Stoneridge kasteel, ‘n Storieboekplaas

Daar is ‘n plekkie in die Vrystaat wat ons ‘Die Plaas’ noem, ‘n klein stukkie grond genaamd Stoneridge.  Vir 14 jaar het ons elke Kersfees afgery, gaan ‘sanity’ bymekaar maak en so half geglo ons sal nie die volgende jaar kon aanpak sonder KERSFEES OPPIE PLAAS nie.  Soms was ons so gelukkig om die ysige Winter in vaal grasvlaktes te beleef en ons het gehoop dat Paasfees ‘n permanente instelling sou word. 

Dit is moeilik om te verduidelik, maar … Stoneridge is eintlik ‘n kasteel op ‘n towerplaas!

As mens nou besluit om bietjie op die koppie te gaan stap, vat dit behoorlik twee ure om vir almal ‘n hoed en ‘n bottel water te kry: jy kan jouself indink hoeveel tyd in ‘n piekniekmandjie ingaan!  As mens so deur die agterplaas se hekkie stap, hoor jy hoe die feëtjies begin skarrel en die bosboodskappers die nuus begin versprei:”Hulle is oppad!”  Ou Bubezi, die boerboel, en sy frommel-gesig, het altyd saamgestap.  Die gewone besoeker sal dink hy spring en blaf sommer net … maar Bubezi kon die dwergies sien en het gereeld saam met hulle gespeel – veral in sy jonger dae!  Hy blaf nie, hy raas!  Want sien, die klomp stoute dwergies is besig om ‘n hopie klippies vir ammunisie bymekaar te maak as ons verby kom.  Hulle is kwaad omdat hy nie gisteraand wou toktokkie speel in Feëtjiewoud nie: dit is darem vinniger om weg te kom op Bubezi se rug as op hulle kort beentjies!  Hoe moes die dwergies dan nou Bubezi se arthritis-pyn verstaan?   

Die eerste bietjie water is sigbaar in die droë kanaal.  In al die jare op die plaas, het ons as Gautengers die kanaal maar twee keer gesien in sy volle glorie!  Reën was nog altyd min, maar dit pas kanaaldwergies wat klippe kap en Jakkalse help huis bou!  Soms as mens so om die braaivleisvuur sit kan jy hulle hoor, maar nooit het ons die slinkse jakkals of sy maats gesien nie.  Die buurman het blykbaar gereeld strikke gestel om die jakkalse te vang wat sy skape steel, maar die bosnetwerk van trolle en dwergies was te groot – jakkals is nooit gevang nie.  Bubezi het ‘n ooreenkoms met die jakkalse bereik: in ruil vir die dwergies se hulp, het hulle saam donkerkamertjie in die grotte gespeel, gereeld amok gemaak in Feëtjieland en ‘n klomp ander stoutighede aangevang! 

Bo op die koppie” bestaan uit klippies gooi,  insekste bestudeer en ‘n gemaklike klip soek om net … net te sit en kyk.  Daar was terapie om so oor die Vrystaatse vlakste uit te kyk!  Ja!  Ja! Natuurlik is daar ander koppies, maar die koppie – die koppie was die uitkykpunt van Stoneridge.  Dit is hier waar die trolhek toegang vra en vele Volmaan feeste al gehou is met Seisoensveranderinge.   Kabouters oefen hier om Somer na Herfs te verander, verfspatsels is orals soos blare van groen na goud of bruin verander word. Feëtjies spandeer dae om die mooiste rokkies te skep uit blare en blomme voor hulle verlep is.  Hulle doen die klipspring-dans en die orkes van miere, paddas, springkane en natuurlik krieke, maak musiek soos ons dit nie eers kan dink nie. Almal vier fees voor hulle gaan hiberneer of hulle Winterhuisies regkry vir die koue op die plaas.

Piekniek langs die dam was altyd ‘n hoogtepunt, en in retrospek was daar net te min daarvan gewees.  As ons nou ‘n Wintervakansie kon afry, was die middagson darem perfek vir ‘n piekniek onder die Wilgerboom.  Die blare dans en warrel saam om die mooiste stories te vertel en as dit nie vir ons klein kindertjies was nie, sou ek en my Skoonsus sekerlik ure met ‘n storieboek en ‘n kombers sommer net daar gaan lê en lees het!  Maar piekniek was nie altyd veilig nie!  Rowers staan en loer agter elke boom vir die ideale tyd om ‘n gekookte eier te gaps, om van die lekker toebroodjies nie eers te praat nie.  Bubezi blaf sodat die Winterfeëtjies gereed kan maak om ons met hulle towerrokkies in die wind te vermaak!  Tussen woordspeletjies en raaisels wat ons uitdink om ons kinders se woordeskat te verbeter, is ons skaars bewus van die Wilgerboom se slaapliedjie, sodat ons altyd met een slapende kind in ons arms sou huistoe stap. 

Trolle het in die Wilgerboom se wortels gewoon en bewapen met takke – skerpgemaak soos spiese – was dit hulle wat die ganse opgepas het teen Stoneridge se eie lochnesmonster: Die Otter.  Die trane wat geloop het toe die boom ‘n paar jaar gelede eendag in die droë dam omgeval het, kon jy myle ver hoor.  Die trane was nie genoeg om die dam vol te maak of die wortels te red nie, maar die pyn kon ons almal voel. 

Soms is mens nou net lus vir ‘n stappie, ‘n regte egte wandeling!  Niks koppies klim of uitputting nie: net ‘n lekker wandel dat jy asem het om te gesels.  Of dit nou ‘n hand-aan-hand wandeling saam Lyf was, of lank gelede ‘n kind op ‘n Pappa se skouers: wie ookal saam stap, dit was half altyd so vredeswandeling saam met God … soms wil mens net wandel.  Dit is op die grondpad wat ons al vele kere in absolute stilte gewandel het … elkeen in sy eie idees en gedagtes vasgevang.

Oppad hoofhek toe het die satansbos al goed oorgeneem tussen die lande wat lank gelede skape gevoer het.  Ja – daar word nie aktief geboer op die plaas nie!  Die planne vir olyfbome en skape het alles deel geword van die aktiwiteite wat oor vakansies onderneem sou word.  Stoneridge, die naweek plaas waar jy gaan om af te blaas, jou gedagtes weer agtermekaar te kry.  Daar is nie ‘n paadjie om kopskoon te maak soos die ou grondpad terug hoofhek toe nie! 

Op die pad, so om die tweede draai … daar is Feëtjiewoud!  Hulle het so stil weggekruip as moontlik, maar ons het geweet dit kan tog niks anders wees as die Feëtjies se kasteel nie.  As jy weet waar, klim jy so onderdeur die bebosde, toegegroeide takke en skielik is dit oop: asof jy in ‘n huisie instap wat niemand gebou het nie.  Feëtjiewoud!  As jy jou oë styf toemaak en doodstil staan, kon jy die gegiggel en werkskaf van die feëtjies hoor!  Dit is hier waar hulle vir die Volmaanfeeste voorberei en dit is hier waar die dwergies kom wegkruip vir die trolle as hulle alweer ‘n Wilgertak afgetrek het terwyl hulle Tarzan-Tarzan speel. 

Stoneridge is ‘n storieplaas: die paaie, die Wilgerboom en die koppie bestaan alles!  Dit is hier waar ons kinders vir die eerste keer vir Kersvader gewag het.  Die Kersvader wat so in sy plakkies en ‘n knop in die keel na sy bakkie toe geloop het, nadat Carla agter hom aangehardloop het vir niks anders as net ‘n drukkie nie!  ‘n Drukkie om dankie te sê dat hy so ver ompad gevlieg het net om vir hulle persentjies op die plaas te kom aflewer.  Dit is op Stoneridge waar Emmie deur ‘n stoute paashaas uit die towerboom gestamp is.  Ja, dit was gedurende Kersfees, maar … ons het paasfees misgeloop en die hase het soveel tonnels gegrou en moeite gedoen om paaseiers weg te steek, vir die Paasfees wat ons nie kon maak nie!  Emma is die een wat toe met gips moes betaal vir ons Gauteng-blyery!

Dit is op Stoneridge waar middernag net ‘n ‘rumour’ geword het soos ons almal ouer word: die ure en diep gesprekke oor ‘n ou glasie sjerrie terwyl feëtjies opgekrul voor die warm koolstoof lê en slaap. Die stokou Koolstoof wat die Kabouters met trots stook en warm hou sodra die plaasmense by die Winterkasteel opdaag! Dit is hier op Stoneridge waar ‘n melktert lekkerder proe as enige ander plek, en mens die kombuis deur so bietjie ooplos vir die skaam dwergies om ‘n stukkie te kan huistoe neem.  Die rowers op Stoneridge is groot, sterk trolle wat jou hart kom steel, sodat jy op geen ander plek ooit dieselfde rus en vrede kan ervaar nie! 

Ons kinders is almal groot.  Hulle dink Kersvader bestaan nie meer nie en glo ons nie meer as die Tandemuis moeg by sy gat inhardloop nie.  Hulle dink nie om die koppie te klim is meer soos ‘n storieboek en elke nuwe toneel soos ‘n bladsy wat omgeblaai word nie. Ek dink tog hulle het hier geleer om met ‘n swaard te baklei teen die monsters in hulle drome, om die stories in die lewe te kan raaksien en … dalk wil hulle net nie erken dat hulle in feëtjies en towerkarakters glo nie! Want ek sien hoe toweragtig elkeen van ons kinders is … net nie meer klein nie.

Ek en my skoonsus … ons wonder egter nie, ons weet!  Ons weet Stoneridge se kasteelmure is vol geheime briefies en stories soos die huiselfies skinderstories na die res van Stoneridge se ‘woud’ probeer versprei het.  Ons het gesien hoe die vuurvliegies hulleself kom tuismaak op die komberse onder die akkerbome, as sterre verskiet met ‘n jaarverwisseling. 

Die plaas is al jare lank in die mark, en ek wonder of die towerkaraktertjies net eenvoudig nie hulle kasteel wil opgee nie?

Ek mis vir Stoneridge.  Ek mis die geselskap wat nêrens anders te vinde is as die heilige lang houttafel – wat ons nou moet langer maak soos ons klein kindertjies liefdes begin saambring vir ete.  Ek kan nie wag vir ‘n sjerrie by die koolstoof as die Winter aanbreek nie:  en ek en my skoonsus, ons sal hulle sien.  Die dwergies in die vensterbank wat ons gesprekke afluister as almal al lê en slaap.  Die feëtjies wat so uit die storieboeke ons kinders se lewens en verbeelding kom inkleur het, sal moeg word en met hulle blomrokkies opkrul op die bank se armleunings.  Ek kan nie wag om die trolle te waai terwyl hulle wagstaan by die leë dam en maak of ons hulle nie kan sien nie.  Die Winterfeëtjies wat nie kan wag dat die wind hulle rokkies in duisende donsies rondwaai, om ons te herhinner hoe toweragtig die wêreld nou eintlik is nie.

Stoneridge – my hart se storieboek, die plek waar ek my siel gaan vind:  waar ‘n glasie sjerrie so bietjie ander proe en braaivleis eenvoudig anders ruik – die hout is immers deur trolle bymekaargemaak!  Dit is hier waar ons kinders se verbeelding begin het met vlinders wat dans en feëtjies wat drome by die vensterbank fluister.  As jy so van die teerpad afdraai en die grondpad aandurf na Stoneridge se kasteel toe, dan weet ek: so lyk, ruik en proe vrede … toweragtig!

5 Replies to “Stoneridge kasteel, ‘n Storieboekplaas”

  1. So mooi my pop, soos net jy kan vertel! Ek sit hier buite die karavaan en kyk en luister na die see. Dis bewolk en grou, maar bly mooi, die klank van die rollende golwe is nooit eentonig nie, vreemd né? Oupa nou ook wakker 💖gewgeworx gewgeword, tyd vir ‘n tweedeBaie lief vir jou!

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s