Kommer by die til

‘n Kind se persepsie verskil aansienlik van ‘n Ma s’n.  ‘n Mens kan nou maar eenmaal nie ‘n Ma se hart en trane verstaan voordat jy nie ‘n Ma geword het nie.

Huil jy Mamma?  Dit is ‘n Comedy! … Inderdaad, die trane loop terwyl ek lag!

Eerste dag van Skool: jy bly sterk en opgewonde, maar as daai gesiggie omdraai na ‘n laaste waai en na haar nuwe klas toe stap met die reuse tas in haar klein handjie, rol daar ‘n sagte traan oor jou wang.

Die gehoor klap hande wanneer jou kind ‘n solo sing, en jy klap met trane wat onwillekeurig oor jou wange afloop.  Trane wat mens nie kan beskryf nie:  trane van mooi, trane van trots, trane van liefwees.

‘n Ma het ‘n dryfkrag om te versorg, te voorsien – of daar nou geld is of nie!  Dit is die een ding wat baie druk en moeilikheid veroorsaak tussen Pa en Ma – Pa is die harder een wat eenvoudig nee sê, Ma sal alles probeer om net vir jou Ja te kan sê.

Vandag kyk ek terug en wonder of die orrelispos by die kerk regtig vir die liefde van talent was, en of dit was om soms te kon Ja sê as die begroting sê Nee!

En dan is daar die til-gesig … 

Om inkopies te doen vir ‘n gesin van 6 is nie ‘n eenvoudige taak nie.  Dit is nie net inloop, trollie laai, betaal en ry nie.

Wanneer die beursie dun is, is inkopies soos ‘n hindernisbaan: ‘n proses van lysies, begrotings,  inlaai, uitlaai, afmerk, prioritiseer, heroorweeg, somme maak en hoop die kaart werk by die eindpunt.

Jy daag by die til op met natgeswete hande wat klou aan jou trollie voor jy dit moet laat gaan teen ‘n prys.  Jy wens jy het liewer die kinders by die huis gelos sodat hulle nie kon sien hoe jou hande liggies bewe wanneer jy die kredietkaart uithaal nie. Soos jy die trollie uitlaai, maak jy vir oulaas seker daar is nie onnodige items in die trollie nie, en herbeplan vanaand se menu omdat jy van die hoofbestandele tussen die gange neergesit het om plek te maak vir ander meer noodsaaklike items.  Jy maak weer ‘n keer sommetjies en wonder of jy nie maar ‘n sjokelade moet bysit vir elkeen nie … jy probeer om rustig en gemaklik te lyk en selfs vir jou kinders te glimlag.

Hulle sien egter die glimlag is ‘fake’, vra nie meer vir lekkergoed by die til want jy sê in elke geval altyd nee.  Hulle het geen begrip van ‘n regte dun beursie nie en is oortuig daarvan ‘n kaart kan alles betaal.   Hulle rol hulle oë vir jou gesig wat so strak na die til se totaal staar en dink jy is misluk omdat hulle seker iets verkeerd gedoen het.

Kinders verstaan nie dat haar kwaai nee eintlik ‘n hartseer wens is nie.

Hulle verstaan nie die trane nie, hulle verstaan nie die angstigheid by die til nie, hulle weet nie dat net vyf kosblikke saans gepak word nie, is te opgewonde oor hulle nuwe klere om te sien dat jy al jare dieselfde dra nie en besef nie dat jy eintlik ‘n Meesterchef is wat wonderlike aandetes kan opdis met minder bestandele as die resepteboek nie!

Vandag eers begryp ek die intensiteit van koskoop en die kommer by die til!  Vandag verstaan ek hoe duur ‘n R5 sjokelade moes gewees het en hoe moeilik dit moes wees om nee te sê vir skooltoere en nuwe klere.

Maar ek is dankbaar!!  My Ma het haar beste gedoen met wat sy gehad het, daarom kan ons vandag geluk vind in ons skatkishuise met vol of leë kaste.   Ja!  Hoe dankbaar is ek nie vir my Ma se til-gesig nie, ‘n masker vir wensgebede dat sy meer kon doen, meer geleenthede kon bied!  Ek is so bly vir die trane wat ek nooit verstaan het nie en die kwaai Nee’s wat eintlik Ek-wens-ek-kon-ja-sê begeertes was!

As ek my meisies kan leer van waardeer, dankbaar en tevrede wees … moet ek leer om die brawe til-gesig bemeester!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s