Op TV oor ‘n Strykplank, Oom!

SALVKOL – Suid Afrikaanse Leër Vroue Kollege

Vandat ek kan onthou, wou ek net altyd Weermag toe gegaan het.  Ek het nie spesifiek aan oorlog gedink nie, net die Vroue Army in George!

Ek wou nie gaan swot nie!  Ek wou nie gaan werk nie! Ek wou net weermag toe gaan.  My ouers was seker baie bekommerd: eerstens omdat ek niks anders wil doen nie en tweedens omdat my Pa aanvanklik geweier het dat sy Dogter weermag toe gaan – wat gaan van hulle dogtertjie word?

Hy het dit tot sy dood toe ontken, maar my Pa het eenvoudig gesê “My kind gaan nie army toe nie!” – in retrospek was weermag en oorlog ‘n groter realiteit vir my Dad as vir my.  Hy was nie bereid om sy dogter in ‘n oorlog in te stuur nie!  Om iemand te moet skiet of die blote gedagte dat ek op geskiet kon word, het sowaar nie eenkeer deur my gedagtes gegaan nie!  Ek wou net Army toe!  Ek gaan ‘n Sniper word! My pa se verwysingsraamwerk van oorlog was aansienlik anders as myne!

Môre sluit die aansoeke:  Ek is ongelukkig, ek is kwaad!  Dat ‘n ouer soveel krag kan hê oor jou besluite!  Wat die Juffrou gedurende die telefoonoproep vir my Pa gesê het sal ek nooit weet nie, maar toe ek van die skool afkom was my Dad reeds by die huis.  Ons kon nie ‘n oomblik mors nie: dokumentasie moes geverifieër word, ek moet ‘n bankrekening oopmaak, ek moet ‘n aansoek skryf oor hoekom ek weermag toe wil gaan en ook ‘n CV van my skoolloopbaan!  Dit alles moet môre oggend 06h00 by die Juffrou afgelewer word voordat sy George toe vlieg vir die keuringsproses!

Skielik was die opwinding ‘n realiteit.  En my Dad is so opgewonde soos ek!

Daar was al baie hoogtepunte in my lewe, maar die dag toe ek huistoe kom en my Pa my vertel ek is aanvaar, was beslis ‘n hoogtepunt wat ek nooit sal vergeet nie.  Die realiteit was totaal en al oorweldigend.

Ek was nie die tipe wat gehuil het van blydskap nie, kon gladnie my Ma se trane verstaan nie … ek het gespring en gegil soos ‘n regte, egte meisie!

Dit is die Desember vakansie van 1995: daar is ‘n lys van wat saam moet gaan SALVKOL toe, en ‘n lys van goed wat ekstra saamgestuur kan word.  My Ma reken alles is verpligtend – insluitend die Strykplank!  Ons dink natuurlik almal sal by NASREC opdaag met hulle sakke in een hand en ‘n strykplank onder die arm.  Hoe dan anders?

Môre (Januarie 1996) vertrek ek op die bus GEORGE toe, en daar is nog net een laaste afspraak.  Die haarkapper!

Die dag toe ek ‘n phobie ontwikkel het vir enige iemand agter ‘n deur wat sê SALON en ‘n skêr in sy/haar hand!  Die versoek van punte sny en bietjie korter word misverstaan as sy gaan weermag toe, sny haar hare soos ‘n laaitjie s’n. 

Terwyl ek die laaste goedjies pak met dikgehuilde oë oor my hare, tik my Ma die lysie af met trane wat sy net nie kan keer nie, en my Pa sit op die stoep en staar die verte is na niks of niemand in besonder nie. My opwinding is hulle hartseer: My nuwe avontuur is hulle afskeid.  My droom is hulle realiteit.  Hulle dogtertjie is oppad …

Dit is ‘n vroeë en koel oggend in January 1996 wat ons aanmeld by NASREC.  Orals is net mense: Pa’s wat vir die laaste keer die swaar sak dra, Ma’s wat probeer om hulle hartseer weg te steek en onseker meisies wat oorloop van opwinding!  Die groot dag het aangebreek!

Ek onthou nog hoe ek yskoud geword het toe iemand uit hulle longe skreeu: ‘TROEPIES, STAAN NADER!  DIT IS TYD OM JULLE MAMMAS EN PAPPAS TE GROET!”  Praat van drome aan skerwe, skerwe van onseker en bangwees.

Maar ek het ‘n ander probleem:  Tussen al die onseker gesiggies, sien ek net een strykplank – myne!!!   Terwyl ons op die paviljoen gesit en wag het, het ek reeds besluit die outjie gaan net hier agterbly.   Toe ons so skielik en onbeskof nadergeroep word, groet ek vir oulaas, los vir strykplank agter my Ma-hulle se rug en stap vinnig na die vrou met die harde, skreeuende stem!  Mens sou dink die skielike roep en skreeu van bevele laat die aarde stilstaan … maar dit is die roep van my Pa wat almal om my in hulle spore laat stop, die aarde staan vir die oomblik doodstil en ek is seker daar is nie ‘n enkele persoon wat nie na my kyk nie!!

KRIEKIE – JY HET JOU STRYKPLANK VERGEET!!

SABC is gereed om die groot dag af te neem; ek is skielik die fokus van hulle storie.  Met my kop onderstebo en my bloedrooi gesiggie, stap ek na my Pa toe, vat die strykplank weer onder my arm vas en loop skaam weg.  Plaas ek kyk waar ek loop, want ek het amper die man met my strykplank omgeslaan – “Jammer Oom” sê ek sodat die kameraman dit duidelik kan opvang!

“EK IS NIE JOU OOM NIE, EK IS KOLONEL!!” 

Natuurlik skrik ek myself yskoud, ek sien hoe my Ma lag en huil op dieselfde tyd!  Met ‘n nòg rooier gesig, loop ek nou regop en baie doelgerig na die klomp meisies wat aangetree staan om op die bus te klim.  Die kameras vang die bang, onseker gesiggies duidelik op … en vir die eerste keer sien die meisies verby hulle opwinding duidelik die trane wat so openlik oor Ma se wange stroom en die blink in Pa se oë wat hy stof sal noem.  Vir die eerste keer is daar trane in die opgewonde harte, en vrees vir die onbekende!

Daardie aand op die 18h00-nuus berig Riaan Cruywagen dat ‘n nuwe groep dames (verbeel jou) vandag aangemeld het om brawe soldoedies te word in ons trotse weermag!  Die verskil is egter: hulle is gewapen met Strykplanke en noem die belangrike manne Oom.

 

Advertisements

9 Replies to “Op TV oor ‘n Strykplank, Oom!”

    1. Ai Los, ek raak skoon huilerig. Ek onthou soos gister hoe my to-be skoonouers dit oogeneem het en oor en oor gekyk het; Riaan Cruywagen het letterlik op TV gelag dat die trane loop. En jou haartjies wat so kort gesny is en Pappa lag en noem jou sy laaitjie-kriekie en jy kan nie help om te lag terwyl jy huil nie, want Pappa kon wegkom daarmee. Ai wat ‘n amazing memory!

      Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s