As jy jou huis in ‘n boks moet pak.

As mense so gepraat het van na ‘n ander land toe trek, groener weivelde en ‘n toekoms vir hulle kinders, was my standaard antwoord altyd “Ag nee wat! Ek is te lui om te pak!”

Ons was net eenvoudig nie geleerd of ryk genoeg om ooit in ‘n ander land te gaan woon nie.

Ek het nooit gedink ek sou eendag deur die huis moet stap en besluit wat ek moet pak, weggee en los nie. Dit was absoluut ‘surreal’ om Emma te probeer oorreed nuwe avonture is genoeg rede om al haar speelgoed weg te gee en absurd om vir Callie te sê hoe trots ek is dat sy haar 15 jaar skatkis in een boks kon inpas.

Emmie was ontroosbaar dat ons nie die nodige bokse vir die honde kon bekostig nie, terwyl ons kleinseun se trane vol bekommernis was dat hy in Oupa se huis gaan bly sonder die honde. Een se verlies is inderdaad ‘n ander se wins! Hoe moes ons ook weet dat ons die katte finaal moes groet en nooit weer sal sien en ‘cuddle’ nie?

Lyf se vriendekring is groot, maar nie een van hulle word in ‘n boks gepak nie. Met sy 50e verjaarsdag wat toe ook ‘n ‘farewell’ geword het, kry hy die mees unieke en spesiale geskenke ooit: onthou-geskenke, moenie-ons-vriendskap-vergeet-nie-geskenke.

Party dae was te moeilik: ek kon nie besluit nie, kon nie pak nie; ek moes my Sussie bel om te help. Sy het nie sentimentele waarde aan ‘n piepklein teelepel nie. Dit is makliker vir haar om boeke te sorteer en ons rakke leeg te maak sodat Boeta hulle besittings in ons kaste kan pak. Alles wat uit Pa se huis gekom het en niemand wou weggee of weggooi nie is op ‘n sleepwa weg deur mense wat beweer dit gaan vir welwillendheid: blanke plakkerskampe sê sy. Skoonpa is oortuig hulle het alles aan die armstes gaan verkoop … alles waaraan hy ook te veel sentimentele waarde geheg het om weg te gee en in ons garage gestoor het vir jare.

Wat van Kersfees?

Hoe kan ek Kersfees in ‘n ‘container’ laai? Ons almal weet Kersfees op die plaas het eintlik alles met die mense te doen, die familie en die tradisies, saamwees in die kombuis en geskenke op Oukersaand. Kersfees wat begin het met klein, onskuldige kindertjies wat vir Kersvader briefies, koekies en melk gelos het en na 14 jaar in trane eindig met realiteite van grootword, weggaan en Sjerrie op die stoep … niemand wou dit sê nie, dit aanvaar nie, maar ons almal het geweet! Dit was waarskynlik die laaste Kersfees op die plaas met al die kinders bymekaar.

Koue vleis en slaaie saam met ander Suid Afrikaners ‘n jaar later was dalk nie sleg nie … maar was dit dieselfde lekker as 14 jaar se Kersfees op die plaas?

Hoe pak ek die paar vriendinne in my tas wat MY geken en liefgehad het? Wat my humor verstaan, my stilwees en malwees aanvaar het wie ek ookal was op ‘n gegewe tyd? Hoe gaan ek enige, nuwe, vreemdelinge vertrou? Tussen al die klein, ligte, groet-geskenkies is daar nie ‘n boekie met reëls nie. Dit het tyd gevat om ‘n paar hartsvriendinne te kry. As jy grootgeword het as ‘n tweeling, het ek besef, het jy nie noodwendig geleer maatjies maak nie, sy was altyd langs jou, naby jou …

En selfs vir haar was daar nie plek nie, net foto’s teen die muur. Op ‘n af dag wonder ek of sy dalk siek voel en of ek net verlang? Voor Suriname se nuwe vriendinne, het ek net saam met my ma, sussies en gesin gaan inkopies doen …

Expat vrouens is soos ‘n nuwe spesie met hulle eie kultuur. Expat vrouens ‘shop’ saam, dis ‘n ding en partykeer is ek al saamgenooi. Ek loop in ‘n nuwe winkel of by ‘n mark en wens dan skielik my Ma was hier, of dink aan iets mal wat my sussies sou sê of doen.

Dit is die mense wat ek wou inpak.

Die klein groepie mense wat sekuriteit en sekerheid in my lewe gebring het. Die vriendinne waarheen ek kon weghardloop as ek wou. Veiligheidsnette is moeilik om te pak en nog moeiliker om te vervang in ‘n verre, vreemde land op ‘n af dag.

Dis die bekendes om ‘n braaivleisvuur, die bekende kos by ‘n vriendebraai, Ma se maalvleis en rys, Skoonpa se kookkos op ‘n Sondag en my skoonsus se tuisgebakte koekies saam met tee wat ‘n resepteboek kan neerpen … maar nooit self kan maak nie.

Dit is die bang agter die moeg as die vliegtuig uiteindelik opstyg wat nêrens gepak of weggesteek kan word nie. Dit is die laaste trane wat nie kom nie as jy gemaak-kalm ‘n laaste keer kyk of jy die paspoorte, geelkaarte en die leêr vol apostielseêls in jou nuwe rekenaarsak het, voor doane vra dat jy weer alles uithaal.

Die perfekte rekenaarsak: die sak wat ek nooit vir myself sou koop nie, nie op my eie kon opspoor nie … maar wat my Ouboet en Ousus geweet is het perfek, is ek! Hulle het nie gevra vir die titels nie, ek het hulle aangeneem nadat niemand anders met my diepste, swaarste dag vertrou kon word nie. Sal ek daar iemand kry as ‘n dag ondraaglik swaar en moeilik is? Kry mens sulke mense in ‘n land waar jy weet jy gaan net tydelik wees? Sal ek hartsmense ook eendag daar in trane groet?

Voor Suriname was ek intens bang vir vlieg … maar ek was so moeg gepak, moeg gegroet! So besig om ‘n laaste keer deur al die bokse te gaan, dat ek nie eers agtergekom het ons is besig om op te styg nie. In my verbeelding het ek soos in die ou dae, die familie op die lughawe gewaai asof hulle my kon sien. Ek het gehuil oor die kombuisware wat ek nie in die ‘container’ kon pak nie; die reuse kombers wat Skoonma vir my gebrei het en Suriname se hitte nie nodig het nie; my Winterstewels wat ek nooit sal dra nie en vir een of ander belaglike rede, die duisende dinge wat niemand gebruik of gemis het nie, wat uit ons erf gery is op ‘n sleepwa na wie-weet-waar toe!

My trane het geloop vir die lang tafel waar ons so baie gekuier het: Oujaarsaande, verjaarsdae of sommer-net kuiers … as die tafel kon stories skryf! Ek sou nooit gedink het dat ek hier in ons kleiner huisie ‘n lekker oop stoep en lang tafel so sou mis nie.

Een van die dae trek ons weer, 3 huise ver. Dit is anders pak as jy niks weggee nie! Ek draai die breekware toe met klere, prop alles in die reistasse in my auto: pak uit, pak weg, volgende ‘trip’. Ons hondjie bly nie agter nie en ons arrogante, liefie kat word saamgetrek.

Hoe pak jy jou huis in ‘n boks? Of is die eintlike vraag eerder hoe pak jy jouself uit in ‘n vreemde land?

Jy gaan soek seker ‘n nuwe sport, soos boogskiet en ontmoet die ‘locals’. Jy gaan eet by mense uit vreemde lande met vreemde gewoontes en luister kerk in Afrikaans op YouTube sodat iets op Sondae bekend is. Jy oorkom jou vrese vir naalde en gaan besoek ‘n ankupantuur en sy homeopaat Pa, want jy het ‘n verwysing van 3 mense en jy kan nie dieselfde van die GP sê nie.

Eendag sal ons ook hier ons lewe in ‘n boks moet pak, Suriname was altyd net tydelik. Eendag sal ons ook hier mense groet, goed weggee en op ons tasse sit om dit toe te kry voor ons die laaste vlug uit Suriname vat na wie-weet-waar.

Dit is eenvoudig: jy kan nie jou huis in ‘n boks pak nie want eintlik pak jy ook jouself. “Make no mistake!” Wie jy ookal was toe jy daai kant op die vliegtuig geklim het, dit is wie jy is as jy hier afklim. Jou vrese, ‘insecurities’, dryfkrag en menswees bly dieselfde. Jy is dieselfde mens in ‘n nuwe plek met nuwe mense, nuwe winkels en nuwe strate. Elke dag is nie maklik nie, en elke dag is ook nie moeilik nie. Ons harte en menswees is gemaak uit bokse wat ons inpak en uitpak, oor en oor met nuwe en ou gedagtes en herhinneringe. Party maak seer, breek jou hart flenters, net soos mense. Party laat jou uit jou maag uit lag terwyl daar ander is wat jou laat glimlag van gelukkigwees, al loop stil trane oor jou wange.

Vanaand, terwyl ek so met heimwee en ‘n verlanghart sit en skryf, maak ek egter my belangrikste, swaarste boks oop, die een met bekende musiek, google fotos en ‘n glasie eg Suid Afrikaanse wyn.

6 Replies to “As jy jou huis in ‘n boks moet pak.”

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s