Kwaaiste Vrou Suid van die Sahara

As my Pa nou gepraat het van “Die Kwaaiste Vrou Suid van die Saharahet niemand rondgekyk of verward gewonder nie, alle oë was onmiddelik op my Ma gerig.


Herontmoet ‘n Vreemdeling verloop altyd min of meer dieselfde.

So wat doen jy?

“O! Ek is ‘n sniper, tans ‘n huisvrou ‘under cover’, maar ‘when duty calls’ is ek gereed!!”

Is jy getroud, kinders?

Meestal getroud, soms geskei. 4 Kinders, 2 my eie en 2 kleinkinders. Ja ek het vroeg begin, op 11 is my eerste seun gebore.

En hoe gaan dit met jou suster? Het jy nie ‘n boetie of ‘n sussie … hoeveel kinders was julle nou weer?

Nee goed! Ja dit gaan goed met my sussies. Ook maar geskei, 2 kinders elk. Daar is ‘n Stiefseun en ‘n X-vrou, ‘n nare Skoonma, ADHD en bedrog. Julle het seker maar dieselfde stories – het almal nie maar ‘n broer-in-die-tronk familielid waaroor niemand praat nie?

So, lewe jou ouers nog?

Pa oorlede en my Ma nog in dieselfde dorp, selfde straat. Gelukkig. Gaan goed. Word mooi oud. Gawe man in haar lewe, die Aangevryde Stiefpa!

Daar is dan altyd eers die intense oomblik van skielike hartseer vir ‘n oom wat hy skaars geken het 20 jaar gelede en dan die skewe onthou-glimlag van die kwaai Tannie waarvan almal gepraat het.

Is jou Ma nogsteeds so kwaai?

Is jou Ma nogsteeds so kwaai? Mmmmm … ek wonder altyd oor die vreemde vraag. ‘n Deel van my wil sê dat sy goed by Daisy de Melker geleer het, my Pa moes dit sien kom. Maar moord klink bietjie rof.

Ek kan sê dat 4 kinders darem baie moes wees vir iemand wat in die bank gewerk het! My Pa was nogals sieklik, so streng gesproke was sy baie dae ‘n Enkel Ouer van 5?

Dit klink nou weer of ek verskonings soek. Ek is nooit seker wat die regte antwoord is nie.

My ma kwaai? Nog nooit gehoor nie! Sy raak ontsteld as haar skoonseuns eiers op die gras rondgooi nadat sy getel en presies genoeg gekoop het vir ontbyt en laat die kleinkinders nou verward op die banke spring asof dit ‘n springkasteel is … dan raak die tannie nogals kwaai.

Jou Ma? Hoe handteer sy die tipe ding? ‘n Rustige Ouma?


Die Bekendes van die verlede word Verlede Vreemdelinge.

In Suid Afrika is daar onlangs aangekondig dat ouers tronkstraf kan kry indien hulle kinders pakslae gee. Dit lok nogals reaksie uit, meeste van die tyd begin dit by iemand wat sy aksies probeer regverdig en ander wat jou probeer beïndruk met die wapen van pakslae wat hulle gebruik of meë grootgeword het.

Party swepe het soveel respek in hulle ingeslaan, hulle vertel pakslae stories asof hulle dit verdien het. Asof daar ‘n rapport of ‘n stukkende hemp is wat ses van die bestes regverdig? ‘n Siekdag by die skool is vir verkoue, nie pakslae nie!

Is my Ma nogsteeds so kwaai … ek wonder. Is jou Pa nogsteeds die Sweepmeester van Pretoria Oos?

Hoofmeisie, eerste span, Kaptein, Meestersgraad, beste presteerder … met elke prestasie balkie wat haar ma op haar skoolbaadjie moes vaswerk, is sy vertel hoe ‘useless’ sy is, moeite om te onderhou, sy moes beter doen, NOG ‘n prestasie asof dit ‘n virus is.

Sy vertel hoe sy medikasie nodig het om met haar lewe te ‘cope’, hoe sy alles moontlik doen om anders te wees as die afbrekende Ma wat haar groot gekry het. Haar ‘verbal abuse’ was te veel. Sy en haar broer het kontak gebreek, hulle is op ‘n pad na herstel, weet nie waar hulle Ma is nie. Hoeveel slegte aanmerkings en afkraak sinne moet jy gebruik dat jou kinders jou afskryf?

Ek weet waar is hulle Ma – Hoofmeisie by die Aftree-oord vir Eensames?

Ek onthou nog die Van Wyk’s se Ma! Almal doen! As daar nou iemand is wat ‘n Kermis tafel op haar eie kon bak, dek en verkoop, is dit sy! Die Kermis Tannie. Jy was maar te bly as jy saam met haar seuns of dogters in die span was, want dit het beteken daar’s ‘n ekstra broodjie en lemoenskyfies halftyd! Sy het ook so geskreeu, jy het nooit eers agtergekom as jou ouers dit daardie dag nie kon maak nie.

Dit is egter al wanneer haar kinders haar ook gesien het – die res van die tyd het sy geslaap, gelê … sy het dae omgebid en omgewag dat haar plig as ouer kon klaarkom. Niemand het iets gesê oor haar skandelike onvermoë om die lewe te handteer nie. Die Maandag was die jongste dogter se matriekpunte in die koerant, die Dinsdag was Tannie Kermis se selfmoord op die voorblad.

‘n Tyd toe depressie handteer is soos die Bybelse melaatses.

Dit is die een tragiese ontdekking na die ander as jy mense raakloop in jou lewe. Meeste bekendes is regtig volslae vreemdelinge, elkeen met hul eie donker geheime en hartseer wat hulle gevolg het na die grootmenswêreld.

Ek besef die valsheid van Facebook is lank reeds in ons midde: rame vol vals glimlagte en liegstories hang jare reeds teen mense se mure. Destyds het almal die fotos bewonder en vandag kan vreemdelinge in hul onkunde selfs ‘n vals oomblik like.

‘n Foto vertel nie die stories van verbale verminking of volslae aanranding nie, die snye op haar arms wat nie haar Pa uit die kamer kon hou nie of die dae wat alkohol aggresief geraak het nie.


Ons almal het ons letsels – vat myself: ‘n Undercover-Sniper-Huisvrou!

‘n Sniper vir die wêreld se seerkry en probleme wat moontlik mag kom. ‘n Desperate poging om Gert van Rooyen uit te haal voor hy naby my meisies kom. ‘n Hopelose poging om die seerkry van verwerping, pyn en boelie uit hulle lewe te hou.

Ek dra my eie letsels van onthou, verander en lewe na my blootstelling aan die Kwaaiste Vrou Suid van die Sahara. Soms trap ek so reg in haar spore, ander kere wentel ek doelloos af om my eie foute en verbeteringe aan te bring. Party van haar spore kon ek eers verstaan en waardeer toe ek self die pad begin stap: jy sien en begryp anders deur jou kindweesoë as jou grootmensbril.

Maar sy is wie sy is, sy was wie sy was: almal het geweet.

Sy was nie die Agterbakse Aanrander wat sy laaste dae as Vroueslaner in die tronk gaan deurbring tot almal se skok nie.
Sy was nie die een wat in haar diepste depressie dae bly lê het nie, sy het altyd weer opgestaan.
Sy het nie probeer om perfek te wees nie en dalk is dit hoekom daar nie so baie fotos in ons huis was nie … maar die paar teen die mure was ‘real’.
Sy was nie ‘n voorgee mens soos die Burgermeester op die podium in die dag en ‘n dogterverkragter in die nag nie.
Sy het ons nie groot gemaak met gesteelde geld soos die Ryk-eintlik-Arme Bankier anderkant die treinspoor nie.

Elke skool het ‘n Sniper nodig.
Ons is almal geskeides van ons verledes wat ‘n nuwe pad moet stap.
Ons moet oor die weg kom met die onderhoud wat aan ons betaal word, maak nie saak waar dit vandaan kom nie.


Bekende uit my Verlede, hier is wat jy moet weet.

My Ma was die Kwaaiste Vrou Suid van die Sahara!

Haar storie is vol liefde, selfverwyt, vergifnis en Dogter-Vriendinne.

By haar kan ek ‘n brood vra, skaamteloos erken my bankrekening is leeg en met liefde en ‘n vol maag huistoe gaan.

Ek kan in trane sit en my hartseer vertel sonder dat sy my in die rede val of advies gee as ek net ‘n skouer nodig het. Sy het al geleer sy het nie al die antwoorde nie.

Sy het geheime van ons almal, jy hoef nie te sê “Moet asb vir niemand vertel nie.” Jou geheimde is veilig by haar.

Daar is nie plek vir al die fotos en “memories” wat sy teen haar mure wil hang nie. My Aangevryde Pa moet gereeld sy phobie oor gate in die mure oorkom, want daar is altyd nog ‘n foto, nog ‘n herhinnering en nog ‘n oomblik wat onthou moet word, gesien moet word.

Vandag is sy ‘n Ouma van 7 plus die 5 van die Aangevryde Pa wat sy so graag rondry.

My Ma is die Kwaaiste Vrou Suid van die Sahara … en ALMAL het dit geweet!

2 Replies to “Kwaaiste Vrou Suid van die Sahara”

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s