dag, want vandag loop ek soos ‘n wafferse filmster deur die straat met my hare wat wapper en waai – asof sorgeloos in die wêreld sonder ‘n dag se probleme.

Daar is ‘n vrou wat haar vuilgoed in die vullishouers op die straat sit.  Meeste huise het sy eie een … hare blykbaar nie!  Sy draai om en stap meer as ‘n blok verder na haar eie huis toe.  Ek wonder of sy elke week iemand anders se erf kies om haar asbliksak in te gooi?

Ek skrik vir die sekuriteitswag wat weggesteek sit en rook tussen die waghuisie en lamppaal. 

Hy lag! 

Ek lag!  

Hy vat nog ‘n trekie.  

Ek stap weg.

Hier is sekerlik skelms en hier is sekerlik bedreigings, maar vandag is ek salig onbewus!  Ek voel soos ‘n ‘local’, ek voel tuis in die strate waar my wiele al so baie gery het.

Morrigan klink of sy gesels as sy so wip-wip-wip in my hand, en haar lyfie kraak-kraak-kraak van lekkerloop!  Die voëls by die kanaal hop vinnig weg as ek nader loop, meer gewoond aan karre as mense.  As ek hier verbyry, staar hulle jou aan en loop op hulle tyd met daai wipstertjies uit die pad uit, maar die tweevoetige reus met die massiewe bloemhoed is heeltemal vreemd. 

Ek is eenvoudig … GELUKKIG!  Nie bang nie, nie bekommerd nie … ek kyk nie konstant oor my skouer nie!  Ek is amper by die huis, sien uit na ‘n yskoue glas water en droeë klere … toe ek vir Gevaar in die pad sien staan.

Intimiderend.

Stiptelike, grys oë wat staar.

Dit is die bendeleier, ek het geen twyfel nie.

Ek weet ek moenie vrees wys nie, maar die hond is ten minste tot by my knieg. Hy staan asof geplant in die middel van die pad … en staar net na my.

Sy ore is regop. 
Sy stert is regop.
Hy skreeu in sy stilte – Die is my straat die!!

Moet ek vinniger loop, omdraai en weghardloop? Morrigan sweet in my hand!  MORRIGAN!!!  Ek slaan haar af en vat haar stewig vas.

My wapen is stewig in my regterhand.

My sonbril skuif ek op my kop.

Ek stap met ‘n wip van selfvertroue en kyk die nommer reguit in die oë.  My broek bewe, maar hy kan dit nie sien nie!  Ek is gereed vir sy aanval, gereed om hom af te weer … dan … wel … wat?

“Well, I’ll be damned” … ek is seker so 10 treë van die bedreiging af toe alles verander.  Sy ore sak. Sy stert sak. Hy draf stert tussen die bene weg en kyk heeltyd oor die skouer asof hy bang is!

“Wie’s nou die Alfa, Bendeleier?” 

Alles van my is pure selfvertroue, Morrigan stewig in hand … net vir ingeval!  Ek stap verby die outjie wat agter ‘n muur vir my sit en kyk, slaan vir Morrigan op en ons tweetjies loop verder.  Natuurlik kyk ek ook maar heeltyd oor my skouer, net vir ingeval hy nuwe moed skep en my van agteraf gaan probeer hap.  Dan bars ek uit van die lag: wie sou ooit kon dink ek kan ‘n hond heeltemal ont-Alfa  met ‘n direkte kyk en ‘n sambreel!

Skielik is ek by die huis, die wandeling skielik kort en Suriname skielik anders.

Die strate is verwaarloos en die regering is korrup, maar die het tog my huis geword.  Dit is maklik om van die bank af te kla oor Suriname, hoe vervelig die lewe is, hoe aaklig die land is met niks om te doen nie en soveel lui mense.  Maar vandag praat ek van my voete af, het ek die allerdaagse man op straat beleef met ‘n sambreel in my hand en die son op my rug.  Hulle land, my tydelike hawe.

Ek en Morrigan het al vele kere in ons kompleks se strate by vriendinne gaan kuier.  Nou is daar nuwe dinge en strate om te verken, mense om te sien lewe en om Suriname op ‘n nuwe manier te leef – ek en my sambreel.  

Koningin By se laaste Uitstappie.

‘n Ander se storie, Naby aan die waarheid.

Dit is ‘n sonnige oggend in Panama, soos meeste ander oggende.  My Sussie sit buite op die stoep vir haar aanlyn vergadering soos elke ander dag die afgelope jaar.

Koningby moes seker verveeld gewees het. Sy het laas uigekom toe haar troon klaar gebou is en sederdien sit sy heeldag en aldag op haar alie en deel bevele uit. Vir party is dit die ideale lewe, maar vir Koningby is dit vir eers genoeg.  Sy besluit om die wye wêreld in te gaan opsoek na ‘n avontuur. 

Sy weet blykbaar gladnie wat is die verskil tussen blomme en hare nie, en so vlieg sy direk in Janie se hare in en koek haarself heeltemal vas.  Sy gil en skreeu nie dadelik nie, want sy het ongesien uit die nes geglip; ek weet nie baie van bye af nie, maar die Koningin vlieg nie gewoonlik buite rond nie?

Janie voel iets op haar kop en probeer die by ewe liefdevol uithaal, maar Koningby skrik so groot en kan haar gil en skreeu nie meer inhou nie.  Sy gaan tekere, iets verskrikliks! Hoe meer sy probeer uitkom, hoe meer koek sy haarself vas. Janie voel natuurlik klein vlerkies warrel en die vibrasies soos sy zoem … maar die Geel en Swart Weermag hoor noodkrete van die hoogste volume en daar is net een boodksap: Help, die Reus druk my dood!

Eerste fout: gebrek aan bioniese ore.

Janie probeer nog saggies en versigtig om die by uit haar boskasie te verwyder, toe sy twee soldate op haar sien afvlieg. Beste Spoed! Sy besef dadelik dat seine gestuur is, ondersteuningsmagte is oppad! Die vergadering verloor prioriteit en sy storm na die naaste spieël toe: vir ‘n ekstra stukkie sekuriteit, maak sy die badkamerdeur agter haar toe. Daar is egter geen keer aan die bye nie, hulle begin onderdeur die deur kom en Janie besef Koningby moet nou maar sit, sy het hulp nodig.

Tweede fout: vasgekeer in klein spasie.

Janie hardloop buite toe om vir Kobus te bel, dankie tog hy werk naby.  Terwyl sy met hom praat, sien sy ‘n swart wolk naderbeweeg.  Die voorste linies is nie genoeg vir koninginby nie – die hele nes is oppad en duidelik het sy ‘n suksesvolle en indrukwekkende portefeulje!  ‘n Skrikwekkende ondersteuningsisteem en een waardeur Kobus gaan moet breek om by Janie uit te kom. Waar om weg te kruip is ‘n dilemma: hulle kom orals in asof sy gemerk is deur ‘n laser vir die Zoemers om aan te val.

Kobus ry soos ‘n Formule 1 drywer huistoe: nuwe rekord en al! Wat hy egter sien is so oorweldigend en so onwerklik, dat hy vir ‘n sekonde nie seker is watter reaksie in hom geaktiveer moet word nie? Veg hy, Vlug hy of Vries hy?  Daar is ‘n donker wolk oor hulle huis sonder ‘n druppel reën of lavenis: dit is ‘n massa woede, gevaar en dryfkrag om vir Koningby te red.  Janie se gille binne die huis aktiveer die VEG in hom, en VLUG word heeltemal oordonder in sy dryf om te baklei, te red, te wen!

Die oorlog begin: dit is man vs by!

Janie was nog nooit so bly dat Kobus alewig sy braaidinge buite los nie, want hy kan dadelik by die vuurhoutjies uitkom en brand die eerste beste ding om rook te kry.  Die tweede item wat hy raakvat is die stofsuier.  Janie gil en skreeu, maar daar is nie ‘n kamertjie of gaatjie om in weg te kruip nie, die Weermag in Geel en Swart kom orals in! 

Het jy al beleef hoe ‘n insident jou so uitput en moegmaak, en as jy terugdink was dit ‘n ure lange stryd … maar eintlik het die horlosie net tien minute aangestap?

Die 10-minute ondeurdagte, dink-op-jou-voete Eliminasie Konflik het begin!

Kobus het in ‘slow motion’ deur die bye gehardloop en sy rookbom so naby aan Janie gesit as moontlik.  Hy voel nie die koele steek nie!  Hy hardloop uit en gryp sy magtige automatiese masjiengeweer: die Stofsuier.  Uiters effektief.  Soos die Zoemers uit die rook probeer ontsnap, suig Kobus wild en wakker.  Hy lyk soos Sylvester Stalone met sy massiewe wapen wat hy links en regs swaai en op die een of ander manier skiet hy die vyand raak.  In daai oomblik het Kobus se armspiere gegroei, die sweet loop teen sy slape af tussen bysteke en angels terwyl hy suig.  Massas bye kom tot ‘n val. 

Suig!  Rook!  Skreeu!  Suig!Rook!Skreeu!

en dan stilte. ’n Onheilspellende, oorverdowende stilte …

Na ‘n 2 ure lange wag van 2 minute kom Janie uitgestap soos ‘n filmster deur die rook.  Sy hoes en sy huil.  Kobus sien nie haar deurmekaar boskasie nie en as hy uiteindelik by haar kan uitkom, dink hy nie aan bysteke en wonde nie.  Sy vrou het ophou skreeu.  Sy vrou lyk vir hom soos Mej Suid Afrika in ‘n aandrok: die mooiste wat hy haar nog gesien het. 

Dit het omtrent ‘n uur geneem om Koningby en die bateljon Zoemers uit Janie se hare te kry, om nie eers te praat van al die angels wat verwyder moes word nie. Beide Janie en Kobus het ‘n groot hoeveelheid oorlogswonde opgedoen … maar Prys die Here! Geen allergiese reaksie nie. Geen hospitaalbed nie. Altwee is piekfyn. ’n Wonderwerk en klaar!

Byekenners bevestig die reaksie is verseker ‘n aanduiding dat Koningby gatvol was om te reageer en uit die nes gevlieg het.  Sy is dood verklaar in die boskasie van hare wat sy verwar het met ‘n blom – waarskynlik die reuk van Janie se Laventel sjampoo.  Die Zoemers se lojaliteit is admirerend, maar nie genoeg nie. Kobus se teenaanval van kalmte in die storm, of eerder die zoem, en liefde om sy vrou te red en te beskerm, was sterker.

Moet nooit die krag van ‘n stofsuier en ‘n rookbom onderskat nie!

#LiefdeWen!

‘n Tafeldoek vir Kersfees

‘Tiener van 13 ‘recruited’ vir Terrorisme via Telegram.  Ouers vermoed niks.”

Ek lees so tipe koerantopskrif en verstaan dit nie?  Ek verstaan nie hoe ‘n kind ure op ‘n rekenaar kan spandeer, sy kamer vol geskrifte en plakkate sit, maar ‘n eenvoudige bordjie ‘Do Not Enter’ hou sy ouers buite? 

Alles betaal en ondersteun deur Mamma en Pappa.  Elke rekenaar en tablet en foon wat kinders besit.

Vir jare sê ek al ‘Netflix is die Duiwel se speelveld!’

Ek glo dit vandag met meer oortuiging as ooit tevore.  Jy kan maar ‘n 13-PG fliek opsit en jou kind sal ‘educated’ word in ‘nudity’, ‘sex the first night is normal’, ‘a little drugs is acceptable’, ‘police hate black people’ … die lys gaan aan en aan en aan.  Daar is nie ‘n program wat jy net kan kyk en geniet nie.  Jy word gekonfronteer met geloof, brutale moorde deur mense sonder gesigsuitdrukkings of emosies.  Elke tweede karakter is vandag bisexual, gay of assosieër met iets anders as geboorte.  Lank gelede was Superman almal se ‘hero’, vandag se hero is ‘n komplekse, emosielose, skelm op ‘n ‘pedestal’… as die ou Superman maar nog kon vlieg.

Om te dink, as kinders was een van die grootste uitdagings vir ons ouers ‘Sex Education’ en die eenvoudige oplossing:”Die boek”: baie gewild, baie effektief. 

Vandag is ‘Sex Education’ die minste van ons probleme

‘TV Education’ en ‘social media algorithms’’ is ons uitdaging.  Die ‘Baby Sitter’ wat ons aanskakel en ure van ons tyd gee.  Ons is naiëf genoeg om te dink ons kies wat ons wil kyk

Ons is ook arrogant genoeg om te dink ons is grootmense en weet darem wat in die wêreld aangaan … maar bietjie vir bietjie word ons tog gekonditioneer om te dink soos die wêreld, te simpatiseer en te doen soos die wêreld (of TV, of Sosiale media … of wie ookal daaruit voordeel trek) wil hê ons moet.  

Kersfees is so goeie voorbeeld.  Dit is so kommersieël soos Valentynsdag.  Dit is ‘n tyd om saam te wees, mooi te maak, die boom op te slaan en ure na die liggies te kyk.  Daar is ‘n soortvan ‘coherence’ onder almal gedurende Kerstyd – maar dit het lankal nie meer te doen met geloofsoortuigings nie. Dit is kapitalisme en ‘consumerism’ se ‘Jackpot’!

In California word speelgoedwinkels nou ‘n boete opgelê as hulle nie ‘gender neutral’ speelgoed verkoop nie … want babas kan besluit of hulle assosieër met die geslag waarmee hulle gebore is?  Die magtige Amerika met ‘freedom of speech’ dwing mense om koeke te bak vir kliënte wat letterlik na enige ander bakker toe kon gaan.  Die gemeenskap baklei al jare en jare vir gelyke regte en aanvaarding, en daar kom ruk die LGBTQ+ gemeenskap die hele dam onder die eend uit.  Kinders verstaan nie meer wat BFFs is nie – as jy goeie vriende is, sê die TV jy is gay!  As jy en jou laaitjie maatjies vir ‘n skool drama soos meisies aantrek, is jy eintlik Transgender en word die saadjie geplant vir ‘sex changes’ en ‘n lewe van swaar grimering en karakters op ‘n verhoog.  ‘n Man kan besluit hy voel soos ‘n vrou en teen hulle kompeteer in sport!  Dit is soos ‘n LGBTQ+ Kolonialisme – steel die reênboog, maak ‘n vlag om jou ‘land’ te verteenwoordig en begin om alles en almal wat nie soos jy is nie te probeer oorreed en oortuig hulle is of deel van jou, of hulle skuld jou iets.  Dit is konditionering en oorlogvoering op ‘n ander vlak, en die hoofteiken?  Ons onskuldige kinders wat deel is van ‘n Generasie wat amper enige iets sal doen om in te pas!

Ek voel jammer vir die Gay Generasie wat jare en jare lank al baklei vir ‘n normaliteit, want hulle het nie vlae en opstande in gedagte gehad nie … hulle wil net aanvaar word vir wie hulle is.  My een gay vriend sê hy wil liewers terugklim in sy hangkas, want om gay te wees het nou ‘n verwagting tov TV, Speelgoed, Kleredrag en wie weet wat nog alles.  Ons almal weet Nataniël is gay, maar tot vandag toe het hy nie sy oortuigings in enige iemand se keelgat probeer afdruk nie.  Hy is eenvoudig wie hy is, met selfvertroue, met karakter.

Asof dit genoeg is dat hulle konstant gedwing word om hulle eie seksualiteit te bevraagteken nie, word kinders gekonditioneer om siek te wees.  Eksamenstres is nie meer ‘n normale ding nie, dit is ‘n mediese kondisie en kort medikasie.  Massas dwelmverslaafdes se ‘humble beginnings’ was die huisdokter en ‘anxiety meds’.  Big Pharma wil tantrums van peuters diagnoseer as ‘n ‘mental health’ kondisie, medisyne ontwerp en die skaapgenerasie gaan in toue staan om om angstige babas te ‘medicate’.  Ouers en onderwysers staan reeds in toue om almal tog op ADHD medikasie te kry sodat hulle nie met normale, besige kinders hoef te ‘deal’ nie. 

Ek vra myself wat is ons besig om groot te maak? ‘Medicated, sexually confused’ robotte wat alles vir Google vra en die Instagram profiel glo met die meeste ‘followers’?

Wat het geword van die nuuslees of kyk, en daarna om die tafel sit en die wêreld bespreek met tuisgemaakte kos (want gekoopte kos was ‘so ‘n ‘luxury’ en bederf)? O wag … ek is moeg, ek is besig, ek wil net gou …

… net gou is twee ure later op jou rekenaar, op jou foon … en om ‘net gou’ verby te kry, plak jy gemaklik jou kind voor ‘n ander skerm neer.  Wen-Wen!

Wat ‘n tragiese wêreld het dit nie geword nie?

Mense is so bekommerd dat hulle kinders na vreemdelinge toe gaan, veral ons Suid Afrikaners wil eers die ouers ontmoet en oeg!!  Uitslaap … dit is die euwel.

Maar die helder lig in jou kind se bed tot watter tyd in die nag wat haar probeer oorreed almal is gay, dit is nie vir jou ‘n probleem nie?  Die 20-jarige instagram joernalis wat jou kinders oortuig Israel is die vyand want Hammas het minder mense doodgemaak, dit is nie vir jou ‘n bekommernis nie? Die feit dat jou kind vir pille vra om te slaap, om deur die eksamen te kom … dit bekommer jou nie?  

Die wêreld is in die moeilikheid; ons kinders is die moeilikheid … maar hey!  Hoekom ‘scroll’ jy nie nog ‘n rukkie op jou foon nie?  Stel ‘n goeie voorbeeld.  Dit is wat ons die beste doen – ons preek en dink ons woorde maak suksesvolle, selfstandige kinders groot.  Want om ‘n voorbeeld te stel … dit is net eenvoudig te veel moeite.

Kan jy nie SIEN jou kinders het jou nodig nie? Dit is lank nie meer net terroriste wat aanlyn kinders ‘recruit’ nie, dit is ook nie meer net pedofiele wat aan die ander kant van die skerm sit en wag nie.  Dit is Big Pharma, dit is elke party met ‘n vlag wat ondersteuning soek in massas, dit is die magtige invloed van Advertensie wat jou gemors laat koop.  Dit is die waarde van inligting, elke knoppie wat jy druk, elke berig wat jy lees, wat jou ‘n robot maak … wat jou kind reeds met ‘n ‘chip implant’ gemerk het deur ure en ure en ure se ‘scroll’ en begeer en kompeteer aanlyn.

As jy oor veganism lees, is boere, hulle beeste en graan die vyand.  As jy op ander bronne nuus lees, sien jy dat die lugvaartindustrie net soveel graan plant om ‘n alternatief te toets vir petrol.  Skielik is ontbossing nie net ‘n bees-en skaapprobleem nie? Nog oorloë dreig in die naam van Olie op die grens van Venezuela.  Olie kraai koning en hulle maak geld uit jou vegan kind se ysterterkort en verhoogde soya aanvraag.  Die siklus is so intens, en ons los net ons kinders om self navorsing te doen, self te lees en self te besluit. 

Ons kinders is onder konstante druk om mense te wees wat TV, Instagram en al die ander algoritmes hulle leer en kondisioneer om te wees … ek wil hê hulle moet ingelig genoeg wees om self besluite te neem!  As my kind gay is moet dit haar keuse wees: nie die internet se suksesvolle poging tot gay oriëntering en konditionering nie.

Ek is bekommerd oor my kinders.  Ek is bekommerd oor jou kinders.  Ons kan doen wat ons wil, die wêreld is in die moeilikheid en oorbevolk.  Die natuur is in opstand.  Met soveel wat in die wêreld gebeur … hoe kan die net NOG ‘n Kersfees wees?  Kan ons nie dalk die Kersfees BETER doen nie?  Kan ons nie maar vir Kapitalisme in die gesig lag, klein geskenkies koop en onthou om pret te hê as ons dit oopmaak nie, in plaas van verwagtinge nie?  Kan ons nie die tafel dek en oor die wêreld praat nie?  Het ons so kleingelowig in ons eie opinies, advies en ervarings geword dat ons dink ons kan nie ons kinders rig nie?  Wat het geword van verf en klei en bordspeletjies?  O … dit vat te lank, dit vat te veel tyd … en tyd is die laaste ding wat ons vandag op ons gesinne wil spandeer. 

My lysies is eenvoudig … ‘n Tafeldoek vir Kersfees.

Die tafeldoek sal nie ‘n Kersfeestema hê nie, o nee! Ek het groot verwagtinge vir die tafeldoeke en kan dit nie aan een dag vasbind nie!  2024 gaan ons soveel as moontlik etes aan tafel eet.  Ek is moeg daarvoor dat my kinders pionne is van die aanlynwêreld, pionne wat misbruik word deur Winsjagters, Pedofiele, Big Pharma, Sosiale media en almal anders wat so ‘recruit’ vir hulle eie, geheime agendas.

Ek wil die Big Brother word wat kyk, praat, inlig, en weet wanneer my kind opgooi na ete, tot middernag met vreemdelinge chat, aanlyn ‘games’ speel as dit huiswerk tyd is.  Ek wil my kinders leer skaak speel sodat hulle ingeligte skuiwe kan maak.  Ek wil die AI word in hulle lewe, die ChatGPT wat hulle vrae eerste antwoord.  Die etenstafel moet ons skerm word van intense debatte, die veilige plek waar ons kan verskil, kan lag, kan kaartspeel of soms gemaklik kan wees in die stilte.  Die tafel is nie ‘compatible’ met enige elektroniese aparate nie: nie meer nie!

Vir 2024 wil ek vakansiedae VIER – dit moet ‘n afdag word waar ons tyd saam spandeer, ‘n bordspeletjie uithaal soos toe ons nog kinders was, die kaarte moet begin buig en verbrokkel aan die kante en die elektroniese aparate kan vir een dag rus, afgeskakel en sommer elke aand slaap in die kombuis sodat my kind se gedagtes nie konstant gebombardeer word met ‘ek wonder of … laat ek gou kyk’ nie.

‘n Tafeldoek vir Kersfees – eenvoudig, maklik, die perfekte geskenk, met potensieël groot verwagtinge wat hopenlik met tyd verblyk soos dit gewas en gebruik is.  Wat hopenlik kan stories bymekaarmaak en een van die mees gebruikste items in ons huis kan word. 

Die wêreld is in die moeilikheid.

Jou kinders is almal se teiken.

Dalk kort jou huis ook splinternuwe ‘n tafeldoek vir Kersfees.

Dit gaan goed, Dankie.

Iemand vra my nou die dag of dit die moeite werd is om alles op te gee en na ‘n nuwe land te trek.  Sy sê ons lewe klink idillies, soveel avonture en belewenisse. Sy wil weet hoe kan sy haarself voorberei, wat is die moeilikste van expat lewe?

Sy is reg … ons lewe het aansienlik verander.  Daar is makliker lande, dit is verseker.  Dit vat tyd om die winkels en kos op die rakke te leer ken en ek mis Checkers elke keer as ek met my inkopielysie die week se ‘groceries’ aanpak.  Dit sou natuurlik lekker wees om iewers te woon waar ek nie so bang sou wees om te stap of fiets te ry nie, want die verkeer en haastige bestuurders is iets om meë rekening te hou.  Natuurlik is die vakansies absoluut ongelooflik … maar die moeilikste ding van expat lewe? 

Die mense. 

Aanvanklik is ons lewe interresanter as almal wat ons agterlaat: alles is nuut of ‘n avontuur.  Met tyd word dit ons normaal: ‘n wolkbreuk in ons terme is nie meer vreemd nie, en ons staar nie is absolute ongeloof na die straat wat in ‘n rivier verander na ‘n uur se normale reën nie.  Dit is nie meer vreemd as iemand van ons kat as ‘n poes praat of om ‘n doos te vra by die til in plaas van ‘n tas nie.  Ons het klaar vertel en gelag oor die ‘locksmit’ wat fone regmaak maar nie ‘n sleutel aanhou nie.  Die Starbucks hier spesialiseer in wieldoppe en nie eers die werkers kry ‘n koffie nie.   Om gewoond te raak aan die statiese leefstyl na die besige gejaag van Suid Afrika is vir niemand meer nuus nie.  As iemand vra hoe gaan dit, gaan dit goed – of die antwoord nou van hier of van die huis af kom. 

Met almal gaan dit altyd goed.

Ons is so gewoond om voor te gee ons lewens, huwelikke en vriendskappe is perfek en vergeet maklik van die groen koring op die lande as ons net die goeie dinge van ons kinders vertel.

Met almal gaan dit altyd goed.

As iemand vra hoe gaan dit, gee ek nie meer ‘n paragraaf se nuus nie, want meestal kry mens net ‘Dit gaan goed met ons almal, dankie’ terug.   

Met almal gaan dit altyd goed.

Niemand het probleme, hartseer, drama of siektes nie.  Dit help nie jy stel belang in die vriendin wat jy weet deur ‘n moeilike tyd gaan nie, want oor die telefoon gaan dit goed.  Op ‘n boodskap is dit ‘uithou en aanhou, jy weet mos!’.  Dit is ‘elke dag ‘n bietjie beter’ of ‘ek mis julle, man’ … maar nie genoeg om ‘n bietjie nuus te skryf nie.  Dit gaan net goed: vinnig, geantwoord, tot volgende keer.

In ons tyd en met ons vriende, siek of gesond, arm of ryk, ons familie sonder drama of probleme – met almal gaan dit goed.

En met ons – hoe gaan dit met ons?  Jy weet mos: Altyd Freakin Goed!

‘n Leuen. ‘n Fasade en voorgee. Dit het so normaal deel van ons lewe geword, ons aanvaar mekaar se leuens en gesels asof ons dit nie agterkom nie.

Net soos almal anders, wil ons ook nie hê iemand moet oor ons ‘worry’ nie.  Wil ons ook onafhanklik, sterk en sonder probleme wees.

Die waarheid is, die nuut is verby en die is ons lewe.  Die lewe waar ons kleinkinders grootword sonder ons in die Suide en ons een meisie reeds haar lewe begin het in die Noorde.  Ons is iewers in die middel waar ons probeer inpas en aanpas soos mense kom en gaan, terwyl ons alewig planne maak vir ‘n toekoms waarvan ons niks weet nie.

Ons beste vriende is almal weg, en ons probeer ‘settle’ in nuwe groepies en sosiale sirkels.  Ons is so patrioties in ons harte en het geglo die Suid Afrikaners sal saam kuier en braai regdeur die Rugby Wêreldbeker … naïef het ons geglo Suid Afrikaners sal automaties vriende wees: ons was verkeerd.  Nie net is ons ver van ons eie mense nie, maar verder van die mede-Suid Afrikaners hier op ons voorstoep.

Dit is ‘n onseker plek om te wees:  Saterdag het almal saam gebraai, gemaklik en in Afrikaans sommer klere en al in die swembad gespring.  Daarna word nie ‘n enkele boodskap beantwoord nie en vra jy hoe dit gaan, is die antwoord: “Dit het niks met jou te doen nie!”  Dit is vernederend om by ‘n funksie te groet, maar jy word nie teruggegroet nie.  Ek het nooit gedink iemand kan my so totaal en al omver gooi nie … maar as jy elke koffie, kuier en boodskap weer lees en bedink en nogsteeds nie weet wat op aarde gebeur het nie, is onseker die enigste emosie wat oorbly. 

Daar is ‘n kontante sosiale verwagting om koffie te drink, om mense te nooi, om sosiaal te wees … en as jy verkies om te studeer en jou eie tyd by die huis geniet, is jy die ‘odd one out’. 

Mense het nog altyd gesê ek is ‘n sosiale vlinder, maar dit was omdat ons nie konstant sosiaal verkeer het nie. 

Soms is alleen ook lekker.

Soms is my tuin of hekelprojek makliker as die ure se koffie om tyd verby te kry.

Dit gaan goed met my!  Dit gaan goed met my!  Dit gaan goed met my! … maar nie elke dag nie, nie gister nie, nie die afgelope twee weke nie. 

Ek is moeg om die heeltyd tussen die lyne te moet lees van elke boodskap wat ek kry of stuur.

Ek is moeg om lyne te soek om te lees van die vriendin wat na vakansie teruggekom het en my skielik afgesny het.  Wat op die aarde kon gebeur het as ons nie eers bymekaar was nie?

Lyf se antwoord is altyd dieselfde: “Ag Nos, hulle is jaloers op jou!”

Maar ek kan nie dink waarop nie?  Omdat ek besluit het om te studeer?  Omdat ek moet oefen om my ‘sanity’ te behou en depressief raak as ek te veel TV kyk, en ook as ek aanhoudend moet koffie en kuier en gesprekke uitddink as daar eintlik bittermin in my lewe gebeur?  Omdat ek daarvan hou om oor die nuus te praat en alles wil analiseer, maar niemand om die koffietafel lees die nuus nie?  Omdat my wêreld voel of dit klein word soos iemand in ‘n ouetehuis waar niks gebeur nie? 

Skooltoe.  Gym toe.  Huistoe.  Skooltoe.  Aandete. 

Ek het oefen NODIG soos kos. Ek het die studies NODIG soos water. Dit is my manier om die ledige ure onder die knie te kry en eerlik te kan antwoord “Dit gaan goed, dankie!“.

Dit maak my absoluut mal.  Die konstante sosiale druk om deel te wees, in te pas, iets te reël, iemand te nooi, iewers te gaan koffie drink, iewers ‘n vriendin te ontmoet, mense oor te nooi, besige naweke te moet hê. 

EK KAN DIT NIE DOEN NIE!!!  … en die waarheid is, ek wil dit nie doen nie.  Dit is net nie wie ek is nie.  Ek wil nie ongelukkig wees as mense sonder my kuier nie en wil nie verduidelik wanneer ek my bure genooi het, maar nie die vriende af in die straat nie. Die mense en groepies is so inmekaar ingeweef, en ek wil nie deel wees daarvan nie. 

‘In fact’ … ek is klaar met groepies, inpas en al die nonsens!  Ek is klaar met sosiale druk en wonder en verduidelik. 

Haal asem! … Perspektief! Haal asem, kry perspektief …

Ek hou op kyk na NOU, na VANDAG.  Ek hou op kyk na die twee mense wat my so ongelooflik onseker laat voel, en begin dink aan die mense wat my lewe hier die moeite werd gemaak het.  Die mense wat elke nou en dan ‘n foto stuur, of ‘n paragraaf met nuus.  Ek fokus op die vriendin wat ek nie bel nie, want wanneer ons praat het ons meer as ‘n uur nodig.  Ek fokus op die mense met wie dit altyd goed gaan, en verlang na ons volgende kuier om “Dit gaan goed, dankie” uit te brei en uitmekaar te trek tot laatnag in Suid Afrika. 

Perspektief.

Voordat ek in ‘n expat-community gegooi is tussen mense van alle kleure, geure en tale en daar half verwag word dat almal net eenvoudig oor die weg sal kom.  Ons het inderdaad die wonderlikste tye en mense ontmoet.  Ek kan na meer as een land toe gaan en iemand kontak om te kuier, en ons sal ure terugkyk en lag en gesels oor ons vriendskap hier in Suriname.

Met almal gaan dit altyd goed … dalk is dit nie heeltemal so leeg en eenvoudig nie.  Dalk is dit ‘n waarheid van soorte.  Met my gaan dit goed, nie altyd nie, nie gister nie, nie die afgelope twee weke nie en die afgelope ses maande waar ek by elke funksie moes voorgee die antagonisme van die x-vriendin raak my nie, breek my hart nie en gooi my in ‘n put van ‘self-doubt’ nie.

Genoeg!  Nie Meer nie!  Nie nog een dag nie! Want was dit nie vir die hoogverraad nie, sou ek nogsteeds groepies en inpas nagejaag het soos ‘n hoërskoolkind.

Is dit die moeite werd om alles op te gee, jou huis in ‘n boks te pak en na ‘n nuwe land te trek? 

Expat lewe is nie altyd maanskyn en rose nie, die aanvanklike nuut van ons avontuur word ‘n nuwe normaal met mense en intriges wat ons moet ‘negotiate’.  Soms gaan dit eenvoudig nie goed nie.  Soms gaan dit beter.  Soms moet mens net bietjie onttrek, terugstaan en perspektief kry in plaas van ‘overthink’.  Soms was daar trane van verlange, ander kere trane as mens moet groet.  Trane is deel van my lewe, maak nie saak waar ek bly nie.  Mense en hulle ‘issues’ is deel van die lewe, maak nie saak waar ek bly nie.  Die lewe is nie elke dag perfek nie, al probeer ons dit voorgee: maak nie saak waar ek bly nie.

Daar is ‘n prys te betaal as jy gaan: Jy kies om uit te mis in een land vir ‘n lewe in ‘n ander. Jy mis uit om herdenkings, begrafnisse, gebeurtenisse in ruil vir nuwe mense se herdenkings, begrafnisse, kulture en lewens. Party gaan jou ondersteun en vir altyd die pad saam jou stap, maak nie saak hoe ver jy uitmekaar is nie. Ander gaan jou verwyt vir wat hulle sonder jou moet deurmaak en handteer.

Mense sal kompleks wees, maak nie saak waar jy bly nie.

Die vraag is nie of mens die geleentheid moet aangryp nie, die vraag is of jy naïef genoeg is om te dink die gras is groener aan die ander kant. Soos jy jouself nie kan voorberei vir elke mens of gebeurtenis by die huis nie, so sal jy dit ook nie kan doen in ‘n ander land nie. Die vraag is of jy bereid is om die uitdaging aan te vat, wetende dat elke dag nie goed gaan wees nie en almal wat jy ontmoet nie vriende gaan wees nie.

Ek het myself nog altyd probeer herhinner dat ek nie weet wat in iemand anders se huis of hart aangaan nie. Al affekteer iemand se gedrag my hoe intens, hulle dra en skryf aan hulle eie storie en hartseer. Ek verstaan dalk nie of kyk iets mis omdat ek verblind word deur my eie emosies. Een ding is verseker, almal hoop en wens en bid dat hulle hart en huis perfek sal wees, en niemand s’n is nie. Ons almal wil graag dieselfde antwoord gee, waar of nie … as jy vra hoe dit gaan? Wel .. Dit gaan goed, Dankie.

Zeena groet van middagete tot middernag.

Een konstante van expat-lewe is om vriende te groet: dit is eenvoudig die einde van een hoofstuk met sy mense en die begin van ‘n nuwe een.  Na ‘n laaste ontbyt by LasTias en hulle ongelooflike lekker ‘maize appetizers’, besluit Zeena daar is een plek waar ons nog nooit geëet het nie, waar hulle die beste ‘maize something-somethings’ maak, een van haar gunsteling plekkies!

Zeena se kar is verkoop, die koffie masjien is saam met alles wat die huis hulle s’n gemaak het, reeds in ‘n ‘container, destined for new adventures.’  My hart sink as ek na die muur kyk waar haar eerste Suriname skildery gehang het – my gunsteling.  Klein meisies wat op blomme dans rondom Moeder Aarde – gelukkig, vry en onaangeraak deur die wêreld en sy vereistes.  Ek ‘love’ die skildery en in my hart sou ek darem so bly gewees het as Zeena dit nou vir my gegee het as ‘n ‘farewell gift’ … maar nou ja.  Dit is nie ek wat weggaan nie, is dit?  Verder kan ek dit nie verdra as mense aankondig dat hulle kontrak tot ‘n einde kom en almal begin aanspraak maak op hulle ‘stuff’ nie!  So nie ‘n woord oor die pragtige skildery wat weg is nie! 

Ons arriveer 11h30 by die restaurantjie met sy twee tafels buite en een binne: die stoele is nog op die tafels en dit lyk of hulle toe nie 11h00 oopgemaak het nie.  Ons is net so oppad om ‘n plan B te maak toe Zeena beweging binnekant sien.  Nie die eienaar of die kelnerin lyk vreeslik entoesiastes as hulle die stoele van die binneste tafel afhaal en so gaap-gaap vra wat ons wil drink nie.  Zeena het ervaring en bestel summier koffie en die ‘maize something somethings’ wat eers ‘n halfuur later opdaag. 

Dit voel soos ‘n klein weggesteekte juweel restaurantjie: stadig, rustig en iets wat jy amper ‘n geheim wil hou sodat dit nooit oorval sal word deur ‘demanding’ kliënte wat vinnige diens en hoë vereistes het nie.  Dit is klein, eenvoudig, perfek!

Die ‘maize something-somethings’ waarvan Zeena gepraat het is inderdaad fantasties.  Die perfekte middagete met hope kaas wat uitpeul soos jy eet, en maak ons toe vir een of ander rede verskriklik dors!  Presies hoe dit gebeur het, weet ek nie, maar ons dorsgesprekke lei toe tot ‘n vreeslike lus vir ‘n Amaretto Sour.  Aangesien ons opsies beperk is tot wyn en bier, moet ons maar hotel toe ry.  Teen 13h00 stap ons by die nuwe Japanese sushi restaurant in vol ‘cherry blossoms’.  Tien oor 13h00 word twee yskoue Amaretto sours op ons tafel neergesit.  Soms weet mens net as jy die regte besluit gemaak het en hier, in Suriname se Japan tussen die plastiek ‘cherry blossoms’ was ‘n Amaretto Sour die regte besluit!

… behalwe … ons proe nie die Amaretto nie … ?   Wat is ‘n Amaretto Sour dan nou as mens nie Amaretto kan proe nie?  So Zeena bestel ‘n ekstra shot Amaretto en die feit dat sy ‘n uur later by die masseuse moet wees en ek vir Emma by die skool moet gaan haal is ‘somehow’ nie belangrik nie.  Die kelner is verstom dat ons Whiskey en Amaretto wil meng … en sy verbasing is ons gewaarwording!  Hoe moes ons nou weet die ‘sour drink’ is Whiskey of Amaretto?  Die foto en die ‘drink’ lyk presies dieselfde … behalwe natuurlik dat mens niks Amaretto kan proe nie!  Verwarde kelner of nie!  Wie in Suriname se Japan met sy hope plastiek ‘cherry blossoms’ gaan ons vandag stop?  

Dit is ons laaste kuier, ons maak ons eie reëls: ‘n Amaretto-Whiskey-sour sal dit wees! 

Vandag kan niks ons ontstel nie: nie die stadige kelner, die pittige ‘maize something somethings’ of die deurmekaar drankies nie!  Ons lag en onthou, want vandag is ons laaste dag saam en ons tyd is besig om uit te loop!  Verpligtinge wag vir niemand nie en iemand moet vir Emma by die skool gaan haal.  Ek loop rustig my laaste draai, en kom uit na ‘n nuwe, gejaagde wêreld.  Zeena staan gereed met ons handsakke, rekening betaal en belowe die masseuse dat sy oor ‘n halfuur daar sal wees, sy is jammer sy het haar afspraak gemis … ek het geen woorde nodig nie!  Ons moet nou BESTE SPOED aan die ander kant van die stad kom!    

Party mense sal sê ons het haar afspraak heeltemal misgedrink … maar ons storie?  Goeie geselskap en vriendskap het eenvoudig tyd laat stilstaan!

Ek het my beste ‘skills’ gebruik en op een of ander manier deur die verkeer gevleg en Zeena betyds by die masseuse gekry en betyds vir Emma by die skool opgetel.  Ek kan nie anders as om met ‘n tevrede glimlag aan die slaap te raak nie, want vandag?  Vandag was inderdaad die perfekte, laaste dag saam met Zeena. 

Perfek … tot middernag. 

Hartkloppings …

Kan nie asem kry!

Het nie ‘n kar nie …

Hospitaal.

Help!

Een telefoon oproep: dit is wat dit vat om jou uit jou perfekte slaap na ‘n perfekte dag terug te ruk na die realiteit toe. 

Ek stoot angs en benoud weg, ek dwing myself om nie hartaanval of beroerte te dink nie!  Boonste broek!  Boonste hemp!  Naaste skoene!  Spring in my blou karretjie en ry vier huise ver na Zeena toe.  Daar is nie woorde nie, maar dit weergalm kliphard in die leë huis.  Hoe ‘vulnerable’ is ons nie?  Hoe vinnig kan perfek nie verander in ‘n hospitaalgang by ongevalle nie! 

Hospitale is vreemde plekke: en hier beteken Ongevalle jy wag buite in die hitte onder ‘n afdak en word in ‘n piepklein ‘container’ deur ‘n doktor ondersoek voordat jy een treë in die hospitaal ingee.  Daar is nie ‘n bed voordat jy nie een verdien nie.  Enige iemand wat uit daai klein, beknopte ondersoekkamer stap sonder ‘n paniekaanval of entevrees, verdien in my opinie ‘n hospitaalbed!  Teen die tyd wat Zeena die dokter sien het haar eie meds reeds ingeskop en lyk en voel sy beter.  Ek en Zeena maak die meeste van ons … bonus-kuiertjie onder die warm afdak buite die piepklein ondersoekkamer waar ons moet wag vir drie ondersoeke, twintig minute uitmekaar, voordat die dokter haar laat gaan met die goeie nuus dat dit nie ‘n hartaanval is of was nie.  Presies wat fout is weet ons nie, maar die pak en papierwerk wat mens moet baasraak om tussen lande te skuif is niemand se maatjie nie en soms, net soms, besluit die lyf genoeg is genoeg.  Zeena het alles onder beheer gehad, maar dalk was haar lyf net moeg, moeër as wat sy gedink het. 

Ek gee nie eintlik om nie, dit maak nie saak nie – Zeena is OK!  Dit is al wat saakmaak.  Dalk is ongevalle nou nie die perfekte ‘venue’ nie, maar ons het inderdaad ‘n vreemde, laaste kuiertjie ingewerk.  Dit is waaroor die lewe gaan, sê ek vir Zeena:”om stories bymekaar te maak!” … en die vet weet!  Ons het darem vanaand ‘n storie bymekaar gemaak vol emosies, intriges en onbekendes!

Ek vat vir Zeena huistoe, en vir die derde keer die week groet ons finaal.  Ons sal nie oor ‘n week weer saam verjaar soos die afgelope vier jaar nie.  Ek dink by myself die dag kan sekerlik nie beter wees as dit nie, toe Zeena vir my die spesiaalste geskenk ooit gee: ‘n replika van haar pragtige skildery.  My liewe hemel, die verf is nog nie eers droog nie!  “Live life to the Fullest!  Love Zeena” is agterop geskryf.  Emma sê die portret is ‘n ‘encapsulation’ van my persoonlikheid.  Ek weet nie wat is die grootste kompliment nie: dat my meisiekind my as so ‘n vry en gelukkige siel kan sien, of dat Zeena spesiaal vir my ‘n replika gaan maak het by iemand se huis gedurende haar laaste naweek in Suriname.  Dit is inderdaad een van die spesiaalste geskenke en oomblikke wat ek nog beleef het. 

Ek moes al baie mense groet in die laaste amper vyf jaar, en party kan sê dit was nie die ideale omstandighede nie.  Om vir Zeena te groet was inderdaad een van die beste dae!  Miskien nie die ideale dag in baie mense se opinies nie, maar ek en Zeena het gegroet van middagete tot middernag, en die dag kon nie meer perfek wees as dit nie!  

Die Perfekte Expat vrou.

As mens die dag jou lewe in ‘n tas pak met ‘n Expat kontrak en ‘n onbekende toekoms, is almal opgewonde.  Daar is ‘n nuwe land om te ontdek!  Nuwe mense om te ontmoet! 

Die waarheid is egter dat daar so baie admin is om uit te sorteer, dat mens nie eers dink aan die land, avonture of mense nie.  Jy is later MOEG GEGROET en klim op die vliegtuig sonder om ‘n traan te stort of bang te wees vir vlieg! 

… Die Perfekte Expat Vrou …

Dit het nie lank geneem om agter te kom dat die rol van Expat-vrou ‘n soortvan ongesproke verwagting het nie.  Die juweel van ‘n vrou is altyd ‘on top of things’.  Haar huis is altyd skoon, kos is uitmuntend!  Sy kan ure in winkels rondloop en weet presies wat om waar te kry vir watter geleentheid of funksie.  Sy het die spesiale ‘skill’ ontwikkel om te kan koffie drink by vriendinne, dae agtermekaar, en daar is amper altyd iets vars gebak op die tafel of jy genooi of onverwags opdaag. 

Nee kyk … duidelik het Lyf nie met ‘n wen-vrou hier aangekom nie!

My verhouding met skottelgoed is nie stiptelik nie, ek stryk nie graag nie en het verseker nie intussen ‘n liefde vir kosmaak ontwikkel nie.  Die dag toe Lyf voorstel ek moet my vrye tyd gebruik en dalk ‘n kookkursus doen, was daar ‘n drie-dae atmosfeer en praatstilstand in die huis!  Ek is nou nog getraumatiseerd na al die ‘Vegan Failures’ van my Vegan jaar saam met Callie en weier om ‘n blikkie van enige soort bone in my trollie te laai!  Die braai-patties wat die slagter voorgestel het was seker vir ‘n BBQ, verseker nie ‘n Suid Afrikaanse braai nie!  Die goed het soos kartonne opgekrul en die burgers was … ongemaklik om te eet!

Lyf het nie hier aangekom met wat die samelewing sien en erken as die ideale vrou nie.  Inteendeel – ek ‘fail society’ elke liewe dag:  Skaamteloos en Trots.

Van opgee uit liefde tot Gehoorsaam en Onderdanig wees!

Meeste van die vrouens wat ek hier ontmoet het is geleerd en het fantastiese loopbane en ‘n blink toekoms gehad … alles is opgegee vir manlief!  Tog sit ons hier vandag sonder ‘n druppel kredietwaardigheid en 100% afhanklik van manlief se salaris.  Ons kan nie ‘n telefoonkontrak of ‘n bankrekening oopmaak nie, want die werkspermit is in manlief se naam.  Dit klink luuks en lekker as die verhouding veilig en ‘secure’ is … maar vir party beteken dit hulle is ook 100% afhanklik van wat hulle man wil spandeer, waar hy wil vakansie hou, waar hy wil bly, wanneer hy wil trek, wanneer hy besluit om ander werk te soek … of ‘n ander vrou te soek.  Weer ‘n keer is sy die een wat alles moet opgee: die expat lewe en voordele, die toekomsdrome waarmee hulle die ‘journey’ saam begin het.  Sy moet hulle drome, kinders en meubels in ‘n boks pak en terugtrek – en al wat sy het is die geld wat x-manlief vir haar gee!  Die egskeiding is gekompliseerd.  Die pak en trek en emosies en kinders is gekompliseerd.

Maar … net soos toe hulle as expats gearriveer het, staan hy op en gaan werk toe.  Hy moenie al die vreemde winkels, strate en mense ‘negotiate’ en sy voete vind nie!  Hy moenie gaan soek vir stokperdjies en vriendinne om die tyd verby te kry nie!   Party mans het die ‘audacity’ om sarkasies te vra wat sy met al haar tyd en sy geld maak, asof dit maklik is om van ‘n besige lewe af skielik ‘n huisvrou te word.    Hy het geen begrip vir die impak van ure en ure en ure omkry in ‘n vreemde land nie. Hyklim in sy bakkie, gaan werk toe en kom met ‘n lys verwagtinge van hoe die huis, sy vrou en hulle kinders moet lyk en lewe.  

Verwagtinge om sosiaal te wees, om gaste te ‘entertain’.  Die verwagting om geld te spaar, maar die yskas moet vol wees? ‘n Verwagting om jou tyd produktief te gebruik, en jou dan te kritiseer oor jou besluite.  ‘n Verwagting om die perfekte ouer te wees. Daar is intieme verwagtings, sonder emotionele ondersteuning. 

Dis ‘n klap in feminisme se gesig!

Vrouens wat gedwing word om afhanklik, smekend en onderdanig te wees, en terselfdetyd ‘n lys van vereistes het om aan te voldoen volgens die samelewing, haar voorkoms, en manlief homself! 

Die onverwagte vriendin

Ek lees nou die dag op iemand se Facebook: “Dankie vir jou vriendskap die afgelope jaar, ek sou dit nooit hier sonder jou oorleef het nie.”  Twee vriendinne wat mekaar gevind het, elkeen besig met hulle eie emosionele ‘struggles’. 

Een ding is verseker: niemand kan dit alleen doen nie.  Sonder die vriendinne het jou man in elke geval nie vriende nie, want dit is so tussen die ‘girls’ wat ons ‘n braai en ‘n kuier reël!  Ons deel die onuitgesproke verwagtinge en die sigbare ‘failures’.

“Wat kan ek eet?” voel baie soos “Jy het geen beheer nie.”

“Is my hemp gestryk?” voel soms soos “Jy is ‘n slegte vrou met tyd op hande! Wat maak jy daarmee?”

“Hier is niks in die yskas nie!” voel soos “Jy kan nie beplan nie.”

Omstandighede gooi mense bymekaar soos bestandele … is dit vir ‘n wenresep of flopresep?

Almal verskillend, met verskillende agtergrond en uitkyk op die lewe ontmoet en kuier skielik saam.  Soms ‘click’ jy met iemand – dalk net ‘n tydperk, dalk een funksie, dalk tot by die ‘farewell’ partytjie en in mindere gevalle, vir altyd.  Sulke onverwagte vriendinne stap saam jou die pad met al die verwagtinge en ‘failures’, of dit nou realiteit is of jou eie interpretasie daarvan. 

Jy word gekonfronteer met nuwe kulture, beginsels, lewensuitkyke en gelowe.  Alles wat seker en stabiel was, skielik onder ‘n vergrootglas! 

‘Suid Afrika se grense is klein’ … grense strek verder as ‘n landkaart.

Ons loop rond met die idee dat ons BETER is as almal, want ons is Christenne.  Ons kritiseer gemengde-rasse verhoudings en ‘struggle’ met die idee van gay. 

‘n Vriendin vertel eendag my dat hulle in Suid Afrika ‘expats’ was: hulle was ‘perplexed’ dat dieselfde mense so baie kan vloek en drink as wat hulle op ‘n Sondag kan bid. Ek kon nie help om te glimlag nie – dit klink soos baie mense wat ek ken! Ons oordeel almal op grond van kleur, taalgebruik en gewoontes … dit klink soos daai gesegde van met die Bybel onder die arm loop.

Die gemengde span het van ons beste vriende geword!  Die restaurant eienaar lyk of hy letterlik met sy tattoes en lang baard op ‘n Viking skip van Nederland af hiernatoe geseil het!  Sy pragtige swart vrou gooi net gin-en-tonic terwyl sy ons stories vertel van haar Oupagrootjie, die slaaf op ‘n koffieplantasie; haar seun se leerprobleme; kombuis en restaurantflaters. Die stories hou nie op nie, en 23h00 word 02h00 in oogwink.  Ons kuier gereeld daar – hulle word spesiale vriende! 

Wie is ek om hulle te kritiseer?

Ons het gaan wynproe by die Gay span!  Die twee het al in tien lande gewerk en gewoon en het stories, kunswerke en lewenservaring wat jou kan besig hou tot oormôre.  Net soos ons storie, moes een ‘n beroep opgee om die ander een te ondersteun – ten spyte van sy geleerdheid en werksaanbiedinge.  Hulle het eindlose kritisering en drama beleef!  Maar as ek my handsak optel, smeek hulle dat ons langer bly. Nog ‘n wyntjie. Nog ‘n storie. Nog ‘n uurtjie.

Wie is ek om hulle te oordeel?

My Besluit is myne ALLEEN. 

Ek is ‘n expat vrou. 

Ja, ek het opofferings gemaak om hier te wees, en ‘fail’ elke dag die lys van verwagtinge wat die samelewing aan my stel, self Lyf s’n, en die wat ek interpreteer as verwagtinge.

Ek is arrogant om onafhanklik te wees en behandel te word.

Ek word gekonfronteer om my uitkyk te verander op ‘n duisend dinge wat ek gedink het ek verstaan: my beste vriende en ‘memories’ behels mense van ander gelowe of verhoudings wat ons so maklik kritiseer.  Ek is niks beter as enige iemand nie.

Ek het wonderlike dae, maar ek het af dae.

Ek bestuur soos ‘n regte Suid Afrikaanse taxi, anders gaan ek stilstaan!

Ek hou nogsteeds nie van kook nie, maar het geleer hekel en kry die jaar my graad!  Hoe ek my tyd spandeer hoef ek vir niemand te verduidelik of te verdedig nie!

Ek sal altyd lief wees vir my Here, maar my lewensgrense is groter en breër – ek is klaar geoordeel!

Ek moes al twee vriendinne help om hulle lewe in bokse te pak, met ure se gesprekke van “HOEKOM?” as hulle man ‘n nuwe Poppie kry.  Soms maak dit nie saak wat jy opgee of hoe lief jy vir iemand is nie – dit is net nie genoeg nie! 

Ek moes my meisie groet op ‘n lughawe om te gaan swot, en het nie die opsie om ‘n naweek gou af te vlieg of in die week ‘n ‘lunch’ in te werk nie.  My ander meisie en ek ‘bond’ nou soos nooit tevore nie.  Daar is in al die seer en moeilik iets goed: ek besluit om dit te soek!

Ek voel soms my Tweelingsussie se hartklop van verlang; ek drink uit my blou koffie koppie as ek my vriendin mis en skryf ‘n lang ‘soppy’ brief vir my Skoonsus as party dae te veel is.  Verlang se angel kom altyd onverwags.

My geskenke gaan nooit so goed wees soos my buurvrou s’n nie, en ten spyte van my beste intensies gaan ek in rugstekers en skinderbekke vasloop. Vriendinne is nie almal goed nie, maar dit maak die goeie tye nie minder deel van my ervaring nie!

Ek en Lyf is nie gespaar van uitdagings nie – maar dit is ons s’n. Ons oorwinnings en ons ‘journey’. As joune slegter of anders lyk, moenie fout in myne soek nie.

ek is gelukkig!

Want dit is wie ek is! 

In die klein landjie staan die NG Kerk en Budhiste tempel basies langs mekaar. Ek soek die positiewe, ek leef die goeie oomblikke. Ek ‘overthink’, staan op en lewe die tydelike lewe vol verwagtinge en onverwagte so goed as wat ek kan.

Wat al die ‘silent expectations’ betref … ek het absoluut geen intense om aan een van hulle te voldoen nie!

Ek is ek. Ek is gelukkig op my manier en niemand gaan dit verander nie.

Die X-Vrou Sindroom

Ek het respek vir verskillende mense, vir verskillende redes. 

Ek het respek vir enige Ma of Pa wat alleen ‘n kind of kinders  moet grootmaak, maar ek het nog MEER RESPEK vir die x-ma en x-pa wat so hardwerk om dit saam te doen.  Daai geskeide huise waar die kinders altyd die fokus bly en die eie-ek, eie-bitter en eie-woede opsy gestoot word sodat hulle kinders kan grootmaak so normaal as moontlik.  Ek het ‘n x-vrou saam met Lyf getrou, en ek is ‘n Stiefma.  My meisies ken hulle boeties, en Lyf het die voorreg om lief te wees vir sy seuns en sy kleinkinders.  Ons storie het goed uitgedraai! 

Ek het respek vir die x-vrou wat met of sonder onderhoud, deur maklike of moeilike tye, deur regverdige en onregverdige tye, ALTYD, elke keer, sonder uitsondering, haar kinders eerste stel.  Sy weet die verhouding tussen Pa en Kind is soos ‘n skatkis en sy handteer dit ook so.

Kinders word gebore met twee skatkiste: een vir Ma en een vir Pa.  Soos hulle grootword sit hulle herhinneringe, teleurstellings, goeie en slegte dae in die skatkis sodat hulle verhouding met Pa en Ma uniek is.  Iets wat bou tussen hulle en die ouer.  Die advies van Pa help met sekere besluite, terwyl Ma s’n weer ander dinge duidelik maak.  Wiskunde is dalk makliker by Ma, maar vat die kosblik liewer na Pa toe.  Kinders bou letterlik ‘n denkbeeldige boks vol LEWE vandat hulle die dag gebore word, gebasseer op die ervarings en interaksie met hulle ma en pa.

Die x-vrou sindroom gebeur wanneer daar ‘n ‘entitlement’ is dat, omdat ek ‘n enkelouer is, en waarskynlik nogsteeds bitter oor die egskeiding of die x-man se nuwe gelukkige verhouding of selfs sy nuwe bakkie, my kindertjies alles kan en MOET doen wat hulle (of ek) wil hê.  Of die vrou weet haar x-man is in finansiële moeilikheid of nie, sy draai alles om in ‘n ‘Pappa wil nie’.  Sy maak dit ‘n lewensmissie om die skatkis van Pappa skelmpies en agteraf te vul met al haar eie emosies, woede, afleidings en besluite.  Die einddoel is om haar kinders vir haarself te hê.  Hulle te vorm in ‘n ‘mould’ van haar eie waar Pappa in die x-wêreld lewe. ‘n Vyand en Bedryging van soorte. Pappa wil nie.  Pappa doen nooit moeite nie.  Pappa lewe in ‘luxury’ maar wil niks vir jou betaal nie. 

Pappa sleg: Mamma sukkel, maar goed.

Die X-vrou sindroom gaan gereeld gepaard met Sielkundiges en deesdae, kommerwekkende toename in kinders op medikasie. Sy blameer die kinders se angs en onvermoë om met elke dag se uitdagings by die skool en huis te ‘deal’ alles, op die Pa … die een wat nie altyd net kan betaal as sy ‘n epos of ‘n prokureursbrief stuur nie.  Sy ignoreer die impak van haar woorde en aanhoudende gesprekke OOR PAPPA met haar kinders totaal en al, en blameer die angs 100% op die Pa.

… Kan jy nie sien hoeveel skade jy aanrig nie?

Wat ek vreemd vind is die belangrike rol wat die Bybel in baie van die vrouens se lewe speel?  Hoe maklik hulle vertel van God wat hulle help in sulke (soms oordrewe) moeilike tye, asof ‘n x-man nie swaarkry of verlang of sukkel nie.  Sy loop rond met ‘n Septer in die hand wat besluit of die pa die prysuitdeling mag bywoon, die sportwedstryd, die kunswedstryd en selfs die verjaarsdagpartytjie.  Dit is ‘n ‘life mission’ om enige tyd wat hy wel opdaag so ongemaklik as moontlik vir hom te maak en daarna vir die kind te oortuig dat hy ‘duidelik nie daar wou wees nie’.  Asof sy ‘n ‘game’ speel waar die pa altyd op eiers loop en moet presteer, en sy op soliede grond moet sukkel en haar kinders oortuig eiers is solied!

Ek het respek vir my Sussie wat haar twee seuns grootmaak sonder ‘n sent onderhoud vandat sy die dag geskei is.  Tot vandag toe het sy hulle toegelaat om SELF hulle Pa te leerken en lief te hê – haar sukkel en bitter en woede en seer het sy nog nie een dag op hulle gelaai nie.  Sy het haar kinders grootgemaak om te weet ‘soms kan ek dit bekostig en soms nie’, nie probeer oortuig dat elke ding wat hulle in die lewe ‘mis’ is Pappa se skuld nie.  Hulle lewe in ‘n wêreld waar onderhoud nie bestaan nie, maar Pappa doen wel.  Pappa is nogsteeds die held in hulle wêreld soos dit hoort, sy swaai nie ‘n septer sodat hy die ‘Villian’ of die Duiwel word nie.  Elke dag, elke teleurstelling, elke goeie en elke slegte dag is sy daar – soos ‘n Mamma moet wees.  Sy het nog nooit die ‘arme ek is ‘n enkelouer-jassie aangetrek en eise gemaak nie.  Wanneer dit by haar kinders kom is sy een ding: die beste Ma wat sy kan wees, met wat sy tot haar beskikking het. 

Elke x-vrou dagvaar Ouma nie vir haar pensioen as die x-man nie meer kan betaal nie.  Elke x-vrou draai nie teleurstellings om in sielkundige kwessies of ‘blaming game’ nie.  Elke x-vrou ruk nie die Skatkis onder kinders uit en maak dit vol van haar eie idees en geroeste ‘memories’ nie – sy moedig hulle elke dag aan om hulle Pappa-skatkis self te bou, net soos hulle die Mamma-skatkis elke dag bou.

Wie dink jy is jy, dat ‘n geskeide Pa of perfek (in die x-vrou se oë en standaarde) moet wees, of weg? 

Met watter ‘chip’ loop jy op jou skouer dat jy jouself die reg toe eien om namens jou kinders te besluit of hulle lief kan wees vir hulle Pa of nie?

Jy wat so met die Bybel onder die arm loop: Skeur ‘n bladsy uit jou Bybel vir elke sportwedstryd, kunswedstryd en prysuitdeling wat jou kinders se pa gemis het omdat jy hom weggehou het of net sommer nooit ingelig het nie.  Skeur ‘n bladsy uit vir elke keer wat jy gesukkel het en jou kinders oortuig het dit is hulle Pa se skuld.  Skeur ‘n bladsy uit vir elke keer wat jy ‘n bydrae gehad het om jou kind teen sy Pa op te maak, asof die titel ‘x-vrou’ jou een of ander god gemaak het.  Skeur ‘n bladsy uit vir elke rapport wat hy nie gesien het nie, en elke optrede wat hy nie kon besluit om by te woon nie.  Skeur ‘n bladsy uit vir elke keer wat jy ‘n gebreekte hartjie kon troos met woorde waar haar Pappa die held kon bly, in plaas van hom afbreek.  Ek hoop jy begin skeur by die Ou Testament, want die Nuwe Testament is gewoonlik die bladsye van hoop waaraan jy so vasklou en die beelde van Jesus wat onvoorwaardelik lief is, aanhoudend vergewe en sonder ophou regverdigheid proklameer!   Daai versies wat jy so maklik aanhaal oor jou eie lewe, maar jou kinders leer nie vir ‘n x-pa bedoel is nie.

Ek is so moeg vir die stories van x-vrouens wat hulle-self die reg toe eien om hulle kinders te ‘brain wash’ en dan te regverdig met die Enkelouer hartseer stories.  Kyk om jou rond, almal se lewe is gekompliseerd.  Die lewe is moeilik, onregverdig en seer, selfs in die huise waar ouers nie geskei is nie.  Of jy ryk of arm, suksesvol of onsuksesvol is – die lewe is vol intriges, onregverdig, uitdagend en soms net eenvoudig MOEILIK. 

Die lewe, glo ek, is soos ‘n pak kaarte.  Ons almal moet die kaarte speel waarmee ons gedeel is.  Soms wen jy, soms verloor jy.  Soms kroek iemand en soms kroek jy.  Soms is jou strategie beter en ander kere verloor jy konsentrasie vir ‘n oomblik, en verloor ‘n kritiese spel in jou lewe.  Getroud of geskei, dit sou nie anders gewees het nie.

Alle x-vrouens is nie sleg nie, en alle x-mans is nie goed nie: maar die hemel weet, soms probeer hulle en jy wat lei aan die x-vrou sindroom, maak seker hulle staan nie ‘n kans nie! 

Ek het al vele kere gehoor die wiel draai en soms moet mens (soos die x-man/vrou of die nare stiefma/pa) maar net terugsit en stilbly.  Dinge sal uitwerk. Ek glo nie meer al die nonsens nie.  Soms is die skade so groot en die impak lewenslank.  Ek ken wonderlike Pa’s, mans, wat nie weet hoe hulle kleinkinders lyk nie omdat die x-vrou sindroom so sterk was dat sy alles vir haarself wou hou, vir altyd – MYNE! 

Vandag is ek woedend vir die Pa’s wat nie hulle kinders ken nie, nie kon advies gee oor huislenings en nuwe karre nie, wat nie ‘n kleinkind by die naskool kan optel of die geleentheid het om langs sy x-vrou by ‘n partytjie te sit TER WILLE VAN JOU KIND NIE.  Hulle word vir ewig gestraf omdat jy toesig in ‘n hofsaak gekry het.  My hart breek vir die Ouma wat haar pensioen verloor het, omdat ‘n x-vrou haar gedagvaar het vir die onderhoud wat die man nie kon of wou betaal nie.  Ek het nuwe respek vir die mans en vrouens wat kinders in twee huise grootmaak en die kinders altyd eerste stel. 

Jy wat so aan X-vrou sindroom lei, kyk hoeveel bladsye lê op die vloer om jou, jou Bybel is amper leeggeskeur.  Dit is tyd om te vergewe al wil of kan jy nie vergeet nie.  Dit is tyd om jouself op te tel en te doen wat jy moet doen … wees ‘n goeie Ma!  Elke dag, maklik of moeilik, reg of verkeerd, regverdig of onregverdig, met of sonder jou x-man se hulp … dit is nie jou kind se storie, se probleem of emosionele bagasie om te dra nie, dit is joune! 

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg