Sondag-Koerant-Tyd!

Om te lees of nie te lees nie?  Om te weet of nie te weet nie?  Om te kan saampraat of nie?

Ek wonder of die regte vraag nie eintlik moet wees “Bekommerd of Oningelig?” nie.  Om elke oggend NetNuus se opsommings te lees, Netwerk24 se hoofnuus deur te werk en nog die misleidende nuusbrokkies teen die lamppale te sien gee my altyd rede om te trek!  Bring vrees vir die toekoms!  Nuus is soos ‘n ‘highlighter’ in my boek – alles waaroor ek nie beheer het nie!

Dit bly egter vreeslik lekker om te kan saampraat! Dink net as ek by die werk aangekom het en nie geweet het van die Twin Towers nie?  Hoe sal mense jou nie aankyk as jy nie eers geweet het Suid Afrika het Saterdag die Wêreldbeker gewen nie (dit was natuurlik lank gelede!)  Wat – is Prinses Di oorlede?

Om niks te weet klink nie na die ideaal nie!
Ignorance is bliss!  Nie altyd nie!
Dink net as jy ‘n Kapenaar in die huidige droogte vertel hoe terapeuties ‘n lekker lang stort kan wees. Sekere dinge moet algemene kennis wees.

Moord -& doodslag  waarvan almal moet weet.
Die byl moordenaar maak tans opslae, die moord van Mev Rhode op die pragtige Spier Landgoed, wat van die Griekwastad moorde … en natuurlik Biet Byleveld se deurbraak moord oplossings en die held wat gesterf het met ‘n donker wolk oor sy kop oor beweerde diefstal en swak ondersoekwerk.  Die naam Gert van Rooyen is sinoniem met elke Suid Afrikaner, ‘n oopboek sonder ‘n einde …

Sport Skandale!
Hansie Cronjè en die “match-fixing” skandaal!  Oscar Pistorius se Valentynsskoot!  OJ Simpson vrygespreek op sy vrou se moord!

Politiek vir die Leek!
Die Gupta’s het ons land se skatkiste oorgekoop.  Plase in die moeilikheid agv droogte, moorde en grondbesit wat nie vir boerdery gebruik word nie.  Dit is dinge wat jy moet weet. Moet asb nie in ‘n geselskap vra “Wie is die Guptas?” nie!  As mense praat van die swembad om moontlike vure te blus en jy vra “Watter vure? Brand die Kaap weer?” … dit gaan net nie werk nie.  

Interresante Feite!
Daar is darem niks so lekker om in ‘n geselskap te kan vertel dat nuutste data bv wys Dimensie kan verminder word deur depressie betyds te behandel … en ander studies is bekommerd dat anti-depressante weer demensie kan veroorsaak!  Ingeligtes is dit eens dat vroeë behandeling en aanhoudende stimulasie van die brein wel positiewe resultate het in die voorkoming (of uitstelling) vir Dimensie.

Die gebruik om glasies te klink! Blykbaar was dit ‘n manier om die vyand te toets vir vergiftiging.  Dit moes redelike sterk glase gewees het, want die ‘cheers’ proses was so gedoen dat die kuiergas se drankie met die gasheer s’n meng.  As die gasheer dan nogsteeds uit sy glas drink, is die kuiergas redelik seker sy drankie is nie vergiftig nie en kan samesprekings begin.  ‘n Storie wat dalk waar kan wees!

Die skakel is vir my baie opwindend:  77 Amazing Facts To Make You The Most Interesting Person In The … Room!

Daarom lees ek net die Sondag koerant! 

Dit gee ‘n oorsig en opsomming van die belangrikste dinge die afgelope week! Daar is altyd bietjie goeie nuus om raak te lees. Vir die politieke-leek is dit genoeg informasie!   Vir die anti-sport-kyker is dit ‘n opsomming van nederlae en wenspanne!

Sondae na kerk moet ek altyd kontant hê om die Koerantverkoper op die hoek van die straat te ondersteun!  Sy gesig as ek sê “Jy kan die kleingeld hou!” is my offergawe vir die dag en bring ‘n glimlag en warmte in my hart elke liewe keer.

By die huis is dit my koppie koffie, die sitkamer mat, ek en die koerant.  Dit is my tyd!  My uur of twee!  My Sondag-Koerant-Tyd!

 

Affair – die Hoogs Geheime Besigheidsplan!

Verhoudings bly ‘complicated’.  Niemand se boeke het al die antwoorde nie, en geen artikel los almal se probleme op nie.  Ek is maar te dankbaar vir my gelukkige huwelik!

Ek luister nou maar na vriendinne en hulle huwelikskwessies.  Almal het ‘issues’, maar niemand se ‘issues’ is dieselfde nie.  Die een se oplossings werk nie vir die ander nie, en … ‘n ander man werk ook nie vir joune nie!

Die vraag is dan: wie sien kans vir twee mans!?

Wat is die afrikaans vir ‘affair’ in elke geval?  Wat van steel-verhoudings, die beplande-vry-sessie, undercover-liefde … of soos die woordeboek dit vertaal: affair is BESIGHEID.

Ek lag kliphard as ek die vertaling sien: BESIGHEID!

Daar moet ‘n besigheidsplan geskryf word: dit is die huwelikskontrak en die beloftes in die kerk … bla-bla-bla tot die dood ons skei, julle is man en vrou, ‘you may kiss the bride’ (hoekom mag die bride nie die groom kiss nie?).

Dan moet die begroting bedryf word: krag, water, kos … kersgeskenke, karre, huis … kinders, skool, toere … dit is nou ‘n intense gedeelte die en rede tot baie kommer, konflik en tydelike oplossings soos affairs wat uiteindelik nog geld kos en armoede veroorsaak en kinders leer van bedel by twee instansies en kyk waar ek die meeste kan kry!

Die posbeskrywing is ‘n ‘ever-evolving-matter’: jy maak koffie in die oggende, ek maak kos in die aande; ons gaan oefen saam elke tweede aand om 17h30, eet 19h00, kyk series tot 21h00/22h00 en gaan klim in die bed – as jy jonk getroud is, gaan klim jy net in die bed.

Die posbeskrywing verander met tyd: ek borsvoed so jy moet koffie bring (ja koffie!  Ek moet darem een plesiertjie oorhou saam met die wonderwerk van borsvoed – vroeg opstaan bly nou maar nie my sterk punt nie – of ek dit nou uit liefde doen of nie!).  Ek maak ontbyt en aandete, jy is op spyskaart-dienste Vrydae en Sondae.  Ek wil graag oefen Maandae, Woensdae en Vrydae, jy oefen elke ander dag. Ons eet 18h00, kids gaan 20h00 bed toe, ons kyk series tot 21h00 en almal slaap teen 21h00!

Met tyd word oefen vir baie ‘n mite en iets van ‘n verlangse verlede.  Kitskos is te duur en koffie soos wyn – ‘n troos vir elke oggend.

Ja-nee! Die huweliksplan bly ‘n markverwante kwessie: ewigdurende verandering, begrotingsaanpassings agv kospryse, politiese bedrog, verandering in eetgewoontes, wie is op ‘n dieet en wie is nie? Die kinders is vol fiemies – ‘n menu is beslis die grootste uitdaging van enige huishouding! En moenie die sport en skooluitgawes vergeet wat skielik alle kersgeskenke en persoonlike voorkeure se plek kom inneem het nie.

Tussen alles deur is daar die Man (in sommige instansies & verhoudings waarvan ek hoor 🙂 ): die aandag-vraat wat altyd wil weet jy is lief vir hom, bereid is om na 22h00 wakker te bly :), hard werk om die gesin aan die gang te hou, ‘n ego wat enige siekte oorwin, na ‘n lang dag verdien om te sit, enige iets op die TV te kyk en openlik die ‘love-affair’ met sy selfoon te bedryf. Die mense by die werk is moeilik, die probleme van die ekonomie is sy bekommernis, die land se politiek hou alle mans wakker (want meeste girls verstaan dit in elke geval nie), geldsake druk altyd, jy spandeer te veel maar die kos in die huis is te min! Moenie die kwessies vergeet van jou gewig nie, die ander man wat saam jou werk, jy spandeer te veel tyd saam jou kinders, nie jy of jou kos is meer soos in die begin nie!

Ja-Nee!  Die huwelik is ‘n verhouding en sielkundige kwessie van ons tyd. 

En dan is daar die affair: die plaasvervanger vir alles wat nie werk nie: die ridder op sy  werk se wit perd, hy eet elke geheime ete met smaak, sy selfoon is gebêre terwyl elke woord van jou lippe soos gesteelde heuning afgelek word. Jou kerslig-romantiese-kurwes is vir hom pragtig en jou liefde vir ‘n ander man se kinders is vir hom baie gerieflik.  Sy werksprobleme verstaan niemand anders soos jy nie, daar is niemand in die openbaar waarmee hy kan skelm praat soos jy nie!  Die wêreld se probleme bly agter geslote deure en jou blinkoog glimlag word versteek agter stories en planne waarvan net julle tweetjies weet.  Geen vriend/vriendin is ‘n probleem nie, want julle gaan nooit ontmoet nie.

Wat ‘n romantiese storieboek

Dit klink vir my soos ‘n besigheid wat nog in registrasie is, die budget is nog nie goedgekeur nie, die posbeskrywing is duidelik en vasgestel en sal net werk as dit nooit ge-query word nie.  Geen tweede opinie kan gekry word nie, wat in die besigheid aangaan is uiters geheim en net twee het ‘n geheime klaring hoog genoeg om hier te werk!  TE WERK – want dit is beslis ‘n besigheid!  ‘n Huwelik is harde werk – ek is oortuig daarvan ‘n Affair is erger!

Affair?  Wie sien kans vir twee mans!

Ek is van Venus en baie lief vir my Mars … die vet weet as Jupiter haar ogies by my Mars kom fladder of Saturnis van sy wentelbaan afwyk en spiere voor my Venus gesiggie rondswaai, sal daar ‘n ontploffing van ernstige proporsies wees!  Een wat min van ons kan bekostig, wat net gered kan word deur baie jok, baie skelm beplanning, hoogs geheime vergaderings en daaglikse waardevermindering!

Ek sien net kans vir een man – my ❤ eie getroue Mars ❤ – ons kontrak ooreenkoms is duidelik – tot die dood ons skei! 

 

Die lockness monster woon in ons swembad.

‘n Swembad is nou maar eenmaal ‘n kopseer of ‘n ‘joy’.

‘n Kopseer in die Winter en eers weer ‘n Joy in die Somer

Maar die gat vol water verander nie sommer vanself nie.  Mens sou dink hy weet nou al wanneer dit Winter en Somer is, maar nee.  Elke Winter is dit dieselfde storie!  Jy gee hom ‘n kombers in die Somer om die blare te keer, en in ruil daarvoor gaar hy elke stukkie stof op en maak alge teen beste spoed bymekaar.  ‘n Swembad se genot moet verdien word!

So haal ons vandag die net af!  Geen genot in die gat nie!  Alge en stof orals – lyk soos ‘n oversized khoidam.  Die skoonmaak begin en wat sal ons opspoor – die Loch Ness Monster!  G’n wonder dit word beskryf as ‘n mythical creature  nie – want die outjie is lank reeds weg uit Skotland uit.  Hy woon net hier in ons swembad!!!!!  Ek het hom duidelik gesien!!!!

Groen en Grillerig (as enige iemand gewonder het hoe hy lyk)!  Mense oordryf absoluut – die outjie is nie so groot dat jy hom duidelik gaan kan sien van die kant van die rivier af nie, maar ‘glow in the dark’, geen twyfel nie!

Daar is absoluut geen tyd om te mors nie!  

Ek ry na die naaste winkel toe, die een wat eerste oopmaak en staan voor die deur met ‘n voetjie wat so tap!  Almal kan maar weet ek is haastig!!!  Na al die stories (apparently mites) wat daar oor die Loch Ness Monster vertel is, kan ek nie anders as haastig wees nie.  Die outjie moet uit!

Ek sit een van elke bottel op die rak in my trollie – die gaan ‘n maand se grocerie geld kos – maar daar is nie ‘n prys aan veiligheid nie.  Wie weet waartoe hy alles in staat is?  Die outjie lê en broei al maande in die groen bad!  Lê en planne uitdrink – die swembad is halfpad leeg!  Nee – iets van alles.

Die verkoopsman se oë is groot en onseker!  Hy stop my in my spore halpad til toe en druk ‘n botteltjie in my hand in – gratis sê hy!  Ek wil niks gratis hê nie, ek moet die Loch Ness Monster aanvat voor my kinders by die huiskom! Wat?  Ek moet ‘n sample van die water vir hom bring?  Hy is sekerlik mal – wie druk jou hand in ‘n gat donkergroen water met ‘n monster in?  Absoluut belaglik!  Dalk … dalk moet hy saamkom en dan weer ‘n sampeltjie vra!

By die huis aangekom is dit tyd vir die aanvalsplan!  Vandag chemikalië ek daai monster uit die swembad uit!

… uit die swembad uit …

… UIT DIE SWEMBAD UIT …

As hy nie meer BINNE-IN die swembad is nie, kan hy tog net op een ander plek wees … BUITE DIE SWEMBAD.  En is dit nie waar ek op hierdie huidige oomblik staan nie?  Reg langs die swembad, buite!!!

Ek moet wapens gereed kry.  As die outjie nie daar binne vrek nie, gaan hy wil uitspring.  Ek sit elke moontlike handdoek en laken op die wasgoeddraad aan die diepkant waar ek dink hy lê en slaap – as hy uitspring raak hy dalk verstrengel in die handdoeke en lankens.  Alhoewel – in IT het die nar nie vertrengel geraak nie

Nee!  FOKUS – dalk kan hy swem, maar hy kan nie loop nie! Ek troos myself aan die gedagte en gaan aan met die nodige voorbereidings.

Aan die regkant van die swembad staan die leer – as hy kan spring sit hy hopenlik vas in die leer! Wishful thinking, ek weet – want hy het letterlik net een kans om akkuraat of mis te spring!  FOKUS!

My enigste ander verdediging en meesterplan is die ‘self defense’ klasse wat ek veertien jaar gelede bygewoon het.  Maar hulle het gesê ‘the basics will stick in times of need?” Nou is so goed ‘n ‘time of need’ as enige ander.

Ek begin by alles waarop ALGAE staan!  Ek gooi met die een hand en in die ander hand is die swembad-net-skoonmaker-blaarvanger-ding (mens kan dit seker gebruik as jy diepsee visvang ook!).  Op elke bottel staan mens moet 24-uur wag!  … maar die is ‘n noodgeval!

Volgende is dit 22 chloorbomme. Ek sit nie een in nie – ek gooi so hard en so diep as moontlik – dalk is ek gelukkig en gooi die ou morsdood.  Die ander goed se name lees ek nie – gooi net die een na die ander in … en dan sien ek hom weer!  So duidelik as ooit.

Hy is ‘vaguely familiar’ in sy voorkoms en postuur – hy dryf, en hy kom nader die kant toe.  My gedagtes sê hardloop, maar my logika sê wag – neem ‘n foto, dalk kan ons ‘n trailer wen!  Tussen die wit borrels (van al die chemikalië) word die Loch Ness Monster duidelik sigbaar.

Ek het oorwin!  Die opwinding word vervang met ‘n gevoel van mislukking.  Ek het ons hele begroting in sy pietjie ingestuur vir DIT!!!  Die Loch Ness Monster wat nou duidelik sigbaar en aangetas is deur al die oormate chemikalië!  Ons eie, nou useless, kreepy crawly – ‘covered in algae’, so groen soos die Loch Ness Monster homself in stukke gebrand en besig om uitmekaar te val en te verbrokkel!

Ja … ‘n swembad is of ‘n kopseer of ‘n ‘Joy’ … en as jy die Loch Ness Monster daarin vind, kan jy maar weet dit was nou net Winter … want niemand se sig is so belemmer in die Somer se blou water dat die Kreepy Krawley presies net soos ‘n Groen Monster lyk nie.  Dit is teleurstellend om te besef dat ons Monster geen uitsondering was nie, en menige mense moes al die stryd teen hulle eie Loch Ness Monster baklei het – net nie almal koop ‘n trollie vol chloorbomme en algae-killer nie, en nie almal staan op ‘n gereedheidsgrondslag en wag vir die Kreepy Monster om enige oomblik uit te spring nie!

loch-ness_2887190k

 

Memorandum Ma’s vs Scrap-Papiertjie Ma’s

Ek noem hulle sommer die Memorandum-Ma’s.  Dit is die span wat sal baklei tot die einde vir ‘n ekstra punt of persentasie. Hulle is wonderlike ma’s.

Vir die res van ons wat nie so ‘hands-on’ is nie, is dit ‘n wen-wen situasie – want die punte wat jy gemis het, sien hulle raak 🙂

Dit is die super-Ma met spesiale ‘powers’ (bo en behalwe die supernatural powers waarmee enige kind se geboorte die Ma mee vervul!); hulle mis nie ‘n verkeerde antwoord nie, hulle ken die werk net so goed soos die kind en sal maklik volpunte kry vir enige eksamen.  Hulle gaan van vooraf deur skool en slaag gewoonlik Graad 1 tot 7 met lof!  Party gaan selfs verder … maar iewers raak skool vir ons wat lankal klaar is net te veel en te moeilik en te ingewikkeld.  Dit is die tipiese naweek-homeschool-ma!

Ek voel half bedreig deur die super-woman-ma’s wat om mens beweeg!  Ek luister na die stories en die betrokkenheid en voel soos ‘n onbetrokke en slegte ma. Ek wonder of ek nie maar ‘n paar dinge moet verander nie …

Ek is ‘n tipiese Scrap-Papiertjie-Ma!

Ek gryp ‘n stukkie papier en skribbel vinnig vir ‘n meneer/juffrou as ek ‘n fout sien (of eerder as my kind dit vir my uitwys)!  Maar die Memorandum-Ma’s – hulle skryf ‘n brief, met aanhalings en bladsy verwysings en het die foute so opgetel soos hulle aandagtig deur die vraestel gewerk het.  Ek kyk net bo-aan vir die punt en teken!

Ek help met opsommings en wys so bietjie hier, gaan ‘check’ later op om te kyk hoe dinge vorder.  Die Memorandum-Ma’s doen self die opsommings?  Meeste van hulle kinders is op die top-10 en ek hoor net hoe besig is hulle!  Die Scrap-Papiertjie-Ma se kinders sal alleen moet deurkom en hulle het opgegee om met die Wiskunde by te hou in Graad 4.  Hulle is mos klaar met skool?

So ek besluit om verder ondersoek in te stel by die bron van alles kennis: my kinders!

Hoe voel hulle hieroor?

Is ek te onbetrokke?

Moet ek meer doen en meer help?

Moet ek programme optrek op excel en roosters teen die yskas opsit?

Ek wil skreeu :”IS EK ‘N GOED GENOEG MA?!?!?!?!

My kinders se reaksie is egter … wel?  Hulle wil amper ‘n oorval kry! Die ekstra hulp oor naweke, dat ek sal ‘interfere’ met hulle opsommings en leerwerk is beslis nie ‘n opsie nie!  Ek moet asb nooit ‘n lang brief skooltoe stuur vir punte nie en moet dit asb nie waag om met die onderwyser te praat as daar nie ‘n boelie-krisis is nie!  Ek meng alreeds te veel in as ek hulle praatjies se temas wil kies en hulle take self probeer maak!

Hulle hoop hulle Ma is nooit soos die Memorandum-kinders s’n nie … en wel?  Die Memorandum-kinders is maar te dankbaar hulle ma’s is nie soos die Scrap-Papiertjie-kinders s’n nie!

Ek het dus tot ‘n slotsom gekom:

Nie een ma hoef ‘inferior’ te voel nie.  Jy kry die wat Sondagaand gaan bel om te hoor of jy ekstra items het vir haar kind se taak môre, en jy gaan die kry wat reeds ekstra gekoop het vir ingeval.  Jy gaan die Ma kry wat die briewe op haar foon byhou vir enige iemand wat dalk mag vra, en jy gaan die Ma kry wat altyd die briewe soek. Jy gaan die Memorandum-Ma’s kry en jy gaan die Scrap-Papiertjie-Ma’s kry.  Is die een beter as die ander? Beslis nie!  Is die een se kinders beter af as die ander?  Ek glo nie.

Doen elke ma nie haar beste nie?  My beste is dalk nie jou beste nie, en hey!  Jou manier is nie myne nie.  Maar ons het almal een doel voor oë: om ons kinders groot te maak vir die wêreld – hoe ons ookal dink is die beste!

ma

Ek kan nie Blog nie …

cropped-writing-coffee.jpgEk hoor nou die dag ‘n vriendin van my praat van haar BLOG! Ek meen – ek weet wat is ‘n blog … ek het net nie geweet ek ken actually iemand wat blog nie!  Resepte nogals!

Ek dink by myself dat ek baie het om oor te skryf.  Die ding met vandag se lewe is mens kan nie sommer net altyd sê wat jy dink nie!  Party mense raak tog so gou ‘offended’ en moenie vergeet dat almal geregtig is op hulle opinie nie.

Is ‘n blog dan nie die antwoord nie.  Ek kan nie eers blog nie … maar ek kan skryf!  En ek het opinies oor baie dinge, glo my!  Soos ek dink aan waaroor ek kan blog, kom die een na die ander tema (of is dit nou opinie) in my gedagtes op:

  1. Die memorandum Ma’s!
  2. Politiek vir die huisvrou wat liewers nie wil lees nie.
  3. My nuwe projek: Ek plant ‘n bonzai!
  4. My ‘ek-gaan-nog-klaarmaak’ projekte …
  5. Affairs?  Wie het krag vir twee mans!?!?

Ja wat – ek kan oor baie dinge blog.

ek kan nie blog nie, ek’s ‘n blobber!