39 Asbliksakke, 310 Melktertjies, 80 Dae & 42 Balonne

Wie sou nou ooit kon dink: 39 + 310 + 80 = 42.

10 April 2019

My verjaarsdag! Oe, ek is MAL oor verjaar!!! Ek is veral mal oor verassings partytjies, soveel so dat ek maklik my eie ‘surprise party’ reël sonder om te blik of te bloos!

Spottende laai ek die meisies by die skool af en sê “Geniet julle 77e dag in Suriname!” Nodeloos om te sê werk ons toe dadelik uit hoe lank is ons nou eintlik hier: presies 80 dae.

Ek is vandag 42 jaar oud.
Ons woon al 80 dae in ‘n nuwe land.
Gisteraand het ek die 39e swartsak uit die sakjedoos gehaal.
Bo almal se verwagtinge het ek 310 melktertjies by die skool bedien.
Ek is wakker gemaak met ‘n kamer vol 42 balonne, ‘n bruismeel koek en ‘n koppie koffie … in ‘n koppie met ‘n piering wat nie pas nie!

Wat beteken dit alles?

Dit beteken ons het al 39 sakke se kos verorber en gemors weggegooi. Ons lewe in die nuwe huis. Herwinning is ‘n absolute ‘rumour’, jy lees nie eers in die koerant daarvan nie! Wat jy nie gebruik nie, gooi jy weg. Die sakke het stories om te vertel van skooltake, kosblikke wat in ‘n tas vergeet is, leë biltongsakkies van Suid Afrika, ‘n bos blomme wat op die eetkamer tafel gepronk het, die melktert-kommissie, glasbotteltjies wat bolognaise of alfreddo heet en ook ‘n leë bottel waspoeier. ‘n Hele paar leë blikkies Citronella ‘Insect repellent” is al teen die muskiete ingespan en verskeie verlepte slaaiblare, ontbyt papbokse en die lekker sjokelade bewyse saam met ‘n Sondag aand fliek. Spaanse huiswerk en Geography opsommings is alles oppad na wie-weet-waar!

Ons het al 39 sakke vol stories en lewe laat wegry. Ons ‘recycle’ wel – ‘n klomp nuwe ‘memories’ in fotos om weer en weer te beleef.

melktertjies.jpg

As dit nie vir die foto’s was nie, sou niemand seker die 310 melktertjies-verhaal geglo het nie! Ons skool hou jaarliks ‘n ‘Food Fair’ vir liefdadigheid: ongeveer 1000 mense betaal toegang en kan dan proe van al die verskillende tafels wat lande regoor die wêreld verteenwoordig. Natuurlik gaan ons trots Suid Afrikaans saam met Mnr Egbert van Limpopo ‘n tafel beman. Ek het gedink ek sal dit mooi dek met doilies en koppies en pierings – so regte koek en tee tafel – waar slegs melktertjies bedien gaan word. By die ‘China Shop’ kry mens alles!

Nie eenkeer het ek gedink ek gaan self die melktertjies moet bak nie!!!

My normale hulpbronne en ‘back up’ planne was almal onsuksesvol! Fernandes, die plaaslike en enigste bakkeij bak slegs op bestelling vanaf hulle eie resepte! Die mense wat ek al leerken het is almal besig met hulle eie tafels. Die nagmerries is nie ‘n liegstorie nie: ek skrik wakker as die rook uit die oond trek en die swart gebrande stukkies in die melktertjies rondbeweeg, om nie eers van die nare klein kindertjies te praat wat my melktertjies blatant uitspoeg nie!

Ek kan nie! EK KAN NIE? Ek kan natuurlik nie sê “Ek kan nie!” – dit klink soos ‘n ‘failure’ en ek vat liewers gebrande melktertjies as ‘ek kan nie’ skooltoe.

‘n Week voor die tyd sit ek vir aandete my proeflopie voor. Ek het nog nooit aan my eie kos geproe nie … Lyf en die meisies se gesigte verklap genoeg! Ook maar ‘n skaamtelose span die drie: hulle eet toe die hele baksel op voor die son sak!

My glimlag is so soos ‘n melktert! Fernandes sou nie eers met die sukses kon kompeteer nie!

Ek moes eenvoudig al my vrese en angs vir die kombuis saam met die eierdoppe en leë melkbottels in die asblik gooi! Ek bak uiteindelik nie net ‘n 100 melktertjies soos versoek nie, maar sommer 310. As daar nou iets is wat ons Suid Afrikaners nie doen nie, is dit om te min van ‘n ding voor te sit! Ons tafel het gehou tot op die einde en die klein kindertjies uit my nagmerrie het teruggekom vir nog!!

Lyf se braaivermoëns by ‘n vorige funksie het vir hom ‘n braaitang gewen by die Hollandse tafel terwyl ons Suid Afrikaanse tafel lekker tussen tacos en nachos gekuier het by die Mexikaanse tafel langsaan … bure sonder mure!!

foodfair.jpg

Kos bring mense bymekaar: hier in die vreemde het ek dit nou meer gesien as ooit tevore.

balonne.jpg

Die baksukses in ons gesin was egter van korte duur toe Callie my Ma se flopvrye sjokelade koek met bruismeel ipv koekmeel in die oond druk. My 42 verjaarsdag het begin met ‘n kamer vol balonne (met spesiale dank aan Emmie en haar fantastiese longkapasiteit) en ‘n hooggerysde sjokelade koek vriendelik bedien met ‘n bottel Nutella, ‘n koekvurkie en ‘n bottermes.

Dit was die perfekte-onperfekte dag! Lyf en my Tweelingsussie was nie hier nie … en tog was ek omring deur mense. My foon se battery het nie gehou tussen die boodskappe en oproepe nie, waarvan Lyf die helfte bygedra het. Die meisies het koffie in koppies met pierings aangedra, amper net soos ek daarvan hou! (Wie drink dan nou uit ‘n koppie as die piering nie pas nie? Wel … ek doen! Ek moes eenvoudig my OCD laat vaar as ek ooit ‘n koppie koffie uit Callie wil kry!)

Twee weke later het ons nog die inloopkas oopgemaak en balonne ‘negotiate’ om by ons skoene uit te kom! Twee weke later het ons besef niemand gaan die koek verder eet nie! Asbliksak 40 is weggestuur met gebarse balonne en Callie se ‘left over’ bruismeelkoek.

Inderdaad: 120 – 60 = 30.

1 Mei 2019

Vandag is ons alreeds 4 maande hier en het baie stories bymekaar gemaak om te vertel soos ons die 60 slapies aftel voor ons weer in Suid Afrika gaan kuier. So ampertjies ‘n maand gaan waarskynlik te kort wees en iewers gaan ons begin verlang na ons eie bed en ons eie stort in ons eie huis hier in Paramaribo.

Ons het by mense gaan eet wat die tafel vir ons dek en buite op die stoep gaan sit. Los ons sowaar by hulle etenstafel met hulle vreemde kos asof dit die normaalste ding op die aarde is.

Ons het gaan sokker kyk waar almal die vleis op die braaier los, blykbaar vir Holland skree in absolute stilte. Lyf het die braaitang oorgeneem sodat die kinders kan kos kry en ons het gewonder wat hulle sou doen as ons Huis Herfsblaar sou invlieg om te kom rugby kyk.

Ons het uiteindelik ‘n wonderlike restaurant, BuitenGewoon, opgespoor wat nie Thai of Chinees of Jawanese of Indian op ‘n spyskaart het nie. Die enigste normale restaurant in ons opinie!

Ons het geleer om te sê “Goede Morge, hoe gaat het?” en “Fijne dag” as ons groet. Ons verstaan van “Dank u wel” in plaas van Dankie en “Pardon” in ‘n winkel, nie ekskuus nie.

Emmie is die meisje met die blonde hare en Callie is die stil, slim meisie waaroor almal wonder.

Ons was by ‘n Hindustanie troue vol vreemde rituele en roetines waar ons niks verstaan het nie.

Lyf is blykbaar ‘n teddiebeer sê een vrou en ek … ek moes vir Nossie groet en leer om weer op Lizel te reageer.

Ons het Amsterdam op wiele gaan verken en gaan skilpaaie kyk op ‘n klein verlore eiland van Suriname.

Amsterdam.jpg

Strate word riviere na swaar reën en net ons dink dit is vreemd; ons kinders swem in die strate en die ‘locals’ dink ons is vreemd!

Swem in straat.jpeg

Ons is meester verkeervlegters wat eenkeer hoot om dankie te sê en tweekeer om vir ‘n plek te vra.

Ons verlang party dae dat dit pyn, maar ons leer om gelukkig te wees waar ons is.

My somme is tog reg:

39 asbliksakke + 310 melktertjies + 80 dae = 42 jaar oud in Suriname.

120 dae – 60 slapies = 30 dae in Suid Afrika.

42 jaar + 30 dae in Suid Afrika = ons nuwe lewe in ‘n klein derdewêreld landjie in Suid Amerika genaamd Suriname!

Advertisements

3 Replies to “39 Asbliksakke, 310 Melktertjies, 80 Dae & 42 Balonne”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s