My Boetie en sy Hond.

Vanoggend word ek wakker met die ‘lift’ kussing in my arms.  Die einste een wat my Boetie so stewig vasgemaak het met ‘n fietsrek voor hy my balletklas toe gevat het. Dit is die ‘memory’ wat my onderbewussein gekies het om te droom.  Wat vreemd is, want mens sou dink ‘n ander geliefde sal vandag in my gedagtes kom rondkrap en onthou-stories opbring.

Vandag, 9 jaar gelede moes ek een van my beste vriendinne groet. 

Skoonpa het heeltemal verlore en deurmekaar geklink oor die foon, ek moes DADELIK kom.  Hy kon nie sê waar in die hospitaal nie, maar ek moes net DADELIK kom!

Genade!  Dit was ‘n lang dag! 

Lyf het iewers gaan fietsry, 80km!  Hy sou eers 16h00 die middag my boodskappe kry en moes dan nog huistoe ry en van sy modderlyf ontslae raak.  Ek onthou hoe moeilik dit was om vir Skoonsus te sê ‘n onverwagte kuier na Pretoria is aan die orde van die dag: “Moenie pak vir ‘n naweek nie, Sussa, pak vir ‘n begrafnis.”  Ek onthou hoe lank die nagmars gevat het tot ons uiteindelik vir Callie uit die Voortrekkerkamp kon onttrek. 

Terwyl ons vrese en trane van vaarwel om die hospitaalbed sluk, het die kinders om ‘n barrel KFC gesit en kuier in die hodpitaalgang!  Hulle was tevrede om Ouma ‘n laaste keer te sien – net een kyk – en verder in die gang te gaan sit.

Niemand kan jou voorberei op ‘n groet wat jy half hoop is finaal nie: die beroerte was net te erg!  Niemand kan jou voorberei op die verlang, jare later, na daai eenkeer-‘n-week koffie nie.  Sy het geweet hoe om my lief te hê vir wie ek IS, ook vir wie ek NIE is nie.

As verlang in jou gedagtes kom vassteek, kan jy nie egter nie bepaal wie kom kuier nie … en Boetie klop aan die deur vandag, nie Skoonma nie. 

My Boetie en sy hond, Ore!

Boetie moes my eenkeer ‘n week balletklas toe vat, want ek was te klein om so ver alleen te stap.  Ek dink nie ek het my eie fiets gehad nie, maar vir die waarde van ons Ballet-‘lifts’ is ek bly!  Hy het altyd eers die kussing getoets, seker gemaak sy Sussie sal nie afgly nie, dan het hy vir Ore in ‘n sak op sy bors gedruk.  My hene, ek onthou hoe vinnig ons in die lang straat se afdraende ge’free’ het!  VREESLOOS!  Ek het natuurlik styf vasgehou, maar was nooit bang ons gaan val nie.  Hallo!!!!  Dis my BOETIE! 

Ore was verseker die getrouste hond wat ek nog ooit teëgekom het!  ‘n Pikswart, medium grootte hond, soos ‘n klein Dohberman. Ore en Boetie het saam die vroegoggende aangepak om koerante af te lewer.  Daar was nie ‘n ketting, slot of deur wat die hond by die huis kon hou nie, Ore het ‘n plan gemaak en teen 10 uur begin ruik-ruik op die skoolgronde tot hy ‘n Meiring-kind opgespoor het. Hy was die kussing waarop Boetie gehuil het na pakslae, sy bal speler, sy koerantafleweringsassistent en die sy beste vriend. 

Hy was net eenvoudig SO lief vir daai hond, die soort liefde wat mens nie met woorde kan beskryf nie.

Na elke balletklas het my Boetie getrou buite gewag met ‘n botteltjie water. Hy sou so dwars op sy fiets sit en wag, Ore in ‘n sak voor op sy bors. So asof dit die natuurlikste ding op die aarde was om jou hond orals heen saam te vat.  Dan sou ons weer die kussing vasbind en daar gaat ons!  Ek was veral bly vir die stukkie opdraende wat my Boetie se bene maar net nie kon trap met my agterop nie! Dit was ons een keer ‘n week gesels-tyd: ek, my Boetie en Ore.

Die ballet het nie uitgewerk nie.
Ore is al lanklal dood.
En Boetie – wel Boetie was net nooit bedoel om lank op die aarde te wees nie …

Die dood is ‘n snaakse ding, dit is asof dit met tyd al die slegte en seer herhinneringe kom wegsteek en die goeies in jou drome kom bêre.  Ek kan niks van die balletklas onthou nie, ek weet nie eers of ek dit geniet het nie, maar ek sal dit altyd onthou.

Ek sal vir ewig dankbaar wees vir die balletklas, want my Boetie en sy Hond het my kom haal!

6 Replies to “My Boetie en sy Hond.”

  1. Sussie!!! Ek het dit nie geweet nie! 😢 Ek weet jy het balletklasse gehad,maar nooit geweet wanneer, hoe en waar nie. En wat ‘n kosbare, kosbare herinnerinfg is dit nie. Ai, so hartseer oor Boetie en Ore. Ek onthou hoe hy gehuil het toe Ore dood is. Die hele liewe aand. 😢 Ou Boeta. Ouma’ t altyd gesê “‘n mens wat lief is vir diere, is ‘n goeie mens”. Dankie dat jy gedeel het.

    Liked by 1 person

  2. Hallo Sussie,
    Ek het jou blog al lankal gelees! Dis great. Maar sê my, het jy nie my antwoord ontvang nie? Ek het net nà die blog gereply. Laat weet, want anders doen ek iets verkeerd.
    Ek hou baie daarvan. Dis vreeslik mooi en hartseer. Maar dis lekker om te lees.
    Lief vir jou!
    Liefde
    K

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar