Liefde in Enige Taal

As mense my vra “Hoe gaan dit in Suriname?” is my antwoord elke keer “Dieselfde … maar Anders”.

Ons staan nogsteeds eers op as die wekker weier om weer te snooze.  Tussen my en Emmie is ons nogsteeds betyds vir skool – soms meer betyds as ander kere, maar NOOIT LAAT nie!

Soms kyk ons te veel TV.
Ons hou van by die huisbly.
Soms speel ons kaart en soms lê ons in stilte bymekaar en boeklees.

Ons gesin is dieselfde in enige land.

Skottelgoed en wasgoed, huis skoonmaak en karwas is nie nou skielik altyd lekker nie.

Hier is taxi-bussies ook die slegste en gevaarlikste bestuurders – ‘n gejaag na geld en passasiers!  Enige plek is ‘n busstop en enige sypaadjie is ‘n spesiale taxi-baan.

Die skool het goeie maats en nare kinders, die meisies kom soms ongelukkig huistoe maar meestal gelukkig.

Ons het goeie dae en ons het slegte dae.

Of ek nou in Suid Afrika, Suriname, Amsterdam of Miami is, ek drink net Ricoffie.  Ek is lief vir my koffie in enige taal.

Baie dinge is Dieselfde.
Baie dinge is Anders.

Dit is anders as jy ‘n straatnaam erken – so asof Afrikaanse woorde en name in Nederlands gespel is.

Dit is vreemd dat die kassier slegs Chinees kan praat en jou gebroke Nederlands help nie om tandepasta op te spoor nie.

Dit is net nie dieselfde om tee te drink met ‘n Amerikaner, ‘n Nederlander en ‘n Mexikaan om een tafel nie.

Dit is asof die vleis anders proe op ‘n charcoal vuur as ‘n knarsende houtvuurtjie wat so saamgesels as jy braaivleis hou.

Dit is net nie heeltemal so lekker om ‘n Gin & Tonic te drink sonder my skoonsus op die plaas nie.

Die strate lyk anders, die winkelrakke voel deurmekaar, alles buite die vier mure van ons huis is anders.

Dit is vreemd as die elektrisiën vra of die box aan jou kat behoort “Het is de puss se doos?”


Tog het ek in die strate van Suriname ‘n nuwe taal geleer het.  ‘n soort Liefdestaal. 

Ek ry vanoggend huistoe en sien ‘n Pa en dogter in die motor agter my lag en gesels.  Sy gesels sonder om asem te haal en Pappa luister geduldig.  Daai sagte glimlag om sy mond wat net ‘n kind kan veroorsaak.  Daar is iets spesiaal tussen ‘n Pappa en sy klein dogtertjie orals in die wêreld: Pappa die Hero en sy die Prinses.

‘n Bejaarde Tannie met haar loopring begin pad oorsteek en karre – groot, klein, duur of stokoud – slaan brieke aan dat die rook so trek.  Daai grys bolla is nie net wysheid nie, daar is ‘n soort selfvertroue en autoriteit wat saam met die plooie en aluminium loopring kom.

Die twee jong vryers dink niemand sien hulle agter die winkelmuur wegkruip nie.  Vir die oomblik is dit hulle: hulle glinsteroë en hulle ‘happy ever after’.  Tyd staan stil.  Daar is niemand anders in hulle wêreld nie.  Verlief wees is sekerlik een van die wonderlikste ervarings wat enige iemand ooit kan ervaar.

Die begrafnisstoet word geken deur swart klere en routrane … die verlies groot en seer, maak nie saak waar jy is nie.


Ek het ‘n bekende taal ervaar by die Babelse Expat Braaivleis.

Lekker wyn en kos is die resep vir enige kuier, of jy nou BBQ met gas of charcoal en of jy nou vleis braai oor Hardekoolhout.  Jy hoef nie die wynbottel se ‘label’ te kan lees om te besluit of dit lekker of sleg is nie.  Ossenhaas of Steak – as die kok dit goed gaargemaak het, “medium – well” vir my asb, is lekker eenvoudig lekker sonder taal.

Dit is heel vreemd dat die mans almal in die sitkamer sit en kuier en Lyf so alleen los om die vleis te braai.  Ek moes hom egter stoksiel alleen daar los toe ‘n taai klein handjie aan myne trek.  Die klein autistiese seuntjie het my uitgekies vir ‘n dans.  Dit bring trane in my oë van spesiaal voel.  Skaamteloos haal ek my beste dans ‘moves’ uit om die gesiggie so lank as moontlik te laat glimlag.  Taal is nie nodig nie: ek verstaan hom nie en hy nie vir my nie … maar ons het ‘n verstandhouding vir die oomblik, ons danspassies het nie woorde nodig nie.

Die vrouens kuier in Engels op die stoep, almal stil tevrede om hulle kinders te sien speel.  Wegkruipertjie, Donkerkamertjie, Spookstories. Almal praat gelyk en slegs hulle ouers verstaan wat hulle sê … maar ons almal verstaan opgewonde en die towerkrag van kinders wat lag.

Lyf kry nie in Engels gebid vir die kos nie, maar almal weet ons sê vir ons God dankie vir die kos wat almal nou gaan eet.  Groot en klein staan gesinne bymekaar, oë toe en respekteer ons God, ons gebed, ons liefde vir ons Here.


Die Troeteldiere se name was nou nogals ‘n taalkwessie, maar nie wat hulle saamgebring het nie. 

Emmie se giggels en lag as Sammy die Morkie haar jaag en byt is prysloos.  Sammy het Emmie se ogies en hartjie kom volmaak.  Sy kon dubbeld die prys gekos het en sou nogsteeds ‘n ‘bargain’ wees.   Ek vermoed Sammy blaf in Nederlands, maar sy droom beslis in Afrikaans.

Daar is nie ‘n prys vir Callie wat so met Parker haar kat ‘cuddle’ nie, vir die liefde en vrede wat sy uitstraal as hulle so bymekaar sit nie.  Parker praat Kattaal … alle katte praat kattaal.  Kattaal is enige taal waarvoor die kat ookal lus het om die oomblik.

Die name is gekies sodat enige taal dit kan uitspreek en Magrieta Frederika was nie ‘n opsie nie.

 

So, hoe gaan dit in Suriname?

Wel, dieselfde-anders …

Dit maak nie saak in watter taal of land ons woon nie, ons is lief vir ons mense, ons diere en ons Here.  Deur die liefdestonele in die strate, die troeteldiere-bande en samesyn oor tale, gewoontes en kulture heen het ek ‘n besef is daar tog ‘n verstandhouding tussen die Babelse verwarring.

Liefde bly dieselfde in enige taal.

Sammy die Hond

Advertisements

One Reply to “Liefde in Enige Taal”

  1. My liefste sussie, jy skryf pragtig en elke keer as ek jou blog lees, hoor ek jou stem en sien hoe jou gesig saampraat. Jy skryf fantasties en ek hoor sommer jou hartstaal! Elke keer is ek tranerig daarna, en wonder hoe lank voordat ons weer gin en tonic oppie plaas gaan kan drink? Of ‘n koppie tee onder die akkerboom? Ek’s lief vir jou en mis jou baie.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s