Memorandum Ma’s vs Scrap-Papiertjie Ma’s

Ek noem hulle sommer die Memorandum-Ma’s.  Dit is die span wat sal baklei tot die einde vir ‘n ekstra punt of persentasie. Hulle is wonderlike ma’s.

Vir die res van ons wat nie so ‘hands-on’ is nie, is dit ‘n wen-wen situasie – want die punte wat jy gemis het, sien hulle raak 🙂

Dit is die super-Ma met spesiale ‘powers’ (bo en behalwe die supernatural powers waarmee enige kind se geboorte die Ma mee vervul!); hulle mis nie ‘n verkeerde antwoord nie, hulle ken die werk net so goed soos die kind en sal maklik volpunte kry vir enige eksamen.  Hulle gaan van vooraf deur skool en slaag gewoonlik Graad 1 tot 7 met lof!  Party gaan selfs verder … maar iewers raak skool vir ons wat lankal klaar is net te veel en te moeilik en te ingewikkeld.  Dit is die tipiese naweek-homeschool-ma!

Ek voel half bedreig deur die super-woman-ma’s wat om mens beweeg!  Ek luister na die stories en die betrokkenheid en voel soos ‘n onbetrokke en slegte ma. Ek wonder of ek nie maar ‘n paar dinge moet verander nie …

Ek is ‘n tipiese Scrap-Papiertjie-Ma!

Ek gryp ‘n stukkie papier en skribbel vinnig vir ‘n meneer/juffrou as ek ‘n fout sien (of eerder as my kind dit vir my uitwys)!  Maar die Memorandum-Ma’s – hulle skryf ‘n brief, met aanhalings en bladsy verwysings en het die foute so opgetel soos hulle aandagtig deur die vraestel gewerk het.  Ek kyk net bo-aan vir die punt en teken!

Ek help met opsommings en wys so bietjie hier, gaan ‘check’ later op om te kyk hoe dinge vorder.  Die Memorandum-Ma’s doen self die opsommings?  Meeste van hulle kinders is op die top-10 en ek hoor net hoe besig is hulle!  Die Scrap-Papiertjie-Ma se kinders sal alleen moet deurkom en hulle het opgegee om met die Wiskunde by te hou in Graad 4.  Hulle is mos klaar met skool?

So ek besluit om verder ondersoek in te stel by die bron van alles kennis: my kinders!

Hoe voel hulle hieroor?

Is ek te onbetrokke?

Moet ek meer doen en meer help?

Moet ek programme optrek op excel en roosters teen die yskas opsit?

Ek wil skreeu :”IS EK ‘N GOED GENOEG MA?!?!?!?!

My kinders se reaksie is egter … wel?  Hulle wil amper ‘n oorval kry! Die ekstra hulp oor naweke, dat ek sal ‘interfere’ met hulle opsommings en leerwerk is beslis nie ‘n opsie nie!  Ek moet asb nooit ‘n lang brief skooltoe stuur vir punte nie en moet dit asb nie waag om met die onderwyser te praat as daar nie ‘n boelie-krisis is nie!  Ek meng alreeds te veel in as ek hulle praatjies se temas wil kies en hulle take self probeer maak!

Hulle hoop hulle Ma is nooit soos die Memorandum-kinders s’n nie … en wel?  Die Memorandum-kinders is maar te dankbaar hulle ma’s is nie soos die Scrap-Papiertjie-kinders s’n nie!

Ek het dus tot ‘n slotsom gekom:

Nie een ma hoef ‘inferior’ te voel nie.  Jy kry die wat Sondagaand gaan bel om te hoor of jy ekstra items het vir haar kind se taak môre, en jy gaan die kry wat reeds ekstra gekoop het vir ingeval.  Jy gaan die Ma kry wat die briewe op haar foon byhou vir enige iemand wat dalk mag vra, en jy gaan die Ma kry wat altyd die briewe soek. Jy gaan die Memorandum-Ma’s kry en jy gaan die Scrap-Papiertjie-Ma’s kry.  Is die een beter as die ander? Beslis nie!  Is die een se kinders beter af as die ander?  Ek glo nie.

Doen elke ma nie haar beste nie?  My beste is dalk nie jou beste nie, en hey!  Jou manier is nie myne nie.  Maar ons het almal een doel voor oë: om ons kinders groot te maak vir die wêreld – hoe ons ookal dink is die beste!

ma

Ek kan nie Blog nie …

cropped-writing-coffee.jpgEk hoor nou die dag ‘n vriendin van my praat van haar BLOG! Ek meen – ek weet wat is ‘n blog … ek het net nie geweet ek ken actually iemand wat blog nie!  Resepte nogals!

Ek dink by myself dat ek baie het om oor te skryf.  Die ding met vandag se lewe is mens kan nie sommer net altyd sê wat jy dink nie!  Party mense raak tog so gou ‘offended’ en moenie vergeet dat almal geregtig is op hulle opinie nie.

Is ‘n blog dan nie die antwoord nie.  Ek kan nie eers blog nie … maar ek kan skryf!  En ek het opinies oor baie dinge, glo my!  Soos ek dink aan waaroor ek kan blog, kom die een na die ander tema (of is dit nou opinie) in my gedagtes op:

  1. Die memorandum Ma’s!
  2. Politiek vir die huisvrou wat liewers nie wil lees nie.
  3. My nuwe projek: Ek plant ‘n bonzai!
  4. My ‘ek-gaan-nog-klaarmaak’ projekte …
  5. Affairs?  Wie het krag vir twee mans!?!?

Ja wat – ek kan oor baie dinge blog.

ek kan nie blog nie, ek’s ‘n blobber!