‘n Pot vir Bakker.

Die Huis Herfsblaar manne (Bakker links)

Ek word wakker en klou vas aan my bors – intense pyn, asof ek nie kan asem kry nie … nee – iemand kan nie asemhaal nie.  Bakker flikker in my gedagtes, en soos die afgelope week is hy my eerste gedagte as ek wakker word in die nag, in die oggend.  God praat duidelik in my hart op Sy sagte manier en ek weet ek moet bid!  Ons vriendekring, Huis Herfsblaar, staan met arms om mekaar geslaan vir ‘n groepsfoto, die pyn op my bors praat kliphard: ek moet BID.

Maar ek bid en droom gelyk. 

Die vriende is weg vir die naweek.  Is dit die naweek wat ek gereël het?  Hoekom is hulle hier?  My borskas pyn: ‘n drukkende pyn.  Lyf kan nie sien ek is in pyn nie, net ek voel dit: intens, versmorend.

Suza wil hê ek moet saam gaan karaoke.  Sy vat nie nee vir ‘n antwoord nie – dis Suza!!!  Sy trek my aan my hand na die saal toe. Een vir een stap ons by almal verby. 

Karien?  Wat maak sy hier?  Ek dog sy kyk na Johan? Sy koors is gebreek, hulle seun is gesond, maar Johan is nog nie oor dit nie.   “Here asb hou hom uit die hospitaal uit, dankie dat die koors gebreek het, pas vir Kariena op”.

Landi en Martin het ‘n reuse hond saamgebring en drink druppels Ivermectin in hulle bier. Sal dit help vir die pyn?  Kan Suza nie stadiger loop nie … moet die pyn my nie moeg maak nie?

Suza loop nie stadiger nie, en die volgende oomblik is ons op ‘n verhoog.  Die ligte is so verblindend soos die pyn.  Ons sing en met my hand vasgeklem op my bors, lag en sing ek saam.  Bakker staan buite en roer sy pot … maar nee!  Hy kan nie hier wees nie.  Hy is in die hospitaal, hy sukkel om asem te kry … wat maak hy hier?  Ek onthou ek moet mos eintlik bid: “Here, gee hom asem, gee hom asem, gee hom asem.”  Ek skud my kop, wat maak ons hier – maar Suza sing en ek sing!  Nie een van ons kan sien hoe die pyn my versmoor nie …

 “Haal fokken asem, Nos.  Julle sing fokken vals.” Ja – verseker Bakker se normale manier van praat, nie ‘n sin sonder ‘n ou kraswoordjie nie.  Ten spyte van die oorweldigende pyn, sak ek my kop in my hand en lag uit my maag.  ‘n Bekende lag wat aan Bakker behoort.  Hy sê nog iets wat my vreeslik laat bloos … As jy iemand amper 20 jaar ken, het jy geleer om te bloos en lag gelyk. 

Ek noem dit my aangeleerde ‘Bakker-skill’.

Bakker in sy element.

Die hele span sit en kuier buite, ek weet nie of ons sing en of ons lag nie, maar ‘n dringendheid het met die pyn kom meng.   “Here, Engele om elkeen, NOU!!” Ek skreeu vir die Here, nie meer seker of ek bid en of ek slaap nie. 

Debs en Helen klink ‘n glasie, wat is ‘n potjie sonder ‘n glas wyn?  Hulda roep vir Vinnie om glase op te vul. Lizelle lag saam Tess – ‘n lag-kombinasie wat jy nie kan verstaan as jy dit nie ken nie, gehoor het nie, geleef het nie.  ‘n Lag wat jy op ‘n foto kan HOOR as jy hulle ken.

Is dit wat die pyn is?  Verlange – verlange na die lag, geraas?  Ek staan eenkant en staar na hulle, neem hulle in – soos wat ek altyd probeer doen.  Ek is die klein Sussie, en die rowwe, mal span – dit is my ouer Broers en Sussies.  God het hulle vir my gegee, die fynskrif van ons huwelikskontrak: as jy my vat, vat jy hulle.

‘Ek sal dit vir jou uitsort’ hoor ek vir Ian.  Ian … my lyf ruk van begrafnistrane, hy kan nie hier wees nie?  Maar … daar is hy?  Groot in sy teenwoordigheid.  My hart ruk en my longe trek saam soos Ian se leemte my herhinner aan die verlies: die verlies van ‘n vriend.

Skielik is ek weer in ons kamer, Lyf praat met Juan op die foon.  Slegte nuus. 

Dan is ek weer terug by aandete, middagete – ek is nie seker nie.  Ek verstaan nie hoekom almal hier is? Bakker … so vreedsaam – die siekste van almal, maar vreedsaam om sy pot.  In sy element met ‘n bier in sy hand en wragtig besig om ‘n vuil grap te vertel.

Denniss sien ek in die kapel: hy bid, trane loop oor sy wange.

Die pyn is oorweldigend.

“HERE …!”

Later maak die Herfsblaar Band musiek, sing uit volle bors: Bakker met ‘n kierie en Lyf met iemand se kitaar.  Martin verjaar alweer, elke keer. 

Hulle kan nie sing nie, kan nie asem kry nie …

Ek skreeu uit volle bors. ‘Vat die pyn weg!!!” 

Lead Singers – Bakker en my Lyf

Ek skrik wakker. Nie seker of ek eintlik tussen verlang en bid geslaap het nie.  Soos Jesus se dissipels kon ek nie net BID nie.  Bakker se benoudste oomblik, en tussen karaoke en potjiekos kon ek nie net wakkerbly en bid nie!  

Ek was nie gereed vir die nuus nie;
Nie gereed om die oproep van droom na realiteit te skuif nie;
Ek was nie gereed vir Lyf se stil, onsigbare trane nie;
Nie gereed om te groet nie;
Ek was nie voorbereid om foto’s te soek en ‘memories’ uit te krap nie.

Die groen-oog, growwe diamant aka Bakker.

Sy skerp aanmerkings het my onkant gevang: hy was die bloos-masjien by elke kuier, en die toonbeeld van rowwe liefde om elke pot.  Daar was hy gelukkig, om die braaivleisvuur, besig om vir iemand te sorg.  Bakker het my geleer dat liefde nie net kom in die stereotipe sagte, kalm, ‘gentleman’ persona nie.  Bakker was lief vir sy familie en sy vriende, het sportnuus van jou kind so belangrik geag soos die van sy eie.  Hy was so stil-passievol oor sy werk as wat hy was oor sy golf of sy bier of sy vrou.

Debs se swart koffie! 

Bitter om te sluk, verslawend, ontmoontlik om sonder te lewe … wat nou?
Hy was nie ‘n maklike een om by te bly nie – hy kon meeste onder die tafel in drink en nugter lyk.
Hoe sal ‘n Herfsblaar kuier wees sonder … ek … hoe … wat …
Ek kan dit nie sê nie, kan dit nie dink nie!

Huis Herfsblaar is soos ‘n legkaart vir my: elkeen ‘n stuk wat perfek pas, en tog lewe ons almal onafhanklik sonder mekaar, geintegreerd.

Ek wil vir die Here vra hoekom, maar ek weet – hoekom het nie antwoorde nie.

Dit is een week en drie dae later …

Ek sit alleen en kyk die begrafnis op YouTube.

Alleen.

Dit is wat covid doen – ons isoleer, opbreek, weghou van mekaar af.
Ons sit hier, ver weg van ons vriende wat siek is, onder kwarentein is.
Vandag is daar nie ‘n druk van my Ouboet by die begrafnis nie: ek het hom sien praat, sien huil.  Sy Ouboet arms ver.
Lyf se skouer geisoleer op die myn: werk en oorlewing het ons weggevat en vandag meer as ooit, voel ek die leemte, die ver, die verlange vir Suid Afrika.

Ek soek my mense.

“Here, pas hulle op “
– ‘n gebed sonder ‘n punt, sonder ‘n einde, vier woorde vir God om self te interpreteer.

Ons beplan ‘n kuier in Suid Afrika.

Ons beplan ‘n naweek weg saam Huis Herfsblaar – ek wil hulle nie vinnig om ‘n braai sien en ‘n paar ure in mekaar se geselskap wees nie.
Selfsugtig soek ek hulle ‘n hele naweek. 
Ek wil huistoe gaan en WEET hoe dit gaan, weet of die lyftaal dieselfde boodskap gee as die woorde.
Ek wil eenkant sit en hulle dophou, hulle inneem soos die laaste kuier in 2019.
Ek is lief vir hulle, dit is my mense al praat ons nie, al is kommunikasie min en soms ‘non-existent’. 

Of die naweek gaan realiseer of nie, ek weet nie.
Gaan die Here my gebede beantwoord, of gaan daar nog ‘n begrafnis wees voor ons mekaar weer sien? Sy wil en Sy planne onbekend en onverstaanbaar groter as ek.
Gaan ons daar uitkom in die Lente of uiteindelik eers in die Somer, volgende Winter? Die onbekendes en die onseker is deel van ons, deel van ons diepste menswees. 

Niks is seker nie … behalwe een ding.

Wanneer ons bymekaarkom, maak ons ‘n Pot vir Bakker!

8 Replies to “‘n Pot vir Bakker.”

  1. God het Ons so bevoorreg met so amazing vriende kring!
    Nos Dankie dat jy dinge so spot on beskryf!
    Ek en die seuns was gebless om ons lewe met Bakker te kon deel!
    Dankie vir jou deel!

    Liked by 1 person

  2. Sjoe ‘n ware vriend om so ‘n pragtige stuk te kan skryf. Dis besonder spesiaal. Dis nogsteeds onwerklik maar God se wil nie ons tyd nie. Marco sal gemis word maar sy legacy lewe voort op aarde dmv sy 2 seuns. Debs nog nooit het ek jou so verlore gesien soos toe jy voor in die kerk met die 2 seuns gestaan het nie. Dit het my diep geruk. Sussie so lief vir jou en so hartseer terseldertyd. Tyd genees nie, liefde wel en daarvan is baie om jou.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s