Stephnie se langtermyn salon masker

As ek nou vir die CIA ‘n undercover agent moes wees, sou ek beslis in ‘n salon werk. Of ek nou moet leer om ‘n skêr te bemeester of waxvelle af

te pluk … daar is die bron van alle inligting en eintlik moet mens ‘n ‘declaration of privacy’ of iets onderteken soos jou verhouding met ‘n prokureur of ‘n sielkundige! Wat hier bespreek word mag met niemand gedeel word nie!

Ek was al meer as eenkeer stomgeslaan oor die details en intieme inligting wat ‘n kliënt met die terapeut deel? Ek meen – selfs my beste vriendinne weet minder as party haarkappers van hulle kliënte?

Stephnie, sy wax anders vandag. Ons het nog nooit baie gesels nie en al ons gesprekke is oppervlakkig en eenvoudig. Dalk is dit die taal wat sukkel … of dalk is haar lewe en haar maskers so kompleks, dat sy dit nie kan waag om die krake vir enige kliënte te wys nie. Vandag is ek die kliënt, maar ek is ook die terapeut.

Te veel in my lewe het ek vriendinne ontmoet op die punt van skei, wat in die geheim anti-depressante drink, en eintlik sit hulle net opgeskeep met ‘n mansmens wat hulle dwing om pille te drink sodat hulle die maskers en voorgee kan volhou! Die mansmense wat niemand regtig ken nie! Dit is nie die ou wat jy by partytjies ontmoet of die ‘nice’ ou wat vir almal ‘n drankie koop nie? Die grapkas wat almal vermaak en sy vrou op die hande dra nie! Hulle hoor gedurig hoe gelukkig hulle is om so man te hê! … Vriendinne wat maar die pille drink, want hulle het nie meer die krag om op eie stoom voor te gee Pappa is die hero wat sy kinders dink hy is nie!

Vele kinders was al absoluut verstom is as Ma die egskeidingspapiere laat aflewer kort na hulle klaar is met skool of universiteit:”Ek is klaar hiermee!!”

“Waarmee?” Natuurlik vra hulle waarmee

Die onderliggende aanmerkings, slegsê, stilsuipes wat sy probeer verduidelik en regverdig! Die kuier en lag om die braaivleisvuur tot die mense groet en die ander man wat saam haar by die voordeur terugstap?

Stephnie was Saterdag vir die hoeveelste keer stomgeslaan toe sy na ‘n lekker kuier, laggend gegroet het … en stilstuipe die huis tegemoet geloop het. Alleen skoongemaak en weggepak en haarself probeer oortuig haar man het maar net te veel wyn gedrink. Sy het vir die hoeveelste keer ‘n Sondag van wonder beleef: hy straf haar deur sy liefde te onttrek, haar te laat wonder wat op die aarde sy die keer verkeerd gedoen het? Is die buurman se vleiende persoonlikheid en aantreklike voorkoms die bedreiging wat hom bed toe stuur sodra hy so skynheilig gegroet het? Nog ‘n dag wat sy die kinders besig hou en hulle aandag aftrek van die atmosfeer wat in die huis rondhang, wat sy probeer wegsteek agter gesprekke en stories sodat hulle in ‘n gelukkige, goeie huis kan grootword.

Maar Stephnie het ‘n plan: Stephnie se Langtermyn-Salon-Masker!

Jy weet Nossie, daar sal ‘n dag kom wat ek dit nie meer hoef te vat nie. Ek sal nie meer my seuns probeer oortuig wat ‘n hero hy is nie en sy blomme op Valentynsdag sal niemand meer flous nie. Daar sal ‘n dag kom wat ek net eenvoudig my tas gaan vat en loop. Vir nou kan ek my seuns nie deur die goeie skool of eers op universiteit kry alleen nie … maar daar sal ‘n dag kom wat ek genoeg voorgegee het ter wille van my kinders. Daar sal ‘n dag kom wat ek die laaste keer agter hom aangehardloop het sodat ons ‘gemaak gelukkig’ by mense opdaag en daar sal ‘n dag kom wat sy onderlangse ‘insults’ en slegsê my net nie meer gaan raak nie!

Sy ruk die waxpapier van my been af en dit voel of sy ‘surgical pleisters’ gebruik vandag, maar ek durf nie ‘n woord sê nie. Haar jare lange hartseer en uithou het in ‘n diep vrede verander: ‘n vrede wat haar man moet bang maak – angsbevange. Hy dink omdat hy genoeg geld inbring, ‘n mooi huis bou en nou en dan duur geskenke koop, maak dit die skielike, onverwagse, aanhoudende wonder-wat-nou oomblikke reg?

Hoe is dit moontlik om so intens lief te wees vir iemand, terwyl jy hom stukkie-vir-stukkie begin haat. ‘n Diep, intense haat wat eendag nie meer deur die liefde oorwin sal word nie!

Haar vrede oor eendag maak my koud! Hartseer, maar yskoud.

En dink aan my vriendin wat al ‘n woonstel deposito neergesit het toe haar seun matriek skryf: vryheid was uiteindelik hare. Die man wat sy liefhet – lief soos swart koffie. Sy kan die smaak nie verdra nie, maar sy kan nie ophou drink nie. Sy het verslaaf geraak aan die goeie oomblikke, die tye wat dit goedgaan. Sy het elke gelukkige getroude dag gekoester soos goud, want dit sou nie vir altyd hou nie … en toe haar dag uiteindelik kom? Toe is die gemaskerde poephol weg! ‘n Nuwe man het by die huis begin opdaag. Stelselmatig het die Swart-koffie verslawing normaal en lekker begin proe. Sy kan nie sê wanneer nie, maar huistoe ry na werk was nie meer die hel wat dit was nie. Sy het die deposito op die woonstel verloor, sy het gebly en selfs hulle 25e huweliksherdenking gevier. Haar jare-lange en intense beplanning om te loop die dag as haar kinders klaar is met skool het ‘n geheim gebly wat hy tot vandag toe niks van weet nie … want die nuwe Swart Koffie in haar huis wil sy nie seermaak nie?

Is dit wat vir Stephnie wag? Wanneer sy uiteindelik haar dag tegemoetloop om die wêreld van ‘fake’ en onverwags te groet … gaan hy dan skielik die man word wat die wêreld dink hy is? Die man waarvoor sy lief is, diep lief, intens lief … maar wat net soms verdwyn? Sonder waarskuwing, sonder rede.

Stephnie was so verbaas toe haar ouers skei. Sy was pas klaar gestudeer! Hoe is dit moontlik? Die ontelbare ure se kuier om te etenstafel, die foto albums vol geluk? Hoe kon haar ma hom net so los?

Maar nou is Stephnie nie meer die kind nie … sy is die ma. Die gemaskerde vrou wat elke dag Pappa se ‘superhero’ jas oor sy skouers hang, wat die atmosfeer weglag en speel. Sy is moeër as wat sy ooit kan beskryf … sonder dat haar kinders ‘n enkele ding vermoed of sien of beleef.

Ek onthou toe Mia se man selfmoord gepleeg het en almal om sy graf gestaan en huil het. Ek het haar trane bewonder – elke liewe een so ‘fake’ soos die goeie man wat hulle begrawe het. As sy vriende en sy ouers maar geweet het wat ‘n monster hy agter geslote deure was, hoe sy die kinders na maatjies toe gestuur het sodat hulle veilig kon wees. Dit was trane van verligting! Egskeiding was ontmoontlik, want hoe stuur jy jou kinders elke tweede naweek na ‘n monster toe wat sexbehep is en jou dogter van 16 elke dag met nuwe oë begin aankyk? O nee – sy dood was haar redding, haar uitkoms!

Wie is ek om haar trane te oordeel? Sy loop met die geheime rond, die nagmerries wat sy ouers en familie nooit sal weet nie! Die wonderlike pappa wat haar kinders onthou sal sy nie van hulle wegneem nie! Sy ‘deal’ met haar nagmerries alleen en het ‘n manier gekry om weer te lag, weer lief te hê!

Stephnie ken van die vals trane, die vals foto’s. Haar salon het al vele toekennings gewen en haar grootste ondersteuner is daar vir die foto’s, hy ‘brag’ by almal oor sy vrou. Sy trofeë. Hy is opreg trots op haar … tot sy Maandag gegroet word met ‘n “Jy kan seker nie wag om SY pedicure te doen vandag nie?” Sy kyk na die foto in die koerant, hy glimlag soos ‘n filmster, waar hy sopas haar rok gekritiseer het, “Met so rok sal die mans volgende week instroom!“, mompel hy onderlangs, terwyl hy vir die joernalis vertel hoe trots hy is om langs die mooiste vrou by vanaand se toekennings te staan.

Die foto albums van vakansies het soveel herhinneringe vir haar kinders, maar soos die jare aanbeweeg sien sy net die een ‘fake’ foto na die ander. Onthou sy die aanmerkings wat sy probeer vergeet, die onnodige bakleiery omdat hulle verdwaal … die stories waaroor hulle kon lag. Sy blaai nou net in stilte daardeur, laat haar kinders die praatwerk doen en haar man die stories vervals en vergelukkig. Alles was nie sleg nie, maar dit was nie altyd gelukkig nie.

Stephnie is moeg baklei … sy het opgehou. Sy hou haar idees en haar planne en haar wense en haar drome. Elke dag werk sy om te gaan. Sy bou haar salon, sy hou dit die beste in die land. Sy ‘pose’ vir die ‘fake’ fotos met die onderlangse kritiek en aanmerkings wat niemand hoor nie en sy om een of ander rede nooit verwag nie – ter wille van haar kinders.

Ek ry diep in gedagte huistoe na my sessie: wie is ek om te oordeel? Verbale en fisiese aanranding het name … maar wat noem jy die skielike, onnodige, onhoorbare, ‘undercover’ gedrag waarmee vrouens soos Stephnie moet saamleef? Dit maak nie saak hoeveel geld hy haar gee, hoeveel duur geskenke hy koop nie! Miskien as hy net soms kon ‘jammer’ sê of dalk verduidelik …

Môre staan hy op: maar sy weet nie wie hy is nie.
Môre gesels hy normaal, asof sy die mompel en aanmerkings en afsydigheid nie gehoor en beleef het nie? Asof dit haar nie raak nie? Hoe moet sy die goeie tye vertrou as dit so skielik kan verdwyn?

Hoeveel keer moet sy stomgeslaan en verbaas wees as hulle gelukkige huwelik in sulke skielike flarde verander? Altyd skielik. Altyd onverwags!

Wie sal hy wees as hy vandag wakker word? Wie sal hy wees as hy vanaand gaan slaap?

Sy is so moeg om die stories aan te pas, om al die kliënte vrouens te maak, ter wille van vrede. Sy is so moeg om maskers te dra, ter wille van vrede. Sy is moeg om uit te hou, om voor te gee, om ‘n blinde oog te draai … sy moet aanpas soos ‘n skakelaar by watter ‘mood’ hom ookal pas … ter wille van die vrede?

Maar met elke onverwagse, onnodige en skielike aanmerking, ‘mood-swing’ en voorgee, breek ‘n stukkie van haar liefdeshart af en soek dit ‘n plekkie in haar wegloophart.

Ek dink by myself hoe blind die mansmens is? Saam met hoeveel vriendinne het ek nie al ‘n pad gestap het wat net eendag besluit het genoeg is genoeg! Kan hy nie sien hoe hy haar dryf nie, haar suksesvol maak, haar druk om die beste te wees wat sy moontlik kan wees nie … want eendag …

Party mense het regtig ongelooflike gelukkige huwelikke, maar die meeste mense wat ek ken? Soos ek, weet hulle wat dit is om te voel hoe jou hart flenters breek, hoe jou voete van ‘happily ever after’ onder jou uitgeruk word! Ek en Lyf het beslis ons deel van flenters beleef, en ons weet van ‘superglue’ om die stukkies aanmekaar te probeer hou.

My hart is seer as ek by die huis stop. Seer vir die maskers wat so baie Stephnie’s moet dra, ter wille van hulle kinders, ter wille van hulle inkomste, ter wille van WAT OOKAL … vir die soveelste keer vandag sê ek vir myself: “wie is ek om te oordeel?”

Niemand verdien om alleen oud te word nie, maar Stephnie kan nie wag vir die dag wat sy die ‘superglue’ kan ooplos om uit te droog nie – klaar probeer plak om haar huwelik en al die maskers aanmekaar te probeer hou nie. Sy is gedrewe om die swart koffie eendag in die wasbak uit te smyt: klaar, vry en gereed om met haar weglopershart ‘n nuwe lewe te begin. Al is dit dan ook alleen … en ek? Wie is ek om haar te oordeel?

6 Replies to “Stephnie se langtermyn salon masker”

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s