Wie wil jy wees as jy wegstap?

Ek kom van ‘n bietjie ‘me-time’ af … ek dink die meisie se ore is moeg, maar ek voel fantasties!  Die oop, gelukkige glimlag op haar gesig as sy my groet, laat so warm, huppel in my gemoed en my stap agter.  My uur het bestaan uit stories vertel, goeie nuus uit die koerant te deel en sommer net te lag oor absoluut niks! Vandag het sy iemand nodig gehad om na haar te luister, om haar op te beur, en my ‘me-time’ het verander in ‘her time’!

Dit is wie ek wil wees as ek wegstap!

Wat moet mense sê as ek omdraai?  Maak dit regtig saak – seker nie!  Maar om om te draai en ‘n glimlag te sien is so die moeite werd.  As iemand sê jy helder hulle dag op en hulle is altyd gelukkig om jou te sien – dan maak dit saak.

Jy kan wegloop nadat jy jou laste, bekommernisse en woede gedeel het: jou man, die kinders, die skool, die buurtwag, die honde … daar is ‘n lang lys van dinge om oor te kla!

Gee iemand regtig om? 

Min mense volg later op om te hoor hoe dit gaan.
Jou storie is so belangrik, meeste vra jou hoe dit gaan as hulle jou ‘n week later terloops raakloop.
Party voel dat hulle nie ander mense se wonde gaan smeer nie; hulle sal jou handteer asof niks gebeur het nie.
Skinder en ‘omgee’ het vir party sinoniem geword.  Om jou storie met iemand anders te bespreek is blykbaar omgee en baie makliker as om met jou daaroor te praat en op te volg.

Wie wil ek wees as mense my sien aankom?  Die een wat getrou ‘n ‘soppy’ storie saambring?  Die een wie se beursie altyd leër is as joune?  Die een wat altyd verskonings uitdink, wie se lewe altyd so bietjie meer ingewikkeld is as enige iemand anders s’n?  Is ek die een wat altyd besiger, moeër en meer bekommerd is as almal?  Is my probleme altyd die ergste en my kinders altyd belangriker?  Is my verlede interresanter?

Wel … nee!  Dit is nie … en die waarheid is … joune ook nie.

Jy kry mos mense met wie dit nooit goed of sleg gaan nie, dit gaan besig.  Hulle is altyd te besig, hulle kinders is besig!  Hulle kan nooit praat nie, want hulle moet iewers heen jaag.  Hulle dink hulle lewe besiger is as joune!  Dit is vir my so interresant hoe die mense kla oor hulle besige lewe en terselfdetyd klink dit soos ‘n prestasie!?

Party mense het dit net altyd moeiliker, swaarder of beter.  As jy vertel dat jy lewendig geboorte moes gee, was hulle swangerskappe iets uit die bose!  As jou swembadpomp gegaan het, het hulle geyser gebars en die bouers gee probleme.  Moenie eers begin met jou kind wat sukkel met Wiskunde nie, want hulle kind sukkel met skool: ‘period’!  As jy ‘n vakansie gewen het, het hulle ‘n vliegtuig gekoop!  Dit gaan altyd of beter of slegter met hulle as jou!

Ons het eenvoudig nie altyd begrip vir iemand anders se probleme nie.  Een persoon se finansiële stres is dat hulle kind nie saam die skool kan gaan kamp nie, terwyl ‘n volgende persoon se probleem is dat die oorsese vakansie se duur is en hulle dus nou Desember vir drie weke Kaap toe gaan en darem plek gekry het in ‘n hotel op die laaste nippertjie.  Een persoon se bekommernis is die prys van eiers wat in die afgelope vier maande met R30 gestyf het, terwyl jou krisis die prys van Cuppuchino is.  Dit is tog ontmoontlik vir ‘n persoon wat nog nooit kanker gehad het nie om te weet hoe iemand voel wat chemo kry.  ‘n Kind wat nog nooit honger gelei het nie, kan iemand se desperaatheid nie verstaan as hy ‘n broodjie uit die asblik haal nie.  Jy kan tog nie met die ma assosieer wie se kind altyd uitgesonder word en weggestoot word as jou kind in alles presteer nie?

Die ding is … Almal is te betrokke en vasgevang in hulle eie besige lewens, finansiële prioriteite, jaag na sukses of oorlewing … min mense gee om.  Almal is haastig oppad iewers heen, sukkel met een of ander area op skool, is bekommerd oor hulle kinders se maats, dwelms en toekoms!  Party kan eenvoudig nie jou hartseer of bekommernisse verstaan nie, en partykeer is mense net te diep gewortel in hulle eie lewe om jou siel raak te sien …

So in ‘n lewe met soveel druk, jaag en kommer, wil mense regtig my probleme ook hoor?  Ek dink NEE!  Mense wil goedvoel.  Mense soek rede om te glimlag.  Mense vermy die ma wat altyd kla, die man wat altyd kwaai en bekommerd is, die kind wat altyd hartseer is en die winkel waar almal nors is.  Teen die tyd wat almal gebad en geëet het, het jy lankal vergeet van almal se probleme en is uit jou hart uit bly om voor die TV neer te sak of agter ‘n lekker boek te gaan lê, dalk ‘n lang warm bad of net eenvoudig in jou bed te klim en te slaap.  Jy en jou eie lewe!

Ek dink aan die dag … wie kan ek onthou?

Die dankbare oë van die karwag as ek ‘n brood in sy hand stop.
Die sekuriteitswag wat my uitbundig bedank vir my inkopies vandag by sy winkel al word hy waarskynlik die minste betaal van almal wat daar werk.
‘n Ma se glimlag as sy haar kind by die skoolhek sien aankom.  Wat die meneer, juffrou, kinders or familie dink maak nie saak nie – daar kom jou geskenk, jou kind!  Daar is nie ‘n prys vir die glimlag van ‘n ma om haar kind te sien nie.
My man se sagte blou oë as ek hom groet met ‘n stout grappie voor ek by die deur uitgaan!

Dit is wie ek wil wees!

Ek wil lag vir die simpelste grappies.
Vanaand wil ek net die goeie dinge van my dag om die etenstafel vertel.
Môre wil ek uit my maag lag en ander aansteek om saam te lag: al lag ons vir niks!
As mense my sien aankom, moet hulle reeds glimlag – of hulle hartseer, kwaad, bekommerd of gelukkig is.

Ons almal het probleme!

Jou probleme is nie groter as almal anders s’n nie!

Jou lewe is nie besiger as almal anders s’n nie!

Jy is nie armer as meeste nie, en ook nie ryker as die armes nie!

Jou kind is nie beter of slimmer as ‘n ander kind nie!

Daar sal altyd moeilike tye wees, bekommernisse en redes om te kla.  Dit is belangrik om te praat, dit is belangrik om jou stories van jou hart af te kry.

Maar maak ‘n besluit:

Wie wil jy wees as jy wegstap?  Wie wil jy wees as jy uit die vertrek verdwyn?

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s