Kaalswemmery!

Swem is nou nie my ding nie!  Swem in koue water vat nie net oortuiging nie, dit is amper net iets vir spesiale geleenthede.  Daar moet beslis geen monsters of gediertes in die water wees nie, en my voete steek ek nie in ‘n gat vol water as ek nie die bodem kan sien nie.

Die dag toe Carla klaar is met Laerskool kon ons gaan koffie drink by Mugg & Bean, dalk ‘n lekker melkskommel by die WIMPY – dinge wat ons weer en weer kan doen.  Wat sal sy ONTHOU!  As ek en sy klere en al in die swembad spring?  Inderdaad!!

Ek het al in vele swembaddens geswem sonder toestemming en het gevolglik vir baie jare ‘n stel ekstra klere ingepak as ek weet daar is ‘n swembad waarheen ons oppad is.

As ek saam met die meisies wil swem staan ek letterlik op die rand en praat myself daarin: mens sal dink ek gaan bungee jump so senuweeagtig lyk ek!

Vir Lyf , aan die anderkant, hoef geen swembad ‘n uitnodiging te stuur nie.

Hy het byvoorbeeld eendag gaan fietsry na ‘n lekker reënbui en was sekerlik doodmoeg getrap.  Want ipv inspring, afkoel en dan sy fiets was … het die ou toe sommer net so, helmut, skoene, klere, fiets en al binne die swembad ingery om hom en sy girlfriend te was!

… dit is egter nie waarvoor Lyf bekendheid verwerf het nie …

Ek het hom nie lank geken nie, toe ek vir die eerste keer die naaksprong moes aanskou!! In sy jonger – dronker – dae het Lyf op enige omverwagte oomblik eenvoudig sy glas neergesit en sommer so oppad swembad toe van al sy klere ontslae geraak.  Dan het hy met ‘n helse bommie in die swembad gespring asof dit die normaalste ding op die aarde is!  Niemand was verbaas nie!  Niemand was geskok nie!  Net Ek!

Mens sou dan ook dink hy gaan bietjie swem?  Maar niks!  Spring, dobber trap toe en klim uit!

Natuurlik was dit ‘n baie traumatiese ervaring vir my.  Eerstens het ek in my onskuld nog nooit enige dronk mense gesien nie en tweedens het my pligsgetroue verstandige self onmiddelik bekommerd gestaan en toekyk hoe die nuwe liefde van my lewe onder die water verdwyn.

Tot my skok het niemand hulle glase neergesit en hom te hulp gesnel nie.  Niemand het aan die kant van die swembad met groot oë seker gemaak of hy weer opkom nie.  Blykbaar gebeur dit maar as Lyf naby ‘n swembad kuier???

Met tyd het ek egter opgehou hardloop en vir ‘n lang 5 sekondes gestaan en bid tot hy opkom.  Na die soveelste keer het ek opgehou om klere bymekaar te maak of getrou met ‘n handdoek te staan en wag as hy uitklim om sy privaatheid te beskerm!

Drank en Dronk se prioriteite het met tyd afgeneem, maar die vriende bly staan.
En hoe ongelooflik dit ookal mag klink?  Tussen die duisende foto’s wat oor die jare heen geneem is, is daar nie een van die Huis Herfsblaar se Kaalnaeler nie!

So kuier ons dan een warm Somer-aand in Desember by vriende.  Die hele span is bymekaar!  En wat sal ‘n kuiertjie nou ook wees sonder ‘n lekker warm vuur en ‘n yskoue bier.  Die Musiek Fabriek maak nog die hele aand musiek met alle instrumente waaraan jy maar kan dink: die graaf-kitaar, die Besem-Banjo, daar is braaitang-fluite en ‘n baskitaar van hark.  Die ‘backup singers’ van Bon Jovi sing hard en vals saam, terwyl Freddie Mercury se Bohemian Rhapsody in Afrikaans vertaal word vir almal wat wil hoor!

Ek moet bieg: ek kry warm.

Lyf kry ook warm!

Eintlik kry almal warm …

… maar nie almal kry ‘n veraf uitdrukking in hulle oë nie.
Nie almal sit hulle drankie doelgerig op die naaste tafel neer nie.
Nie almal begin sonder waarskuwing na die swembad hardloop nie.
En nie almal maak ‘n reuse-kaalgat-bommie in die swembad in nie.

… nie almal besluit om vir Lyf te join nie …
Maar ek doen!

Ek dink nie te lank hieroor nie, want ek sal myself vinniger uit die waaghalsig-getroue-impulsiewe-liefdesdaad uitdink as wat ek kan hardloop en dan sal Lyf al uit wees!
En daarom begin ek net hardloop …
Ek haal nie my krale af nie, dra toevallig nie vandag ‘n horlosie nie …
Ek spring net! 
Ek tref die koue water met ‘n elegante slag!  Ek lag opgewonde oor my en Lyf se 23h00-swem by ander mense se huis!

Maar soos ek met met ‘n harde lag onder die water uitkom, sien ek Lyf hardloop!  Hy is reeds uit die swembad uit en soek naarstigtelik na ‘n handdoek.  Selfs op die afstand kan ek sien hy lyk paniekerig!  My impulsiewe hart klop hard van vernedering dat ek saam my man inspring en hy spring uit!  Ek begin woedend na die swembad se trappe swem toe Lyf soos ‘n besetene, histeries skreeu “Wag Nos, ek is oppad!!!”

Dit is nou te laat, die oomblik is verby … nooit weer nie!  Dink ek by myself!  Ek is woedend!  Hoeveel ander vrouens sal saam met hulle mans in die swembad spring!!

“EK KOM!! WAG NOS, Ek is NOU DAAR!!!!!’  Iewers in die paar sekondes het Lyf weer sy broek aan en wag my by die trap in met ‘n handdoek so groot soos ‘n kombers!  Sy oë is groot en nugter terwyl hy die handdoek-kombers voor my hou en so half paniekerig-bekommerd sê “Goed, nou kan jy maar uitklim!”  Maar met elke trap wat ek klim, verander sy gesig.  Dit was angstig, toe verbaas, toe verlig en laastens lag!  Niks hier is vir my snaaks nie … tot ek besef watter lawwe gedagtes in Lyf se kop rondmaal!

Lyf het sowaar gedink ek was net so kaal soos hy toe ek in die swembad gespring het!  Hy moes so vinnig as moontlik uitklim en ‘n handdoek kry om sy vrou se privaatheid te beskerm!

… en nou dat ek daaraan dink … Lyf het sederdien nog nie weer sy bekende laatnag-kaalgat-sprong gespring nie … 🙂

Advertisements

3 Replies to “Kaalswemmery!”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s