Stoneridge kasteel, ‘n Storieboekplaas

Daar is ‘n plekkie in die Vrystaat wat ons ‘Die Plaas’ noem, ‘n klein stukkie grond genaamd Stoneridge.  Vir 14 jaar het ons elke Kersfees afgery, gaan ‘sanity’ bymekaar maak en so half geglo ons sal nie die volgende jaar kon aanpak sonder KERSFEES OPPIE PLAAS nie.  Soms was ons so gelukkig om die ysige Winter in vaal grasvlaktes te beleef en ons het gehoop dat Paasfees ‘n permanente instelling sou word. 

Dit is moeilik om te verduidelik, maar … Stoneridge is eintlik ‘n kasteel op ‘n towerplaas!

As mens nou besluit om bietjie op die koppie te gaan stap, vat dit behoorlik twee ure om vir almal ‘n hoed en ‘n bottel water te kry: jy kan jouself indink hoeveel tyd in ‘n piekniekmandjie ingaan!  As mens so deur die agterplaas se hekkie stap, hoor jy hoe die feëtjies begin skarrel en die bosboodskappers die nuus begin versprei:”Hulle is oppad!”  Ou Bubezi, die boerboel, en sy frommel-gesig, het altyd saamgestap.  Die gewone besoeker sal dink hy spring en blaf sommer net … maar Bubezi kon die dwergies sien en het gereeld saam met hulle gespeel – veral in sy jonger dae!  Hy blaf nie, hy raas!  Want sien, die klomp stoute dwergies is besig om ‘n hopie klippies vir ammunisie bymekaar te maak as ons verby kom.  Hulle is kwaad omdat hy nie gisteraand wou toktokkie speel in Feëtjiewoud nie: dit is darem vinniger om weg te kom op Bubezi se rug as op hulle kort beentjies!  Hoe moes die dwergies dan nou Bubezi se arthritis-pyn verstaan?   

Die eerste bietjie water is sigbaar in die droë kanaal.  In al die jare op die plaas, het ons as Gautengers die kanaal maar twee keer gesien in sy volle glorie!  Reën was nog altyd min, maar dit pas kanaaldwergies wat klippe kap en Jakkalse help huis bou!  Soms as mens so om die braaivleisvuur sit kan jy hulle hoor, maar nooit het ons die slinkse jakkals of sy maats gesien nie.  Die buurman het blykbaar gereeld strikke gestel om die jakkalse te vang wat sy skape steel, maar die bosnetwerk van trolle en dwergies was te groot – jakkals is nooit gevang nie.  Bubezi het ‘n ooreenkoms met die jakkalse bereik: in ruil vir die dwergies se hulp, het hulle saam donkerkamertjie in die grotte gespeel, gereeld amok gemaak in Feëtjieland en ‘n klomp ander stoutighede aangevang! 

Bo op die koppie” bestaan uit klippies gooi,  insekste bestudeer en ‘n gemaklike klip soek om net … net te sit en kyk.  Daar was terapie om so oor die Vrystaatse vlakste uit te kyk!  Ja!  Ja! Natuurlik is daar ander koppies, maar die koppie – die koppie was die uitkykpunt van Stoneridge.  Dit is hier waar die trolhek toegang vra en vele Volmaan feeste al gehou is met Seisoensveranderinge.   Kabouters oefen hier om Somer na Herfs te verander, verfspatsels is orals soos blare van groen na goud of bruin verander word. Feëtjies spandeer dae om die mooiste rokkies te skep uit blare en blomme voor hulle verlep is.  Hulle doen die klipspring-dans en die orkes van miere, paddas, springkane en natuurlik krieke, maak musiek soos ons dit nie eers kan dink nie. Almal vier fees voor hulle gaan hiberneer of hulle Winterhuisies regkry vir die koue op die plaas.

Piekniek langs die dam was altyd ‘n hoogtepunt, en in retrospek was daar net te min daarvan gewees.  As ons nou ‘n Wintervakansie kon afry, was die middagson darem perfek vir ‘n piekniek onder die Wilgerboom.  Die blare dans en warrel saam om die mooiste stories te vertel en as dit nie vir ons klein kindertjies was nie, sou ek en my Skoonsus sekerlik ure met ‘n storieboek en ‘n kombers sommer net daar gaan lê en lees het!  Maar piekniek was nie altyd veilig nie!  Rowers staan en loer agter elke boom vir die ideale tyd om ‘n gekookte eier te gaps, om van die lekker toebroodjies nie eers te praat nie.  Bubezi blaf sodat die Winterfeëtjies gereed kan maak om ons met hulle towerrokkies in die wind te vermaak!  Tussen woordspeletjies en raaisels wat ons uitdink om ons kinders se woordeskat te verbeter, is ons skaars bewus van die Wilgerboom se slaapliedjie, sodat ons altyd met een slapende kind in ons arms sou huistoe stap. 

Trolle het in die Wilgerboom se wortels gewoon en bewapen met takke – skerpgemaak soos spiese – was dit hulle wat die ganse opgepas het teen Stoneridge se eie lochnesmonster: Die Otter.  Die trane wat geloop het toe die boom ‘n paar jaar gelede eendag in die droë dam omgeval het, kon jy myle ver hoor.  Die trane was nie genoeg om die dam vol te maak of die wortels te red nie, maar die pyn kon ons almal voel. 

Soms is mens nou net lus vir ‘n stappie, ‘n regte egte wandeling!  Niks koppies klim of uitputting nie: net ‘n lekker wandel dat jy asem het om te gesels.  Of dit nou ‘n hand-aan-hand wandeling saam Lyf was, of lank gelede ‘n kind op ‘n Pappa se skouers: wie ookal saam stap, dit was half altyd so vredeswandeling saam met God … soms wil mens net wandel.  Dit is op die grondpad wat ons al vele kere in absolute stilte gewandel het … elkeen in sy eie idees en gedagtes vasgevang.

Oppad hoofhek toe het die satansbos al goed oorgeneem tussen die lande wat lank gelede skape gevoer het.  Ja – daar word nie aktief geboer op die plaas nie!  Die planne vir olyfbome en skape het alles deel geword van die aktiwiteite wat oor vakansies onderneem sou word.  Stoneridge, die naweek plaas waar jy gaan om af te blaas, jou gedagtes weer agtermekaar te kry.  Daar is nie ‘n paadjie om kopskoon te maak soos die ou grondpad terug hoofhek toe nie! 

Op die pad, so om die tweede draai … daar is Feëtjiewoud!  Hulle het so stil weggekruip as moontlik, maar ons het geweet dit kan tog niks anders wees as die Feëtjies se kasteel nie.  As jy weet waar, klim jy so onderdeur die bebosde, toegegroeide takke en skielik is dit oop: asof jy in ‘n huisie instap wat niemand gebou het nie.  Feëtjiewoud!  As jy jou oë styf toemaak en doodstil staan, kon jy die gegiggel en werkskaf van die feëtjies hoor!  Dit is hier waar hulle vir die Volmaanfeeste voorberei en dit is hier waar die dwergies kom wegkruip vir die trolle as hulle alweer ‘n Wilgertak afgetrek het terwyl hulle Tarzan-Tarzan speel. 

Stoneridge is ‘n storieplaas: die paaie, die Wilgerboom en die koppie bestaan alles!  Dit is hier waar ons kinders vir die eerste keer vir Kersvader gewag het.  Die Kersvader wat so in sy plakkies en ‘n knop in die keel na sy bakkie toe geloop het, nadat Carla agter hom aangehardloop het vir niks anders as net ‘n drukkie nie!  ‘n Drukkie om dankie te sê dat hy so ver ompad gevlieg het net om vir hulle persentjies op die plaas te kom aflewer.  Dit is op Stoneridge waar Emmie deur ‘n stoute paashaas uit die towerboom gestamp is.  Ja, dit was gedurende Kersfees, maar … ons het paasfees misgeloop en die hase het soveel tonnels gegrou en moeite gedoen om paaseiers weg te steek, vir die Paasfees wat ons nie kon maak nie!  Emma is die een wat toe met gips moes betaal vir ons Gauteng-blyery!

Dit is op Stoneridge waar middernag net ‘n ‘rumour’ geword het soos ons almal ouer word: die ure en diep gesprekke oor ‘n ou glasie sjerrie terwyl feëtjies opgekrul voor die warm koolstoof lê en slaap. Die stokou Koolstoof wat die Kabouters met trots stook en warm hou sodra die plaasmense by die Winterkasteel opdaag! Dit is hier op Stoneridge waar ‘n melktert lekkerder proe as enige ander plek, en mens die kombuis deur so bietjie ooplos vir die skaam dwergies om ‘n stukkie te kan huistoe neem.  Die rowers op Stoneridge is groot, sterk trolle wat jou hart kom steel, sodat jy op geen ander plek ooit dieselfde rus en vrede kan ervaar nie! 

Ons kinders is almal groot.  Hulle dink Kersvader bestaan nie meer nie en glo ons nie meer as die Tandemuis moeg by sy gat inhardloop nie.  Hulle dink nie om die koppie te klim is meer soos ‘n storieboek en elke nuwe toneel soos ‘n bladsy wat omgeblaai word nie. Ek dink tog hulle het hier geleer om met ‘n swaard te baklei teen die monsters in hulle drome, om die stories in die lewe te kan raaksien en … dalk wil hulle net nie erken dat hulle in feëtjies en towerkarakters glo nie! Want ek sien hoe toweragtig elkeen van ons kinders is … net nie meer klein nie.

Ek en my skoonsus … ons wonder egter nie, ons weet!  Ons weet Stoneridge se kasteelmure is vol geheime briefies en stories soos die huiselfies skinderstories na die res van Stoneridge se ‘woud’ probeer versprei het.  Ons het gesien hoe die vuurvliegies hulleself kom tuismaak op die komberse onder die akkerbome, as sterre verskiet met ‘n jaarverwisseling. 

Die plaas is al jare lank in die mark, en ek wonder of die towerkaraktertjies net eenvoudig nie hulle kasteel wil opgee nie?

Ek mis vir Stoneridge.  Ek mis die geselskap wat nêrens anders te vinde is as die heilige lang houttafel – wat ons nou moet langer maak soos ons klein kindertjies liefdes begin saambring vir ete.  Ek kan nie wag vir ‘n sjerrie by die koolstoof as die Winter aanbreek nie:  en ek en my skoonsus, ons sal hulle sien.  Die dwergies in die vensterbank wat ons gesprekke afluister as almal al lê en slaap.  Die feëtjies wat so uit die storieboeke ons kinders se lewens en verbeelding kom inkleur het, sal moeg word en met hulle blomrokkies opkrul op die bank se armleunings.  Ek kan nie wag om die trolle te waai terwyl hulle wagstaan by die leë dam en maak of ons hulle nie kan sien nie.  Die Winterfeëtjies wat nie kan wag dat die wind hulle rokkies in duisende donsies rondwaai, om ons te herhinner hoe toweragtig die wêreld nou eintlik is nie.

Stoneridge – my hart se storieboek, die plek waar ek my siel gaan vind:  waar ‘n glasie sjerrie so bietjie ander proe en braaivleis eenvoudig anders ruik – die hout is immers deur trolle bymekaargemaak!  Dit is hier waar ons kinders se verbeelding begin het met vlinders wat dans en feëtjies wat drome by die vensterbank fluister.  As jy so van die teerpad afdraai en die grondpad aandurf na Stoneridge se kasteel toe, dan weet ek: so lyk, ruik en proe vrede … toweragtig!

Ontmasker. Verslaaf.

“Goeie môre.  My naam is Nossie en ek is ‘n verslaafde!”

 … sak my kop in teleurstelling, hande ineen gevou in my skoot … stilte … effense bewerasies.

 Corona het my ‘n Facebook verslaafde gemaak.  Sedert Wuhan gewildheid verwerf het, sit ek en my geliefde koppie koffie die nuus en lees elke oggend.   Op dieselfde bank, vroeg oggend terwyl dit stil is en die dag nog wakker word.

Niks!  Nie tussen die ander koffie en tee nie, nie agter die suiker nie.

… hande in my hare … 

Facebook het verander soos lockdown in die wêreld versprei het.  Vriende wat jare lank al ‘n profiel besit, maar nooit kommentaar lewer nie, neem skielik deel aan ‘n Mom-challenge, ‘n Pilot-challenge, ‘n Ou Skoolfoto-challenge, ‘Toe ek ‘n kind was’ challenge.  Die vriende met wie jy jare laas gesels het, is grys, geskei, getroud, het graad gevang, kinders gekry, beroep verander en party woon in ‘n ander land.  Ek moet ure ‘scroll’ om by die ‘actual’ nuus uit te kom!!

Ek soek al ure vir ‘n sakkie.  Ek weet ek sou dit nie tussen die toiletpapier bêre nie, maar kyk in elke geval.

Kners op my tande. 

Terwyl mense doodgaan in oorvol hospitale, het die mense mal geword vir toiletpapier, maskers en handskoene.  Nie Suid Afrikaners nie!  Hulle gemeenskaplike probleem … ?

Die drank is nie genoeg nie!

As ek maar my bottels wyn kon ruil, maar wat help die vol bottels in Suriname.

 … klein pêrels sweet slaan op my voorkop uit …

Kyk, almal kon voorberei en genoeg voorraad kry voor Lockdown, fase 1.

Fase 2 het nie die voorreg gehad nie.  Drank en alkohol is net so onder ‘lockdown’ in die winkels soos jy moet wees by jou huis!  Mag nie die winkel se deur verlaat nie!  Dit laat my wonder?

Is Suid Afrika onder lockdown of … ‘Rehab’?

Ek het sleg geslaap.  Dalk is daar ‘n verlore pakkie in een van die reistasse, ek vat altyd voorraad met my saam.

8 Tasse en 5 ure later as Suid Afrika, sit ek toe maar met ‘n koppie tee en nuuslees.  My Whatsapp is oordonder met vriende wat eiers en suiker uit shooterglasies drink en dit met ‘n shot sterk drank afsluk.  Ontrekkingsimptome? Die klomp het heeltemal mal geword!

Vir die hoeveelste keer kyk ek in die teeblik … nogsteeds leeg. Ook niks in die skryfbehoeftelaai, tussen die paspoorte of die boekrak nie. 

Gatvol vir die tee, sluk ek toe maar ontbyt af met ‘n bier, te dankbaar dat Emma die laaste eier vir koekiesbak gebruik het, maar vinnig spyt dat ek dit met ‘n sluk Woestersous vervang het!

Ek verlang skielik plaas toe, Bloemfontein toe!  Ek kan sien hoe ons die glasies so om die tafel sou uitpak en almal saam eiers en suiker sou sluk.

Ek verlang ook na die blikkie wat my Sus in haar kas gehou het, spesiaal vir my.

My Handsak!!!!  Ek het altyd ‘n pakkie in my handsak!

NIKS!  Ek smyt die glas water in die wasbak uit. 

Te hard!  Flenters!  Verdomp!

Kontrak werkers is ons expat families se ‘couriers’.  Die ander vrouens se lysies bevat Mrs Balls Chutney en mieliepap, soms vra hulle NikNaks en Lyf soek altyd droëwors en biltong.  Niemand vra my nie, die versoek was nog altyd dieselfde.

Geen vlugte! Geen voorraad!  Ons het nie kans gehad om voor te berei nie!  Die een dag was Corona ver weg en die volgende dag was grense en winkels toe.

Kopseer. 

Slapeloosheid.

… ek masseer my slape, sluk my trane … 

Corona – Koninging van Ontmaskering!

Wie is jy as jy net by die huis moet bly?
Wat is dit waarsonder jy nie kan klaarkom nie?
Na wie verlang jy en watter nuwe gewoontes het jy aangeleer?

Diep asem, sluk water! 

Ruik die filterkoffie, diep asem, sluk water!

Smyt die Nescafè in die wasbak uit!

Die goed is blêrrie sleg!!

Facebook raak te veel!  Dis negatiewe nuus, mense wat nie die reëls volg nie en Challenges wat persoonlike foto’s vra wat ek nie wil post nie.  Ek verwyder die ”post” met my Woestersous en eier ontbyt.

Disable.  Delete.

As ek maar my voorkeure kon ‘disable’ en ‘delete’ …

  Ek is bereid om my bottels wyn te ruil vir een pakkie … NET EEN PAKKIE!!!

 ‘n Vriendin benodig kroniese medikasie, blykbaar gaan DHL aflewer!  Ek het gevra of sy ‘n plekkie kan maak: net so 2 pakkies, dalk 3.

Benoud.  Kan … nie … asem … kry … nie …

Dis al 5 minute later.  Sy’t nog nie geantwoord nie.

Ek hou my knieë vas, wieg heen en weer.  Die kombuisvloer is koud en my trane is warm. 

Ek voel leeg.

So leeg soos my koffiekoppie hier voor my. 

Terwyl die wêreld huil vir toiletpapier en wyn, smag ek na ‘n koppie, net EEN OU KOPPIETJIE …

 Jy het reg gehoor!!!!!!! 

“My naam is Nossie: ek is verslaaf aan Ricoffee.”

… Sak my kop in skaamte, huil my masker af … blootgestel, broos … pateties!

 

 

 

 

Môre … Môre … ja beslis, Môre is die dag!

As hotelbewoner is my skedule eintlik baie dieselfde as voorheen.
05h30 staan ek op en maak die meisies wakker.
Teen 06h30 is almal gereed vir ontbyt, kosblikke pak en ons ry 06h45.
Ons arriveer ongeveer 07h15 by die skool. Ek maak oproepe huistoe tot so 08h00 en oefen tot 09h00. Teen 10h00 is ek klaar gestort en lees Bybel tot 11h00.
Dit los 2 ure vir admin of blog of iets tot die middagroetine 13h00 begin: girls by die skool 14h00, eet, oefen 15h00 tot 16h00. Terug by Hotel 17h00, huiswerk en eet 18h30. Teen 20h00 is almal gereed, tasse gepak vir môre, Bybellees en slaap. Callie kan 21h00 gaan slaap en my kersie word so teen 22h00 uitgeblaas. Dan slaap ek soos ‘n baba tot die wekker 05h30 lui.

Lyf sal nou met ‘n frons op sy gesig na die stukkie staar, sy oë uitvee en weer lees … net om seker te maak ek beskryf myself. Dit was my beplanning, ja … toe lui my wekker …

Ek staan byvoorbeeld NIE DADELIK op nie … dit neem dit ten minste drie keer se snooze en baie oortuiging om myself uit die bed uit te sleep. Ek dink soms redes uit hoekom die meisies dalk vandag maar by die hotel (of huis) moet bly … het almal nie soms ‘n af dag nodig nie? Ek weet dit is nou eers Maandag … OK, OK … Callie is reeds op en in die stort … ek het op ‘n stadium opgegee om haar wakker te maak, haar skedule begin te vroeg!!!! Emmie … wel Emmie is ‘n ander storie, amper … amper presies dieselfde ‘actually’ as haar Mamma toe sy ‘n kind was. Ek moet langs haar bed staan en haar SMEEEEEEEK op ASSEBLIEF nou op te staan. Haar tas is toe nooit gisteraand gepak nie en niemand het onthou om hulle Kickboxing sak gereed te kry nie. Waar het sy haar skoene gister uitgetrek en hoe op die aarde is dit ‘n halfuur later en haar hare en tande is nogsteeds nie geborsel nie? Môre!! Net môre maak ek haar vroeër wakker! Môre snooze ek … net eenkeer!

Teen 06h45 is ons die fokuspunt van die hotel. Dit is kosblikke pak (‘undercover’ … die ander gaste mag nie sien nie, ‘n spesiale vergunning) en ‘n eier bestel en ‘n bakkie oats eet en ‘n glasie lemoensap. Op en af, vat ‘n hap, op en af, vat ‘n sluk! Teen 06h50 is dit tasse gryp en hardloop, ek sal die rekening teken as ek terugkom! Die skoolklok wag vir niemand nie!

Dankie tog vir verkeer, die rit skooltoe is my gunsteling tyd! Ons musiek-kuier-of stiltetyd. Soms is dit hard en raserig tussen stories vertel en musiek deur; ander kere is dit stil maar gemaklik, elkeen in sy eie wêreld. Maar altyd saam.

My motiveringsvlak vir oefen is teen 08h00 aansienlik hoër as 05h30! Selfs as 05h40 … en ja! Ook teen 06h00! Party mense sal vir my goed sê soos “vir jou is oefen maklik, jy is mos maer!” Ek weet nie wáár die filosofie vandaankom nie! Daar is absoluut NIKS vleiend of maklik aan my burpies nie, ek slat neer van die eerste tot die laaste een soos ‘n walvis! Met elke push-up kom die grond vinniger nader en die opstoot stadiger. Teen rondte 5 is my bene so jellie, ek kán eenvoudig nie meer hardloop nie, nie eers op die plek nie.

Dalk is dit die lugdruk? Dalk sukkel mens net meer op die ewenaar?

Dit gaan klein bietjie beter met die skop en box gedeelte … ‘oh man!!’ Waar is my Martial Arts fiksheid heen?? Ek dink van môre af, as die meisies oefen, moet ek bietjie my tegnieke en fiksheid opskerp. Ek sit mos net en wag. Ja, môre!

As ek ‘n uur later bloedrooi en sopnat daaruit stap, wonder ek hoekom ek nie ‘n gym gekies het op die grondvloer nie? Die stel trappe is veilig vir niemand na 50 squats nie – en nee, ek het nie EENKEER met een enkele squat afgegaan tot by 90 grade nie, vir ‘n beginner is 40 sekerlik voldoende?

Uiteindelik by die hotel se swembad aangekom loop ek eenvoudig tot die grond onder my voete wegraak en val vooroor. Praat van 90 grade? Ek doen ‘n 90 grade invalshoek van die rand af. Daar is ‘n vreeslike gespartel wat moet lyk soos iemand wat verdrink, maar is eintlik die prentjie van diepe angs! Sien, ek het die bikinitop se bandjie nie ordentlik vasgemaak nie en na my grasieuse inval met twee bikini broekies onder die water geëindig … my longkapasiteit word onder ernstige druk geplaas sodat ek weer opkom met ‘n top op sy plek!

Die kelner het geen bestelling nodig gehad vir die rooi-gesig-sleepvoet-sukkelaar wat vooroor neerval op die swemstoel nie: ‘n Water en ‘n Coke staan vir my en wag!

Soos vroeër in die gym is niks aan my postuur, voorkoms of aksies langs die swembad vleiend nie: nie die in-of uitklim nie, nie die neersak nie … en beslis nie die ‘tan’ sessie nie. ‘In the absence of a hat’ gooi ek my rok oor my kop wat wapper in die skielike wind; ek bid dat die son net so bietjie genadig kan wees tot ek krag in my arms gekry het om om te draai. Ek oortuig myself die 10h00-ewenaarson geen skade kan aanrig nie.
As ek môre swembad toe kom sal ek die sonroom, sonhoed en vol swembroek onthou …

Ek gaan deur my lysie vir my dag: Ambassade bel vir ons visas, huis agent kontak, hare afspraak, mediese eise, eposse: my foon sal binnekort lui. Ek hoef nie ‘reminders’ op my foon te sit nie, die ‘Reminder’ vir bel my! Enige oomblik nou sal Lyf bel en vra wat doen ek terwyl hy eintlik bedoel het jy dit al gedoen. Dankie tog hy bel en kom nie hotel toe nie: oor die foon het ek nog altyd baie meer produktief en in beheer geklink as in lewende lywe. Ons albei wéét dit tog: as ek nie met Lyf getroud was nie, het hy my lankal ‘gefire’! Wil mos alles vandag gedoen hê!! Ek kon nog nooit verstaan dat Lyf-die-Reminder soveel stress op homself plaas om my en sy ‘to do’ lysies te memoriseer nie: geweldige, onnodige druk. Ek bewonder Lyf vir sy selfdissipline, maar dit maak my meer ontspanne uitkyk en benadering nie verkeerd of onproduktief nie? Gestel ek mis nou die Ambassade vandag, hulle is mos op dieselfde plek môre oggend? Die huis agent gaan nêrens heen nie.
Môre is inderdaad nog ‘n dag! En hier gebeur meeste dinge in elke geval of later of môre. My persoonlikheid is gemaak vir die plek!!!

In elke geval, toe ek so 11h00 se kant opgaan kamer toe om produktief te raak, was ‘room service’ nie net op ons vloer nie, maar besig IN ONS KAMER!

Nee-wat: my ‘cover’ storie is ‘rock solid’, Lyf kan maar bel.

Presies hóe dit gebeur het, kan ek nie verklaar nie: maar toe ek weer sien is dit 13h00! Ek moet nog die chloor van my lyf aswas, middagete vir die meisies voor hul kickboxing klas en gel in my hare kry wat ‘n sny nodig het by die haarkapper wat ek toe nie gebel het nie … dit was nou net 11h00?

Party dinge sal seker nie verander nie … ek was nog altyd ‘n ‘expert’ laatkommer, spoedige klaarmaker en op-die-nippertjie hardloper na die kar toe om gewoonlik net betyds by my bestemming aan te kom. Met my nuutste, gunsteling liedjie op ‘repeat’ vat ek die pad skooltoe. Die geheim is om koel en kalm te raak oppad na jou laat bestemming! ‘Look the part’ … mense het nog altyd gesê ek is ongelooflik effektief en voorbereid? Niemand hoef te weet ek het van my Bybelstudie, halfuur spaans op Babbel en middagete vergeet nie? O gats! Ek het ook heeltemal vergeet dat ek mos eintlik Nederlandse podcasts luister oppad skooltoe! Ek het so lekker konsert gehou, skoon vergeet om my Nederlands te verbeter!

Sien wat ek bedoel met ‘Look the Part’? Klim uit, groet almal kalm en beheersd, laat die meisies dink die pak ‘chips’ en ‘n piesang vir middagete was beplan. Jy gaan in elke geval niemand beïndruk met jou weergawe van ‘crisis and time management’ nie!
Tog, vir die soveelste keer vandag, besluit ek om môre beter te beplan … ek wonder hoekom het my Reminder nie maar ‘n tweede keer gebel nie? Dan sou 13h00 my nie so onverwags betrap het nie!!

Teen 17h00 begin ons uiteindelik eers met huiswerk. Soos verwag het die oefening perfek afgeloop: die meisies het ‘n lang lys redes gehad om vandag te mis, my met sulke jammer-gesiggies aangekyk dat ek hulle na so martelkamp toe stuur en gehoop ek sal hulle in my liefdevolle arms opsweep en huistoe vat! Dit het nooit gebeur nie so die aanvanklike stilte in die kar was dalk so bietjie onaangenaam. Dalk was hulle emosioneel afgestomp van moegheid? Ek weet nou ook nie álles nie!

Ek is stom verbaas as ons teen 20h30 eers klaar geëet, gestort en gehuiswerk is. Môre sal ek aandete vroeër gereed hê! Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees as ons uiteindelik kniel in die aande: niemand is dood van die honger, in ‘n ongeluk, beseer tydens konflik nie … plus daar wag ‘n bed v ons almal!!!!!

Teen 21h00 smeek ek die meisies om ASSEBLIEF nou die ligte af te sit en te slaap. In my besige dag was daar nog nie tyd om die nuutste Episode van ‘Blue Bloods’ te kyk nie en ek is so nuuskierig om te weet wat op ‘This is Us’ gaan gebeur. Lyf wil baie graag saamkyk, maar ‘fatigue management’ is aan die orde van die dag! Onder 5 minute en Lyf is uit soos ‘n kers.

Wat ‘n dag! Rede om te glimlag 🙂 … sulke dae is nie uniek nie. Party dae loop soos stroop en ander soos ‘n warrelwind. ‘But somehow we manage.’ Altyd! Ek kry alles gedoen op tyd, betyds, al is dit dan nou nie Lyf se tyd nie. Daar is duisende ander soos ek wat soms net besig raak … al kan jy nie noodwendig presies verduidelik wat jou tyd so in beslag geneem het nie.

Ek lê en wag vir my ‘uit soos ‘n kers‘ oomblik wat eers iewers na 02h00 opgedaag het! Ek gaan gereeld in my wakker ure deur môre se lysies en beplanning! Elke nou en dan moet ek Lyf kry om op sy sy te draai sodat die snork kan ophou.

… dit is egter ‘n veel erger geluid wat ek hoor … ‘n aaklige geluid laat my wakkerskrik … onbeskof (as jy in agneem dat ek 02h00 nog wakker was) … kan dit wees?

Nee!

Ja – DIT IS!

Die verskriklike geluid is my WEKKER!
Dit is sowaar môre …
Snooze … nog net 5 minute, vandag sal Emmie vinniger klaarmaak as ál die gisters en Callie se hare sal die éérste keer gereed wees. Hulle het nou al geleer om vinniger tasse te pak.
SNOOZE! Ek het gister so hard geoefen, dalk moet ek hulle gaan aflaai en kom terugklim in die bed, ek moet die visas eers vanmiddag gaan haal.
SNOOZE! O aarde! Wat ‘n skerp lig is dit? Is Callie al klaar in die badkamer? Het sy vroeër opgestaan as gewoonlik? Kan ek dalk nog eenkeer snooze?

WAT? HOE? WANNEER? Dit is dan 06h00! Ek was dan gister so seker dat môre vlot gaan verloop?

Stadig kom ek regop, praat ernstig met myself: “Superwoman … regtig, jy moet NOU opstaan!”

Aspoestertjie se Handsak

Drie dae voor die troue voel ek soos Aspoestertjie: ek het ‘n prins en ‘n uitnodiging …

Ek sou nooit kon raai hoe my goeie feë die dag gaan red nie … wag, hier is my Storie!

Ma van die Bruidegom kort ‘n rok, towerskoene en natuurlik ‘n klein, fyn handsakkie!

Die familie se stryd en stories om die gepaste uitrusting te kry is Vrydag aand gevul met ure en rande, dasse en baadjies, oorbelle en sykouse, skoene en handsakkies! Ek luister en lag na elkeen se storie, opgewonde om die storie by die persoon te sit … om te sien hoe elkeen se persoonlikheid en smaak uitgebeeld gaan word deur ‘n stuk lap om die lyf wat wonderbaarlik sal saamsmelt om ‘n ongelooflike familiefoto te vorm!

Enige iets vir Boeta se troue! Vandag is dit donker grimering, haarsprei, ‘n duur rok, fluweel baadjie en natuurlik my asemrowende skoene: goue blomme op swart. Hulle skreeu TROUE: uniek, spesiaal uitgesoek om van my blomme ‘n aandrok te maak.

Ek stap die vertrek binne, dit word doodstil soos toe Aspoestertjie almal se asem weggeslaan het met haar aankoms by die paleis. Toe ek my prins by die koets ontmoet het daai blou oë in ‘n pak klere my hart vinniger laat klop en vir ‘n oomblik konsentrasie laat verloor … Lyf is nog so ‘handsome’ soos die eerste dag wat ek hom ontmoet het en ook net betyds om my te vang voordat ek my paar blink sykouse flenters val!

My Aspoestertjie oomblik ‘n totale ramp!

Lyf wou my nog met bewondering aanstaar, maar die val het die oomblik geruïneer en die skoene het iets heeltemal anders vir hom geskreeu: “Help! Seer Voete! Gevaar!” Die laaste keer wat ek sulke hoë skoene gedra het was op ons eie troue. Die dominee het ons skaars man en vrou verklaar toe is die skoene uit! Die registers is met kaalvoete geteken en hy moes net keer of ek stap nog kaalvoet by die kerk uit ook!

Ons was reeds laat, so ek het vinnig gaan platskoene aantrek en die hakskoene in ‘n geleende handsak gedruk vir later!

… dis korrek, ‘n geleende handsak!

Geen winkel het die perfekte handsak besit nie … ‘n Fyn, pikante handsak kan ‘n lipstiffie hou, maar nie ‘n paar skoene nie. Ons almal weet tog die hakskoene is hoofsaaklik vir die fotos en die kapel en ek kan tog nie die hele dag met ‘n paar skoene in my hand rondloop nie? My eerste goeie feë was besig om te stryk toe ek haar handsak gewaar … was dit baie mooi? Seker nie! Fyn? Gladnie! Pas dit by my uitrusting? Hoegenaamd nie!

Die goeie-bediende feë toor toe haar handsak in ‘n skoensak. Ek gooi sommer alles wat jy moontlik nodig het om jou neus te poeier ook daarin! Die familie is skaam en geskok … maar Aspoestertjie het nog nooit so groot handsak, goue skoene of ‘n bediende gehad nie, sy’s ‘happy’.

My tweede goeie feë se naam is Uber …

Ons was amper by die venue toe my skoonsus laat weet sy staan met my een skoen in haar hand! Hoe ek dit reggekry het om net een skoen in te pak sal niemand weet nie, maar my goeie-bediende feë het het dit opgespoor en Uber kom die familie eers ‘n uur later oplaai. Ek kon sien hoe ek op al die fotos verskyn met ‘n platskoen en ‘n hakskoen, hoe seer my knieë gaan wees van die ongelyk loop … ‘n totale katastrofe! ‘The talk of the wedding!

Die goeie-drywer Uber feë toor toe die tyd, laai die familie vroeër op sodat Lyf net betyds die verlore skoen aan my voet kan sit, my optel en met die trappies ophardloop sodat ek met twee towerskoene voor die bruid by die kapel opdaag.

Die handsak het inderdaad towerkragte gehad. Almal was skaam om met die sak gesien te word, maar Lyf se bril het ‘n plekkie gekry, Oupa se beursie en almal se ‘photobooth’ fotos. Daar was snesies toe ons trane afgevee het met Boeta se ‘speech’ en ‘n keuse van lipstiffie vir laataand fotos. Daar was ‘n plekkie vir die strooimeisie se geleerde kouse en ons ringdraer-kleinseun se kruisbande. Ja, almal het uiteindelik baat gevind by my bediende se geleende handsak!

Die dag was gevul met ‘n sprokie van ‘n bruid, ‘n seun om op trots te wees, die perfekte dag waar mens sjerrie drink in klein, fyn teekoppies en roosterkoeke eet in mooi klere. Snaakse fotos by die photobooth in brille, vreemde hoedjies en skandelike verklarings soos “I came for the cake!” Van die ongelooflike oxtail tot die ‘spot-on’ DJ! Dit was inderdaad die perfekte troue!

Vandag was beslis ‘n sprokie … almal het fees gevier tot die bruid en bruidegom ons om middernag verlaat het.

Ek was Prinses Aspoestertjie vir ‘n dag met my bediende se handsak en storievertel-towersskoene. Middernag het die einde van ‘n Perfekte dag aangekondig, en die begin van ‘n ‘happily ever after’ vir ons aantreklike, stil seun en ons nuwe, donkerkop dogter!

As die man weg is, Breek die huis

Dit is ‘n welbekende feit dat sodra jou man landuit gaan breek iets by die huis.  Lyf het skaars met sy alie op die vliegtuig geklim toe die reuk van ‘n geblokte drein my tref.  Daar is loo-paper­ by die huurder se drein wat in die oprit afspoel.  Ek weet nou nie hoeveel toiletpapierblokkies te veel is per toiletbesoek nie – maar ek is heeltemal oortuig sy oorskry haar kwota!

Twee dae later erken ek die wedstryd tussen ek en die swembad is beslis: Swembad 1, Nossie 0!  Om die sand in die bodem opgesuig te kry is ver bo my creepy crawley–backwash–blare uitgooi kennis.  Die gawe swembadman het ‘n assesering kom doen en toe vir Sam gestuur om ‘n timer te installeer, die swembad te ‘vacuum’ en tot my stomme verbasing is die swembad so 20 minute later silwerskoon!  Ek bedoel, die swembadmense is miracle workers … nee regtig!

Sam weet dit nog nie, maar wanneer hy die vierde keer terugkom gaan die besproeïng afgaan op drie verskillende stasies wanneer hy die bedrading probeer uitsorteer dat die timer kan werk.  Eers toe ek die swembad se krag by die hoofkragbord af -& aansit het die timer uiteindelik gewerk!

Dit is met ‘n dikbek dat ek die volgende dag vir Goodman ontbied om met my skottelgoedwasser te kom gesels.  Die outjie weier om water uit te pomp!  Ja, Ja!  As die begroting knap is, is dit seker nie prioriteit om jou skottelgoedwasser reg te maak nie … nee!  Wat sê ek?  Ek praat absolute nonsens!  Die skottelgoedwasser is by verre belangriker as die geblokte drein! 

Intussen is Joseph die tuinier is so gaaf om my kar te was en te suig.  Ek wil hom herhinner dat ek oor ‘n paar minute moet ry om my middagrondtes te doen … maar Joseph is skoonveld.  Ek roep … stilte!  Ek stap rondom die huis, maar Joseph is weg.  Ek wil vir Johannah die bediende vra of sy vir Joseph gesien het, maar daar is geen teken van Johannah nie.  Paniek vat my beet: het Goodman hulle in sy Lynnwood Appliance Trokkie gelaai – is hy ‘n serial killer?

Ek wil histeries begin roep toe ek die gekonkel ruik … en Goodman het niks hiermee uit te waai nie.  Ek kry vir Joseph en Johannah met bekommerde auras agter in die motorhuis met my persoonlike gereedskapboksie – wat Lyf net met toestemming mag gebruik-, maskingtape … en die stofsuier.  Hulle is besig met ‘n desperate operasie om die stofsuier se lewe te red.  Johannah het die reggekry om die pyp van die stofsuier af te breek asook die elektriese koord uit die masjien uit te trek.  Dit is nie ‘rocket science’ om te verstaan hoe dit gebeur het nie, en ek dink Johannah sal vir ‘n rukkie eers ‘n skoppie en besem moet gebruik!

Intussen reën dit al vir dae aanmekaar.  Ek kry so 22h00 ‘n sms en ‘n foto van die huurder.  Dit lyk of die ceiling enige oomblik gaan uitval soos die water terugstoot op die dak.  Nog ‘n katarsis!

Die oggend het ‘n sms gekry om te hoor of daar so baie miere by ons ook is: het die girl nog nooit van Anttrap gehoor nie?  Dink sy die groen goed op die vloere is mooi??  Nietemin – Anttrap werk nie vir kokkerotte of ander klein aaklige goggatjies wat ek op die kombuisblad kry toe ek ‘n laatnag koffie gaan maak nie.  Die klein grillerige goedjies wag tot die huishouding stil is voordat hulle toeslaan. 

Die perdebynes is aansienlik groter!  Ek sien dit toe ek vir my vriendin koffie aandra stoep toe daardie Saterdag.  Sy sê mens moet hulle met Doom spuit, maar sy het nie gesê wie spuit en wie hardloop nie.  Soos ek halfpad moedeloos my hande in my hare steek en dramaties my kop agteroorgooi vir al die probleme sien ek nog een: ‘n tor het sy pad gekry deur ‘n dakbalk!  Dit lyk soos ‘n perfek geboorde gaatjie!  Die outjies maak een gaatjie en vreet mos van binne af alles op.  Jy dink nog daar is ‘n dakbalk, dan lê daar net stof op die vloer!

Doelbewus kyk ek net anderkant toe: weg van die perdebynes, weg van die tor se gat … reguit in die houtdeur se miernes in.  Waar kom al die goed vandaan?  Was dit nog altyd so?  Hulle het letterlik ‘n sentimeter se deur al opgevreet!

THIS ENDS NOW!!  Dit is duidelik dat sespotiges ‘n komplot smeer om ons huis oor te neem!  No Mercy!  I am coming for you … 

Uit die aard van die saak het ek ‘n skielike, dringende afspraak met Builders Warehouse.  Ek jaag my vriendin skaamteloos weg en ry dadelik.  Ek is nou ‘n Girl on a Mission.

Lyf sê altyd Builders Warehouse is ‘n gevaarlike plek: Ek kon dit nooit verstaan nie, jy gaan dan soontoe om probleme op te los.  Maar dit is juis die gevaar:  soos jy deur die rakke loop om ‘n probleem op te los, besef jy hoeveel ander problem jy het.  Dit is nie net gif nie, dit moet opgespuit word, jy moet jou oë beskerm, jy moet seker maak jy het ‘n masker sodat jy nie perongeluk ‘n sluk gif inkry nie.  Die hoeveelheid oplossings vir my probleme is so oorweldigend ek besluit om die botteltjie gif, safety goggles en spuitkan te vat, die trollie te losen til toe te hardloop.  As ek nie meer goed in my hande kas vashou nie, kan ek dit nie vat nie.  Ek sien die stofsuier naby die til is vandag op afslag, Suzelle se DIY boek klink vandag vir my na ‘n handige idee en ek wonder of ek nie maar weer die trollie moet kry sodat ek alles kan inlaai nie?  Gelukkig roep ‘n kassiere my en red my van my van al die oplossings. 

Daar is nie ‘n oomblik te mors nie: ‘n swartsak is my overall, SPAR se onherwinbare plastieksak pas goed oor my kop, die safety goggles is ‘n perfect fit, en die masker sal help dat die kopbedekking nie afgly nie.  Geen sespotige gaan my vandag vryspring nie.  Met my geel skottelgoedhandskoene besef ek met ‘n skok is ek ‘n komieklike mass murderer.   Ek smeek verGIFnis met elke spuit.  In die dierewêreld moet jy jou terrein merk – ek gebruik net nie my blaas nie, maar ‘n kan!

Lyf is so week weg toe ons al drie siek word.  Die Vrydag oggend het ek met ‘n seerkeel opgestaan en vrot van die verkoue die aand in die bed gaan klim.  Twee dae later het Callie skielik begin bewe op die bank: yskoud en spierwit.  Teen Dinsdag bel die skool en kry ek vir Emmie so bleek soos ‘n lyk met ‘n koors van 40 in die siekekamer.  ‘n Hele week se verlang-verkoues. 

As mens se neus mos nou geblok is, dan ruik dinge maar anders.  So die vreemde reuk in die badkamer het my nie dadelik gepla nie.  Maar toe Johannah opdaag is dit duidelik dat iets iewers doodgegaan het.  Ons soektog na ‘n dooie rot begin.

Ons soektog sluit in die kas uitpak, was en sommer gif – net vir ingeval die bendes besluit het om badkamer toe te trek.  Volgende plek waar ons kyk is in die badkamer lig.  Ek het al gesien hoe duisende klein goggatjies uit daai lig val as Lyf die gloeilamp ruil, so ek en Johannah trek weer ‘n keer ons werkspakkie aan: Swartsak oor die klere, safety goggles en ‘n onherwinbare SPAR sak oor ons koppe en maskers om te keer dat geen dooie miggie ingesluk word nie!  Uiteindelik het ons die vier skroewe so kop onderstebo losgekry; dit is nie dat ek nie met ‘n skroewedraaier kan werk nie, maar so kop onderstebo op die wankelende leer terwyl Johannah heeltyd advies hier van onderaf gee het my so effens gedisoriëreer.  Die ligdeksel kry sy dosis seep en water en ‘n ordentlike lagie gif.  Dit vat nog langer om die deksel terug te kry; behalwe dat ek weer kop onderstebo moet werk, maak die skottelgoedhandskoene skroewe vasdraai moeiliker.  Maar ek raak nie aan gif nie!

Volgende aan die beurt is die extractor fan in die stort.  Ook hier sukkel ons en kry niks dood of stink nie.  Johannah is blykbaar baie opgewonde om alles eers te was en silwerskoon terug te sit.

Ons het tot die slotsom gekom dat daar ‘n dooie rot in die badkamer se dak is.  Saam het ons besluit om uit te hou tot Joseph die tuinier Vrydag kom want nie een van ons gaan in ‘n donker dak met rotte soek na ‘n lyk nie.

Saam met Vrydag het die reën gekom.  Die woonstel se dak lek al hoe erger en die tuin is papnat – so Joseph kom nie vandag werk toe nie.  Ek het geen ander keuse as om die badkamer te vermy die hele naweek nie.

Maandag gaan ek in om die wasgoed te kry en trek sommer die handdoeke so van die reëlings af.  Die vloerhanddoek kom op my gesig te lande … saam met die dooie rot!

Eers is ek geskok!  Toe gril ek vreeslik vir die dooie rot in my gesig.  Maar ek sit uiteindelik plat op die badkamervloer en lag soos die storie in my gedagtes uitgepluis word … 

Sien die dooie rot kom van Sophia die Kat af.  Die nag toe Callie siek geword het, het die bure gekuier en geraas en ek het die badkamer deur toegemaak, onwetend dat Sophia  die kat binne was en toe vasgekeer is met ‘n groot nood.  Emma het nooit die handdoek opgetel nadat sy gestort het nie … wat moes Sophia nou ook anders doen as haar sandbak ruil vir die handdoek?

Ons het nooit ‘n skroewedraaier, handskoene of sunlight seep nodig gehad om die rot op te spoor nie … ons moes net die handdoeke was!

I will arrest you Madam!

Wat ‘n gawe idee: jy verjaar, bespreek amper die hele Barnyard Theatre vir jou verjaarsdag, nooi ‘n klomp vriendinne en bederf hulle met ‘n aandjie uit. Asof dit nie gaaf en goed genoeg is nie, gaan alle geskenke vir liefdadigheid.

Hoe kan mens dan nou nee sê? Buite die skoolhek oorreed ek en Anri* mekaar om tog te gaan, dat die kinders Pa se kos en geselskap sal oorleef en dat ons te midde van nagblind en rigtingbeduiweldgeid wel by die Barnyard sal uitkom. Dit maak nie saak wie bestuur nie – Ma’s gaan mos nie drink en bestuur nie!?

Teen 13h00 ping my foon onophoudelik – dit klink amper soos die einde van die maand as my aftrekkings afgaan: Ping! Ping! Ping! Ping! Ping! 78 boodskappe vlieg heen en weer tussen ‘n klomp opgewonde vrouens wat ook nooit uitkom nie. En soos net ons spesie dit kan doen is daar 5 minute later ‘n saamry-klub gereël, die ‘dresscode’ is afgespreek en die AA meeting vir ‘Girls who never get out’ is afgehandel.

Ons vertrek 18h00 – wie weet nou hoe die verkeer gaan lyk as mens in die aand uitgaan? Ek lyk nog soos vanoggend, net vars lipstiffie – ons is van die vervelige klomp wat nie in neon-80’s-pakkies daar opgedaag het nie. Ons kom so 19h00 daar aan … en dit is nie as gevolg van verkeer nie; ek sal dit nou ook nie verdwaal noem nie. Hoe kan ons nou help die straatname is anders as die GPS wat ek jare gelede laas gebruik het? En as Mevrou Google van lyn af is die eenkeer wat ons haar nou regtig nodig het … ‘well? Then you phone a friend if the husband cannot answer!”

Dit is vreemd om te sien hoe die ‘performers’ buite sit en wyn drink, lyk soos ‘n klomp stout kinders … eintlik lyk hulle so half bekend … met ‘n skok besef ek … die ‘stout meisies’ is dan van die ander ma’s wat ook nooit uitkom nie! “Opgedress’ soos vir 80’s! Neon orals, woeste pruike, kopbande en gereed vir partytjie, ‘no doubt’. Hulle is beslis nie so vervelig soos ons nie, maar ‘Boring’ of de nie! Ek voel baie gemakliker in my stukkende jean en wit hemp as ‘n tema aan my lyf!

Die volgende ongemaklike stop is die kroeg – die plek waar Lyf gewoonlik die praat -& betaalwerk doen. Ek bestel ‘n botteltjie met iets soos 5% alcohol, maar verander die bestelling toe Anri en ‘n vreemdeling wat blykbaar deel is van die groep ‘n bottel wyn bestel. My verantwoordelike-self skop in en ek verander die 5% alcohol na ‘n blikke soda en ons drie deel die wyn.

Wat ‘n prettige lekker sing en dans en kuier aand! Ek dink by myself hoe ons dit meer moet doen! Behalwe een Ma wat toelaat dat haar kind haar lewe en besluite regeer, het niemand met hulle kinders gesels nie! Hulle het te veel pret gehad! Dit was ons aand! Lekker musiek, ‘n goeie ‘show’, ‘n lekker bottel wyn (en soda vir my). ‘n Regte egte af aand! Behalwe vir die een vrou wie vroeg huistoe moes gaan omdat haar man ‘n liefdevolle ‘curfew’ gestel het, het ons 23h00 met hangskouertjies gegroet en gery!

Ek kom te min uit, dink ek, ons moet dit meer doen! Net afvat en wees!!

Die pad huistoe was donkerder, stiller, makliker en vinniger … tot waar ons van die hoofweg moes afdraai. In die Bothalaan afrit se interseksie staan ‘n grys VW Polo met ligte aan, deure oop en blok die interseksie. Daar is geen manier wat ons die bekende roete ry nie, ons sal maar links moet draai en deur die ander buurt huistoe ry. Vir die eerste keer in hoe lank gaan ek uit, en ry in ‘n potensiële hijacker in?

Op die punt wil ek noem dat Anri my altyd Nossie genoem het, soos meeste mense, tot so 2/3 dae gelede, Sy het besluit om my doopnaam te gebruik ‘hence forth’. Maar te midde van die agterdogtige omstandighede is my doopnaam totaal en al vergete, en is dit net ‘Nossie, jy draai nie hier af nie!” en “Nossie, dadelik, draai links – ons gaan beslis nie regs draai nie”. “Nossie, bly net kalm, ons ry ‘n ander pad!” Die kalm, ‘composed’ Anri gee ononderbroke aanwysings van die enigste ander pad wat ons kan ry. Bly kalm. Well done dat jy dadelik raakgesien het. Bly kalm vir julle altwee se part! Maar wag … ek is kalm!

Op ‘n highway voel dit vir my altyd veiliger in die nag as deur die paadjies van ‘n buurt – daar is net so baie wegkruipplekke en paadjies en opsies! So baie opsies van dinge wat verkeerd kan gaan! Dit is egter nie die tyd om hierdie brokkie angs en verbeelding met Anri te deel nie – ek kry in elke geval nie ‘n woord in nie!

Sy het ook net kalmeer toe ons die blou ligte sien.

“Licence please.” Ek verstaan nie die agterdogtige uitdrukking op die beampte se gesig nie? Ek het my lisensie net nou die dag hernu? Instinktief druk ek die sluitknoppie seker vier, vyf keer.

“Can you please get out of the car Madam?” Wat? Die ou is seker mal om te dink ek gaan die veiligheid van my voertuig verlaat – druk die sluitknoppie – en hy is gladnie gelukkig dat ek volstrek weier nie. Oh my word! Ek kom te min uit! En hier word ek nou afgetrek soos ‘n dronkbestuurder!

“Did you have anything to drink?” Goeie aarde – wat is die regte antwoord? Ja, net ‘n bietjie? Nee, nie eintlik nie? Dankie tog ek het die 5% geruil vir sodawater!

“Will you blow, Madam?” Vriendelik en met totale selfvertroue sê ek hy kan maar die pypie bring. Maar in my agterkop is ek ernstig bekommerd! Hoeveel wyn het ek regtig in tussen die soda? En hoeveel gaan die wyn op so pypie lees? Ek meen ek voel ‘fine’, ek het eintlik skaars die wyn geproe, reg? Dit kan tog nie baie wees nie? Die hoeveelheid wat ek in het kan tog sekerlik nie eers deur sy ou pypie opgetel word nie? Ek sluit weer die deure.

“I will arrest you Madam?” Lyk ek dan gesuip? Oh my word! Ek moet vir Lyf bel. “Just bring it, I said I will blow!” sê ek geirriteerd … asof ek nou ‘n keuse het? En of ek nou gedrink het of nie, kan ek ‘actually’ weier? Oh my word! Arrest you Madam? Hoeveel % wyn het ek in? Skoolblaadjie se hoofopskrif: ma gearresteer vir dronkbestuur!

Intussen is Anri besig om my man te bel! Haar foon is pap en sy gaan solank vir Lyf bel. “Nossie, jy klim nie uit nie hoor! Moenie bekommerd wees nie Nossie, ek bel vir Lyf!” Maar sy sukkel met my foon en al wat sy op die lyn kry is vir Lyf! Ons is altwee so onkant gevang dat ek dink haar vingers wil nie lekker dink en druk gelyk nie. Toe ek later hieroor dink giggel ek so by myself, want ek dink ons altwee het so hard gefokus op kalm en in beheer bly, maar ons senuwees was eintlik klaar!

Bly kalm! Bly kalm! Hoeveel moet mens drink vir ‘n 0.5 lesing as jy blaas? BEL VIR LYF! Oh my word! Ek kom te min uit!

Dit is nie dat ek siek-afhanklik van Lyf is nie, maar op die huidige oomblik sou ek regtig bly wees as hy hier was. Lyf sou weet wat is aanvaarbaar en wat nie. Haaaaaaaaaaaaaa ek wens Lyf was hier. Hoekom bel sy nie vir Lyf nie – wat vat so lank? Is ons ooit binne ons regte hier! Moet ons anders optree?

Haaaaaaaaaaaaaa ek wens Lyf was hier. Hoekom bel sy nie vir Lyf nie – wat vat so lank? Is ons ooit binne ons regte hier! Moet ons anders optree?

“Blow, don’t stop!” Ek blaas die simpel pypie wat die lid baie teësinnig vir my aangee – dit is duidelik dat hy dit verkies dat ek liewers buite staan en blaas! Bly kalm. Hy moenie sien jy’s nervous ook nie – jy lyk blykbaar klaar dronk! Oh my word! Ek is mos nie dronk nie? Hoeveel wyn het ek in? Wat gaan my lesing wees? Ek blaas maar liggies, dalk is die lesing dan laer? Darem is die pypie in ‘n geseëlde sakkie – dink net hoe grillerig sou dit wees as almal op ‘n aand dieselfde pypie moes blaas? Dis eintlik snaaks – maar ek vermoed dit is nie nou tyd vir grappies nie – Anri sal my ‘n taai klap gee as ek nou begin grappies maak … en wat sukkel sy so om vir Lyf in die hande te kry? Maar dit blyk nie genoeg te wees nie en ek wonder of blaas enigsins goed genoeg gaan wees? Wat soek die ou nou eintlik?

“Madam – I said don’t stop!” “Don’t stop?” Ek het mos geblaas! Jy is nie gesuip nie … flip ek’t nie eers gedrink nie! Wel ek het, maar bietjie … en hoeveel keer gaan ek in die ding moet blaas? Hoekom vat Anri so lank? Slaap hy al? Is sy foon op ‘silent’? Ek vermoed ons het nou ‘n man se hulp nodig – blaas is nie genoeg nie! En sê nou ek is oor die limiet? Anri het beslis net wyn in, sy kan nie bestuur nie!

“Blow! Blow! Blow!” skreeu ‘n ander stem! Hier is nog iemand agter my? Praat ek vreemd engels? Is my laatnag aksent gesloer? Oh my word! Wyn en soda – wat is die lesing vir ‘n glas wyn en soda? Hoeveel wyn het ek in? Ek is seker daar was meer soda as wyn?

Nadat ek die eerste keer nie ordentlik geblaas het nie en steeds weier om uit my kar uit te klim, het die ou toe ‘backup’ geroep en die hele roadblock staan nou by my kar se venster!

“Liefie …” Liefie? Ek dog sy bel vir Lyf? “Liefie, hulle het vir my en Nossie afgetrek … “ Ek is eintlik baie beïndruk – in een blaas het sy vir haar man die wie, wat, waar en wanneer van ons situasie gegee … toe sy nou uiteindelik onder druk van ons omstandighede kon bepaal hoe om haar man te bel. “Ek voel ons word nou harass! Ek dink jy moet maar kom!”.

“You may go!” sê die beampte . Ek het gesien hoe die pypie ‘n lesing van 0.00 uitskop! Ek het gevoel hoe ek wil lag en huil en praat en ry op een slag! Ek het die verbaasde uitdrukking op sy gesig gesien toe hy my lisensie vir my deur die venster gooi! Ek sê mos ek is ‘fine’. Daai soda het my uit die tronk uitgehou!

“Toemaar Liefie. Ons is fine – ons kom nou huistoe!” Ek reken Liefie was reeds in sy pajamas oppad en moet nou weer die kar intrek.

Ek kan nie glo hoeveel ons te sê het oor die afgelope 10 minute nie. Dit bly ongelooflik hoeveel ure ‘n mens in ‘n gesprek kan spandeer aan 10-minute insidente!

Iewers tussen die ‘roadblock’ en Anri se huis het ons emosionele stand van sake omgeruil: Nossie was by die senuweeagtige kardeur uit en ek het weer ‘n doopnaam gekry, sy was in totale beheer en totaal kalm. Die prokureur het ingeskop en sy dink die insidente stap vir stap deur! Ek hoor hoe sy reeds besig is om ‘n stewige saak te bou – net vir ingeval!

.. en ek? Wel ek het onophoudelik begin praat. Gebabbel en gepraat en gedink en gewonder en ‘n duisend dinge op een slag probeer sê … Bly stil! Hoekom is haar huis so ver? Ons is ‘fine’! Ek soek vir Lyf. Arrest you! Arrest me? Het ek dronk voorgekom of het … die bliksem wou seker ‘n bribe gehad het!!! Skielik maak sy optrede heeltemal sin! Hy het gehoop ek is oor die limiet sodat hy so bietjie drankgeld vir homself en die res van sy roadblock vriende bymekaar kon maak! Hoe kon ek dit nie sien nie? Liefie staan getrou vir sy vroutjie en wag – die verligting duidelik sigbaar op sy gesig in die donker nag.

Daar is egter een oomblik wat ek baie goed onthou!

Die oomblik toe die skok en verligting my beetgekry het.
Daai oomblik toe ek in Lyf se blou oë inkyk en die trane en lag gelyk uitkom.

“Oh my word, Lyf! Ek gaan nooit weer uit nie!”

Koekbak met ‘n Flitslig

Tee op die stoep in fyn koppies met pierings, lekker tuisgebakte koek en ‘n blommetjies tafeldoek – net ek en my Vriendin.  Spesiale tye!  Emmie het die laaste blommetjies in die tuin gaan opspoor en hulle staan vrolik in die middel van die tafel.  Die gesprekke is mos maar oppervlakkig, want die meisies drink darem altyd die eerste koppie tee saam – waar anders moet hulle nou leer van vriendinne se gekuier en geklets.

Vir ‘n koffie-drinker is ‘n pot tee natuurlik heeltemal genoeg: ek gaan grou my geheime kits cuppachino’s uit die kas uit en weet die ernstiger gesprekke gaan nou begin.  Die dinge waaroor jy nie voor jou kinders wil gesels nie.

Vandag was ‘n besige oggend: vroeg oggend se training, die kombuis skoonkry en die skottelgoed uitsorteer voordat Vriendin opdaag.  Ek het vinnig ‘n plant uitgeplant en alles is reg vir Lyf om die karre te was.

Ek sien hoe Vriendin die tuisgebakte koek bewonder en ek besef … in haar kombuis is dit heeltemal te donker om ‘n koek te bak.  Sy is vasgekeer in haar eie donker gang sonder elektrisiteit en iets so klein soos koekbak is net te veel gevra. Ek kan nie veel meer doen vandag as net ‘n FLITSLIG wees nie.

Ek ken tye waar koekbak na verskriklike moeite geklink het, hoe ‘n bietjie skottelgoed na ‘n enorme taak gelyk het.  Tuinwerk het die grootste straf onder die warm son geword en karwas … dit is nou maar iets waarvoor mens eerder sal betaal.

Ek onthou die lig in my wêreld.
Ek onthou die diep donker in my wêreld.
Altwee plekke is maklik en moeilik om in te wees.
In die een is lag maklik, is nie ander kom frons makliker!
In die een wêreld is stilte ‘n juweel … maar in die donker is ‘n kamer vol stemme ‘n baie eensame plek.

In die ligkant van mens se lewe is dit maklik om te lag, die grappies rol van jou mou af, jy sien die mooi in alles en jy soek die mooi in almal.  Jy het kleurvolle vertellings oor eenvoudige gebeurtenisse hoe jy iemand se dag gemaak het met jou gemaklike, opgewonde teenwoordigheid.

In ‘n donker wêreld is lag ‘n doelbewuste besluit!  Vir ‘n onverklaarbare rede sien jy almal se foute en herhinner ‘n stemmetjie jou aanhoudend aan jou probleme, die dinge wat jy nie kan bekostig nie, jou swaarkry en alles aan jou wat nie perfek is nie.  Daai stem wat so op jou skreeu, met jou baklei, met jou redeneer, jou aandag aftrek.

Wanneer jy in die lig lewe is jy ‘n lig in ander se lewe!  Jy hoor dit.  Jy sien dit.  Jy voel dit.  Jou hart borrel.

Maar wanneer die donker toesak is ander se lewenslus net nog iets om te dra, iets wat jou uitput, irriteer … want dit maak nie saak wie wat sê of doen nie … dit bly eenvoudig donker.  Jy loop in ‘n eindelose donker gang en al hoor jy van ‘n lig aan die einde van ‘n tonnel, kan jy dit eenvoudig net nie sien nie!

Dit help nie om haar te sê dit is maklik nie, want om te sien hoe jy maklik optel, aan die kant maak en wegsit maak haar moeg!  Hoekom is dit soveel moeite vir haar?  Sy is ‘n ‘failure’.

In die lig is alles ligter!  Jy loop met ‘n huppel in jou stap asof jy ‘springs’ in jou skoene het!  As jy so aangestap kom skyn die son so bietjie skerper en daar waai altyd ‘n windjie deur jou hare.  Jy lyk en voel soos ‘n lentebriesie!  God se lied in jou hart is so duidelik ander kan dit sien, dit hou jou jonk van gees en mooi van aangesig.

In die donker moet jy letterlik daarop fokus om die frons te ontspan.  Jy voel skuldig want jy weet God sorg vir jou, jy weet jy is bevoorreg om kinders te hê, ‘n goeie man, dalk self ‘n werk en ‘n duisend ander dinge om voor dankbaar te wees … maar die dankbaar bring net skuldgevoelens, nie verligting nie, nie uitkoms nie … dit bly donker.

Jy kan nie verstaan hoe ‘n ander vrou dit regkry om haar arms so gemaklik langs haar sye te hou nie, want jou arms klou aan mekaar vas en jou liggaamstaal bly toe, geslote.

Die harde realiteit van opstaan as jou bene nie wil beweeg nie; uit die bed uit te kom as jy so moeg is jou spiere pyn.  ‘n Hele lewe wag buite die veilige, bekende grense van jou bed en jy weet nie hoe om vandag te doen nie – jy het gister net-net oorleef.  As jy vandag weer nie die bed opmaak nie, gaan jy hoor hoe lui jy is.  Daar is nie nog vadoeke om oor die vuil skottelgoed te gooi nie, en ook nie meer borde nie – iemand moet dit was.  Die tuinier is laat, maar darem is hy hier – jy sal hom voldag betaal.  Jou maandelikse afspraak by die salon het een van die opwindendste ure in jou maand geword – want om self te skeer en toonnaels te verf … jy het nie krag daarvoor nie.

Eintlik het jy krag vir niks!  Jy het lus vir niks. Jy is ‘n ‘failure’, jou man dink jy’s lui en jy stel ‘n swak voorbeeld vir jou kinders deur altyd alles te los vir môre.  Niemand kan verstaan hoe moeilik die eenvoudige dinge is nie, hoe jy wil en wil en jouself elke dag oortuig jy kan … maar jy kan nie!  JY KAN NIE!

En hier sit sy by ‘n vriendin met ‘n pragtige gedekte teetafel en ‘n tuisgebakte koek: ek sien dit in haar oë.  Hoe sy haarself probeer oortuig al die moeite was regtig net vir haar.  Hoe sy probeer glo dat die kuier net so lekker kon wees by haar huis met goedkoop koffie en ‘n ‘no name brand’ pakkie Lemon Creams. Ek sien hoe sy op die drumpel staan om uit die gang te kom, net vir ‘n rukkie …

Sy is ‘n spieëlbeeld van tye in baie mense se lewe waar jy ook vasgekeer was in jou eie donker gang. 

Tot eendag!  Eendag uit die bloute is jy lus vir iets so eenvoudig soos koekbak …

Ligdraers kan dit nie verstaan nie, maar jy is absoluut verheug – JY IS LUS VIR KOEKBAK?!

Een warm Somersmiddag besef jy met verwondering jou een potplant het jou donker droogte oorleef.  Dooie blaartjies word met sorg en respek afgesnoei.  Ten spyte van jou lam spiere na vanoggend se eerste drafsessie in maande, maak jy vinnig die kombuis skoon, sit die oond aan vir môre se Sondag hoenderpastei en pak bestandele uit om ‘n lekker sjokeladekoek te bak!

Jou gesin hou van koek!  Elke gemaklike afmeting verbaas jou, want niks hieraan is moeite nie.  Niks.  Jy hoef jouself nie te bedwing of kalmte te ‘fake’ terwyl jou kind se vingers in die deeg rondkrap of alles self wil doen nie!

Vandag het jy meer gedoen gekry as wat jy in die afgelope vier donker maande kon aanpak.  Jy het die halwe projekte in die huis bymekaar geskraap en is sowaar opgewonde om iets te maak!

Het iets verander?  Het jy meer werk, meer geld, meer tyd of meer vriende gekry?  Nee!  NIKS het verander nie … JY IS ANDERS!

Jy weet nie hoe nie, jy weet nie wanneer nie, maar jy staan in dieselfde donkergang … met ‘n flitslig.  Jy gaan nooit weer êrens sonder ekstra batterye nie!  Jy sal voorbereid en gereed wees vir enige situasie wat in jou donker gang mag opduik.  Alles is tog makliker as jy net kan sien?  Of die koplig belaglik lyk by jou uitrusting of nie … jy loop nie daarsonder by die voordeur uit nie.

Die angshand wat so styf om jou keel gegryp het en jou hart kom vasklou het as jy wou slaap is toe al die tyd bang vir die lig.  Dit is die swaar hand wat jou so bang gemaak het vir die donker.

Jou donker!

Vir party leiers van depressie is dit ‘n seisoen.
Vir party is dit ‘n lewe. Nie ‘n daaglikse stryd nie, ‘n uurlikse uitdaging.
Party veg jaar in en jaar uit alleen deur die donker gange, geen ondersteuning nie!  Niemand hou uit liefde ‘n ekstra flitslig naby nie.
Ander veg ‘n maand, val ‘n maand, staan op in die lig net om die flitslig te verloor en weer vas te val in ‘n donker sliksand gang.

Om my sien ek elke dag mense baklei.  Hulle veg verbete om ‘n lig te kry, maar is net nooit vinnig genoeg of goed genoeg of mooi genoeg nie.  Die lig bly net altyd buite bereik. Die flits se batterye hou net nie lank nie en die ry om nuwes te koop is lank … die pad na die lig is uitputtend, onmoontlik en onophoudelik.

Die ligdraers oordeel so maklik oor die donkerlopers wat hulle maar net nie kan verstaan nie.

Dit is elkeen se plig om ‘n lig te wees, om die donker te baklei – SAAM!

Niemand hoef alleen in die donker te staan nie.
Niemand verdien om in ‘n reguit, donker gang te verdwaal nie.
Niemand het die reg om ‘n ander se swart en donker grense te veroordeel nie.

Depressie is soos koekbak of koekkoop.

Vir die depressieleier is koekbak onmoontlik, onbegonne … net nog ‘n ‘failure’.  Koekkoop is makliker – maar die onsigbare monster van angs is altyd teenwoordig en die Oorweldigende stemmetjie oorverdowend: klein besluite soos watter koek, watter prys, watter grootte.

Ligbewoners kan nie verstaan hoe ‘n onbegonne taak iets klein soos koekbak kan wees nie.
Liglopers sal nooit die veiligheid van ‘n bed se vier mure verstaan nie.

As jy nog nooit in die donker vasgeketting was nie, kan jy nie die oorwinning glo van ‘n opgemaakte bed, ‘n skoon kombuis, ‘n gedekte teetafel en ‘n tuisgebakte koek vir ‘n vriendin wat kom tee drink nie.

Hou op oordeel!  Hou op raadgee uit jou ligkasteel uit!  Word ‘n flitslig!

Want soms?  Soms het iemand ‘n flitslig nodig om ‘n koek te bak!

Jack, die getroue waghond, se dood.

Tags: halwewaarheid, ‘nandersestorie

Jack is my Sussie se hond.  Jack het ‘n sussie, Jemma (wel eintlik kan ek gladnie die diere se name onthou nie – so Jack en Jemma sal dit wees)!

My Ma woon oorkant die pad.  Wanneer daar by Ouma gekuier word, los Sussie vir Jack by die huis.  Dit is egter nie lank nie of Jack wikkel met sy dik lyfie iewers deur en gaan wag dan getrou vir sy mense voor Ouma se hek.  Nie baie slim vir ‘n hond nie, want hy kan hulle nie enigsins beter sien van oorkant die pad af as buite die hek nie!

As al die Sussies by Ouma kom kuier maak iemand altyd vir Jack die hek oop.  Ouma sê ons mag nie want dan het hulle skielik hondepoef om op te tel … so niemand weet wie die gawe hek oopmaker is nie … dalk weet ek iets, maar die storie gaan nie oor my nie! 🙂

Die storie gaan oor Jack se tragiese dood!  

Een naweek gaan Sussie en haar man bietjie weg en hulle seun gaan kuier by Ouma.  Daar word vinnig gegroet en iets vertel van Jack wat doodgery is.  Sussie groet hartseer vir Seun (Ouma dink die trane is seker vir die hond, maar sy vra nie uit want Sussie is haastig).

Seun en Ouma werskaf in die kombuis en gesels oor sy oorlogloopbaan en ‘as ek eendag groot is’ planne.  Ouma is klaar groot, sy wil nie nog iets word nie.  Seun wil ‘n soldaat word: ons is nie seker watter soort soldaat nie, want hy wil nie in die son speel nie en nooit vinnig beweeg nie.  Oefen en warm is nie sy ding nie … so hy gaan soos ‘n stadige-skaduwee-soldaat word! 🙂

Vroeg die volgende oggend, terwyl Ouma die koffie stook, wandel Seun in die tuin (want die son is nog nie warm nie).  Dit is effens koud buite, so hy wandel nie baie lank nie.  Alles oorkant die pad lyk nog reg, ‘n soldaat weet!

“Ouma, ek dink Jack kry koud.”

Die trane sit dadelik vlak in Ouma se oë; sy besef die dood van ‘n kind se hond is ‘n traumaties affêre.

“Ouma, ek dink julle moet vir Jack ‘n hok hier aanhou sodat hy nie so buite die hek moet lê en wag as ons kom kuier nie.”

‘n Hok vir ‘n dooie hond?  Weet hy nie sy hond is dood nie?

“Ouma, ons het ‘n ekstra stel bakke vir kos en water wat ons hier kan hou vir Jack.”

Daar moet ‘n rede wees dat hulle hom nog nie vertel het nie?

“Ouma, hoekom is jy so hartseer? Kry jy hom ook jammer as hy so voor die hek lê?”

Is nie ons hond nie?  Jack was nie ons hond nie. WAS!!

Ouma en Oupa probeer so kalm en ongemerk moontlik met hulle oë gesels: die kind se hart gaan gebreek wees!

“Oupa”, gaan Seun voor, “dink jy daar is ‘n honde hemel?”

Oupa sluk swaar aan die koffie en beskryf die honde hemel so goed as hy kan.  ‘n Plek waar honde nooit honger of dors kry nie.  ‘n Plek waar elke hond kan afkyk na sy baas toe – soos Jack sekerlik na Seun sal kyk – maar hulle verlang nie.  Want honde is baie gelukkig in die honde hemel.

“Oupa, as ons honde eendag doodgaan sal Jack reguit hondehel toe gaan.  Hy is ongehoorsaam:  hy kom altyd by die hek uit en hardloop in die straat in,”

… reguit voor ‘n kar in na sy dood, dink Oupa …

“Hy steel Jemma se kos en wil haar byt as sy vir hom grom,”

Die kind gaan dink sy hond is hel toe!!!!

“Maar ek dink nie daar is ‘n hondehel nie, Oupa.  Dink jy daar is ‘n hondehel?”

Nee belis nie!  Alle honde gaan hondehemel toe!

“Ouma – hoekom moet hy altyd in die straat bly?  Hoekom wil julle hom nie laat inkom en saamkuier nie?”

Genadiglik is die hemel-hel gesprek op ‘n einde.  Oupa vee glad ‘n druppel sweet van sy voorkop af.

“Ek dink Jack is dors, hy wag al die hele nag daarbuite!”

… nou is dit doodstil … wat bedoel hy ‘die hond wag buite?”  Ouma kan die trane nie langer keer nie.  Haar moederhart verbrokkel.  Daar is nie ‘n maklike manier om sekere goed te verduidelik nie, maar Ouma probeer haar bes.
Sy wag vir die trane … maar hulle kom nie.
Sy wag vir die skok … maar dit kom nie.

“Ouma?  As Jack dood is, wie se hond lê buite julle hek?”

verwarring …

Oupa stap dadelik venster toe, en sowaar as vet: daar lê Jack vet en gesond voor die hek en wag.  Seun is reg: die hond kry seker koud, hy is seker honger en hy is seker dors. Iewers is ‘n groot misverstand!

Maar hoe dit ookal sy, Jack is nie dood nie.

Hondehemel of hondehel – Jack het die tydelike nie met enige soort ewigheid verruil nie.

 

Kaalswemmery!

Swem is nou nie my ding nie!  Swem in koue water vat nie net oortuiging nie, dit is amper net iets vir spesiale geleenthede.  Daar moet beslis geen monsters of gediertes in die water wees nie, en my voete steek ek nie in ‘n gat vol water as ek nie die bodem kan sien nie.

Die dag toe Carla klaar is met Laerskool kon ons gaan koffie drink by Mugg & Bean, dalk ‘n lekker melkskommel by die WIMPY – dinge wat ons weer en weer kan doen.  Wat sal sy ONTHOU!  As ek en sy klere en al in die swembad spring?  Inderdaad!!

Ek het al in vele swembaddens geswem sonder toestemming en het gevolglik vir baie jare ‘n stel ekstra klere ingepak as ek weet daar is ‘n swembad waarheen ons oppad is.

As ek saam met die meisies wil swem staan ek letterlik op die rand en praat myself daarin: mens sal dink ek gaan bungee jump so senuweeagtig lyk ek!

Vir Lyf , aan die anderkant, hoef geen swembad ‘n uitnodiging te stuur nie.

Hy het byvoorbeeld eendag gaan fietsry na ‘n lekker reënbui en was sekerlik doodmoeg getrap.  Want ipv inspring, afkoel en dan sy fiets was … het die ou toe sommer net so, helmut, skoene, klere, fiets en al binne die swembad ingery om hom en sy girlfriend te was!

… dit is egter nie waarvoor Lyf bekendheid verwerf het nie …

Ek het hom nie lank geken nie, toe ek vir die eerste keer die naaksprong moes aanskou!! In sy jonger – dronker – dae het Lyf op enige omverwagte oomblik eenvoudig sy glas neergesit en sommer so oppad swembad toe van al sy klere ontslae geraak.  Dan het hy met ‘n helse bommie in die swembad gespring asof dit die normaalste ding op die aarde is!  Niemand was verbaas nie!  Niemand was geskok nie!  Net Ek!

Mens sou dan ook dink hy gaan bietjie swem?  Maar niks!  Spring, dobber trap toe en klim uit!

Natuurlik was dit ‘n baie traumatiese ervaring vir my.  Eerstens het ek in my onskuld nog nooit enige dronk mense gesien nie en tweedens het my pligsgetroue verstandige self onmiddelik bekommerd gestaan en toekyk hoe die nuwe liefde van my lewe onder die water verdwyn.

Tot my skok het niemand hulle glase neergesit en hom te hulp gesnel nie.  Niemand het aan die kant van die swembad met groot oë seker gemaak of hy weer opkom nie.  Blykbaar gebeur dit maar as Lyf naby ‘n swembad kuier???

Met tyd het ek egter opgehou hardloop en vir ‘n lang 5 sekondes gestaan en bid tot hy opkom.  Na die soveelste keer het ek opgehou om klere bymekaar te maak of getrou met ‘n handdoek te staan en wag as hy uitklim om sy privaatheid te beskerm!

Drank en Dronk se prioriteite het met tyd afgeneem, maar die vriende bly staan.
En hoe ongelooflik dit ookal mag klink?  Tussen die duisende foto’s wat oor die jare heen geneem is, is daar nie een van die Huis Herfsblaar se Kaalnaeler nie!

So kuier ons dan een warm Somer-aand in Desember by vriende.  Die hele span is bymekaar!  En wat sal ‘n kuiertjie nou ook wees sonder ‘n lekker warm vuur en ‘n yskoue bier.  Die Musiek Fabriek maak nog die hele aand musiek met alle instrumente waaraan jy maar kan dink: die graaf-kitaar, die Besem-Banjo, daar is braaitang-fluite en ‘n baskitaar van hark.  Die ‘backup singers’ van Bon Jovi sing hard en vals saam, terwyl Freddie Mercury se Bohemian Rhapsody in Afrikaans vertaal word vir almal wat wil hoor!

Ek moet bieg: ek kry warm.

Lyf kry ook warm!

Eintlik kry almal warm …

… maar nie almal kry ‘n veraf uitdrukking in hulle oë nie.
Nie almal sit hulle drankie doelgerig op die naaste tafel neer nie.
Nie almal begin sonder waarskuwing na die swembad hardloop nie.
En nie almal maak ‘n reuse-kaalgat-bommie in die swembad in nie.

… nie almal besluit om vir Lyf te join nie …
Maar ek doen!

Ek dink nie te lank hieroor nie, want ek sal myself vinniger uit die waaghalsig-getroue-impulsiewe-liefdesdaad uitdink as wat ek kan hardloop en dan sal Lyf al uit wees!
En daarom begin ek net hardloop …
Ek haal nie my krale af nie, dra toevallig nie vandag ‘n horlosie nie …
Ek spring net! 
Ek tref die koue water met ‘n elegante slag!  Ek lag opgewonde oor my en Lyf se 23h00-swem by ander mense se huis!

Maar soos ek met met ‘n harde lag onder die water uitkom, sien ek Lyf hardloop!  Hy is reeds uit die swembad uit en soek naarstigtelik na ‘n handdoek.  Selfs op die afstand kan ek sien hy lyk paniekerig!  My impulsiewe hart klop hard van vernedering dat ek saam my man inspring en hy spring uit!  Ek begin woedend na die swembad se trappe swem toe Lyf soos ‘n besetene, histeries skreeu “Wag Nos, ek is oppad!!!”

Dit is nou te laat, die oomblik is verby … nooit weer nie!  Dink ek by myself!  Ek is woedend!  Hoeveel ander vrouens sal saam met hulle mans in die swembad spring!!

“EK KOM!! WAG NOS, Ek is NOU DAAR!!!!!’  Iewers in die paar sekondes het Lyf weer sy broek aan en wag my by die trap in met ‘n handdoek so groot soos ‘n kombers!  Sy oë is groot en nugter terwyl hy die handdoek-kombers voor my hou en so half paniekerig-bekommerd sê “Goed, nou kan jy maar uitklim!”  Maar met elke trap wat ek klim, verander sy gesig.  Dit was angstig, toe verbaas, toe verlig en laastens lag!  Niks hier is vir my snaaks nie … tot ek besef watter lawwe gedagtes in Lyf se kop rondmaal!

Lyf het sowaar gedink ek was net so kaal soos hy toe ek in die swembad gespring het!  Hy moes so vinnig as moontlik uitklim en ‘n handdoek kry om sy vrou se privaatheid te beskerm!

… en nou dat ek daaraan dink … Lyf het sederdien nog nie weer sy bekende laatnag-kaalgat-sprong gespring nie … 🙂