Koekbak met ‘n Flitslig

Tee op die stoep in fyn koppies met pierings, lekker tuisgebakte koek en ‘n blommetjies tafeldoek – net ek en my Vriendin.  Spesiale tye!  Emmie het die laaste blommetjies in die tuin gaan opspoor en hulle staan vrolik in die middel van die tafel.  Die gesprekke is mos maar oppervlakkig, want die meisies drink darem altyd die eerste koppie tee saam – waar anders moet hulle nou leer van vriendinne se gekuier en geklets.

Vir ‘n koffie-drinker is ‘n pot tee natuurlik heeltemal genoeg: ek gaan grou my geheime kits cuppachino’s uit die kas uit en weet die ernstiger gesprekke gaan nou begin.  Die dinge waaroor jy nie voor jou kinders wil gesels nie.

Vandag was ‘n besige oggend: vroeg oggend se training, die kombuis skoonkry en die skottelgoed uitsorteer voordat Vriendin opdaag.  Ek het vinnig ‘n plant uitgeplant en alles is reg vir Lyf om die karre te was.

Ek sien hoe Vriendin die tuisgebakte koek bewonder en ek besef … in haar kombuis is dit heeltemal te donker om ‘n koek te bak.  Sy is vasgekeer in haar eie donker gang sonder elektrisiteit en iets so klein soos koekbak is net te veel gevra. Ek kan nie veel meer doen vandag as net ‘n FLITSLIG wees nie.

Ek ken tye waar koekbak na verskriklike moeite geklink het, hoe ‘n bietjie skottelgoed na ‘n enorme taak gelyk het.  Tuinwerk het die grootste straf onder die warm son geword en karwas … dit is nou maar iets waarvoor mens eerder sal betaal.

Ek onthou die lig in my wêreld.
Ek onthou die diep donker in my wêreld.
Altwee plekke is maklik en moeilik om in te wees.
In die een is lag maklik, is nie ander kom frons makliker!
In die een wêreld is stilte ‘n juweel … maar in die donker is ‘n kamer vol stemme ‘n baie eensame plek.

In die ligkant van mens se lewe is dit maklik om te lag, die grappies rol van jou mou af, jy sien die mooi in alles en jy soek die mooi in almal.  Jy het kleurvolle vertellings oor eenvoudige gebeurtenisse hoe jy iemand se dag gemaak het met jou gemaklike, opgewonde teenwoordigheid.

In ‘n donker wêreld is lag ‘n doelbewuste besluit!  Vir ‘n onverklaarbare rede sien jy almal se foute en herhinner ‘n stemmetjie jou aanhoudend aan jou probleme, die dinge wat jy nie kan bekostig nie, jou swaarkry en alles aan jou wat nie perfek is nie.  Daai stem wat so op jou skreeu, met jou baklei, met jou redeneer, jou aandag aftrek.

Wanneer jy in die lig lewe is jy ‘n lig in ander se lewe!  Jy hoor dit.  Jy sien dit.  Jy voel dit.  Jou hart borrel.

Maar wanneer die donker toesak is ander se lewenslus net nog iets om te dra, iets wat jou uitput, irriteer … want dit maak nie saak wie wat sê of doen nie … dit bly eenvoudig donker.  Jy loop in ‘n eindelose donker gang en al hoor jy van ‘n lig aan die einde van ‘n tonnel, kan jy dit eenvoudig net nie sien nie!

Dit help nie om haar te sê dit is maklik nie, want om te sien hoe jy maklik optel, aan die kant maak en wegsit maak haar moeg!  Hoekom is dit soveel moeite vir haar?  Sy is ‘n ‘failure’.

In die lig is alles ligter!  Jy loop met ‘n huppel in jou stap asof jy ‘springs’ in jou skoene het!  As jy so aangestap kom skyn die son so bietjie skerper en daar waai altyd ‘n windjie deur jou hare.  Jy lyk en voel soos ‘n lentebriesie!  God se lied in jou hart is so duidelik ander kan dit sien, dit hou jou jonk van gees en mooi van aangesig.

In die donker moet jy letterlik daarop fokus om die frons te ontspan.  Jy voel skuldig want jy weet God sorg vir jou, jy weet jy is bevoorreg om kinders te hê, ‘n goeie man, dalk self ‘n werk en ‘n duisend ander dinge om voor dankbaar te wees … maar die dankbaar bring net skuldgevoelens, nie verligting nie, nie uitkoms nie … dit bly donker.

Jy kan nie verstaan hoe ‘n ander vrou dit regkry om haar arms so gemaklik langs haar sye te hou nie, want jou arms klou aan mekaar vas en jou liggaamstaal bly toe, geslote.

Die harde realiteit van opstaan as jou bene nie wil beweeg nie; uit die bed uit te kom as jy so moeg is jou spiere pyn.  ‘n Hele lewe wag buite die veilige, bekende grense van jou bed en jy weet nie hoe om vandag te doen nie – jy het gister net-net oorleef.  As jy vandag weer nie die bed opmaak nie, gaan jy hoor hoe lui jy is.  Daar is nie nog vadoeke om oor die vuil skottelgoed te gooi nie, en ook nie meer borde nie – iemand moet dit was.  Die tuinier is laat, maar darem is hy hier – jy sal hom voldag betaal.  Jou maandelikse afspraak by die salon het een van die opwindendste ure in jou maand geword – want om self te skeer en toonnaels te verf … jy het nie krag daarvoor nie.

Eintlik het jy krag vir niks!  Jy het lus vir niks. Jy is ‘n ‘failure’, jou man dink jy’s lui en jy stel ‘n swak voorbeeld vir jou kinders deur altyd alles te los vir môre.  Niemand kan verstaan hoe moeilik die eenvoudige dinge is nie, hoe jy wil en wil en jouself elke dag oortuig jy kan … maar jy kan nie!  JY KAN NIE!

En hier sit sy by ‘n vriendin met ‘n pragtige gedekte teetafel en ‘n tuisgebakte koek: ek sien dit in haar oë.  Hoe sy haarself probeer oortuig al die moeite was regtig net vir haar.  Hoe sy probeer glo dat die kuier net so lekker kon wees by haar huis met goedkoop koffie en ‘n ‘no name brand’ pakkie Lemon Creams. Ek sien hoe sy op die drumpel staan om uit die gang te kom, net vir ‘n rukkie …

Sy is ‘n spieëlbeeld van tye in baie mense se lewe waar jy ook vasgekeer was in jou eie donker gang. 

Tot eendag!  Eendag uit die bloute is jy lus vir iets so eenvoudig soos koekbak …

Ligdraers kan dit nie verstaan nie, maar jy is absoluut verheug – JY IS LUS VIR KOEKBAK?!

Een warm Somersmiddag besef jy met verwondering jou een potplant het jou donker droogte oorleef.  Dooie blaartjies word met sorg en respek afgesnoei.  Ten spyte van jou lam spiere na vanoggend se eerste drafsessie in maande, maak jy vinnig die kombuis skoon, sit die oond aan vir môre se Sondag hoenderpastei en pak bestandele uit om ‘n lekker sjokeladekoek te bak!

Jou gesin hou van koek!  Elke gemaklike afmeting verbaas jou, want niks hieraan is moeite nie.  Niks.  Jy hoef jouself nie te bedwing of kalmte te ‘fake’ terwyl jou kind se vingers in die deeg rondkrap of alles self wil doen nie!

Vandag het jy meer gedoen gekry as wat jy in die afgelope vier donker maande kon aanpak.  Jy het die halwe projekte in die huis bymekaar geskraap en is sowaar opgewonde om iets te maak!

Het iets verander?  Het jy meer werk, meer geld, meer tyd of meer vriende gekry?  Nee!  NIKS het verander nie … JY IS ANDERS!

Jy weet nie hoe nie, jy weet nie wanneer nie, maar jy staan in dieselfde donkergang … met ‘n flitslig.  Jy gaan nooit weer êrens sonder ekstra batterye nie!  Jy sal voorbereid en gereed wees vir enige situasie wat in jou donker gang mag opduik.  Alles is tog makliker as jy net kan sien?  Of die koplig belaglik lyk by jou uitrusting of nie … jy loop nie daarsonder by die voordeur uit nie.

Die angshand wat so styf om jou keel gegryp het en jou hart kom vasklou het as jy wou slaap is toe al die tyd bang vir die lig.  Dit is die swaar hand wat jou so bang gemaak het vir die donker.

Jou donker!

Vir party leiers van depressie is dit ‘n seisoen.
Vir party is dit ‘n lewe. Nie ‘n daaglikse stryd nie, ‘n uurlikse uitdaging.
Party veg jaar in en jaar uit alleen deur die donker gange, geen ondersteuning nie!  Niemand hou uit liefde ‘n ekstra flitslig naby nie.
Ander veg ‘n maand, val ‘n maand, staan op in die lig net om die flitslig te verloor en weer vas te val in ‘n donker sliksand gang.

Om my sien ek elke dag mense baklei.  Hulle veg verbete om ‘n lig te kry, maar is net nooit vinnig genoeg of goed genoeg of mooi genoeg nie.  Die lig bly net altyd buite bereik. Die flits se batterye hou net nie lank nie en die ry om nuwes te koop is lank … die pad na die lig is uitputtend, onmoontlik en onophoudelik.

Die ligdraers oordeel so maklik oor die donkerlopers wat hulle maar net nie kan verstaan nie.

Dit is elkeen se plig om ‘n lig te wees, om die donker te baklei – SAAM!

Niemand hoef alleen in die donker te staan nie.
Niemand verdien om in ‘n reguit, donker gang te verdwaal nie.
Niemand het die reg om ‘n ander se swart en donker grense te veroordeel nie.

Depressie is soos koekbak of koekkoop.

Vir die depressieleier is koekbak onmoontlik, onbegonne … net nog ‘n ‘failure’.  Koekkoop is makliker – maar die onsigbare monster van angs is altyd teenwoordig en die Oorweldigende stemmetjie oorverdowend: klein besluite soos watter koek, watter prys, watter grootte.

Ligbewoners kan nie verstaan hoe ‘n onbegonne taak iets klein soos koekbak kan wees nie.
Liglopers sal nooit die veiligheid van ‘n bed se vier mure verstaan nie.

As jy nog nooit in die donker vasgeketting was nie, kan jy nie die oorwinning glo van ‘n opgemaakte bed, ‘n skoon kombuis, ‘n gedekte teetafel en ‘n tuisgebakte koek vir ‘n vriendin wat kom tee drink nie.

Hou op oordeel!  Hou op raadgee uit jou ligkasteel uit!  Word ‘n flitslig!

Want soms?  Soms het iemand ‘n flitslig nodig om ‘n koek te bak!

Advertisements