I will arrest you Madam!

Wat ‘n gawe idee: jy verjaar, bespreek amper die hele Barnyard Theatre vir jou verjaarsdag, nooi ‘n klomp vriendinne en bederf hulle met ‘n aandjie uit.  Asof dit nie gaaf en goed genoeg is nie, gaan alle geskenke vir liefdadigheid.

Hoe kan mens dan nou nee sê?  Buite die skoolhek oorreed ek en Anri* mekaar om tog te gaan, dat die kinders Pa se kos en geselskap sal oorleef en dat ons te midde van nagblind en rigtingbeduiweldgeid wel by die Barnyard sal uitkom.  Dit maak nie saak wie bestuur nie – Ma’s gaan mos nie drink en bestuur nie!?

Teen 13h00 ping my foon onophoudelik – dit klink amper soos die einde van die maand as my aftrekkings afgaan: Ping! Ping! Ping! Ping! Ping!  78 boodskappe vlieg heen en weer tussen ‘n klomp opgewonde vrouens wat ook nooit uitkom nie.  En soos net ons spesie dit kan doen is daar 5 minute later ‘n saamry-klub gereël, die ‘dresscode’ is afgespreek en die AA meeting vir ‘Girls who never get out’ is afgehandel.

Ons vertrek 18h00 – wie weet nou hoe die verkeer gaan lyk as mens in die aand uitgaan?  Ek lyk nog soos vanoggend, net vars lipstiffie – ons is van die vervelige klomp wat nie in neon-80’s-pakkies daar opgedaag het nie.  Ons kom so 19h00 daar aan … en dit is nie as gevolg van verkeer nie; ek sal dit nou ook nie verdwaal noem nie.  Hoe kan ons nou help die straatname is anders as die GPS wat ek jare gelede laas gebruik het?  En as Mevrou Google van lyn af is die eenkeer wat ons haar nou regtig nodig het … ‘well? Then you phone a friend if the husband cannot answer!”

Dit is vreemd om te sien hoe die ‘performers’ buite sit en wyn drink, lyk soos ‘n klomp stout kinders … eintlik lyk hulle so half bekend … met ‘n skok besef ek … die ‘stout meisies’ is dan van die ander ma’s wat ook nooit uitkom nie!   “Opgedress’ soos vir 80’s!  Neon orals, woeste pruike, kopbande en gereed vir partytjie, ‘no doubt’.  Hulle is beslis nie so vervelig soos ons nie, maar ‘Boring’ of de nie!  Ek voel baie gemakliker in my stukkende jean en wit hemp as ‘n tema aan my lyf!

Die volgende ongemaklike stop is die kroeg – die plek waar Lyf gewoonlik die praat -& betaalwerk doen.  Ek bestel ‘n botteltjie met iets soos 5% alcohol, maar verander die bestelling toe Anri en ‘n vreemdeling wat blykbaar deel is van die groep ‘n bottel wyn bestel.  My verantwoordelike-self skop in en ek verander die 5% alcohol na ‘n blikke soda en ons drie deel die wyn.

Wat ‘n prettige lekker sing en dans en kuier aand!  Ek dink by myself hoe ons dit meer moet doen!  Behalwe een Ma wat toelaat dat haar kind haar lewe en besluite regeer, het niemand met hulle kinders gesels nie!  Hulle het te veel pret gehad!  Dit was ons aand!  Lekker musiek, ‘n goeie ‘show’, ‘n lekker bottel wyn (en soda vir my).  ‘n Regte egte af aand!   Behalwe vir die een vrou wie vroeg huistoe moes gaan omdat haar man ‘n liefdevolle ‘curfew’ gestel het, het ons 23h00 met hangskouertjies gegroet en gery!

Ek kom te min uit, dink ek, ons moet dit meer doen!  Net afvat en wees!!

Die pad huistoe was donkerder, stiller, makliker en vinniger … tot waar ons van die hoofweg moes afdraai.  In die Bothalaan afrit se interseksie staan ‘n grys VW Polo met ligte aan, deure oop en blok die interseksie.  Daar is geen manier wat ons die bekende roete ry nie, ons sal maar links moet draai en deur die ander buurt huistoe ry.  Vir die eerste keer in hoe lank gaan ek uit, en ry in ‘n potensiële hijacker in?

Op die punt wil ek noem dat Anri my altyd Nossie genoem het, soos meeste mense, tot so 2/3 dae gelede,  Sy het besluit om my doopnaam te gebruik ‘hence forth’.  Maar te midde van die agterdogtige omstandighede is my doopnaam totaal en al vergete, en is dit net ‘Nossie, jy draai nie hier af nie!”  en “Nossie, dadelik, draai links – ons gaan beslis nie regs draai nie”.  “Nossie, bly net kalm, ons ry ‘n ander pad!”  Die kalm, ‘composed’ Anri gee ononderbroke aanwysings van die enigste ander pad wat ons kan ry.  Bly kalm.  Well done dat jy dadelik raakgesien het.  Bly kalm vir julle altwee se part!  Maar wag … ek is kalm!

Op ‘n highway voel dit vir my altyd veiliger in die nag as deur die paadjies van ‘n buurt – daar is net so baie wegkruipplekke en paadjies en opsies!  So baie opsies van dinge wat verkeerd kan gaan!  Dit is egter nie die tyd om hierdie brokkie angs en verbeelding met Anri te deel nie – ek kry in elke geval nie ‘n woord in nie!

Sy het ook net kalmeer toe ons die blou ligte sien.

“Licence please.”  Ek verstaan nie die agterdogtige uitdrukking op die beampte se gesig nie?  Ek het my lisensie net nou die dag hernu?  Instinktief druk ek die sluitknoppie seker vier, vyf keer.

“Can you please get out of the car Madam?”  Wat?  Die ou is seker mal om te dink ek gaan die veiligheid van my voertuig verlaat – druk die sluitknoppie – en hy is gladnie gelukkig dat ek volstrek weier nie.  Oh my word!  Ek kom te min uit!  En hier word ek nou afgetrek soos ‘n dronkbestuurder!

“Did you have anything to drink?”  Goeie aarde – wat is die regte antwoord?  Ja, net ‘n bietjie?  Nee, nie eintlik nie?  Dankie tog ek het die 5% geruil vir sodawater!

“Will you blow, Madam?”  Vriendelik en met totale selfvertroue sê ek hy kan maar die pypie bring.    Maar in my agterkop is ek ernstig bekommerd!  Hoeveel wyn het ek regtig in tussen die soda?  En hoeveel gaan die wyn op so pypie lees?   Ek meen ek voel ‘fine’, ek het eintlik skaars die wyn geproe, reg?  Dit kan tog nie baie wees nie?  Die hoeveelheid wat ek in het kan tog sekerlik nie eers deur sy ou pypie opgetel word nie?  Ek sluit weer die deure.

“I will arrest you Madam?”  Lyk ek dan gesuip?  Oh my word!  Ek moet vir Lyf bel.   “Just bring it, I said I will blow!” sê ek geirriteerd … asof ek nou ‘n keuse het?  En of ek nou gedrink het of nie, kan ek ‘actually’ weier? Oh my word!  Arrest you Madam?  Hoeveel % wyn het ek in? Skoolblaadjie se hoofopskrif: ma gearresteer vir dronkbestuur!

Intussen is Anri besig om my man te bel!  Haar foon is pap en sy gaan solank vir Lyf bel.  “Nossie, jy klim nie uit nie hoor!  Moenie bekommerd wees nie Nossie, ek bel vir Lyf!”  Maar sy sukkel met my foon en al wat sy op die lyn kry is vir Lyf!  Ons is altwee so onkant gevang dat ek dink haar vingers wil nie lekker dink en druk gelyk nie.  Toe ek later hieroor dink giggel ek so by myself, want ek dink ons altwee het so hard gefokus op kalm en in beheer bly, maar ons senuwees was eintlik klaar!

Bly kalm!   Bly kalm!  Hoeveel moet mens drink vir ‘n 0.5 lesing as jy blaas?  BEL VIR LYF!  Oh my word!  Ek kom te min uit!  

 Dit is nie dat ek siek-afhanklik van Lyf is nie, maar op die huidige oomblik sou ek regtig bly wees as hy hier was.  Lyf sou weet wat is aanvaarbaar en wat nie.  Haaaaaaaaaaaaaa ek wens Lyf was hier. Hoekom bel sy nie vir Lyf nie – wat vat so lank?  Is ons ooit binne ons regte hier!  Moet ons anders optree? 

 “Blow, don’t stop!”  Ek blaas die simpel pypie wat die lid baie teësinnig vir my aangee – dit is duidelik dat hy dit verkies dat ek liewers buite staan en blaas!  Bly kalm.  Hy moenie sien jy’s nervous ook nie – jy lyk blykbaar klaar dronk!  Oh my word!  Ek kom te min uit!  Ek is mos nie dronk nie?  Hoeveel wyn het ek in?  Wat gaan my lesing wees?  Ek blaas maar liggies, dalk is die lesing dan laer? Darem is die pypie in ‘n geseëlde sakkie – dink net hoe grillerig sou dit wees as almal op ‘n aand dieselfde pypie moes blaas?  Dis eintlik snaaks – maar ek vermoed dit is nie nou tyd vir grappies nie – Anri sal my ‘n taai klap gee as ek nou begin grappies maak … en wat sukkel sy so om vir Lyf in die hande te kry?  Maar dit blyk nie genoeg te wees nie en ek wonder of blaas enigsins goed genoeg gaan wees? Wat soek die ou nou eintlik?

 “Madam – I said don’t stop!”  “Don’t stop?”  Ek het mos geblaas!  Jy is nie gesuip nie … flip ek’t nie eers gedrink nie!  Wel ek het, maar bietjie … en hoeveel keer gaan ek in die ding moet blaas?  Hoekom vat Anri so lank?  Slaap hy al?  Is sy foon op ‘silent’?   Ek vermoed ons het nou ‘n man se hulp nodig – blaas is nie genoeg nie!  En sê nou ek is oor die limiet?  Anri het beslis net wyn in, sy kan nie bestuur nie!  

“Blow! Blow! Blow!” skreeu ‘n ander stem!   Hier is nog iemand agter my?  Praat ek vreemd engels?  Is my laatnag aksent gesloer?  Oh my word!  Ek kom te min uit!  Wyn en soda – wat is die lesing vir ‘n glas wyn en soda?  Hoeveel wyn het ek in?  Ek is seker daar was meer soda as wyn?   

Nadat ek die eerste keer nie ordentlik geblaas het nie en steeds weier om uit my kar uit te klim, het die ou toe ‘backup’ geroep en die hele roadblock staan nou by my kar se venster!

“Liefie …” Liefie?  Ek dog sy bel vir Lyf? “Liefie, hulle het vir my en Nossie afgetrek …  “  Ek is eintlik baie beïndruk – in een blaas het sy vir haar man die wie, wat, waar en wanneer van ons situasie gegee … toe sy nou uiteindelik onder druk van ons omstandighede kon bepaal hoe om haar man te bel.    “Ek voel ons word nou harass!  Ek dink jy moet  maar kom!”.

“You may go!”  sê die beampte .  Ek het gesien hoe die pypie ‘n lesing van 0.00 uitskop!  Ek het gevoel hoe ek wil lag en huil en praat en ry op een slag!  Ek het die verbaasde uitdrukking op sy gesig gesien toe hy my lisensie vir my deur die venster gooi!  Ek sê mos ek is ‘fine’.  Daai soda het my uit die tronk uitgehou!  

“Toemaar Liefie.  Ons is fine – ons kom nou huistoe!”  Ek reken Liefie was reeds in sy pajamas oppad en moet nou weer die kar intrek.

Ek kan nie glo hoeveel ons te sê het oor die afgelope 10 minute nie.  Dit bly ongelooflik hoeveel ure ‘n mens in ‘n gesprek kan spandeer aan 10-minute insidente!

Iewers tussen die ‘roadblock’ en Anri se huis het ons emosionele stand van sake omgeruil: Nossie was by die senuweeagtige kardeur uit en ek het weer ‘n doopnaam gekry, sy was in totale beheer en totaal kalm.  Die prokureur het ingeskop en sy dink die insidente stap vir stap deur!  Ek hoor hoe sy reeds besig is om ‘n stewige saak te bou – net vir ingeval!

.. en ek?  Wel ek het onophoudelik begin praat.  Gebabbel en gepraat en gedink en gewonder en ‘n duisend dinge op een slag probeer sê … Bly stil!  Hoekom is haar huis so ver?  Ons is ‘fine’!  Ek soek vir Lyf.  Arrest you!  Arrest me?  Het ek dronk voorgekom of het … die bliksem wou seker ‘n bribe gehad het!!! Skielik maak sy optrede heeltemal sin!  Hy het gehoop ek is oor die limiet sodat hy so bietjie drankgeld vir homself en die res van sy roadblock vriende bymekaar kon maak!  Hoe kon ek dit nie sien nie?  Liefie staan getrou vir sy vroutjie en wag – die verligting duidelik sigbaar op sy gesig in die donker nag.

Daar is egter een oomblik wat ek baie goed onthou!

Die oomblik toe die skok en verligting my beetgekry het.
Daai oomblik toe ek in Lyf se blou oë inkyk en die trane en lag gelyk uitkom.

“Oh my word, Lyf!  Ek gaan nooit weer uit nie!” 

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s