As die man weg is, Breek die huis

Dit is ‘n welbekende feit dat sodra jou man landuit gaan breek iets by die huis.  Lyf het skaars met sy alie op die vliegtuig geklim toe die reuk van ‘n geblokte drein my tref.  Daar is loo-paper­ by die huurder se drein wat in die oprit afspoel.  Ek weet nou nie hoeveel toiletpapierblokkies te veel is per toiletbesoek nie – maar ek is heeltemal oortuig sy oorskry haar kwota!

Twee dae later erken ek die wedstryd tussen ek en die swembad is beslis: Swembad 1, Nossie 0!  Om die sand in die bodem opgesuig te kry is ver bo my creepy crawley–backwash–blare uitgooi kennis.  Die gawe swembadman het ‘n assesering kom doen en toe vir Sam gestuur om ‘n timer te installeer, die swembad te ‘vacuum’ en tot my stomme verbasing is die swembad so 20 minute later silwerskoon!  Ek bedoel, die swembadmense is miracle workers … nee regtig!

Sam weet dit nog nie, maar wanneer hy die vierde keer terugkom gaan die besproeïng afgaan op drie verskillende stasies wanneer hy die bedrading probeer uitsorteer dat die timer kan werk.  Eers toe ek die swembad se krag by die hoofkragbord af -& aansit het die timer uiteindelik gewerk!

Dit is met ‘n dikbek dat ek die volgende dag vir Goodman ontbied om met my skottelgoedwasser te kom gesels.  Die outjie weier om water uit te pomp!  Ja, Ja!  As die begroting knap is, is dit seker nie prioriteit om jou skottelgoedwasser reg te maak nie … nee!  Wat sê ek?  Ek praat absolute nonsens!  Die skottelgoedwasser is by verre belangriker as die geblokte drein! 

Intussen is Joseph die tuinier is so gaaf om my kar te was en te suig.  Ek wil hom herhinner dat ek oor ‘n paar minute moet ry om my middagrondtes te doen … maar Joseph is skoonveld.  Ek roep … stilte!  Ek stap rondom die huis, maar Joseph is weg.  Ek wil vir Johannah die bediende vra of sy vir Joseph gesien het, maar daar is geen teken van Johannah nie.  Paniek vat my beet: het Goodman hulle in sy Lynnwood Appliance Trokkie gelaai – is hy ‘n serial killer?

Ek wil histeries begin roep toe ek die gekonkel ruik … en Goodman het niks hiermee uit te waai nie.  Ek kry vir Joseph en Johannah met bekommerde auras agter in die motorhuis met my persoonlike gereedskapboksie – wat Lyf net met toestemming mag gebruik-, maskingtape … en die stofsuier.  Hulle is besig met ‘n desperate operasie om die stofsuier se lewe te red.  Johannah het die reggekry om die pyp van die stofsuier af te breek asook die elektriese koord uit die masjien uit te trek.  Dit is nie ‘rocket science’ om te verstaan hoe dit gebeur het nie, en ek dink Johannah sal vir ‘n rukkie eers ‘n skoppie en besem moet gebruik!

Intussen reën dit al vir dae aanmekaar.  Ek kry so 22h00 ‘n sms en ‘n foto van die huurder.  Dit lyk of die ceiling enige oomblik gaan uitval soos die water terugstoot op die dak.  Nog ‘n katarsis!

Die oggend het ‘n sms gekry om te hoor of daar so baie miere by ons ook is: het die girl nog nooit van Anttrap gehoor nie?  Dink sy die groen goed op die vloere is mooi??  Nietemin – Anttrap werk nie vir kokkerotte of ander klein aaklige goggatjies wat ek op die kombuisblad kry toe ek ‘n laatnag koffie gaan maak nie.  Die klein grillerige goedjies wag tot die huishouding stil is voordat hulle toeslaan. 

Die perdebynes is aansienlik groter!  Ek sien dit toe ek vir my vriendin koffie aandra stoep toe daardie Saterdag.  Sy sê mens moet hulle met Doom spuit, maar sy het nie gesê wie spuit en wie hardloop nie.  Soos ek halfpad moedeloos my hande in my hare steek en dramaties my kop agteroorgooi vir al die probleme sien ek nog een: ‘n tor het sy pad gekry deur ‘n dakbalk!  Dit lyk soos ‘n perfek geboorde gaatjie!  Die outjies maak een gaatjie en vreet mos van binne af alles op.  Jy dink nog daar is ‘n dakbalk, dan lê daar net stof op die vloer!

Doelbewus kyk ek net anderkant toe: weg van die perdebynes, weg van die tor se gat … reguit in die houtdeur se miernes in.  Waar kom al die goed vandaan?  Was dit nog altyd so?  Hulle het letterlik ‘n sentimeter se deur al opgevreet!

THIS ENDS NOW!!  Dit is duidelik dat sespotiges ‘n komplot smeer om ons huis oor te neem!  No Mercy!  I am coming for you … 

Uit die aard van die saak het ek ‘n skielike, dringende afspraak met Builders Warehouse.  Ek jaag my vriendin skaamteloos weg en ry dadelik.  Ek is nou ‘n Girl on a Mission.

Lyf sê altyd Builders Warehouse is ‘n gevaarlike plek: Ek kon dit nooit verstaan nie, jy gaan dan soontoe om probleme op te los.  Maar dit is juis die gevaar:  soos jy deur die rakke loop om ‘n probleem op te los, besef jy hoeveel ander problem jy het.  Dit is nie net gif nie, dit moet opgespuit word, jy moet jou oë beskerm, jy moet seker maak jy het ‘n masker sodat jy nie perongeluk ‘n sluk gif inkry nie.  Die hoeveelheid oplossings vir my probleme is so oorweldigend ek besluit om die botteltjie gif, safety goggles en spuitkan te vat, die trollie te losen til toe te hardloop.  As ek nie meer goed in my hande kas vashou nie, kan ek dit nie vat nie.  Ek sien die stofsuier naby die til is vandag op afslag, Suzelle se DIY boek klink vandag vir my na ‘n handige idee en ek wonder of ek nie maar weer die trollie moet kry sodat ek alles kan inlaai nie?  Gelukkig roep ‘n kassiere my en red my van my van al die oplossings. 

Daar is nie ‘n oomblik te mors nie: ‘n swartsak is my overall, SPAR se onherwinbare plastieksak pas goed oor my kop, die safety goggles is ‘n perfect fit, en die masker sal help dat die kopbedekking nie afgly nie.  Geen sespotige gaan my vandag vryspring nie.  Met my geel skottelgoedhandskoene besef ek met ‘n skok is ek ‘n komieklike mass murderer.   Ek smeek verGIFnis met elke spuit.  In die dierewêreld moet jy jou terrein merk – ek gebruik net nie my blaas nie, maar ‘n kan!

Lyf is so week weg toe ons al drie siek word.  Die Vrydag oggend het ek met ‘n seerkeel opgestaan en vrot van die verkoue die aand in die bed gaan klim.  Twee dae later het Callie skielik begin bewe op die bank: yskoud en spierwit.  Teen Dinsdag bel die skool en kry ek vir Emmie so bleek soos ‘n lyk met ‘n koors van 40 in die siekekamer.  ‘n Hele week se verlang-verkoues. 

As mens se neus mos nou geblok is, dan ruik dinge maar anders.  So die vreemde reuk in die badkamer het my nie dadelik gepla nie.  Maar toe Johannah opdaag is dit duidelik dat iets iewers doodgegaan het.  Ons soektog na ‘n dooie rot begin.

Ons soektog sluit in die kas uitpak, was en sommer gif – net vir ingeval die bendes besluit het om badkamer toe te trek.  Volgende plek waar ons kyk is in die badkamer lig.  Ek het al gesien hoe duisende klein goggatjies uit daai lig val as Lyf die gloeilamp ruil, so ek en Johannah trek weer ‘n keer ons werkspakkie aan: Swartsak oor die klere, safety goggles en ‘n onherwinbare SPAR sak oor ons koppe en maskers om te keer dat geen dooie miggie ingesluk word nie!  Uiteindelik het ons die vier skroewe so kop onderstebo losgekry; dit is nie dat ek nie met ‘n skroewedraaier kan werk nie, maar so kop onderstebo op die wankelende leer terwyl Johannah heeltyd advies hier van onderaf gee het my so effens gedisoriëreer.  Die ligdeksel kry sy dosis seep en water en ‘n ordentlike lagie gif.  Dit vat nog langer om die deksel terug te kry; behalwe dat ek weer kop onderstebo moet werk, maak die skottelgoedhandskoene skroewe vasdraai moeiliker.  Maar ek raak nie aan gif nie!

Volgende aan die beurt is die extractor fan in die stort.  Ook hier sukkel ons en kry niks dood of stink nie.  Johannah is blykbaar baie opgewonde om alles eers te was en silwerskoon terug te sit.

Ons het tot die slotsom gekom dat daar ‘n dooie rot in die badkamer se dak is.  Saam het ons besluit om uit te hou tot Joseph die tuinier Vrydag kom want nie een van ons gaan in ‘n donker dak met rotte soek na ‘n lyk nie.

Saam met Vrydag het die reën gekom.  Die woonstel se dak lek al hoe erger en die tuin is papnat – so Joseph kom nie vandag werk toe nie.  Ek het geen ander keuse as om die badkamer te vermy die hele naweek nie.

Maandag gaan ek in om die wasgoed te kry en trek sommer die handdoeke so van die reëlings af.  Die vloerhanddoek kom op my gesig te lande … saam met die dooie rot!

Eers is ek geskok!  Toe gril ek vreeslik vir die dooie rot in my gesig.  Maar ek sit uiteindelik plat op die badkamervloer en lag soos die storie in my gedagtes uitgepluis word … 

Sien die dooie rot kom van Sophia die Kat af.  Die nag toe Callie siek geword het, het die bure gekuier en geraas en ek het die badkamer deur toegemaak, onwetend dat Sophia  die kat binne was en toe vasgekeer is met ‘n groot nood.  Emma het nooit die handdoek opgetel nadat sy gestort het nie … wat moes Sophia nou ook anders doen as haar sandbak ruil vir die handdoek?

Ons het nooit ‘n skroewedraaier, handskoene of sunlight seep nodig gehad om die rot op te spoor nie … ons moes net die handdoeke was!

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s