Aardverwarming in die Vrieskas

“Beplande Kuier”

My familie kan nie wag dat Ouma en Oupa kom kuier nie! Hulle praat van dinge soos ordentlike gekookte etes en dat gebede vir die kos van “Vergewe die hande wat die kos voorberei het!” sal verander na “Verheug is ons oor die hande wat die kos voorberei het!”

Gmf! Verbeel jou dit!

Kan jy ook die Groente-Kinderarbeid onthou?

Stapels boontjies, aartappels en wortels wat geskil en gesny moes word. Die word dan halfgaar gekook voordat dit in plastieksakkies gevries word om tyd te bespaar vir aandetes. Dit is daar, as kind met ‘n skinkbord vol groente, wat ek geleer het om voor die TV te werk. Snytjie vir snytjie, blokkie vir blokkie.

Die beloning van die slawehandel was natuurlik heerlike aandetes!!

“Kersmoeder”

Vir die wat dink Kersvader is alleenlik ‘n man en lewer geskenke vir kinders af! JY IS VERKEERD!

Laat ek jou voorstel aan my Kersmoeder aka My Skoonma. Sy was natuurlik vreeslik bekommerd oor haar seun se welstand en veral sy groente inname! Dit is nie dat ek nie groente gemaak het nie, dit is net … wel … soms was dit regtig net … sleg? As Skoonma nie gereeld met pakkies gevriesde groente hier opgedaag het nie, sou Boerekos nooit uit ons potte gekom het nie! Om van die Winters se boontjie -en ertjiesop nie eers te praat nie! Kersfees was elke keer as Skoonma by die voordeur ingestap het of ons met ‘n geskenksakkie daar weg is.

Liewe hemel: my mond water en ek voel die verlange teen my wange afloop na my Kersmoeder!

Na elke gesprek met my Ma om die kuier te beplan, sluip woorde in soos kook en resepte! Sy babbel en borrel van opgewondenheid …

Ek wonder … gaan ons dan die hele tyd net kook … ?

“Grootmaak kook”

Ag, die hele “Ek kan nie kook nie!” storie is sommer bog! Hoe erg kan 3 weke se kook en kombuis tog wees? Dit is tyd om ‘n plan te maak, die bul by die horings te pak! Voorbereidings te tref.

Jy het reg gehoor: dit is tyd om op grootmaat te kook!

Ek gaan na die Chinese winkel wat nie rys aanhou nie!

Nee regtig! Nie een korrel rys nie! Dit is normaal dat die tandepaste en ingelegde vrugte op dieselfde rak gepak word, toiletpapier, lekkergoed en sjokelade hoort blykbaar bymekaar en shampoo, conditioner, asyn en aanmaakkoeldrank pronk alles in dieselfde ry. Ek het rys gesoek in die yskas, by die servette, tussen die pasta en die gevriesde koeke! NIKS. Die Chinese winkel het nie rys nie.

Dit maak darem nie vandag saak nie, want ek is tog hier vir die groente! 😊

Ek mors nie tyd nie! Die uitstappie het reeds baie van my tyd in beslag geneem. Ek bedoel, daar is so baie dinge om te oorweeg!

Watter groente sal vries? Komkommer, boontjies, eiervrug, wortels …

Ag ek gooi sommer so ietsie van alles in die mandjie, vrugte is ook gesond!
Watter spesirye gooi mens in vir die halfgaar groente?
Waar is die ‘utensils’ wat ek gaan nodig kry soos ‘n groenteskiller en ‘n blender.

“Die Blender”

Natuurlik ‘n blender! Haha! Wat ‘n simpel vraag? ‘n ‘Blender’ is mos ‘n voedselverwerker, dan nie? Ons was 4 kinders wat saam die slawerny in die gesig moes staar! Alleen sal ek tog nooit al die goed opgesny kry nie!

ag HOEKOM het ek tog so BAIE groente gekoop? Dalk moet ek maar eers ‘n ou koppie koffie drink.

Ek gooi alles in ‘n wasbak vol sout. Anna het nou die dag iets gesê van blaarslaai en asyn…? Ek gooi ‘n koppie asyn ook by en laat dit week tot my koffie klaar is.

Sjoe, die koffie is warmer as wat ek gedink het, waar is die hond? Sy lyk soos ‘n mop, ek moet haar hare uitborsel.

Ek begin by die wortels – en ja, ek het eers my hande gewas nadat ek die hond uitgeborsel het en die kat gedip het vir vlooie, die beddegoed in die wasmasjien gedruk het en die nuutste episode van This Is Us gekyk het!

Ek is so bly om te sien dat die ‘blender’ die wortels in ‘n perfekte wortelslaai tekstuur sny!

Wonderlik! Van nou af sal ek aanbied om ‘n wortelslaai na ‘n braai te neem! Hopenlik werk die boontjies ook so … maar waar is die boontjies?

Ek soek boontjies tussen die komkommer en eiervrug in die sout-asyn water. Dit lê nie onder die Tofu nie en in die kar is slegs ‘n verlore pakkie ertjies! Ek het sowaar nie boontjies gekoop nie. Soveel vir boerekos!!!

Aan die positiewe kant, een ding minder om te sny en te verwerk.

Die aartappels werk net so goed! Ek smyt dit by die wortels en druk dit in die vrieskas. Vier perfekte pakkies wit wortels vir aandete.

Ek hoop net die goed proe nie sleg met ‘n skil aan nie, ek het skoon vergeet om die wortels te skil. Dit lyk meer na aartappels en wortels as wortels met aartappels – maar net omdat boontjies vergete is kan ek tog nie die aartappels weggooi nie? En die aartappels HET ek geskil. Te hard gewerk om weg te gooi.

Die komkommer verander in water! Elke groente wat moeilikheid gee in die ‘blender’, kry ‘n komkommer by! Die goed ‘blend’ soveel makliker as daar baie water by is!

“Note to self”: As ek die mengsel in die hoenderpot gooi, moet ek net onthou om minder water in te sit, anders gaan die sous te loperig wees!

Komkommer-spinasie pakkies. Gereed vir die vrieskas.

Ek, myself, het nog nooit van spinasie gehou nie, ek hoop maar dit werk in ‘n sous? Aaaaaggggg – Lyf sal dit probeer. Hy eet alles!

Pampoen en eiervrug lyk ook goed.

Vreemd dat ek skielik aan Purity en babdoeke dink? Eiervrug is nogals grillerig, maar die stukkies pers so tussen die oranje pampoen vertoon mooi. Ja wat, ek voel tevrede.

Mango, papaja en bessies word eers apart deur die blender gesit.

Ahh! Ek kan die vrugte meng vir smoothies – dit is nou ‘n gesonde opsie!

Ek verbaas myself met die ongelooflike kombuis idees! Nee regtig! Ek is nie so sleg as wat ek gedink het nie. My groente-vrugte kombinasies gaan nog opgeteken word … iewers!

Die ‘mushy’ advokadopeer kan ‘n lekker guacamole maak.

Dit kan tog nie so moeilik wees nie? Gooi net sout, peper en sweet & sour sous by!

Ek is natuurlik dadelik spyt oor die waatlemoen wat ek hier aangebring het. Dit vat omtrent ‘n halfuur om die ding opgesny te kry.

Stupid! Gelukkig het ek nie dieselfde fout met ‘n pampoen gemaak nie – ek het maar duurder betaal vir gesnyde stukke.

Daar is nog net broccoli en blomkool oor. Die wit en groen korreltjies laat my dink aan Tim Noakes se banting rys.

Hy sal hom wat verbeel!

Dalk moet ek van die broccoli-blomkool puree apart hou en by spinasie sit, dan kan ek sommer ‘n lekker hoop groente in die stew wegsteek?

Ek gooi sommer van die eiervrug en spinasie by twee van die banting nommers en ‘n stuk tofu, wat dit ookal is! ‘Powerfood’ by ‘n stew!

‘n Hele Vrydag oggend, ek kon ‘n hele beer gehekel het!

“Aardverwarming in die vrieskas”

Ek kyk trots na die pakkies in die vrieskas! Dit is ‘n week later en ek kan eenvoudig nie aan ‘n enkele ding dink om met enige van die pakkies te maak nie?

Maar ek is tog so bly oor die verskriklike duur blender.

Die wortelslaai was ‘n wenner by Vrydag se braai … ek kan egter met redelike sekerheid sê dat guacamole met ontvriesde advokadopeer nie ‘n wenresep is nie: geen hoeveelheid sout, peper of sweet & sour sous sal dit in ‘n doopsous verander nie.

Aaaahhhhh – maar ek kan mos smoothies maak!

Ek besluit om smoothie te maak! Die vrieskas maak nou al ‘n week lank nie meer ys nie, so ek gaan die smoothie in die duur blender maak met vrugte alleen, geen ys nie! Ek het die ‘landlord’ laat weet, maar hy wag gewoonlik minimum 2 weke voordat enige van my probleme een van sy probleme word! Almal weet tog ‘n smoothie kort YS!

Mmmm … baie vreemd. Waatlemoen kan nie vries nie en drup rooi op die pakke gevriesde groente, nie pienk nie? Genade, die lemoen is ook pap, asof ek dit nou net in die vrieskas gedruk nie.

Iets is nie reg nie …

Ek kyk vir die vrieskas.
Die vrieskas kyk vir my … of sal ek sê LEK vir my.

Nie een van my hardewerk-grootmaak-kook-gevriesde-groente&vrugte-sakkies is gevries nie?
Die vrieskas maak nie meer ys nie?
Die waatlemoen lek nie rooi nie, dit is die vleis wat ontvries!

NEEEEEEEEEEEEEEE!

HEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEELP!!!

DAAR IS AARDVERWARMING IN ONS VRIESKAS … !!!!!!!!!

Ek kan dit net nie glo nie! Ek het ‘n hele Vrydag oggend spandeer om alles op te sny en te verpak en hier lê dit soos pakkies slush-puppy en wobble in die vrieskas! Selfs die vrieskas het my kosvoorbereidings verwerp!? Hoe kon ek dit gemis het? Ek moes meer die vrieskas oopgemaak het, ‘n intiemer verhouding met my vrieskas gekoester het.

Die Landlord is – soos altyd – gladnie haastig om die probleem op te los nie en niemand het plek vir my slushies en wobblies in hul vrieskas nie. Dit wil voorkom of die klipharde lewelose pakkies almal ‘n hartklop ontwikkel en binnekort gaan daar varkies, beeste en ‘n afkophoender in die kombuis rondhardloop! Ek kan dit skaars waag om die vrieskas nou oop te maak uit vrees dat hulle om ‘n laaste ysgletser sal sit en SlushPuppies drink.

Vier dae later kom Suresh eers hier aangery asof hy op ‘n Sondagmiddag uitstappie gaan. Geen haas nie! Die gaslekkasie blykbaar nie vir hom gevaarlik om in te asem nie, WANT HY BLY NIE HIER NIE!!

“Die Vrieskas Begrafnis”

Nou ja, dit is dan met spyt dat ek julle moet meëdeel … dat daar geen oorlewendes in die vrieskas was nie. Aardverwarming het die hele vrieskas meegesleur en hul oorblyfsels is per swart sakke in ‘n stoet afgevoer ashoop toe.

‘n Nadoodse ondersoek wys dat die slagpale en aardverwarming bygedra het tot hul afsterwe, asook Slush-vergiftiging wat dit ookal beteken!

‘n Gaslekkasie is bitter gevaarlik en bring die vrot kwessies van die wêreld tot in jou huis. Aardverwarming en gaslekkasies loop hand aan hand en niemand moet jou anders probeer oortuig nie.

Vandag lui die tafelgebed niks anders as “Vergewe die hande wat die kos voorberei het nie”.

“Kombuis Egskeiding”

Die skrif is aan die muur. Ek sukkel om die verliese te verwerk, kry nagmerries van potte en houtlepels wat my aanval. Dit is tyd om ‘n besluit te maak!

VANDAG DAGVAAR EK DIE KOMBUIS VIR ‘N EGSKEIDING!

Lyf kry die potte, ek kry die duur blender. Ek wonder … is die blender nie eintlik uitsluitlik vir smoothies nie … ?

Ek hou die stoompot vir wanneer my Ma kom kuier, Lyf moet die braaier skoonhou vir daaglikse, toekomstige gebruik.

Die spesirykas is nou Lyf se probleem, ek handteer slegs die melk, ‘whey powder’ en ‘protein shakes’. Ek hoop dit bevat genoeg vitamines en minerale, want dit is my menu vir ontbyt en aandetes van vandag af.

Ag, die eierpan en die snackwichtoatster kan ook in my kas kom, daar is plek langs die blender.

Totsiens Kombuis. Totsiens potte. Totsiens lepels en ander ‘stuff’ waarmee mens kosmaak …

HALLLOOO duur en ‘fancy’ blender … en winkel wat gekookte etes verkoop!

Vir regte egte resepte – https://notsoskinnycook.com/author/notsoskinnycook21/

Siekbed-Hot-Chocolate-Movie-Plan.

#afrikaans is lekker.  #fiksie.

Vandat ek ‘n kind is, op die laagste of beste tye van my lewe, het dit gereën of was dit ten minste bewolk.  Ek het nog altyd geglo dat Jesus spesiaal die weer stuur om my te herhinner dat ek nie alleen is nie.

Dit is ‘n dag vir Hot Chocolate.
‘n Dag vir ‘n ou lekker snoesige kombersie.
Beslis ‘n goeie fliek …
‘and while we’re at it’ sommer Popcorn ook!

Ek kon nie ‘n beter siekdag gekies het nie – of die baas nou gelukkig is of nie.
Die kinders is by die skool en my man het sopas werk toe gery!

Dit is net Ek!  Ek en die reën.  Ek en die Siekbed-Hot-Chocolate-Movie plan!  

In my warm sweetpakbroek, slippers en regte reënweer jassie, kry ek die popcorn en … waar is die Hot Chocolate?  Dit kan tog nie waar wees nie! Dit is nie dat die blik leeg is nie – daar is nie Hot Chocolate in die kas nie!!!

Nou ja wat: Milo is tog net so goed … ek soek en krap.  Gewoonlik steek ek die Milo of Hot Chocolate weg vir my gesin, want hulle bêre sommer ‘n teelepel in die blik om skelm te eet!  Gewoonlik los die laaste sondebok die leë blik in die kas, teelepel en al!  Maar  op geen van my fantastiese wegsteekplekke is daar ‘n blik Milo te vinde nie: Nie ‘n leë blik nie, nie ‘n vol blik nie … nie eers ‘n teelepel nie!

Die rustige reën hou my gemoed kalm …

As ek nou ‘n sjokelade in die kas sou opspoor en dit smelt in ‘n koppie melk is dit mos ‘n Hot Chocolate Generic.  Wat sê die Apteker altyd?  “Mevrou, dit is net so goed soos die oorspronklike produk, net goedkoper!”  Nou ons almal weet dit is net ‘n halwe waarheid … die enigste rede hoekom ons maar die goedkoper medisyne vat is … wel?  Dit is goedkoper!!!  Hier is egter nou geen geld ter sprake nie … vir my Siekbed-Hot-Chocolate-Movie plan is ‘n generiese Hot Chocolate nou die antwoord.  Met my dikkop het ek reeds gereël dat iemand die kids by die huis kom aflaai – ek gaan beslis nie aantrek en ry net vir ‘n blik Hot Chocolate nie … ‘n Generies sal dit wees.

Baie opgewonde maak ek ‘n koppie melk warm – waar is daardie sjokelade nou?  Ek het net Vrydag vier gekoop, ‘n Black Friday Special!  Hier moet ten minste twee wees na die naweek … dit was hier gewees: reg agter die blik koffie, binne-in die pakkie Rooibostee in ‘n leë Koeskoes boksie … maar al wat oorgebly het is ‘n blik koffie.  Van die rooibostee pakkie en die Koeskoes boksie is daar geen teken nie.  Van die Black Friday sjokelades het daar nie ‘n blokkie oorgebly nie!

Watter tipe mense woon hier?
Sjokelade Snuffelhonde?
Die Teelepel bende?

Ek meen, watter kind en man dink nie “Dalk is Mamma Maandag siek en wil bietjie sjokelade eet terwyl sy onder ‘n kombersie ‘n fliek kyk …” nie????

Soos die reën harder val, klop my hart ook harder en moet ek so fokus op my asemhaling, dat ek nie hoor hoe die minute verbytik nie! Twee ure van neusblaas en Sjokelade soek.  Die een so onsuksesvol soos die ander.

Ek moet nou maar tevrede wees met wat ek het: Popcorn, ‘n kombersie, ‘n lekker romantiese komedie en … warm melk.  Dit is wat dit is!

Die oomblik het aangebreek vir my Siekbed-Hot-Chocolate-Movie plan, oftewel die Siekbed-Warm-Melk-Movie plan.  Ek neem die posisie in: ‘n lekker gemaklike lêplekkie, die remotes en pop-corn binne bereik … die melk kyk vir my en ek kyk vir die melk …

Ek druk die knoppie bo aan die remote – die TV is onmiddelik aan … net die TV gaan aan!  By die DSTV gebeur daar niks.  Ek haal diep asem, drink ‘n groot sluk warm melk (dalk moes ek heuning en kaneel ingegooi het vir ‘n kalm gemoed).

REBOOT.

Vyf minute, sestien tissues en dik verkoue oë later verskyn die boodskap op die skerm: No signal.  Contact your service provider!

Die reën val nou oorverdowend op die sinkdak neer!  Ek sou in elke geval nie ‘n woord kon hoor nie, probeer ek myself troos … nie lank … nie … dan … sjokelade … warm …

… reën … warm sjokelade … soek … nie lank … dalk … teelepel … dan … … …

Ek skrik wakker van ‘n klokkie – my meisies wag by die hek.  Het ek so lank geslaap???

My liewe vriendin het ‘n ‘word gou gesond’ pakkie saamgestuur!  ‘n Groot blik Hot Chocolate en warm pannekoek, “want” skryf sy ‘wat is reën sonder pannekoek en Hot Chocolate?