9 Maande Later

9 maande … Beplan of Glipsie?

Ek sal darem nou nie vir Suri ‘n Glipsie wil noem nie!  Laat ons dit ook net duidelik maak – sy en Apple het niks met mekaar te doen nie.  Apple is in elke geval te duur vir die meeste mense hier, behalwe die duur elektroniese winkel in die enigste Mall wat ‘n hele muur aan Apple foon ‘covers’ spandeer en net die lelikste en eenvoudigstes aanbied vir die ‘local’ massas!

1 Januarie 2019 toe ons soos die Nederlandse Setlaars voet aan wal sit, was Suri onbekend en ‘n baie onsekere gedagte.  Enige nuweling bring maar sulke gemengde gevoelens, en terselfdetyd sal jy haar ruil vir niks nie!  Ons was almal vreeslik opgewonde oor die nuut en die anders, nuuskierig oor die onbekende, geinterreseerd in die geboue en museums en vol planne oor die opwindende lewe wat ons hier vir onsself gaan bou.  Ons was almal positief oor wat wag, positief dat ons plek sal maak vir die nuwe waar ons die bekende moes agterlaat.

Suri se toekoms is egter onseker in baie opsigte.

Sal die klimaat in 9 maande meer aanvaarbaar wees of sal ons soos die Amerikaners nie sonder lugverkoeling kan klaarkom nie?
Sal ons vir Emmie ‘n nuwe sport kan opspoor, vir Callie ‘n kunsklas en sal Suri rustig saamry en inpas?
Sal ons huwelik hierdie baba oorleef?
Sal Suri allergies wees vir die nuwe huisdiere en sal ons hulle kan ‘pottytrain’ voordat sy begin kruip?
Ons hoop die meisies kan ‘n plek in hulle harte kry vir haar saam met die nuwe skool, nuwe taal, nuwe paaie en wel … alles nuut behalwe ons vier.

Baie dinge kon gebeur in 9 maande: baie dinge HET gebeur en baie dinge het verander. 

Lyf en sy fiets het natuurlik saam met hier opgedaag, sy bagasie eers 2 weke later.  Hy kon dus fietsry werk toe met ‘n stywe rooi Chinese XXXL onderbroek en ‘n nagemaakte KongFong Nike T-shirt totdat sy tas opgespoor is.  Prioriteite! Prioriteite!  Suri gaan dinge ook nie so maklik maak nie: nuwe aanpassings vir Pappa.  Hy moes maar sy modder en bulte opgee en sy dikwielfiets op die plat teerpaaie inspan, want een ding is verseker – Suri gaan saam op die fietsry uitstappies en ek gaan haar beslis nie in my mandjie sit nie.  Ons weet almal hoe blou ek al geval is met die fiets – fietsry saam met Lyf is eenvoudig veiliger op enige terrein.

Dit was die soektog na plaasvervangers wat so moeilik was.  Netbal en Sagtebal bestaan nie hier nie, Basketball en Sokker is alleenlik vir seuns.  Tennis en Swem interreseer Emmie nie terwyl Callie eers die Sing&Drama op Maandae uitgetoets het voordat sy nou besluit het om eerder kunsklasse by te woon.  HapKido is nou altyd in die verlede, Thaibox is in.  Suri het nie eintlik ‘n keuse nie, sy sal moet inval by wat werk vir ons!

Siende kos soveel anders is en dieselfde goed nie elke week beskikbaar is nie, sal die lot op my val om Suri eg Suid Afrikaans groot te maak.  Die gebrande houtskool beskuit in die asblik sal my nie onderkry nie!!  Suri sal leer om oor en oor te probeer tot sy dit regkry.  Sy sal grootword met melktert en kaaskoek, tee in fyn koppies en Ouma se beskuit in haar oggentee.

In 9 maande het ons baie geleer.

Mens kyk nie terug nie, jy kyk vorentoe.  Veral as jy bestuur!  Die klomp mense ry so naby aan mekaar, bang ‘n voetganger stap voor hulle verby!  Om in jou truspieëltjie te kyk is soos om elke dag in 43 amper ongelukke te wees.  As jy terugkyk na die dinge wat jy wou doen, die mense wat jy wou sien, die situasies wat jy anders moes handteer, wel … dit is inderdaad soos ‘n anker wat jou vashou.  Jy kan nie vorentoe beweeg nie.  So ek kyk vorentoe en kant toe, bid vandat jy wegtrek totdat jy terug is by die huis, maar jy kyk NOOIT agtertoe nie!

Ek het geleer die wêreld is baie groter as die grense van Suid Afrika.  Kaartgrense natuurlik! Met xenophobia en onwettige immigrante weet g’n mens meer waar die sogenaamde grense nou eintlik meer is nie.  Natuurlik is daar grensposte, maar sou jy nie daar regkom nie, is daar altyd die Elephant crossing in die Noorde of dalk die Zebra Strepe meer Suid.

Die US Embassy het my geleer jou aansoekvorm is nie ‘n gegewe nie.  Verbeel jou dit! Die span besluit om my te ondersoek?  Dit is soos ‘n klad op my naam: ek is omtrent die enigste mens wat ek KEN wat al die verkeersreëls nakom.  Ek probeer goed doen en gaaf wees … en hulle besluit om my te ondersoek?  Ek meen die vrou wat haar kind op die trap sit en borsvoed is sekerlik die prentjie van “free spirited”, maar lyk sy nie bietjie meer agterdogtig nie? Wat van die ou wat die hele tyd op sy foon getik sodat sekuriteit dit moes konfiskeer?  Daai vrou met die vier klein kinders wat onbeheerbaar rondhardloop en oor alles klim, lyk hulle nie meer soos ‘n “potential immigration problem” nie?  Maar nee!  Van almal in my ry kry ek die email met 2 bladsye se vrae in ‘n baie klein font!  Ek moes op die duur manier leer dat jy jou vlugte eers finaal bespreek as jy met jou visa in jou hand staan!

Ek het geleer jou foon nommer is nie vir ewig nie.  Min dinge is.  Vodacom kan nie eers ons nommers op hulle sisteem opspoor nie, so weg is dit.  Geen geskiedenis nie, geen rekening nie, niks nie!  Vodacom is iets van ons verlede.  Ons honde behoort nou aan ons kinders wat ons huis oorgeneem het en ons lieflingkat is doodgery kort nadat ons weg is.  Nuwe vriende is tydelik, meeste expats is op kontrak – kom en gaan.  Ou vriende is skaarser; ons lewe is nou nie meer so interresant soos toe ons hier aangeland het nie.  Daar is mense wat Suri nooit sal ken nie en stories waarmee sy nooit sal assosieër nie.  Haar stories, haar mense en haar kultuur is hier.  Dit is hier waar ons almal aanpas en ‘n nuwe huis bou met nuwe vriende, nuwe winkels, nuwe fietse en nuwe diere.

Ek het geleer vriende het nie grense nie.  Op ‘n moeilike dag kan ek nogsteeds op Anri se Suid Afrikaanse knoppie druk.  Kathi in Houston het al meer as eenkeer haar huis in ‘n boks gepak en na ‘n nuwe land getrek. Harriette in Mexico weet van skole soek, huisagente, diere trek en lekker koffie.  Ek en Annemarie het soos ou vriende gepraat toe ons mekaar by ‘n expat funksie raakloop, ons het almal skoon stilgepraat in Afrikaans.  Ek het in gebroke Frans-Engels leer springrolls maak by Maria terwyl ek vir braaidag die sosaties op die gasbraaier gaargemaak het.  Suri dink seker braaidag bestaan uit springrolls en groente!  Suri weet slegs van ‘n yskoue Parbo na ‘n warm dag in die tuin en het nie ‘n idee wat die advertensie bedoel met ‘n yskoue Castle nie!

Op die einde van die dag is ons almal dieselfde: Expat huisvrouens (en twee huismans) wat alles opgegee het om saam ons manne (of vrouens) se werk te trek.  Wanneer ons bymekaar is, is almal Engels, Kindersielkundiges, Huweliksberaders en Aanpassingspesialiste.  Suri dink mansmense wat na kinders kyk terwyl Mamma werk is normaal … en dalk is dit!

Ek het geleer jy verlang na familie op enige kontinent.  Ons sou so graag dat almal vir Suri ontmoet, haar warm hart, haar persoonlikheid wat soms so naby aan hulle bekend is en soms so ver.  Suri leer hulle ken oor ‘n “video call”.  Sy kan meeste gesigte al by hulle stemme plaas wanneer ons so gesels-gesels tussen die gym en die winkel ry.

Jy eet wat op jou bord is. So het my Ma altyd gesê.  As gevolg van my uitmuntende kookvermoëns kon ek nog nooit die opdrag in my kinders se keelgate afdwing nie!  Die Vegans sukkel om hier te kook want alles is anders, nie altyd vars nie en net soos hulle die resep onder die knie het, kry jy dit nie weer op die rakke nie.  Gluten-free is ‘n gesukkel vir die ma met die allergiese kind: jy kan slegs koekies opspoor by Tulip ten duurste, in die stad … en selfs kinders kan net so lank op koekies lewe!  Suri gaan slaai leerken met komkommer, soms blaarslaai en watter tamatie ookal beskikbaar is.  Die ander goed in die yskas lyk vreemd en as die slaghuis toe is, drink ons maar ‘n ‘protein shake’.  Druiwe teen R120 ‘n pakkie is nou ‘n delicatessen in die huis en aarbeie is iets wat ons lank terug in Suid Afrika kon eet.  Hoe eet mens tog ‘n aarbei teen R20 stuk? Ek hoop maar Suri sal so bevoorreg wees om advokadopeer te proe, want in 9 maande was ons nog net 2 keer gelukkig met ‘n groen binnekant.  My ma was reg!  Jy moet maar eet wat op jou bord is.

Ons is Amerikaners volgens meeste mense by wie ons in Suid Afrika gaan inloer het.  Dit is asof mense nie die SUID van Suid Amerika hoor nie, The Americans.  My Skoonsus se beskrywing is egter nader aan die waarheid: Amazone Bewoners.  Suri is maar pasgebore, hier in ‘n derde  wêreld land op die ewenaar, deel van die Amazone.  As jy so in ‘n gedeelte van die aardbol se suurstoftenk woon, is dit ook geen wonder dat ons nog nie regtig siek was nie.  Die vliegtuig-dalk-Zikhia-virus-siekte wat ek in Februarie opgetel het, tel nie!

Soos orals in die wêreld, word Suri groot in ‘n land met gaaf, goed, mooi … en ongelukkig ook die negatiewe sy daarvan.

Suri moenie aanpas by die fietsgenerasie in Nederland nie, die paaie is te nou en te gevaarlik!   Die bestuurders veels te haastig!

Suri kan ook nie sê die middestad hier is veilig nie, maar die mense met wie ons te doen kry is gaaf en vriendelik, behulpsaam en bedagsaam.  Hulle waardeer as jy in Engels herhaal nadat jy in Nederlands probeer het.

Suri sal nie sukkel met die taal nie, sy kan reeds vlot in al die ‘local’ tale kommunikeer.

Suri sal ook maar net in die ‘gated community’ sorgeloos kan rondloop en in die strate speel, aangesien haar land ook oorgeneem is deur korrupte politici, dwelm smokkelaars en televisie.

Sonroom sal Suri se beste vriend wees, want die son sal ons ligte velle flenters brand!

Suri moet ook maar leer swem, want net omdat ons op die kus woon in die noorde van Suid Amerika, beteken dit nie ons is Modderwater Surfers nie of dat ons naweke pirannahs vang vir ‘n nuwe stokperdjie nie.

Ons het Suri met ope arms in ons huishouding verwelkom, die nuut en vreemd in die oë gestaar en is nou trots Suid Afrikaans in Suri se wêreld.  Soos enige baba hou sy ons soms wakker, maar wanneer ons saam is en tyd maak vir God en mekaar, vergeet jy gou van die moeilike nag.

Waarheen is ons oppad?  G’n mens weet nie … en wat maak dit nou eintlik saak?

Ons is waar ons nou is.
Ons sal gaan waar ons volgende gaan.
Ons sal kuier wanneer ons kan.
Ons sal werk wanneer ons moet.
Ons sal eet waarvan ons hou.
Ons sal bid soveel ons kan.

In 9 maande kan baie gebeur.
In 9 maande het baie gebeur.

Lyf kon ongeveer nou die Pa van 5 kinders gewees het en ek die Mamma van 3.  Ons het gewonder of Kleinmens in Nederland gebore sou word en of ek Suid Afrika toe sou gaan vir die bevalling.  Die dokters hier is vreemd en anders as waaraan ons gewoond is, maar hulle vang tog ook babas?  Saam met al die beplanning en angs van die moontlike nuweling, het ek en Lyf altwee soos … wel?  Soos babas geslaap toe daar 02h00 die oggend op die derde toets alleen een strepie was en nie 2 nie.

Suri, kort vir Suriname, is reeds ‘n handvol!

Soos Suid Afrika in ons bloed is, so sal Suri ook orals in die toekoms saam ons trek.
Soos Suid Afrika deel is van ons Geskiedenis, soos sal Suriname ook deel bly van ons stories om in die toekoms te vertel.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s