Jack, die getroue waghond, se dood.

Tags: halwewaarheid, ‘nandersestorie

Jack is my Sussie se hond.  Jack het ‘n sussie, Jemma (wel eintlik kan ek gladnie die diere se name onthou nie – so Jack en Jemma sal dit wees)!

My Ma woon oorkant die pad.  Wanneer daar by Ouma gekuier word, los Sussie vir Jack by die huis.  Dit is egter nie lank nie of Jack wikkel met sy dik lyfie iewers deur en gaan wag dan getrou vir sy mense voor Ouma se hek.  Nie baie slim vir ‘n hond nie, want hy kan hulle nie enigsins beter sien van oorkant die pad af as buite die hek nie!

As al die Sussies by Ouma kom kuier maak iemand altyd vir Jack die hek oop.  Ouma sê ons mag nie want dan het hulle skielik hondepoef om op te tel … so niemand weet wie die gawe hek oopmaker is nie … dalk weet ek iets, maar die storie gaan nie oor my nie! 🙂

Die storie gaan oor Jack se tragiese dood!  

Een naweek gaan Sussie en haar man bietjie weg en hulle seun gaan kuier by Ouma.  Daar word vinnig gegroet en iets vertel van Jack wat doodgery is.  Sussie groet hartseer vir Seun (Ouma dink die trane is seker vir die hond, maar sy vra nie uit want Sussie is haastig).

Seun en Ouma werskaf in die kombuis en gesels oor sy oorlogloopbaan en ‘as ek eendag groot is’ planne.  Ouma is klaar groot, sy wil nie nog iets word nie.  Seun wil ‘n soldaat word: ons is nie seker watter soort soldaat nie, want hy wil nie in die son speel nie en nooit vinnig beweeg nie.  Oefen en warm is nie sy ding nie … so hy gaan soos ‘n stadige-skaduwee-soldaat word! 🙂

Vroeg die volgende oggend, terwyl Ouma die koffie stook, wandel Seun in die tuin (want die son is nog nie warm nie).  Dit is effens koud buite, so hy wandel nie baie lank nie.  Alles oorkant die pad lyk nog reg, ‘n soldaat weet!

“Ouma, ek dink Jack kry koud.”

Die trane sit dadelik vlak in Ouma se oë; sy besef die dood van ‘n kind se hond is ‘n traumaties affêre.

“Ouma, ek dink julle moet vir Jack ‘n hok hier aanhou sodat hy nie so buite die hek moet lê en wag as ons kom kuier nie.”

‘n Hok vir ‘n dooie hond?  Weet hy nie sy hond is dood nie?

“Ouma, ons het ‘n ekstra stel bakke vir kos en water wat ons hier kan hou vir Jack.”

Daar moet ‘n rede wees dat hulle hom nog nie vertel het nie?

“Ouma, hoekom is jy so hartseer? Kry jy hom ook jammer as hy so voor die hek lê?”

Is nie ons hond nie?  Jack was nie ons hond nie. WAS!!

Ouma en Oupa probeer so kalm en ongemerk moontlik met hulle oë gesels: die kind se hart gaan gebreek wees!

“Oupa”, gaan Seun voor, “dink jy daar is ‘n honde hemel?”

Oupa sluk swaar aan die koffie en beskryf die honde hemel so goed as hy kan.  ‘n Plek waar honde nooit honger of dors kry nie.  ‘n Plek waar elke hond kan afkyk na sy baas toe – soos Jack sekerlik na Seun sal kyk – maar hulle verlang nie.  Want honde is baie gelukkig in die honde hemel.

“Oupa, as ons honde eendag doodgaan sal Jack reguit hondehel toe gaan.  Hy is ongehoorsaam:  hy kom altyd by die hek uit en hardloop in die straat in,”

… reguit voor ‘n kar in na sy dood, dink Oupa …

“Hy steel Jemma se kos en wil haar byt as sy vir hom grom,”

Die kind gaan dink sy hond is hel toe!!!!

“Maar ek dink nie daar is ‘n hondehel nie, Oupa.  Dink jy daar is ‘n hondehel?”

Nee belis nie!  Alle honde gaan hondehemel toe!

“Ouma – hoekom moet hy altyd in die straat bly?  Hoekom wil julle hom nie laat inkom en saamkuier nie?”

Genadiglik is die hemel-hel gesprek op ‘n einde.  Oupa vee glad ‘n druppel sweet van sy voorkop af.

“Ek dink Jack is dors, hy wag al die hele nag daarbuite!”

… nou is dit doodstil … wat bedoel hy ‘die hond wag buite?”  Ouma kan die trane nie langer keer nie.  Haar moederhart verbrokkel.  Daar is nie ‘n maklike manier om sekere goed te verduidelik nie, maar Ouma probeer haar bes.
Sy wag vir die trane … maar hulle kom nie.
Sy wag vir die skok … maar dit kom nie.

“Ouma?  As Jack dood is, wie se hond lê buite julle hek?”

verwarring …

Oupa stap dadelik venster toe, en sowaar as vet: daar lê Jack vet en gesond voor die hek en wag.  Seun is reg: die hond kry seker koud, hy is seker honger en hy is seker dors. Iewers is ‘n groot misverstand!

Maar hoe dit ookal sy, Jack is nie dood nie.

Hondehemel of hondehel – Jack het die tydelike nie met enige soort ewigheid verruil nie.

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s