Kunsmis vir my Pa!

Ek kan goed onthou hoe hard daar Saterdae in die tuin gewerk is!  Dit was Pa en Ma se trots!!  Ure se werskaf in die son, uitplant, oorplant, snoei en vertroetel!  As dit skemer raak stap hulle so stadig deur die tuin en bekyk tevrede hulle handewerk.  Hulle kyk so stip en lank na nuwe plantjies, ek dink hulle sien dit seker groei!

Kinders moes natuurlik help: ouers se manier om ‘n liefde te kweek vir tuinmaak van kleins af was onkruid uittrek en grassny!!  Om die vuilwerk in kinderlike pret te verander, speel ‘n hele oorlog voor jou af.  Daar word haarfyn gesoek na die indringers wat die plant-kasteel wil aanval en binnedring. Eers identifiseer jy die vyand, dan – stadig maar seker – kry jy ‘n stewige greep om sy stam, ‘n skielike pluk – foutloos pluk jy hom wortel en al uit die grond uit!  Soos met enige oorlog is daar ongelukkig verliese onder jou eie magte ook – en alhoewel jy probeer om die foutjie so vinnig as moontlik terug in die grond te druk, is daar duidelik telepatie tussen Pa en sy plante. Jy dink by jouself dit is die ideale tyd is vir ‘n tuinmaakles – maar nee!  Pa druk die outjie terug in die grond, vra selfs omverskoning vir die trauma (van presies 30 sekondes) waardeur hy moes gaan, en druk die grond rondom sy stammetjie vas asof hy vir Thumbelina aantrek.

Jy moet maar verlief neem daarmee dat jy in die tuin ‘n onkruid spesialis gaan word, tuinmaak sit nie in jou broek nie en bossies uittrek sit duidelik nie in Pa s’n nie.

So belangrik soos tuinmaak was op Saterdae, so belangrik was ‘n middagslapie op Sondae. 

Dit is nou die een tyd wat jy totaal en al aan jou eie oorgelaat is, om te doen wat jy wil, solank jy net nie raas nie!  Van die beste herhinneringe is op Sondae middae gemaak.  Jy kon letterlik doen wat jy wil, want nie eers Pa of Ma durf die heilige rustyd onderbreek nie!

Ek onthou goed hoe my sussie en boetie op die mure om die huis gehardloop het, oorlog-oorlog het in die velde naby die huis plaasgevind, daar was opsies soos boeklees en huiswerk doen, maar vir die meerderheid was dit heeltemal te vervelig!  TV was uit!  Baklei was uit!  “En julle hardloop nie deur my beddings nie!!!” was Ma se laaste opdrag voor die deur toegetrek word en Sondag-middag-vryheid aanbreek.

Dit is iewers in November in die laat 80’s.  Jy is verveeld want Boetie wil nie oorlog in die veld speel nie, jy behoort jou Wiskunde huiswerk môre eerste pouse klaar te kry, die honde het jou moeg gespeel en jy drentel doelloos buite rond.  Wanneer jy oor die sak kunsmis klim om by jou fiets uit te kom, onthou jy dat Pa mos gister wou kunsmis gooi maar daar was nie genoeg nie of die rugby het begin of so iets.

Wat maak dit saak!  Jy soek iets om te doen en Pa sal so bly wees vir die ekstra hulp.

Kunsmis gooi is baie terapeuties sê Pa: jy moet seker maak jy gooi eweredig, nie te veel in die beddings nie, bietjie meer op die gras.  Hy hou van die gevoel in sy hande!  Hy sien reeds hoe alles groener en helderder word met elke handjie kunsmis korrels wat hy gooi.

Die son is warm, jy het nie ‘n hoed op nie, jou nek brand en die sweet tap jou af; maar die is vir Pa.  Hy gaan so trots wees op jou.  Sy hart gaan letterlik kunsmisballetjies klop!

Na wat voel soos ure, kom Pa en Ma uitgerus in die kombuis te voorskyn.  Jy kan jou opwinding nie beteul nie en sê met die intrapslag!  “Pappa – ek het vir Pappa kunsmis in die agterplaas gegooi!”  Mamma glimlag saggies vir jou goeie daad.

… Pa sê niks!  Dit is duidelik hoorbaar hoe hy ‘n knop in sy keel afsluk.

“Wys my waar het jy die kunsmis gekry, Seun” sê hy met ‘n toegetrekte keel.

Jou lyf bewe.

Die onweer gaan vandag nie net reën bring nie, hier kom groot moeilikheid …

‘Hier is dit Pa!” kom dit met ‘n bewerige, bang stemmetjie.  Die groen sak, nou aansienlik leër as twee ure gelede, lees duidelik INDUSTRIAL WEED CONTROL.  Nogsteeds nie ‘n woord nie.  Pa loop gedwing stadig die huis in, jy beweeg nie.  Pa kom bleek met sy karsleutel by die huis uit, jy vra nie.  Sy laaste angskreet voor hy in die straat afry is “Moenie vir die plante water gee nie!!!”

Jy en Ma kyk bekommerd na die donker wolke en wonder waar jou hulp vandag vandaan gaan kom.  

By nadere ondersoek vind jy en Ma uit dat die kunsmis eintlik ‘n gras en onkruiddoder is.  Hoofsaaklik om gras en onkruid wat tussen klippies, sypaadjies en bakstene groei uit te roei.  Dit neem effek wanneer dit met water in aanraking kom!  Julle kniel net daar op die koue garage vloer en bid!

Hoe Pa die penarrie gered het en die grasperk van ‘n sewe-jaar-dood gered het, weet jy nie.  Jy onthou hy was besig tot laat daar buite terwyl jy onseker sit en wag het vir die onvermydelike pakslae wat nog moet kom.

Toe Pa by jou kamer inkom slapenstyd, is die dag net te lank: die trane wil maar net nie ophou nie.  Jou nek is seergebrand, jou boude pyn van dit wat oppad is en jou kinderhart is verstom dat goeie dade sulke slegte eindes kan hê.

Pa druk jou styf teen hom vas.  “Dankie my Kind” is al wat hy kan uitkry. 

Jy raak aan die slaap in Pa se arms daardie aand.  Jy wou hom maar net nie laat gaan nie, die verligting was te groot.  En Pa?  Wel – hy het nie veel verder gesê nie: dit was asof die woorde in sy keel vasgesit het.  Julle drome gevul met groen gras en wit balletjies!

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s