Die stilte verlam my.

Een jaar gelede.

“Go Emmie!!!  Go – derde base!  Go!!  Nee wag!! STOP, bly op drie!!!”

“Nossie!  Kom uit die veld uit!  Jy moet agter DIE lyn bly!!”

Verbaas kyk ek agtertoe en sien ek het sowaar myself weereens tot binne in die speelveld ondersteun!

Vir veiligheidsredes is ek dus verban om in die voortou van ondersteuners te staan, daar moes altyd iemand voor my staan … ‘not out of choice’, Berdine het gesorg dat sy of haar suster naby is en my uit die veld te hou!

As dit nie sagtebal was nie, was dit netbal seisoen.  Natuurlik was die dae gevul met koor en skool, altyd oppad iewers heen, nog huiswerk, nog leerwerk.  Middae was besig en vol en dit is baie algemeen om ouers te hoor sê-kla hoe BESIG hulle lewe is.

Daar was ‘n Ma by die skoolhek om te groet en geselskap buite die saal as jy vir jou kinders wag.

Deel van die besige Suid Afrikaanse lewe was ‘n koffie-vriendin, ‘n braai en familie en vriende by wie jou nog moet uitkom.

TV kyk was nog altyd beperk in ons huis, behalwe party naweke of ‘n TV-binge dag in vakansies.

Die lewe in Suid Afrika was besig, bekend-besig, rondjaag-beplan-besig.

Een maand gelede.

Hier is Suriname bestaan daar nie besig nie, niemand jaag nie.  Hier is nie dieselfde dryfkrag en mededinging vir goeie rapporte, sport prestasies of eendag se universiteit nie.

Ek het gedink met my realistiese uitkyk, dat alles nie altyd sal goedgaan nie, was ek voorbereid.  Meeste dinge is tog dieselfde-anders as in Suid Afrika.

Die meisies gaan nogsteeds skooltoe elke dag, na ‘n ‘no-pressure’ zone.  Wat nie vandag klaar is, kan jy môre doen.  Die meeste huiswerk sluit dalk 10 somme in.  Uit die enigste Engelse skool met 140 kinders in ‘n Nederlandse kolonie, is daar nie genoeg kinders om ‘n sokkerspan aanmekaar te sit nie.  Daar is nie ‘n Ma om by die skoolhek te waai nie, wat nog te sê van groet.  Jy ry by die agterste hek in, laai af by die ingang en weer uit by die voorste hek.  Hulle leer nie meer aanhoudend nie en het geen druk van ‘n onderwyser om te presteer nie.

Met soveel meer tyd op hande het ek nie skielik ‘n bo-baas kok geword nie, inteendeel.  Kosmaak was nog altyd direk gekoppel aan my emosionele stand.  My emosionele stand is laag.  Bitter laag.  Onverwags en onbekend laag.

Ons huisie is so pragtig, klein en snoesig.  Ons huis is lig en oop.  Twee ure en dit is silwerskoon.  Ek het egter nie oornag ‘n liefhebber geword van huisskoonmaak nie … stemme in my kop vertel my dat ek tot niks gekom het nie: goed genoeg vir ‘n besem en ‘n pot.  As die meisies van die skool afkom is die wasgoed, huis en skottelgoed afgehandel … aanvanklik.

Ek het uiteindelik moed bymekaar geskraap om my hare by een van die hareKAPPERS te gaan sny.  Kan jy hoor hoe HARD is die Kapper gedeelte in die woord?  Dit skreeu op my … die hareKAPPER het haar bes gedoen terwyl sy my vertel hoe hulle eintlik net gay-vrouens se hare sny omdat vrouens in Suriname se kultuur lang hare dra … en dit is hoe ek daar uitstap.  ‘n Straight vrou met ‘n Gay kapsel.

Skielik was ek heeltyd bang.  In ‘n land waar 17 huisbrake in een jaar plaasgevind het is ek bang???  My brein sê vir my dit is gevaarlik omdat dit soos gevaarlike gebiede in Suid Afrika lyk.  Waar ons gewoon en skoolgegaan het was eerstewêreld, die gevaarliker zones lyk soos hierdie: derde wêreld.  Die derde wêreld gebiede is nie noodwendig veilig vir die eerste wêreld bewoners nie.  Suid Afrika – ‘n Reënboognasie met eerste, tweede en derdeklas verblyf!

Ek het my ‘to-do’ lysies, ek het woorde en stories in my kop, daar is drie vakansies wat beplan moet word en iemand gaan moet melktertjies bak vir die ‘Food Fair’ in April … maar ek kry niks gedoen nie.  Wanneer ek in ons huis instap oorweldig die stilte my.  Ek kry niks gedoen nie want ek is eenvoudig nie lus nie.  Ek kan niks op my lysie aftick nie, niks is in elke geval dringend nie en daar is nog soveel ure oor waarin ek dit kan doen … ek kan nie blog nie, ek kan nie vee nie, ek kan nie kosmaak nie.  Ek het niks om te vertel nie en die meisies is nou al moeg vir my geselskap.  My geselskap is ‘n nuwe series wat help om die tyd verby te laat gaan.  Die horlosie tik stadig.  Te stadig.


‘n Onverwagte, Vyandige Vriend.

Hier, op ons avontuur na ‘n nuwe land, maak ek kennis met ‘n Donker Gestalte wat jou hande vasbind, lood in jou skoene gooi en jou wêreld se lig steel.  Dit steel jou idees.  Dit steel jou lus.  Dit steel jou persoonlikheid.  Dit oordonder jou positiewe gedagtes.  Die Donker Gestalte praat heeldag met jou, redeneer en baklei oor wat jy wil doen en nie voor lus het nie, wat jy moet doen maar heeltyd uitstel.

Die stilte verlam my.

Die niksdoen delete my.

Die moet doen verveel my.

Die alleen oorweldig my.

Die Donker Gestalte was besig om my onder te kry.


Twee weke gelede.

Na ‘n week se ry van die een kitsbank na die volgende het ons uiteindelik genoeg kontant getrek om vir die meisies fietse te koop.  Die idee is om van nou af skooltoe en winkel toe te ry; ons gaan die wêreld leef en ontdek op ons fietse.

Oppad huistoe stop Lyf egter by iemand anders se huis in ons kompleks en sê “Klim uit, kom saam!”  Ons kyk na hom met groot oë soos hy selfvoldaan na die voordeur toe stap en die klokkie lui.  Harriet maak die deur oop.  Sy is gewapen met ‘n pragtige glimlag, drie maande langer se ervaring in Suriname se stilte as ek … maar bo alles!  Expat-vrouwees Ervaring.

Soos Emmie nie wou kom nie, het haar seun, Thomas, uiteindelik aangepas in die nuwe skool met nuwe tale en meestal donkerkleurige mense.

Callie kon asossieër met 16 jarige Paul se frustrasies van ‘n stadige-pas skool waar niemand dink aan universiteit en ‘n loopbaan nie.

Harriet het drie maande se donkerte van alleen wees en lus vir niks nie, oorkom.

Soos altyd het Lyf vir my uitgekyk.  Die Here het geweet my ridder sal op ‘n mountainbike rondry, my liefhê en oppas waar ons ookal gaan.  Lyf het raakgesien wat ek probeer wegsteek, hoe ek probeer sterk wees en baklei teen vreemde emosies wat nie sinmaak nie.


Vandag.

Ek herhinner myself ons is nou eers twee en ‘n half maande hier.

Die uitstappie na ‘n Plantasie saam met 8 ander Expat vrouens het my weer energie gegee, my trots teruggebring vir ‘n skoon huis en om minder smaaklike aandetes met oorgawe en selfvertroue te bedien.  Vrouens wat ook in ‘n nuwe land met ‘n nuwe taal en vreemde winkels moes leer aanpas, inpas en lewe.  Met kinders wat sukkel, maatjies mis en in duidelike terme vir jou vertel hoe aaklig dit is.

Ek kan die hele dag sit en myself vertel hoeveel daar is om voor dankbaar te wees, hoe voorreg dit is om na ‘n ander land toe te kon kom vir soveel redes, hoe absoluut ongelooflik dit was om ‘n betaalde vakansie in Amsterdam te kon kry en nou beplan vir Disney World!  Niks het my laat beter of ‘useful’ voel nie.

Dankie vir ‘n Harriet.  “Lizel, this is how you should do it.  There is no other way to survive an expat placement, be a good mom, a good wife, good housekeeper and to love yourself.  You need people!”


Skielik besig.

Intussen het ek ‘n tydelike werkie gekry.

Ek het uiteindelik genoeg energie gehad om die Nederlandse online kursus te begin, want daar is nou motivering om Nederlands te praat met die Expat-girls.

Die meisies het ingeskakel by groepklasse vir Thaibox en eenkeer ‘n week is dit deurry na OnStage vir drie ure se sing, dans en drama waar hulle hopenlik kan deel word van ‘n produksie later in die jaar.  Wagtend sit getroue ma’s en gesels.

Daar is vlugte om te boek, akkommodasie om te reël, vakansies op te beplan.

Daar is ‘n klankbord vir my af dae en ‘n groep vrouens wat presies dieselfde aanpassings dilemmas as ek beleef het.

Ek weet watter kitsbanke het altyd geld en watter om permanent te vermy.  Ek weet waar om amper alles te kry, al is dit nie onder Checkers se een dak nie.

My brein het aan die omgewing gewoond geraak en ons het nog nooit so veilig gevoel nie.

Dalk het fietsry skooltoe nie gerealiseer nie, maar Peperpot Natuurreservaat kan op voet of fiets verken word.


Sê dit tog net
!

Soms is die lewe oorweldigend!  Hoe ek ookal probeer het, aanpassings-depressie het my beetgekry en verlam.

My rolstoel het nie wiele gehad nie, maar ek was vasgekluister daarin.

My vyande: stilte en alleenwees.

Hoekom ek skielik gewig optel, kan ek nie verklaar nie, maar ek kan daarmee cope.

Nie almal hou kontak nie en nie almal verlang nie … party was seisoen-mense wat ek moes agterlaat.  Ander is vir-altyd mense waarvan jy min hoor maar weet hulle is daar.  Die 24-7 vriendinne en familie kuier amper weekliks oor ‘n Whatsapp-call.  Verskillende mense, verskillende verlange, verskillende verhoudings!  Alles is OK!

Dinge gaan nie loop soos ek hoop nie en dit was nie anders in Suid Afrika nie.  ‘Life happens.  People happen. Get up and Face it.”  Daar is nie ‘n ander manier nie, maar moenie jouself probeer oortuig dat jy dit alleen kan doen nie.

Niemand kan alleen wees nie.  Niemand moet alleen wees nie.

Somtyds is jou gesin nie genoeg nie!  Ons vier het mekaar, maar ons kort ook almal iemand anders.  Ons verlang na verskillende mense, verskillende kos en verskillende dinge en maniere in Suid Afrika.


Mari wag vir my
.

‘n Blou orgideë is in die fiets se mandjie gelaai, Mari is nou drie weke hier met ‘n beperkte Engelse woordeskat.  Sy kan nie bestuur nie en haar twee Kanadese seuntjies kan alleenlik Frans praat.  Sy kom slegs uit wanneer haar man naweke tuis is.

Mari het nou ‘n Harriet nodig, ‘n Lyf wat vir haar uitkyk voordat die stilte haar verlam en in ‘n donker rolstoel vaskluister.

Time to return a favor. 

 

Advertisements

2 Replies to “Die stilte verlam my.”

  1. Sussie dis so pragtig en hartverskeurend. Ai hoe wens ek dat ek saam met jou kon wees al was dit net ‘n week van jou ‘journey’ om dit makliker te maak. Ek is so trots op jou en my hart breek vir jou swaarkry om hierdie ‘journey’ te voltooi. Jy inspireer ons almal. Ek is lief vir jou.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s