Ontmoet die Karakters

Ek is wel die hoofkarakter in my stories, maar wat sal ek wees sonder die mense om my wat die stories en berigte moontlik maak?

So kom ek stel jou voor aan my karakters. 

Lyf – die karakter is so ernstig soos wat hy snaaks kan wees. Hy is die liefde van my lewe, en toe ek hom die dag in ‘n Township raaksien het, het ek geweet ek gaan met hom trou.  Omdat hy nege jaar ouer is as ek, kon ek net nie help om vir hom te wil Oom sê nie, en daarom het ek vir hom ‘n bynaam gegee van die begin af.  Siende hy van God af vir my gegee is, is hy my Manna uit die hemel.  Hy is ook bekend as Ouboet, Klaas, Pollie, Oupa en Pappa.  Ons is 17 jaar getroud en ek het hom nog nooit op sy naam genoem nie!

Die Seuns – daar is twee seuns en ‘n kleinkind!  Laaitjies is laaitjies!  Hulle speel met karretjies of hulle nou 7 of 27 is.  Gelukkig met ‘n bal in die hand en kom eet net pasta by ons as Lyf gekook het.  Al drie is ewe bang vir my kookvernuf en niemand maak ‘n geheim daarvan nie.  Die een werk hard!  Die ander baklei agter die krieketkolf of paaltjies!  En die kleinseun is … wel?  Almal is lief vir die Kleinseun!

Carla oftewel Callie – ons tienermeisie wat eendag met Shampoo-advertensies gaan geld maak en ‘n Kunsgallery gaan besit wat sy self ontwerp het terwyl haar nuutste CD in die agtergrond speel.  ‘n Linker-Regterbrein wat nie net ‘n absolute talentvolle kunstenaar is nie, maar ook ‘n top-10 Wiskunde slim Meisie!  Moenie met haar probeer small talk doen nie – sy praat net as sy iets het om te sê en die res van die tyd lees sy!

Emma – ons klein Emmie.  Sy het die jaar vir die vierde keer 6 geword!  ‘n Ander karakter elke dag.  Soms met pienk brille, ander kere is dit pers hare.  Sy sal die stout een wees by die aftreeoord en altyd ‘n klein dogtertjie bly, al is haar wêreld vol grootmense en realiteite.  Mense voel net gelukkig as Emmie naby is.  Nie altyd so lief vir leer soos wat sy is vir speel nie.  Haar gunsteling besitting (en die ding waarvoor ons in die huis nog die meeste waarde vir geld gekry het) is haar scooter en daarna haar dier, Ella die Labrador!  Emmie doen enige ‘talk’: small talk, diep talk, min talk en baie talk!

Huis Herfsblaar!  Die span bestaan hoofsaaklik uit ‘n klomp vriende wat van Graad 1 of dalk Standerd 6 af saamkom.  Ek het inderwaarheid voor die span grootgeword al was ek met hulle Ouboet getroud!  Nege jaar is min of baie – hang af waar jy jouself bevind!  Huis Herfsblaar is dan juis afkomstig van die nege-jaar ouderdomsverskil.  Die jaar wat die manne almal 40 geword het, was ek maar ‘n skrale 31 … en wanneer ek eendag 40 sou word, sou hulle blykbaar al afgetreë sit by Huis Herfsblaar.  Dit is darem nie heeltemal waar nie; want op 49 lyk die meeste nog goed en intussen het daar so twee nuwe maatjies bygekom: vrou, kinders, geskiedenis en al!

Huis Herfsblaar Sussies: die uitsonderlike groep meisies is getroud met die mans van Huis Hersblaar.  Aanvanklik was ek doodbang vir hulle; kom ons wees eerlik!  Hulle was baie intimiderend … maar uiteindelik het dit ‘n familie en vriendekring geword van sussies!  Deur dik en dun.  Deur Rooiwyn en Coke.  Deur Sigare en sjokelade!  As ek eendag wel in Huis Herfsblaar beland, wil ek dit saam met geen ander mal span girls doen as die nie.  Ons sal lag dat die trane rol oor ‘n koppie tee terwyl daar ‘n gekroekte kaartgame in die aftreeoord se saal gespeel word en die mans probeer bepaal wie se valstande is nou wie s’n.

Die doodnormale-mal familie! Ek is een van ‘n tweeling en ons het ‘n ouer sussie.  My Mother bly oorkant die pad van die tweeling en ek is seker sy word voorgetrek?  My mother het ‘n kêrel (of eerder aangevryde skoonpa en Oupa) waarvoor ons almal baie lief is.  Niemand weet dit nie, maar hy is elke jaar Kersvader by die saamgestelde-gesin se kerspartytjie, waar my Ma se kinders en sy kinders skaars ‘n woord met mekaar praat. Ons is te ‘loud’ en hulle lei aan bom-skok!

Lyf se Stiller-kalmer familie  … Skoonpa het ‘n nuwe vrou gekry wat die snaakste sê-goed kan kwytraak waaraan jy maar kan dink.  Sy het ‘n span van drie kinders met hulle aanhangsels, kinders en probleme saamgebring.  Ons is baie lief vir haar – mal en al!   Tussen die aangetroudes, aangevrydes en nie-stief sussies -en boeties sal daar nog baie braaivleisvure, kampe en stories wees.

Behalwe vir die Bloemfonteiners – by hulle kuier ons altyd apart, want hulle is te ver om gou te kom saam skinder op ‘n Saterdag aand!  Hulle ry spesiaal deur vir begrafnisse, troues en … ja dit is omtrent dit!  Kersfees op die plaas is nie onderhandelbaar nie; met jare het die geskenkies kleiner geword, kersvader ophou kuier en ons het agtergebly met Oukersaand-tradisies van lekker eet, geskenkies oopmaak, Eight Cousins en laatnag sjokelade!

Van my Dad en my Skoonma het daar net herhinneringe oorgebly waaroor ons nog bladsye kan skryf.

Hier woon drie diere: Ella die Labrador wat … wel?  Sy beweeg eintlik nooit.  Soms klim sy vinnig in en uit die swembad, net om verder iewers te lê en lek.  Jacky die Border Collie is ‘n ongelooflike meisie met een blou oog wat karre se wiele aanjaag soos skape omdat hier nie ‘n enkele skaap op ons erf is om te ‘herd’ nie!  Sy hardloop en beweeg so baie, dit put vir Ella verder uit, sodat sy nog meer lê en nog meer lek.  Sophia die kat is van koningklike afkoms!  Sy is terdeë bewus hiervan en dink sy kan lê en loop net waar sy wil.  Boesman was die baas van ons plaas en is in 2013 begrawe!  Daar is nie ‘n dier wat kon blaf soos hy nie, almal wat hier kom kuier het (gereeld of net soms) was skrikkerig en deeglik bewus van Boesman!

Die skoolma’s wissel.  Dit wissel van die storie of die skool!  Wie weet wat hulle alles kan kwytraak en by betrokke raak … of … wie weet wat ek dink hulle alles kan doen en sê!   Die helfte weet nie wat my regte naam is nie, ek is net Nossie.  En die snaakser deel is dat hulle almal van Lyf praat en nie geweet het hy het ‘n doopnaam nie!

Tussen Huis Herfsblaar, die Bloemfonteiners, die Doodnormale-Mal en Stiller-Kalmer Families is daar snaakse stories, gelukkige en ongelukkige koerantberigte en met tye baie drank!  Dit is was dit was en dit was wat dit is.  Dit is nie wat dit eendag gaan wees nie, en dit sal eendag wees wat dit nie vandag meer is nie.  Gister is verby en môre is oppad!  Elke dag is ‘n nuwe hoofstuk: of dit nou in ‘n storieboek of op die agterblad van die Son verskyn!  Daar is nie ‘n dag wat God nie by is nie, en nie ‘n week waar ons nie gelag het nie!  Party is ‘n halwe waarheid, soms is dit iemand anders se storie.  Waar dit vandaankom en of dit waar is maak nie eintlik saak nie … of ek dit wil skryf is al wat belangrik is.  Hoe ek hulle beskryf sal verskil van die storie, wie hulle is hang af van die gebeurtenis!

Ek kan dalk nie blog nie … maar ek het baie mense se stories op te verdraai en oor te vertel, baie karakters om aan te pas vir ‘n spesifieke berig!  Die enigste konstante ding hier is liefde:  vir almal in my storieboek is ek baie lief … maar nie altyd nie, nie onder alle omstandighede nie!

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s