Getroud met ‘n Wegwerker

#HalweWaarheid

Dit is die jaar 2012.  Desember.  Saterdag.  Lyf loop op en af met die grassnyer.  Hy het in die verlede al gekla dat die grasperk te groot is en die son te warm.  Vandag is daar nie genoeg gras nie, die son kan hom nie pla nie. 

Terwyl ek so sit en bossies uittrek, is my gedagtes by die onbekende.  Lyf is terug, ons lewe is terug na normaal … maar is dit?  Wat is normaal?

Die tuin was myne.
Die besigheid was myne.
Die huis was myne.

Verbeel jou dit.  Een dag was ek die ‘admin girl’, halfdag-werker-ma van 2.
Nadat ons gegroet het op die lughawe was ek CEO van die besigheid, Enkel ouer, Ystervrou!

“Cheers!”  Hoe lekker is so yskoue biertjie darem nie na ‘n dag se gewerskaf in die tuin nie.  Ek sit met ‘n soort heimweë en kyk hoe Lyf en die meisies in die swembad tekere gaan: niemand kan saamswem soos Pappa nie.  Hy probeer opmaak vir die uitmis van ‘n jaar! 

Dan is dit stil in die huis; twee tevrede dogtertjies slaap vas, moeg gespeel soos net Pappa dit kan doen.  Lyf lê op die bank en lees ‘n Recce-boek. 

Ek lê net, dink.  My eie (nuwe-ou) wêreld.  Dis lekker om so in Lyf se arms te lê. 

Lyf is terug, dink ek tevrede.
Lyf is terug, besef ek onseker.

Hy is so ingeleef in die boek, hy kan netsowel ‘n ‘battle jacket’ aantrek en onder ‘n kamoefleernet in die hoek gaan lê met ratpacks en ‘n verkyker.  Hy analiseer die operasies, die foute en aanpassings.  Getroud met ‘n Recce  dink ek.  Hoe lyk háár boek; hoe lyk die storie van die vrou wat getroud is met die onbekende?

Lyf is terug. 
Hy het vanoggend opgestaan asof hy nooit weg was nie. 

My hemel!  Sy vliegtuig het nog nie eers heeltemal opgestyg nie, toe het die probleme al begin.  In 1997 was ek letterlik in ‘n kar ongeluk oppad huistoe van die lughawe af; verdomde trok wat ‘n u-draai op die R21-hoofweg gemaak het.  Die keer het ‘n verstopte drein gewag.  Ek is ook oortuig daarvan dat ‘geysers’ ‘n ‘he left’-sensor het, want dit was die tweede oproep na die versekering in daardie selfde week. 

Ons het baie pret gehad om vir vlêrmuis uit die huis te jaag voor ons drietjies knus in die bed kon klim, want hoe slaap dogtertjies dan nou in hul eie bedjies as die Kingsize bed heeltemal te groot vir Mamma is? 

SPUR het ‘n ‘no-go’ geword nadat enkel pa’s die speelarea begin gebruik het as ‘n ‘pick-up line’.  Ons het toe maar stories vir Lyf bymekaar gaan maak by WIMPY, Sondag etes by Oupa en sy nuwe ‘meisie’.  Ons kleinkind is al ‘n jaar oud, die nuwe ‘mall’ is klaargebou en ons ken elke hoek en draai.

Lyf is terug.  Hy ken sy wêreld uit stories soos ons dit vir hom vertel het.
Sy huis, sy mense … alles ‘n onbekende-bekende.

Dit was nie so maklik om skielik ‘n besigheid te bestuur nie, ek dink Lyf was trots op my.  Die weerlig het ‘n boom geslaan, die woonstel se dak het ingeval, ‘n hond is dood, ons het 2 katte gekry … ek onthou hoe ek eendag my skoonpa gebel het en tranerig begin raak het toe ek vertel hoe alles net eenvoudig verkeerd gaan … en toe het ons altwee begin lag.  Onbedaarlik!

Dit was die jaar 2012: lag van verkeerdgaan, besigheidsbesluite waarvan ek niks geweet het nie, probeer mamma-van-die-jaar wees, Vrydae aande kuier en vriende sonder toestemming, op die ingewing van die oomblik besluite en planne.  Ek val alleen.  Ek staan alleen op.  Niemand weet nie, ek weet nie of iemand belangstel nie.  My klankbord en my steunpilaar was wie-weet-waar, ek moes self.

Getroud met ‘n Wegwerker: die huwelik van een.
Self Alles!
Alles Self!

My terapie was in die grond, die tuin.  Om te sien hoe saadjies begin opkom en hoe die gat waar ek die boom uitgehaal het begin toegroei onder gras.  As mens stort en die grond so onder jou naels uitwas, was jy die stres en die breek en die ‘ek kan nie’ weg.  Jy klim uit en begin weer van voor af. 

Die tuin was nie net my terapie nie, maar ook my verassing.  Die groot kunswerk waaraan ek gewerk het … alles moes perfek wees drie dae gelede wanneer Lyf finaal terugkom.

Drie dae gelede … dit voel so ver en lank gelede?

Die dag nadat kinderwerwerping die slegste uit my uitgebring het, my beste bedoelings van Alles Self in ‘n totale katarsis ontaard het.  Die dag toe vloekwoorde brûe gebrand het, my trots in snot en trane verdink het en ek naak, hopeloos en gebreek gelê en huil het.  My ystermaskers gefrommel soos papier. 

Drie dae gelede moes perfek gewees het.

Ek moes nie so groot geskrik het toe Lyf met so massiewe baard verskyn het nie … die meisies het gegiggel, gespring en gehardloop … ek het net gestaar!

Ons was nie veronderstel om op die lughawe se parkering te verdwaal nie.

Lyf was nie veronderstel om geskok te wees as hy die tuin sien nie, hy moes verras en bly wees.

Lyf moes nie gekom het om te help brûe bou nie.

Getroud met ‘n Recce, dink ek.  Hulle klim op ‘n vliegtuig, fokus op werk, sukses, ‘n uitkoms.  Die boek is nie opgedra aan “My liewe vrou wat die bekende aan die gang gehou het terwyl ek in ‘n onbekende gaan oorlog maak het nie.”  Getroud met ‘n Wegwerker, besef ek; hy gee jou ‘n bank vol geld maar weet nie eers waar die brood gebêre word nie. “Opgedra aan my kinders: ek wens ek het jou beter geken.”

Hulle kom terug ‘n week of ‘n maand of ‘n jaar later, pak die tas uit asof dit gister uit die kas gehaal is.

Die geld wat huistoe gestuur word stuur nie verhoudings terug na die vreemde nie.  Die boeke vertel nie van die sukkel om weer aan te pas in jou eie huis, jou kinders te leer ken en soos ‘n vreemdeling te voel in die plek waar jy bekend moet wees nie.  Dit vertel nie van die stiltes, nagmerries en die verlang nie.  Dit vertel nie van die sogenaamde ystervrou wat alles alleen probeer doen en die maskers wat almal dra wanneer die hero-soldaat weer huistoe kom nie.

Drie dae gelede was ek die CEO van ‘n besigheid, die tuin was myne, ek het so bietjie die plot verloor … Ek alleen.   

Saterdag.  Desember 2012.  Ek is weer die ‘admin girl’ van my man se maatskappy, bossie uittrekker van die tuin.  Lyf moet weer sy plek kry, hy het nie gevra nie, ek het net teruggegee.

‘n Jaar is verby, en hier lê ons in stilte.  Ek is Getroud met ‘n Recce, dink ek.  Wat ek nie eendag in ‘n boek oor sy lewe gaan lees nie, sal ek nooit weet nie. 

4 Replies to “Getroud met ‘n Wegwerker”

  1. Ghosting. Ghost writer. Daar is baie boeke daarbuite wat deur spookskrywers geskryf word. En aangesien spoke nie bestaan nie (of ʼn Lyf het nie) kry hulle nie erkenning as medewerker van die boek, want die een waaroor dit gaan het dit uit die aard van die saak self geskryf.
    ʼn Wegwerker is beter as ʼn Wegteenwoordige

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s