Jou Koffiebeker langs myne

Party mense het so baie vriendinne, maar ek … wel?  Ek is seker ek het ook baie vriendinne, ek kuier net omtrent nooit by niemand nie.

Nie omdat ek niemand nodig het nie en ook nie omdat ek nie die geselskap geniet nie … maar omdat Lyf my beste vriendin is.

Ons kan oor ‘n koppie koffie sit en gesels vir ure; ek babbel soos ‘n regte meisiekind en Lyf?  Wel, hy luister en knik en sê so nou en dan iets.  Ander kere trek hy los met ‘n storie wat hy ook maar ver kan gaan uithaal (nes ‘n girl), en ek moet my woorde aanhoudend insluk en vasbyt, want mans is baie sensitief om ‘ingechip’ te word.

As ‘n klomp ‘girls’ gesels kan jy sommer so in die middel van ‘n sin jou gedagte deel sonder om die ander een te laat sleg voel.  Sy gaan in elke geval voort asof jy nooit ‘n woord gesê het nie, al het sy elke woord gehoor en kanse is goed dat sy aan die einde van haar sin daarop kommentaar sal lewer.  Dit is ‘n ‘skill’ wat ek nou nog vir Lyf probeer aanleer: net omdat ek ook iets te sê het in die middel van sy storie beteken nie ek stel nie belang nie, dit beteken eintlik JUIS dat ek baie aandagtig luister en deelneem aan die gesprek.

Toe ons eie storie 20 jaar gelede begin het, was dit oor ‘n klomp ‘Take Away’ koffies op die langpad.  Hy was aanvanklik heeltemal stom en stil geskrik dat iemand so baie kon praat.  Ek persoonlik dink nou nie ek praat soveel nonsens nie, ek het net so baie stories gehad om te vertel.  Hy het my mos nie geken nie, so ek het ten minste 20 jaar gehad om in woorde om te sit.  Van Pretoria na Bloemfontein het ek die Vrystaatse vlakste vir hom ingekleur.  Van die huis af tot in Germiston het ek hom wakker gehou met kleurvolle vertellings van my lewe en opinies.  Ek het geweet Lyf is die een, want dit was die eerste keer wat ek verlief was en nie met verliefde stomheid geslaan is nie.

Lyf was veral verstom oor die diep verhale wat ek uit ‘n liedjie vir hom kon vertel.  Vir hom was dit ‘n mooi ‘song’, ‘n ‘nice song’, een van sy top 10 of nie sy smaak nie.  Tot hy my ontmoet het. Musiek het ‘n ander betekenis gekry!

Sien ‘n liedjie – ‘n liedjie is nie net woorde en note nie!  O Nee!  Dan verstaan jy niks van musiek nie.

Wanneer ek ‘n liedjie hoor, speel ‘n hele fliek in my gedagtes af.  Vers vir vers word die karakers helder, die toneel waar die reën oor haar wange loop en die ridder op sy groot, sterk, swart perd opdaag. Hoe hy haar net betyds op sy perd tel voordat sy met ‘n pyl en boog deur die jaloerse prins geskiet word: if he can’t have her, no one can!!!  Teen vers drie is hulle bevry uit die grot waar hulle die hele tweede vers al wegkruip en is die prins in sy jaloerse oorlog oorlede.  Die Koning het besef daar is nie ‘n beter opvolger as die held nie en het sy jonger, onbeskofte seun onteien van die troon.  Dit is in die vierde vers waar hy gekroon word as die nuwe Koning wanneer die ou Koning sy laaste asem uitblaas.  Die liedjie eindig waar almal ‘happily ever after’ moet wees … maar …  Daar is nog ‘n liedjie – die onterfde seun is nou ‘n jong man, vrot van die woede en het gekom om wraak te neem.

Met musiek in die kar hou die stories nooit op nie.

Saans, as die meisies in die bed is wag my aandkoffie op die sitkamertafeltjie.  Ons dag se opvangtyd.  Soms is dit in stilte, ek en my Lyf.  Maar meeste van die tyd is dit Lyf se beurt om te praat.  Hy is my koerant!  Lyf verstaan die politiek wat ek nie in die koerant raaklees nie.  Lyf sensor die inligting sodat my bloedruk nie die hoogte inskiet nie.  Lyf dra die slegste nuus met kalmte oor.  Dit is vir my so lekker as Lyf so koerant ‘lees’.

Die oggendkoffie – oe! My absolutur gunsteling ding in die hele wêreld.  Koffie in die bed: swart, geen suiker, in ‘n koppie met ‘n piering en ‘n klein beskuitjie aan die linkerkant.  As my wekker afgaan en ek hoor nie die ketel kook nie, laat ek vir Lyf baie briendelik weet ek moet nou opstaan. Ek sal dit nou nie arrogant noem nie, eerder … gaaf!  Ek maak seker Lyf weet hy kan maar ‘n koffietjie bring – ‘n soentjie of ‘n koffie oor ‘n whatsapp is Lyf se ‘cue’.

Lyf glimlag as hy die vroegoggend boodskap kry – hy het al gesit en wag daarvoor. Ek glimlag tevrede as ek die ketel hoor … dit is soos ‘n geskenk elke liewe oggend as Lyf my kom wakker maak met ‘n koffie in die bed.  Lyf het al geleer om so min as moontlik te praat, hy maak net seker ek sit regop, want opstaan is nou nie een van my sterk punte nie en ek is in elke geval eers teen 09:00 heeltemal wakker. Kosblikke en ontbyt wag vir niemand nie!

Lyf laai soggens sy meisies by hulle skole af.  Dit is hulle tyd, geselstyd, alleentyd met Pappa.  Wanneer Lyf terugkom is dit ons ‘oggend meeting koffie’-tyd.  Ons bespreek die dagboek en die dag en … dinge!  Vanoggend het ons die vlugte bespreek, die tydsverskil tussen hier en daar … daar waarheen my Lyf gevlieg het.

Soms het mens nie baie woorde nodig nie.  ‘n ‘Latte’ op die lughawe sê genoeg!  Die vliegtuigkaartjie is Lyf se sak is vanselfsprekend.  Die paspoort en die geelkaart het klaargepraat.   Ek sal net-nou alleen by die voordeur instap.

Ons koffiebekers staan nog daar soos ons dit vanoggend gelos het … ek kry myself nie om dit weg te vat nie.  Dit is soos ‘n laaste keer se nuuslees op ons bank, ons koffie-chat zone!  Maande voordat ons weer hier sal sit.  Maande voordat ek weer teen my Lyf kan lê en vertel en gesels met my beste vriend, my beste vriendin.  My Lyf!

Vanaand weet ek nie wat in die koerante staan nie.

Môre oggend moet ek self my koffie maak.

Maar vir nou … net nog ‘n aand, los ek vir eers jou koffiebeker langs myne.

Advertisements

3 Replies to “Jou Koffiebeker langs myne”

  1. Dit wil vir my so al voorkom vir iemand wat nie kan blog nie, kan jy blog. Of dalf is ek op die oomblik te goedgunstig teenoor, van al die kafeine in my sisteem…

    As student was ons 4 lede van ons manskoshuis (eintlik was dit seuens koshuis) wat die aand uit it. ons alam l is wel der tale en kan ‘n argument voer – ons is mos studente. Ne voor die N2 aansluting in PE (ons was by UPE) is daar so ‘n dippie maar daar is die spoedgrens nog 60 km ‘n uur. Ons hits die bestuurder aan en hy gee vet – ek reken so 90 km ‘n uur deur die dippie. Ons gaan verby die 120km ‘n uur bord so teen 115km – die Stanza is al oud, maar die spoed verminder in verhouding met die blou ligte wat al nader kom. En skielik is ons doodstil ons almal lyk bleek-doodsbleek. Ons groot bekke is toe (myne in elk geval) – ons almal se eerste ervaring om afgetrek te word. “Lisensie asseblief”. Ons is nie gevra om te blaas nie en ons het nie deur spoed lokval gery nie. Daar is ‘n wit Stanza as gesteel aangemeld vroeer die aand en toe ons shocking geel Stanza (wat enige kleur sal verbloem) so verby die polisievoertuig versnel (nie verkeerspolisie nie) het dit agterdogtig voorgekom. Maar na dit bevestig is dat die bestuurder wel die eienaar is het hulle ons laat gaan. Vir nog so ‘n km of wat in Marine Drive af was on s stil maar toe het dit baie snaaks geraak!
    Dankie vr jou oulike storie wat die gedagtes los gemaak het. dit word dalk nog deel van een of ander post van my. Nou moet ek eers copy en paste!

    Groete Abrie

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s